Mogamat Alexander het omtrent my drome op sy skoue’s gedra, en hytie eens geweetie. Daa’s tye wanner djy as ’n wordsmith iets skryf met jou brein en anner tye met jou ha’t, en daai is beslis hoe hy sy Dictionary of loanwords in the Cape Muslim vernacular geskryf het – die boek wat in 2022 gepublish was byrie Al-Ikhlaas Academia Library & Resource Centre in Imam Haron Road, Lansdowne, Kaapstad.
Wanner ek virrie ee’ste kee Jakarta Indonesia gevisit het, het ek virrie ee’ste kee gediscover actually hoe mooi issie woo’de terima kasih, ’n Bahasa Indonesia term wat mean “ek aanvaar met liefde” of net letterlik “dankie”. As djyrit leqqa vinnig sê, issit een woo’d: tramakassie. Ek hettie’rie opportunity gemiss om daai phrase te gebruik wanner ek in Jakarta gewies’t en ek’t myself gepromise dat ek tramakassie huis toe sal bring – ek’t lankal’ie mettie Arabiese terme min’fadlik (asseblief) en jazakallah (dankie) identify nie.
Maa somtyds kannit ’n baie lonely experience wies om alleen te droom. Ek was net 24 jaa oud wanner ek daai ancestral awareness virrie ee’ste kee experience’t, en ek wassie bewis vannie feit dat daa anner mense innie Kaap is wat saam’t my daai drome dra. Enter Mogamat Alexander. Ek’t sy naam virrie ee’ste kee gehoo wanner ek Bahasa Indonesia-klasse gedoen’t byrie Indonesian Consultate in Kaapstad. Guru Nadeem Samuels, ôse klasonderwyser, het Boeta Mogamat se blog genoem – Ek Soembain Gou Dot Kom. Ek’t leqqa klaa gelag vi daai blog title! En kasam het’k dan en daa gewiet dat wie’ever daai blog geskryf’t, gaan nou my vriend wies. Low en behold was daai exactly wat Mogamat Alexander vi my gewies’t, ’n heritage champion of note.
Jare later het ôs uiteindelik ontmoet byrie launch vi sy boek wat ek op LitNet review’t, saam’t ’n klom Barakat-radio reviews op Radio 786 om oo sy boek te comment van ’n jong generation point of view. Mogamat het obviously die foundation gecreate vi daai conversation, daai claiming of language heritage vi my, ’n twiere opportunity om te reflect oo my ancestral journey wat in Jakarta begin’t. Ek’t nie mee alleen in my drome gevoel’ie en ek’t gevoel asof Boeta Mogamat saam’ie groot droom met my dra. Dis, by the way, wat Amerikaanse skrywer, Elizabeth Gilbert, noem “big magic” – toevallig is daa twie mense wat een briljante idee het om mettie wêreld te deel.
Innie selle jaa het Shamiega Chaudari ’n Arabiese-Afrikaanse workshop byrie Afrikaanse Taalmuseum gehost, en toe was ek en Boeta Mogamat vroeg oppie pad saam Paarl toe virrie dag. Ôs was leqqa laat, want ôs was diep in gesels – Sybrandus Adema vannie Afrikaanse Taalmuseum, wat oek saam met ôs ’n tribute vi Boeta Mogamat gedoen’t oppie Barakat-program, kan testify aan daai moment – en toe het ôssie ve’keede draatjie gevat en amper ’n uur later ee’s daa byrie event opgedaag! Ma ek was prepared. Ek’t padkos saamgebring – ’n koffie flask en toebroetjies. Daai’s maa sieker nou’rie twiede big magic moment, want ek’t deep down sieker gewiet dat ôs moet kos inpak oek om ve’loo te raak oppie pad!
Wee in daai selle jaa was ek ’n radio producer by Radio 786. Boeta Mogamat saam’t Shamiega Chaudari het nou op ’n Sondagoggend die Arabiese-Afrikaanse workshop oppie radio gereview. Ek onthou hoe proud was Boeta Mogamat oorie feit dat Shamiega history gemaak’t, ennie tannies en oompies laat sing die nursery rhyme wat elke Cape Malay vannie ou dae in madrassah (Arabies vi “skool”) gesing’t: “Aleef, dowa, dettis, en aleef, dowa, bowa, en alleef, dowa, dapan, oen – aan, een, oen!” Meeste vannie mense by daai workshop wassie vannie Malay Muslim community nie, soe daai, met Mogamat en Shamiega as my champions, was oek ’n opportunity om my eie heritage te lee ken van ’n broader perspective, ennie net as ’n achievement wat moet binne-in ôse Malay Muslim community wegstiek soes ôse ancestors tydens colonialism ôse heritage en religion moet wegstiek.
Daai radio interview was actually oppie phone 8 o’clock innie oggend. Maa since’t Sondag was, was Boeta Mogamat mos nou oppie pad om koesisters te koep, toe kô hy in-studio specially vi sy interview. Te oulyk! Of course was Sondag my afdag vannie wêk, soe ek konnie my stukkie koesister claim’ie. Of course is koesisters ’n anner topic altogether, want ek kan heeldag vent oo wat ’n authentic koesister is van ’n Cape Malay perspective, en baie van my radio guests wat chef experience het, sal saamstem dat djy moet nooit met ’n koesister recipe môssie!
Ek gebruik’ie Dictionary of loanwords in the Cape Muslim vernacular nou vi my skryfwêk. Ek’t oek tydens’ie launch van hierrie boek virrie main cultural advisor van Suidooster by kykNET oek gesê ommie boek uit te check. Wanner ek op daai skrywersspan gewêk’t, het ôs sonner ’n dictionary of ’n glossary gewêk, soe Boeta Mogamat het actually iets daa gesit wat voo’heenie daa wassie – ’n heroic ding om te doen vi ’n entertainment industry waa’in Malay Muslim stories nou baie trendy gewôd’t. Om cultural advisor te speel vi ’n taal wattie eintlik gesien wôddie, issie ’n straight forward job nie, ennit het baie wêk gevat ommie hele production oppie selle page te hou waa sekerer storylines involve, soes wanner akteurs op set moet lee hoe om te sê: “Mag Allah vi Oemie Jannatul Firdaus ve’gin” soes by Ouma Rabia se janaaza wat ôs in 2020 verfilm’t. Hierrie dictionary speel ’n groot rol in hierrie geval en vi daai sê ek my grootste tramakassie aan Mogamat Alexander!
Maa of course beweeg’ie niewe generation nog altyd. Fatima Allie hettie digter Sumayya Petersen se mashallah woo’de gelies oppie Barakat tribute vi Mogamat Alexander, en nou is ek en Sumayyah besig om ’n storm op te gesels! Sumayyah echo aal my selle gevoelens, die feit dat ôs nog altyd Diana Ferrus se dood mourn, en nou oek vi Boeta Mogamat. Vi my wat oek dee my ma se dooi nog wêk, issit nogal ’n bietjie vinnig om soe baie heritage figures te ve’loo – as iemand maningal wat aan baie mense be’hoot het, voel’t soes ’n collective mourning process wat ôs ammal dee’gaan. Met liefde in ôse ha’t, sê ôs Innalilaahi Wa’innailayhi Ra’jioen – van Allah kô ôs en na Allah is ôs terugkee. Mee belangrik issit oek om succession te onthou: Hy’t sy boeke agtergelaat, en ôs moet goed daa’mee doen Insha'Allah!

