'n Terugblik op #FeesMustFall en stellingnames deur PEN Afrikaans

  • 0

Beste lid van PEN Afrikaans

Soos die jaar einde se kant toe staan, is dit natuurlik om bestek op te neem van die jaar wat verby is, en ook te begin beplan vir die jaar wat voorlê. Vir ons in PEN Afrikaans, met ’n nuwe bestuur wat onlangs verkies is, is dit ook geleentheid om as organisasie te vra: Quo vadis?

Bettina Wyngaard, pas verkose ondervoorsitter, en Danie Marais, bestuurder, het in Oktober die 81ste kongres van PEN International in Québec, Kanada, bygewoon. Daar word elders in die nuusbrief terugvoer gegee oor besluite wat by hierdie kongres geneem is.

Beide het opgemerk dat dit opvallend was hoe polities en moreel aktief sentra van dwarsoor die wêreld is, hoe betrokke in hulle verskillende gemeenskappe, en in kontras, hoe passief PEN Afrikaans tot nou toe was. Dis iets wat die nuwe bestuur graag wil verander. Ons het ten doel om nie net meer betrokke te raak in literêre aangeleenthede nie, maar ook om ons teenwoordigheid te laat geld wanneer morele kwessies en ander aangeleenthede wat die breër publiek en ons samelewing raak, ter sprake kom. In die komende maande sal daar meer gereeld kommentaar oor sosiale en maatskaplike kwessies wees, asook ’n groter betrokkenheid by projekte van PEN International en PAN – die PEN African Network.

Die landwye #FeesMustFall-protes in die afgelope tyd is een voorbeeld van  ’n kwessie waaroor ons genoop gevoel het om kommentaar te lewer.

Die verklaring wat ons hieromtrent uitgereik het, het kritiek ontlok, aan die een kant van lede wat gevoel het dat ons nie naastenby ver genoeg gegaan het om die regering te veroordeel en die studente te ondersteun nie, aan die ander kant van lede wat gevoel het die vandalisme en geweld deur sommige studente moes skerper veroordeel word. Hierdie skrywe dien nie om die meriete van die verskillende menings te bespreek of ons verklaring te verdedig nie. Dit is egter wel vir ons as bestuur, en vir alle lede van PEN Afrikaans, ’n goeie geleentheid om te besin oor die rol wat ons wil hê PEN Afrikaans moet speel. Dis duidelik uit die kritiek dat al die partye van mening was dat ons ’n morele rol het en kommentaar behoort te lewer, Daar was slegs verskille oor die inhoud van die kommentaar wat ons moet lewer.

Ons is geaffilieer aan PEN International, en as sulks onderskryf ons dit waarvoor PEN International onomwonde staan: vryheid van spraak, die verdediging van ’n demokratiese bestel en die beskerming van menseregte vry van partypolitieke oorwegings. Vryheid van spraak, wat insluit die vryheid van die pers, is ’n reg wat toenemend bedreig word en ’n reg wat ons as sodanig ten alle koste moet beskerm. Op 15 November elke jaar gedenk ons die Dag van die Skrywer in Aanhouding om ons te herinner hoe kosbaar, broos en vlietend hierdie vryheid kan wees. Vryheid van spraak omvat die reg om protes aan te teken. Dit sluit ook die reg van ons lede in om handelinge of nalate van die organisasie te kritiseer en op daardie manier aktief deel te neem en te help om die organisasie wat ons almal verlang, te help vorm. Meningsvryheid is soms ’n omstrede reg, soos wat met die debat rondom Charlie Hebdo gesien is. Is daar ’n reg om ander te na te kom? Is daar ’n teenstrydige reg om nie tenagekom te word nie? Waar lê die perke van vryheid van spraak?

Ons is dit eens dat haatspraak hierdie perke oorskry, en nie geduld behoort te word nie. Wat egter van spraak wat nie haatspraak is nie, maar nie aan die hoorder se vereistes voldoen wat betref gehalte of inhoud nie? Ons lede het ’n inherente reg om te verskil van ons, en om met ons in gesprek te tree oor sulke verskille. Dis deel van ’n gesonde demokrasie. Daar is egter nie ’n reg om ons stilswye te eis omdat lede nie saamstem met die gehalte of inhoud van ons verklarings nie.

’n Lewendige, gesonde demokrasie het robuuste verdediging van alle regte nodig, ook binne ’n organisasie soos PEN Afrikaans. Dit beteken dalk dat sommige lede van tyd tot tyd ongemaklik mag voel met die standpunte wat ons inneem. Ons verbintenis is egter te alle tye om getrou te wees aan die etos en voorbeeld wat PEN International stel. Verder is ons verbind daartoe om in gesprek met lede te bly.

As woordkunstenaars en intellektuele, is dit ons morele verantwoordelikheid om by te dra tot die openbare diskoers wat help bou aan ’n meer gesonde Suid-Afrikaanse demokrasie. Dis ’n verantwoordelikheid wat ons as bestuur ernstig opneem, maar ons nooi elke lid van PEN Afrikaans om daardie verantwoordelikheid saam met ons op te neem en om aktief deel te neem aan die oop gesprek wat ingeligte menings vorm.

Met beste wense

Kerneels Breytenbach, Bettina Wyngaard

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top