’n Resensie van Met my honde deur Kobus Olivier en Hilda van Dyk

  • 2

Titel: Met my honde, ’n Suid-Afrikaner se vlug uit Oekraïne
Skrywers: Hilda Van Dyk, Kobus Olivier

ISBN: 9780624093947
E-boek-ISBN: 9780624093954
Uitgewer: Tafelberg

Verliefdheid is ’n lekker affêre, in vele opsigte, omdat daar so baie van die ander een is wat jy nog nie weet nie. En omdat so baie verhul word, kan jy maklik bedroë daarvan afkom. Hoeveel van wat jy agterna gaan wees, hang nie af van hoe jy uit die as van die vurigheid tree nie? En veral, van hoe jy agterna die ander een uitbeeld, vir jouself en vir die wêreld? Hierdie vrae is vir my die belangrikstes wat bly draal na die lees van Met my honde deur Kobus Olivier en Hilda van Dyk.

Die vertelling dek die eerste senutergende dae van die Russiese inval in Oekraïne, met die verteller en sy vier honde in ’n woonstel in Kijif vasgevang terwyl die bomme bars en die Russiese magte al nader aan die hoofstad beweeg; sy besluit om te vlug; die lang tog weswaarts om die grens na Pole oor te steek; en die ewe senutergende burokratiese probleme wat ’n Suid-Afrikaanse oorlogsvlugteling in die Schengensone in die gesig staar.     

Twee liefdestemas, van verskillende soorte liefde, dryf die vertelling: die verteller se verliefdheid op Kijif en Oekraïne, en sy liefde vir sy honde.

Eerstens, die verteller, wat Kobus Olivier self is, se onmiddellike verliefdheid op Kijif, hoofstad van Oekraïne: “Maar vandat ek die eerste keer in Kijif geland het, was ek verlief. Op die stadshorison met sy goue koepels. Op sy lanings met hul groen bome. Op sy rye en rye koffiewinkels. Op sy mense.” 

So vertel Kobus, wat, soos ons almal, graag ’n lekker koppie koffie in ’n oulike, snoesige plekkie nuttig.  

En hier is nou sommer ’n goeie voorbeeld van waar wat weggesteek word agter die glimlagte en die grimering van verliefdheid, so baie vertel. Koffiewinkels en straatkoffiekultuur in Oekraïne is baie jonk, seker nie meer as vyf of ses jaar oud nie. Vroeër was jou enigste hoop vir “coffee on the go” ’n sinkkiosk langs die straat wat bier, koeldrank, sigarette en kondome verkoop. Daar kon jy ’n plastiekglasie met ’n teelepel kitskoffie kry, sonder melk, eindeloos lank en deeglik geroer deur die tannie agter die klein venstertjie, met haar persoonlike teelepel. (Dié kioske het nou grootliks uit die sentra van groter stede verdwyn, maar bestaan voort in afgeleë woonbuurtes en kleiner dorpe waar “cool” nog nie uitgekom het nie.) As jy wou sit en ’n koppie kofje (Oekraïens vir koffie, “kawa” uitgespreek) wegslaan, moes jy na ’n formele “kafe” (restaurant) toe, met wit tafeldoeke en kelners wat ver agter in die donker wegkruip en jou snaaks aankyk as jy vra vir ’n koppie koffie en niks meer nie.

George Steiner skryf in The idea of Europe hoe koffiehuise, cafés, definiërend is van Europese kultuur. Koffiehuise was, en is, plekke vir intellektuele debat, vir die skrywer en digter, die filosoof, kunstenaar, sielkundige en politieke samesweerder. In Parys, Wene, Milaan, Venesië, en meer. Maar, voeg hy by, “No early or defining cafés in Moscow which is already a suburb of Asia.”1 Wat waar was van Moskou kon tot ongeveer 2014 met gemak ekstrapoleer word Kijif se kant toe. Die rede hiervoor is eenvoudig dat jy in Rusland, en toe in die Sowjetunie, en toe weer in Rusland, nie politiek, filosofie, letterkunde en sulke dinge in kafees sit en bespreek (het) nie. In die Sowjetunie moes jy elk geval heeldag werk; daar was ’n wet wat selfopgelegde werkloosheid as “parasitisme” beskryf en strafbaar gemaak het. Verder ook natuurlik omdat kafees in totalitêre state plekke is waar dissidente maklik opgepik kan word. Die verskyning van straatkoffiekultuur in Oekraïne kan dus interpreteer word as ’n verskynsel wat verband hou met dié land se hunkering na ’n Europese, Westerse leefwêreld. 

’n Groot leemte in Met my honde is die afwesigheid van ’n drang om meer van die geliefde (die objek van die verliefdheid) te wete te kom, van haar agtergrond, haar geskiedenis, haar familie. Mens wil meer weet om beter te kan verstaan hoekom die verteller sê: “In my hart weet ek Kijif was bedoel om oor my pad te kom.” Hoekom Kijif “[d]ie plek (is) wat so mooi pas by wie ek is”. Hoekom hy voel die Oekraïners is “mý mense”. Maar dit kom nie – nie aan die begin nie, en ook nie later nie. Aan die begin verstaan hy nie Russies of Oekraïens nie. Ongeveer vier jaar later, toe die oorlog uitbreek, weet hy nie wat hulle (die Oekraïners) sê nie, want hy verstaan nie “hul taal” nie. “Mý mense”!

Maar dis na alles ’n aksie-avontuur wat ons hier deel – en helde wat weghardloop met ontploffings in die agtergrond, is seker nie altyd lus om ons ’n kykie in hulle binnestes of agter die skerms te gee nie. Tog, gegewe die agtergrond, is hierdie soveel meer as net ’n aksieverhaal. Die verteller bevind hom in die middel van monumentale wêreldgebeure, die grootste oorlog in Europa sedert die Tweede Wêreldoorlog. Waar is die besinning oor die omstandighede, die redes, die geskiedenis? Die brokkies besinning wat wel deurkom, is yl gesaai, en ongelukkig rampspoediglik oningelig of naïef, soos aangetoon sal word.    

Kobus beskryf homself as ’n nomade en alleenloper. Dames, of liewer “meisies”, soos hy sê, sal glo nie alte geneë wees om ’n bed met sy honde te deel nie. Hier kom die ander tema van die vertelling ter sprake: Kobus se liefde vir sy honde – Ollie, Tiekie, Jessie en Kaya. Maar dit is nie verliefdheid hierdie nie; sy toewyding is duidelik uit sy omvattende beskrywing van die honde se uiterlikes en geaardhede, en natuurlik uit sy besluit om te vlug toe die oorlog uitbreek, hoofsaaklik om die honde se onthalwe. Dit is niks minder as aandoenlik nie, en mens kan jou hoed daarvoor afhaal. Kobus is sonder twyfel ’n ou wat omgee en met ’n hart van goud. Hy’t ook sy pa onderhou en versorg tot sy dood, en die honde is, soos hy dit stel, “tot vandag die laaste konneksie wat ek met my pa het”.

Ongelukkig het ons almal ’n ego. Daar is ’n kriewelrige “ekkerigheid” en alwetendheid wat plek-plek deurslaan en die vertelling ontsier, veral in die dae voor die oorlog. Een oggend in Februarie 2022 merk hy almal is gespanne en praat in groepies. Kobus is van niks bewus nie, want soos hy sê, hy stel nie veel in nuus belang nie – hy’s “meer ’n Netflix- en sportmens”. Onderwysers by die skool waar hy werk, vertel van nuusberigte en video’s van Russiese magte wat op die grense saamtrek en militêre toerusting wat aangery word.

By die huis flits hy gou deur al die oorsese nuuskanale en sien die berigte. Die volgende dag wil hy by die werk hieroor praat, “want ek is ’n prater. Ek wil práát oor dinge.” Maar sy Oekraïense kollegas raak al hoe stiller en wil dit nie met hom bespreek nie. Hulle word glo kwaad en sê selfs hy versprei Russiese propaganda. Hoe dít werk, is moeilik om te verstaan. Dis juis die Russe wat tot die dag voor die inval volgehou het dat daar geen inval gaan wees nie? Maar die Oekraïners glo bloot dat as jy oor die naderende konflik praat, probeer jy die land se mense bang maak”; en “ek glo nie hulle weet wat ek weet nie. Hulle kyk net die Oekraïense nuuskanale en daarop basuin Zelenski dit uit: ‘Daar kom nié oorlog nie.’ En hulle glo hom.”

Dis nou nadat, twee bladsye tevore, dit die Oekraïners is wat hom vertel van die nuusberigte en video’s op die plaaslike kanale. Vir die leser lyk dit of Kobus, wat, soos hy erken, tot ’n paar jaar vantevore nie Oekraïne op die kaart kon kry nie, al op bladsy 27 beter as die Oekraïners weet wat in hulle land aan die gang is. Dat die land ’n lang en komplekse geskiedenis met Rusland deel waarvan hy nie bewus is nie, en dat hulle dit nie met hom wou bespreek nie, omdat hulle dalk nie die punt daarvan kon insien nie, kom nie by hom op nie. Of dat hulle dalk probeer het om nie histerie aan te blaas nie, soos wat hulle tien teen een gedink het hy besig was om te doen. Of dat dit juis ’n teken van goeie leierskap aan Zelenski se kant was om mense te probeer gerusstel.  

Die berigte op plaaslike TV het ek self gesien. Daar was geen ontkenning van die moontlikheid van ’n inval nie. Op TCH was daar dikwels besprekings van moontlike invalscenario’s. Daar was berigte oor hoe mense voorberei, tasse pak, gewere koop, en so meer.

Maar Kobus se beterweterigheid en die oënskynlike onnoselheid van die Oekraïners duur voort, en sorg ook vir raaiselagtige teenstrydighede. Steeds op bladsy 27: “Ek is aangewese op die nuuskanale wat ek wel kán sien ...” Hoekom “kan sien”? Bedoel hy dalk “kan verstaan”? As hy nie die plaaslike kanale kon sien nie, hoe het hy geweet wat daarop vertel word? As jy deur die plaaslike kanale geflits het, sou jy dieselfde beeldmateriaal gesien het as op die oorsese kanale.

Hy vervolg: “Hier by my gee die nuuskanale vir jou net dit wat jy móét weet en die res steek hulle alles weg. Die gevolg is niemand in Oekraïne, en tien teen een in Rusland, weet wat daar regtig by die oorlogsfront aangaan nie.”

Verstommend. Waar hy op bladsy 22 nog nie “hul taal” verstaan nie, verstaan Kobus op bladsy 27 Oekraïens en Russies blykbaar so goed dat hy presies weet wat op plaaslike TV gesê word. Net om op bladsy 54 weer ’n handomkeer te maak: “Ek luister nie Oekraïense radio of nuus nie omdat ek nie hul taal verstaan nie.”

Self sukkel ek nog met die plaaslike nuus, maar uit die bietjie wat ek kon uitmaak, was daar niks vir die Oekraïners weggesteek op die plaaslike kanale nie. En dit was terloops toe nog nie ’n oorlogsfront nie; dit was ’n opbou van magte op die grens met Oekraïne, vir sogenaamde militêre oefeninge.

Kobus is, volgens hom, die enigste persoon wat geglo het dat oorlog gaan uitbreek, soos hy herhaaldelik in hoofstuk 2 verkondig: “Ek het geweet die dag gaan kom, ek het gewéét” (bl 38).  

Die Oekraïners is eenvoudig clueless: “Ek kan nie verstaan hoe die Oekraïense mense nie kan insien dat daar ’n werklike gevaar is nie. Hoe is dit moontlik dat hulle nie die erns van die situasie besef nie?” (bl 30).

En hoe, wil mens vra, is dit moontlik dat iemand so vinnig op ’n land en sy mense “verlief” kan raak en hulle terselfdertyd so totaal verkeerd kan opsom? “Mý mense”!

Hoe hét Kobus so vir seker geweet daar gaan oorlog kom? Die antwoord is: “Poetin het mos nie sonder rede 130 000 troepe op die grens met Oekraïne bymekaargemaak nie ... Hulle is mos nie daar om in die middel van die winter in die sneeu uit te kamp nie, of hoe? Die temperatuur daal sommige dae tot –15 grade C. Hoe kan hulle (die Oekraïners) dit nie insien of glo nie? Dis dalk net makliker om jou kop in die sand te steek soos ’n volstruis.”

Wel, Kobus, nee. Russiese militêre oefening op Oekraïne se grense gebeur jaarliks, soms ook in die winter. Dat dit nie onskuldige militêre oefening was soos wat Rusland aanhou beweer het nie, sou gaandeweg duidelik word uit die omvang van die opbou. Maar toe die oorlog wel op 24 Februarie uitbreek, is dit vir Kobus nie meer net die Oekraïners wat clueless is nie, maar ook hulle president, Zelenski. Biden het gewaarsku dat oorlog gaan uitbreek, maar “Zelenski het dit afgelag as ‘war mongering’ ...”

Dit “afgelag”? Hier is ’n Reuters-berig van 1 Desember 2021 (my beklemtoning):   

MOSCOW, Dec 1 (Reuters) – Russia accused Ukraine on Wednesday of deploying half its army to confront pro-Russian separatists in the east of the country, and said it had launched its own regular winter drills in its southern military district bordering Ukraine. The announcements came at a time of high tension between the two countries, with NATO meeting for the second day to discuss a Russian troop build-up that Kyiv fears may be a prelude to an invasion. Moscow has consistently denied that, and sought to portray Ukraine and NATO as the aggressors.

Daar is duidelik baie wat mens nie op Netflix te wete kan kom nie. Later, toe die oorlog volstoom aan die gang is en die omvang van die vernietiging duidelik word, raak Kobus “sommer kwaad”, soos vir ’n kind wat iets simpel aanvang: “Wanneer ek so na die president (Zelenski) kyk, raak ek sommer kwaad. As hy net geluister het. As hy net die waarskuwings ernstig opgeneem het. As hy net voorbereid was vir die Russe. Maar nee.”

Vir wie moes hy geluister het? wonder mens. Vir Kobus Olivier? En binne ’n maand of wat voorbereid raak vir ’n inval uit Rusland? Die feit is dat die vorige president, Porosjenko, al in 2014 begin het met die modernisering van die Oekraïense weermag, maar dit sou ’n land soos Oekraïne onder gewone omstandighede dekades geneem het om opgewasse te raak vir ’n aanval deur Rusland.

Wanneer hulle die grens bereik, kom daar ’n stukkie verbluffende sielkundige akrobatiek van die verteller se kant af. Met die ellende om hom van duisende vlugtelinge wat met ’n rugsak en een tas met hulle belangrikste besittings grens toe loop, en nuus van die aanvalle op burgerlikes en dodetalle bekend word, besin hy: “Hoewel ek voel of dit my oorlog is omdat dit mý mense is, is dit nie my oorlog om in te veg nie.”

Soveel mense, soveel sienings. Daar is baie buitelanders wat aan Oekraïne se kant kom veg, soms vir veel minder as ’n gewaande samehorigheid met die mense van Oekraïne. Party kom vir die avontuur, party vir die girls. Ander kom om meer edele redes: ’n Suid-Afrikaanse huursoldaat wat in Engeland woon, sê hy kon nie langer sit en toekyk hoe kinders vermoor word nie. Nog ander kom vir die groter prentjie, duidelik vir almal wat die nuus volg: die stryd tussen demokrasie en vryheid aan die een kant en tirannie en terreur aan die ander.

Kobus se rede vir waarom dit nie sy oorlog is om te veg nie, sorg vir ’n brokkie asemrowende naïwiteit: “Die mense in beheer kon van die begin af om ’n vredestafel gaan sit het.”

Toe Kobus op pad met hierdie idee vorendag kom, was dit al oral bekend dat Poetin se plan behels het om Oekraïne in sy geheel oor te neem. Dit sou glo drie dae neem. Die onderhandelings aan die begin het op niks uitgeloop nie, want die Kremlin het niks minder as kapitulasie van Oekraïne vereis nie. (Die plan het intussen verander. Omdat kapitulasie nie ’n opsie is nie, is die vernietiging van Oekraïne en sy mense – Kobus se mense – nou die doelwit). Kobus vervolg met ’n relaas oor onskuldige Oekraïense mans wat doodgeskiet word. As mens die kolletjies verbind, lei jy af dat as Oekraïne toegegee het, dit nie nodig sou wees vir hierdie mans om te sterf nie. Niks word genoem van die Russiese soldate wat doodgeskiet word nie. Vermoedelik omdat daar geglo is dat hulle nié doodgeskiet word nie – die mite van ’n magtige Russiese weermag wat buitelandse Rusland-bewonderaars so graag glo.    

Dis ook op hierdie punt dat mens begin wonder oor Kobus se sentimente. Is dit sy eie, of word hy voorgesê deur iemand wat deeglik bewus is van sy beperkte kennis van wêreldpolitiek? Hy sien byvoorbeeld mense wat in ’n bussie “die vreemde” in ry, met alles wat hulle oor het in ’n sak geprop, “net omdat ‘iemand’ besluit het oorlog is al uitweg wat daar is”. Hoekom die verskansing? Almal weet tog wie daardie “iemand” is? 

Die bostaande verteenwoordig die totale omvang van die teenstrydige wanopvattings wat die verteller se bepeinsinge oor die omstandighede kenmerk. Die oorwig van die verhaal fokus op die voorbereiding, die tog na die Weste en die gebeure daarna. In sy geheel sorg die gemaklike geselstrant vir ’n maklike leeservaring. Die taal is onopgesmuk en toeganklik, versier met allerlei “oulike” spreektaalwoordjies soos “hardegatheid”, “bederfies”, ens. Die pas hardloop lekker en die spanningslyn word behendig hanteer, soos blyk uit die dele wat handel oor die eerste dae van die oorlog, sy inperking in die woonstel in Kijif tot die besluit om weg te kom, en die uitmergelende rit tot oor die grens, om nie sy ervaring met die burokrasie in die buurlande weg te laat nie.  

Maar die subteks bly aan my krap terwyl ek verder lees; iets bly pla omtrent die behandeling van die eksgeliefde, die een waarop jy sweer jy smoorverlief was vanaf die eerste oogopslag, en die opvatting wat deurskemer van Oekraïners as oningelig, naïef, miskien ’n bietjie dom, en Zelenski as ontkennend en onverantwoordelik. Tot jy lees dat Gerrit Olivier, ’n voormalige Suid-Afrikaanse ambassadeur in Rusland, Kobus se oom is! En dis asof baie dinge dan sommer in hulle plek spring. Oom Gerrit het vir Kobus vertel Poetin is geniaal, ’n skaakspeler! Ek weet nie van enigiemand, behalwe Gerrit Olivier, wat nog glo Poetin is geniaal nie. Geniale Poetin wat sy land polities en ekonomies geruïneer en in ’n internasionale muishond omskep het; wat Rusland se vooroorlogse grens met Navo meer as verdubbel het; wat met ’n arrestasiebevel van die Internasionale Strafhof teen hom, en met al wat hy oor het, met sy vinger op ’n kernwapenknoppie sit waarvan hy weet dat as hy dit sou gebruik, sy land vernietig sal word. En wat het skaak met alles te doen, behalwe as jy glo iemand wat skaak speel, soveel beter weet hoe om ander te uitoorlê? Die Russiese skaaklegende Garry Kasparof is ’n uitgesproke teenstander van Poetin en verag die man absoluut. Arme Kobus, Antigone, vasgevang tussen sy oom se verstokte bewondering vir Rusland en sy eie verliefdheid op die weerbarstige dogter, Oekraïne!

Hieruit word ook die verteller se onwilligheid om ’n besliste en uitgesproke keuse te maak, duidelik – vír of téén – soos wat die vlamme van vernietiging vereis. En meer, ’n konsekwente wegvreting van haar reg en vermoë tot selfgelding, wat subliminaal dien as beskuldiging van die eksgeliefde, asof nie net die tragedie van julle onsuksesvolle persoonlike verhaal nie, maar ook haar daaropvolgende verkragting deur gangsters eintlik haar eie skuld is.

Ten laaste kan, in die lig van die bogaande, ook die wanklinkende inleiding van Met my honde, deur ’n anonieme skrywer, beter verstaan word,  ’n inleiding wat begin met “Die Oekraïne ...” Kobus skryf nie “die Oekraïne” nie, ook nie André Groenewald, Suid-Afrika se ambassadeur in Oekraïne, in sy voorwoord nie. Die Oekraïense regering het al in 1992 ’n veldtog in die buiteland van stapel gestuur om die “die” voor “Oekraïne” nie meer te gebruik nie. “Die Oekraïne” is afkomstig van die siening van Oekraïne as ’n “byland” van Rusland. Wie kan dan die anonieme skrywer van die inleiding wees wat dit nog gebruik, saam met so ’n respekvolle verwysing na die Russiese leier as “President Poetin”? Iemand wat nog nie weet dat dit nie meer so gebruik word nie? Maar dit strook nie, want so ’n persoon sou sekerlik nie aangebied het om ’n inleiding vir hierdie vertelling te skryf nie. Dalk iemand wat dit doelbewus doen, uit minagting vir die Oekraïners se wense, iemand met ’n politieke agenda? Mens kan net raai.

Dis ’n inleiding wat die Navo-storie as aanvoering vir die oorlog vertel, terwyl dit lankal duidelik is dat dié storie niks meer as ’n bymotief vir Poetin se motiveringsredes was nie. Voor die oorlog het Rusland ’n grens gedeel met vier Navo-lande. As hy Oekraïne sou oorneem, sou dit ’n ekstra vier Navo-lande op sy grens beteken het: Pole, Hongarye, Roemenië en Slowakye. ’n Aansienlik langer grens.

As redes vir die oorlog word die beskerming van Russiessprekendes in die ooste van Oekraïne aangevoer. Leiers van die Russiessprekende oostelike streke het hulle glo tydens die Maidan-opstande van 2014 by ’n voormalige president (die Kremlin-marionet Janokowitsj) geskaar. Watter leiers? Die Russiese weermagoffisier Girkin, wat na die Donbasstreek gestuur is om opstand te stook en die eerste skote afgevuur het in die sogenaamde separatiste-oorlog? “Die Russiessprekende oostelike streke”, asof dit ’n homogene entiteit is? Oos-Oekraïne is ongeveer so groot soos die Verenigde Koninkryk. Daar is honderde dorpe en stede, en streke soos Poltawa waar Oekraïens die omgangstaal is. En dan die agtjaarmite: Poetin wou eenvoudig mense beskerm wat al agt jaar lank onderwerp word aan afknouery en volksmoord, so lui dit in die inleiding. Werklik? Hoekom opruk Kijif toe om die mense in die Donbasstreek, 830 km verder oos, te beskerm? Nee, dis al lank duidelik dat die onderwerping van Oekraïne aan Rusland die werklike rede was, ’n stap in Poetin se aspirasies om ’n geopolitieke Russiese invloedsfeer te skep gelykstaande aan dié van die Sowjetunie en selfs verder terug, tot die tyd van die tsaristiese ryk. Dit is nie die plek hierdie om die valsheid van hierdie mite te verduidelik nie. Meer daaroor kan hier gelees word.

Om terug te keer na die Navo-tema: “[T]oe Navo aan die begin van 2022 wéér steun bied aan Oekraïne met onder meer wapens en militêre opleiding, was dit olie op die vuur,” beweer die skrywer van die inleiding. “Wéér” steun bied? Wanneer dit voorheen gedoen is, word nie gemeld nie. “Onder meer” wapens en militêre opleiding? Wat sou die méér wees? En dit aan die begin van 2022, toe Oekraïne al omsingel was? Hoekom sou Oekraïne nie die reg hê om onder sulke omstandighede vir hulp te vra nie? Laasgenoemde is natuurlik klassieke Russiese logika: Staan stil terwyl ek jou slaan – wie’s jy om jou te verset? Jy maak dit net erger. (Terloops, hierdie bewering oor Navo-steun aan die begin van 2022 weerlê natuurlik Kobus se beskuldiging dat Zelenski niks gedoen het om voor te berei vir ’n inval nie.)

Vir my is dit onmoontlik om die lees van Met my honde te skei van die politieke agtergrond waarteen die oorlog afspeel. Die vraag is nie of dit anders sal wees vir lesers wat nie so direk by die gebeure betrokke is nie, maar eerder of so ’n lesing hoegenaamd moontlik is. Die verteller se nalating om met ’n ingeligte standpunt vorendag te kom, sou miskien nie die kontekstualisering van die vertelling so problematies gemaak het as hy dit nie aan iemand anders oorgelaat het om die agtergrond te verduidelik nie, en veral nie aan iemand wat nie die geliefde goedgesind is nie! Dat die skrywers hierdie teenstrydigheid nie raakgesien het nie, maak dit des te meer jammer dat Kobus se andersins boeiende en openhartige vertelling nou onder die vaandel van valshede die wêreld ingestuur is.

En wat van Ollie, Tiekie, Jessie en Kaya? Wel, hulle verskyn gereeld tussen die vertellings deur, en doen wat honde doen: hardloop bly rond as hulle buite kan wees, speel, vra vir kos en aandag, en verder niks anders as om hulle oulikste self te wees nie. En, sonder om die plot weg te gee, slaag Kobus daarin om hulle uiteindelik na veiligheid te bring, soos almal sou kan geraai het. En dis nog ’n ding. Een van die verskynsels wat die oorlog in Oekraïne meegebring het, is ’n golf van dieresorg wat andersins ongekend sou wees: geharde soldate wat foto’s met hulle honde of katte plaas; brandbestryders en reddingspanne wat troeteldiere uit gebombardeerde geboue red; vrywilligers wat hawelose diere help. In Dnipro is ’n psigiatriese hospitaal en nabygeleë dierekliniek gister met missiele aangeval, en veeartse het daarin geslaag om met diere in hulle arms te ontkom. Berigte uit besette én bevryde gebiede vertel hoe die Russiese soldate alles doodmaak wat in hulle pad kom: mans vrouens, oud en jonk, kinders, katte, honde, wasbere – dikwels vir vermaak. Hulle skiet selfs dolfyne in die Azof-see. Nasionale parke word oopgestel om in te jag. Dis asof die beskerming van diere in Oekraïne teen hierdie agtergrond outomaties ontwikkel het as ’n simboliese gebaar vir die beskerming van lewe, van alle lewe, van lewe self, teenoor die siniese en sinlose vernietiging daarvan. Dis dalk ook teen hierdie agtergrond dat Met my honde éintlik gelees en waardeer moet word, en ’n universele betekenis verkry,  moontlik sonder dat dit so bedoel was.

Maar die verhaal is ten slotte tog ook die verhaal van ’n uitlander, wie se stories in sulke omstandighede altyd voorrang kry op die groot skerm. Soos Kobus erken, hy’s in ’n bevoorregte posisie omdat hy geld het, en omdat hy Engels kan praat. Dit maak nie sulke verhale ongeldig nie, dit laat mens net dink aan al die verhale van opoffering wat nie filmspanne lok en tot TV-kontrakte lei nie: die 82-jarige man wat ongeveer 1 000 km afgelê het in ’n ou Lada-motortjie om sy kleinkind uit die Gerson-streek na veiligheid te bring; die vrou wat haar hond meer as 20 km ver gedra het tot by die grens. Kobus se vertelling sal noodwendig, ter wille van ’n wyer perspektief, ook met hierdie en ander verhale, byvoorbeeld dié beskikbaar op PEN Ukraine, jukstaponeer moet word.   

Ewenwel, die storie lees lekker, as mens soek vir ’n aksieverhaal gebaseer op die werklikheid, en wat hoofsaaklik gaan oor liefde vir diere. Ek is nie so opgetrek met die ander tema van die verhaal, die een van groot verliefdheid, nie. Om die waarheid te sê, die heldhaftige poging om sy honde te red begin aan die einde al hoe meer klink na ’n verskoning vir hoekom hy die geliefde land verlaat het, in ag genome dat miljoene mense nié landuit gevlug het nie. Die subteks en dissonante inleiding in ag genome, is ek geneig om te wil dink dat agtergelate minnaars en minnaresse verdien om beter behandel te word. 

Daarom voel ek om af te sluit met raad: Minder Netflix, Kobus! En meer oplees oor jou geliefde Oekraïne en sy mense, jóú mense! Oor Oekraïne se geskiedenis. Ek hoop jy kan eendag weer terugkeer. En mens se ooms is soms heeltemal verkeerd. Lees byvoorbeeld hier hoekom die Suid-Afrikaanse regering nie jou oom Gerrit se advies behoort te volg nie:

Suid-Afrika en Rusland se verhouding: die pad vorentoe

Onthou altyd wat die groot Oekraïense digter Taras Sjeftsjenkoe gesê het: 

Кохайтеся, чорнобриві,
Та не з москалями,
Бо москалі — чужі люде,
Роблять лихо з вам

O lovely maidens, fall in love,
But not with Muscovites,
For Muscovites are foreign folk,
They do not treat you right.

En veral nie naar wees met jou geliefde land se mense en hulle president nie. Altyd goedpraat agterna van haar en alles omtrent haar, sodat ons nie lyk soos daai ouens waarvan in die ou Dire Straits-liedjie gesing word nie: “See the faster they are babe, the faster they get out of town.” 

Tegniese dinge wat pla

Transliterasie van name uit Oekraïens.

Cherson, Charkif, Chresjtsjatik: Die name van hierdie stede en straat in Oekraïens is Херсон, Ха́рків, en Хрещатик.

Die eerste klank in hierdie name is die g-klank in Afrikaans, soos in goed, gaan, groen, ens. Gewoonlik word hierdie klank uit Oekraïens na Engels getranslitereer as kh , met ander woorde Khresjtsjatik en Kharkif, omdat Engels nie ’n g-klank het nie.

Hoekom word die g-klank in Oekraïens via ch translitereer na Afrikaans, terwyl die g-klank net sowel gebruik kan word?

Ch in Afrikaans aan die begin van ’n woord kan as ’n g-klank uitgespreek word, soos in  chaos, Christus, Chaldeërs, chiropraktisyn, chemie. Maar ook as ’n k-klank: Chris, chroom, chloor, choreograaf, cholera. Ook as sj: chirurg, China, charade, Chicago. Mens leer watter klank om te gebruik uit jou kennismaking met hierdie woorde op skool, tuis, of elders waar jy die uitspraak hoor. 

My bekommernis is dat mense wat nog nooit gehoor het hoe hierdie Oekraïense name uitgespreek word nie, nie sal weet of ’n k- of g-klank, of dalk selfs ’n sj-klank, gebruik moet word nie. Hoekom sal mense nie Kerson, Karkif, Kresjtsjatik lees in plaas van Gerson, Garkif en Gresjtsjatik nie? ’n Uitspraakgids sou dalk nuttig wees.  

En hoekom word die Poolse hoofstad Warschau, wat die Duitse naam van daardie stad is, genoem, eerder as Warskou, soos dit in Afrikaans bekend staan? As jy nader aan die oorspronklike Poolse naam wil wees, moet dit Warszawa wees.

Bron:

1. Steiner, G. The idea of Europe. 2015, bl 19. Overlook Duckworth, Peter Mayer Publishers, Inc.

Naskrif:

Hierdie resensie is voltooi nadat die stad Dnipro, waar ek woon, die vorige nag onder hewige bombardering deurgeloop het; missiele en Shahed kamikaze hommeltuie is afgevuur en ontploffings is die hele nag lank gehoor. In die oggend is die bombardering voortgesit; ’n psigiatriese hospitaal en nabyliggende dierekliniek is getref. Die dodetal sover staan op twee.

  • 2

Kommentaar

  • Sybrandus Adema

    Janee, klink nie asof Kobus sy huiswerk gedoen het nie. Dit gemeng met die 'arme ek'-houding oortuig my dis 'n boek om te vermy.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top