’n Persoonlike navorsingsreis: ek en my universiteit

  • 2

"My navorsingsreis het afgeskop met ’n poging om die verhouding tussen die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) en sy studente te verbeter. Ek het besin oor my onsekerheid: kon ek omtrent myself skryf? Hier beskryf ek hoe, deur teoretiese en filosofiese aspekte by my navorsing te betrek, ek my studie begrond het en die moed gekry het om oor persoonlike ondervindinge te skryf en dit met teorieë te verweef."

So skryf Louise Schmidt in 'n onlangse artikel wat in LitNet Akademies (Opvoedkunde) verskyn het. 

Lees 'n gesprek van Estelle Kruger met Louise Schmidt oor hierdie artikel: Ontledende outo-etnografie as reflektiewe filosofiese instrument: op pad na ’n ekologie van afstandsonderrig

Wat is jou persoonlike agtergrond – maw wat het jy gedoen voordat jy in die akademie beland het?

Ek is tans met een voet in die akademie en een voet in die kommunikasie- en bemarkingswêreld. Nadat ek my doktorale studie in opvoedkundige filosofie afgehandel het, het ek begin om twee modules in die MEd in Open Distance Learning te doseer.

Hoe het dit gebeur dat jy ontledende outo-etnografie ontdek het?

As ek nou terugdink, besef ek dat ek ’n filosofiese studie wou aanpak, maar ek het ’n uitkykshoek nodig gehad. Ek wou my eie filosofiese waarnemings ontleed, maar nie sommer net nie. Analitiese outo-etnografie het vir my die kans gegee om oor my storie en my eie denkraamwerk te skryf sonder om my streng teoretiese begronding prys te gee.

In akademiese kringe is daar steeds baie navorsers wat skepties is oor outo-etnografie – watter soort kritiek het jy oor jou navorsingsmetode gekry? Hoe hanteer jy hierdie soort kritiek?

Ek steur my nie regtig aan die kritiek nie, aangesien ek nie regtig glo dat enige wetenskap ooit ten volle objektief kan wees nie. As navorsers beïnvloed ons altyd die uitslag van ons navorsing, aangesien selfs die vrae wat ons vra, ons studies rig. Daar is nie so iets soos objektiewe navorsing nie, en as iemand van my verskil, is die verskil fundamenteel epistemologies. Daaraan kan ek niks doen nie.

Hoe sou jy “epistemologiese gewaarwordings” in + 25 woorde aan ’n belangstellende kollega verduidelik?

Dat ek as lid van die Unisa-gemeenskap hierdie gemeenskap uit my eie oogpunt benader en sien, en dat ek dit beïnvloed, aangesien ek ’n holografiese refleksie van Unisa is.

Verduidelik asseblief kortliks vir ons wat “kubernetika” en “tweede-orde-kubernetika” is. Hoe hou dit verband met outo-etnografiese narratiewe?

Kubernetika is die teorie van beheer binne die kommunikasiekonteks en tweede-orde-kubernetika is die gewaarwording dat ons almal as waarnemers van die kommunikasiewêreld ons eie interpretasie projekteer op die wêreld daar buite. Ons kan dus nie as objektiewe buitestanders staan teenoor enigiets in die wêreld om ons nie. Storievertelling in die algemeen en outo-etnografiese narratiewe is dus die enigste manier om met die wêreld te deel hoe ons die wêreld sien, beleef en ontleed. Vir my is dit die enigste eerlike soort navorsing.

Wat is die verband tussen ekologiese denke en outo-etnografiese narratiewe?

Ekologiese denke is ’n epistemologiese standpunt wat mens inneem, een wat sê ek kyk nie soseer na voorwerpe in die wêreld nie, maar eerder na die interaksies en verhoudings tussen die voorwerpe in die wêreld. Outo-etnografiese narratiewe is ’n navorsingsmetodiek wat daardie interaksies en interpretasies van die interaksies dokumenteer en duidelik openbaar.

Dit klink asof Unisa nie ekologies gesond en gebalanseerd ontwikkel het nie. Sou jy saamstem met hierdie stelling? Verduidelik asseblief.

Dis ’n baie moeilike vraag, aangesien ek en Unisa ’n refleksie is van mekaar. Wat ek wel kan sê, is dat Unisa ’n baie komplekse sisteem geword het en dat ons soms oorvereenvoudigde oplossings vir komplekse probleme probeer vind. Eendag sal ons almal dalk besef dat ons meer tyd moet neem om saam te sit om oplossings binne ’n geheel te probeer vind.

Is dit moontlik dat jy dalk met jou outo-etnografie ’n model geskep het vir die refleksie van akademici? Motiveer asseblief jou antwoord.

Nee, hierdie studie sê net iets oor myself en my siening van Unisa.

Hoe kan nuwe sosiale media soos WhatsApp en Facebook help om kommunikasie met studente meer persoonlik te maak?

Ja, ons moet nuwe oplossings vir nuwe hiperkomplekse probleme vind en sosiale media mag van daardie antwoorde bevat. Dit is egter nie eenvoudig nie, want ons as mense hou van eenvoudige oplossings vir komplekse probleme. Sosiale media speel in vandag se tyd ’n baie belangrike rol, maar is nie die enigste antwoord nie. Met my eie studente help ’n WhatsApp-groep byvoorbeeld baie om studente te motiveer, maar om hulle te kry om diep te dink, vereis baie meer.

Ons leef in ’n gebroke onderwyswêreld. Is dit moontlik dat jou model die verbrokkeling kan omskep in ’n meer ideale wêreld? Wie kan dit doen? Hoe?

Dis ’n baie moeilike vraag. Ek sou nie wou sê ons leef in ’n gebroke onderwyswêreld nie, maar eerder in ’n hiperkomplekse een. Die enigste oplossing is kommunikasie, openheid, saamwerk en liefde.

Het jy jou siening en uitkoms van jou navorsing gedeel met Unisa se bestuur? Wat was die reaksie indien enigsins?

Ek het dit met my eie bestuurders gedeel, maar het nie veel reaksie gekry nie. Sedert die studie het ons baie meer prosesse begin daarstel om mense te kry om beter te kommunikeer en saam te werk en dit is besig om vrugte af te werp.

Jy noem iets soos Kersfunksies wat kan help om mense meer intieme gesellige samesyn te laat ervaar. Kan jy dink aan ander soortgelyke aksies wat mense meer tuis kan laat voel?

Die basiese beginsel is dat die meeste instansies baie meer onpersoonlik raak en mense laat voel dat hulle vervreemd is van hul werksomgewing. My persoonlike gewaarwording is dat mens nie ander kan verander nie, maar wel jouself. Deur meer om te gee, empaties te wees en mense uit ’n lens van liefde te beskou verander alles. Dit begin dus by elkeen van ons.

Is dit moontlik dat multidissiplinêre modules kan help dat kollegas saamwerk? Iewers moet die oplossing begin.

Dit kan vir seker help. Ons werk te veel in silo’s en ons sien die mens in silo’s. Opvoedkunde, sielkunde, sosiologie, antropologie, taalkunde, maatskaplike werk en selfs biologie en die mediese wetenskap bestudeer almal die mens maar op ’n gefragmenteerde manier. Maar ons is nie opgesny in stukkies nie; ons is holistiese wesens en ons emosies beïnvloed ons gesondheid en geestelike ervaring, om net ’n paar te noem. As ons mense deur die bril van respek bekyk en vanuit ’n holistiese geïntegreerde perspektief, sal ons dalk die wêreld kan verander.

By die uitkoms noem jy dat jy gekonfronteer is met sewe vrae – wat ons as lesers nuuskierig maak, maar ons sien nie wat die antwoord hierop is nie. Is dit moontlik dat dit ’n opvolgartikel kan word?

Ek het ’n eerste artikel daaroor geskryf met die titel “Harnessing contextuality: A sustainable ecological model for distance learning in a complex world” wat gepubliseer is in Southern African Review of Education with Education with Production, 22(1):64–80. Dit is ook beskikbaar by https://www.academia.edu/31329687/Harnessing_contextuality_A_sustainable_ecological_model_for_distance_learning_in_a_complex_world. Ek is tans besig met ’n hoofstuk waarin ek dieper leer ondersoek binne die afstandsonderrig omgewing.

  • 2

Kommentaar

  • Johnnes Comestor

    Die artikel en hierdie onderhoud se inderdaad min oor die wese van Unisa. Ek het grondige subjektiewe ondervinding van Unisa, eers as student en daarna as dosent. My ervaring is dat die meeste Unisa-dosente min begrip vir afstandstudie getoon het omdat die meeste van hulle, veral voorgraads, aan residensiële universiteite gestudeer het. Sedert 1994 het Unisa onherkenbaar verander en ongelukkig nie verbeter nie; nog akademies, nog administratief. Weens die huidige absoluut onbetroubare posdiens is dit nie meer moontlik om aan Unisa te studeer soos ek destyds kon doen nie. Maar die internet maak dit tans moontlik om baie beter kommunikasie tussen die student en Unisa te bewerkstellig.
    Ek moet ongelukkig byvoeg dat die agteruitgang van Unisa op 1 Januarie 1994 met die diensaanvaarding van Marinus Wiechers as rektor begin het. Hy het hom deur politieke oorwegings laat lei terwyl ek daarop aangedring het dat besluite oor 'n universiteit akademies geregverdig moet kan word. Ons het ooreengekom om te verskil. Wiechers was gelukkig groot genoeg van gees om my nie te verkwalik nie. Hy het geweet dat daar by akademici opregte, grondige verskil van mening kan wees.

  • Estelle Kruger

    Dankie vir jou reaksie, Johannes. Jy bevestig eintlik wat die skrywer geskryf het.
    Omdat die navoringsmetodologie 'n outo-etnografie is, handel dit nie eintlik oor Unisa as sodanig nie, maar die skrywer se reis as dosent vir amper soveel jare as jy, dws hoe sy dit ervaar het terwyl sy terugkyk – wat sy gedink het en hoe sy self ontwikkel het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top