’n Perd se prys, ’n donkie se diens

  • 0

Bron: http://myhorseblog.co.uk/what-to-look-for-when-buying-a-horse/

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Hulle sê trou is nie perdekoop nie. Maar as 'n mens kyk na al die moeilikheid wat arme mnr Macdonald van Johannesburg gehad het toe hy by sy buurman – ene generaal Von Mellenthin – 'n perd gekoop het, dan wil dit wraggies lyk of perdekoop soms 'n groter risiko kan wees as om voor die kansel te loop staan.

Die betrokke perd het die mooi naam Grazioso gehad. Tydens hul onderhandelings het die generaal slegs teenoor Macdonald genoem dat die perd geneig was om te skrik as die vullisverwyderaars skielik 'n asdrom naby hom sou neersit. Bygesê: dit was nog voor die tyd van rubberasblikke!

Maar nadat Macdonald die perd in ontvangs geneem het, het hy 'n ander probleem ontdek waarvan die generaal hom nié vertel het nie: Grazioso het naamlik die nare gewoonte gehad om sy tong óór die stang te plaas sekondes nadat die toom aangesit is. Macdonald het goeie rede gehad om te vermoed dat die generaal van hierdie probleem bewus was, want hy het uitgevind dat hy onder meer stukkies metaal aan Grazioso se stang laat sweis het om hom van hierdie gewoonte te laat afsien, maar dit het niks gehelp nie. Hierdie ongrasieuse gewoonte het Grazioso onbekwaam gemaak om aan kompetisies deel te neem.

Macdonald het aangebied om die perd terug te lewer in ruil vir die R300 wat hy aan die generaal betaal het. Toe die generaal weier, het Macdonald 'n saak in die landdroshof teen hom gemaak.

In sy dagvaarding het hy onder meer aangevoer dat daar 'n regsplig op die generaal gerus het om die besondere gebrek onder sy aandag te bring. Ás hy vir hom daarvan sou gesê het, sou hy die perd nie gekoop het nie. Die landdros het ten gunste van Macdonald beslis en die generaal beveel om sy perd te vat en Macdonald se R300 vir hom terug te betaal.

Generaal Von Mellenthin het teen die landdros se uitspraak geappelleer. Die appèl het voor regter Theron in die hooggeregshof van Pretoria gedien.1

Die hof het gelet op wat Simon van Leeuwen, 'n Romeins-Hollandse regsgeleerde wat tussen 1628 en 1682 geleef het, oor die pligte van 'n verkoper van perde gesê het. Volgens Van Leeuwen sal iemand wat iets van perde af weet, gou sien as 'n betrokke perd 'n gebrek het. Daarom mag 'n perdeverkoper maar swyg as dit gaan oor gebreke wat uiterlik waarneembaar is, soos dat dit 'n bang dier is, of 'n skopper, of dat hy steeks is. Die verkoper hoef sulke gebreke nie spesifiek onder die koper se aandag te bring nie. Die verkoper moet net waarborg dat die perd nie aan 'n onsigbare blindheid ly nie. Ook dat daar nie "spatten en gallen" aanwesig is nie. "Spatten" is 'n swelling in die beengewrig en "gallen" beteken doodgewoon galsiekte. Van Leeuwen sê die perd moet net "van sessen klaar" wees – dit wil sê dit moet vier pote en twee oë hê.

Met sulke direkte gesag uit ons gemenereg kon die hof nie anders as om die generaal se appèl teen die landdros se uitspraak te handhaaf nie. Macdonald moes dus maar vir Grazioso hou en boonop die generaal se regskoste betaal.

Hy moes eerder na Langenhoven geluister het as om hom in 'n duur hofsaak te begeef. Sagmoedige Neelsie het gesê: "Betaal 'n donkie se prys en moenie 'n perd se diens te wagte wees nie." Hy het egter 'n stertjie bygevoeg: "Maar jy betaal maklik 'n perd se prys en jy kry 'n donkie se diens"!

Hier is ’n tweede stertjie: ek merk uit ’n Wikipedia-navraag dat die van van die perdekoper ’n Skots-Galliese en Iers-Galliese oorsprong het – MacDhòmhnaill – en dat die van van die perdekoper op drie maniere gespel kan word: Macdonald; MacDonald en McDonald. (Ai tog, en dan kry jy nog in Afrikaans “van” en “van” wat agtereenvolgens in dieselfde sin geskryf kan word, maar met ’n hemelbreë verskil tussen die twee ...)

1Von Mellenthin v Macdonald 1969(3) SA 471 (TPA)

 

 

                                                    

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top