’n Pandok se liefde: ’n teaterresensie

  • 0

Foto: https://baxter.uct.ac.za/events/n-pandok-se-liefde-0

’n Pandok se liefde is by die KKNK Teksmark 2025 ontwikkel en was onlangs by die Baxterteater op die planke.

’n Pandok se liefde is een van die beste produksies van die 15de Baxter-Zabalaza-teaterfees. Geskryf deur Lauren Snyders, wat die rol van Hettie speel, met haar geliefde Bobby wat deur Dealan Fredericks vertolk word.

Die produksie vertel die storie van Bobby en Hettie wat in hulle pandok in Vergenoeg bly. Die storie volg na ’n voorval waar Hettie een nag aangeval word deur vier mans by die buitetoilet. Dan kyk die gehoor na wat na hierdie aanval gebeur en vra: “Kan liefde alles oorkom?” Jy bevind jou in die wêreld van Hettie en Bobby, ’n wêreld wat baie Suid-Afrikaners goed ken.

........
Hierdie produksie is vir die randfigure van die samelewing – selfs ’n spieël vir my eie lewe. Die verhoog het selfs koud gevoel. Hierdie tipe ruimte (pandok) word so min of glad nie gesien op die verhoog nie. As iemand wat grootgeword het in ’n wendy op die Kaapse Vlakte, sal ek die Departement van Onderwys aanraai om te belê in hierdie teaterstuk.
........

Hierdie produksie is vir die randfigure van die samelewing – selfs ’n spieël vir my eie lewe. Die verhoog het selfs koud gevoel. Hierdie tipe ruimte (pandok) word so min of glad nie gesien op die verhoog nie. As iemand wat grootgeword het in ’n wendy op die Kaapse Vlakte, sal ek die Departement van Onderwys aanraai om te belê in hierdie teaterstuk. Die waarde wat Adam Small (Krismis van Map Jacobs) in sy tyd gegee het aan die samelewing, is die rol wat Lauren Snyders en hierdie produksie in die huidige samelewing speel. Ek weet nie wat of wie die inspirasie vir hierdie storie was nie, maar ek weet daar is mense wat hulself sal sien op die verhoog deur hierdie storie. As ons praat van representation, sal ek begin om na hierdie storie te verwys.

Die reën en daardie een druppel wat val, is eers die getuienis dat die dak ’n probleem het. Later word jy so gewoond aan die reën – die reën klink anders op ’n platedak – dat jy later na dit verlang, en tog is dit die orkes vir die swaarkry wat jy weet bestaan in jou gemeenskap.

........
Die prys moet gegee word vir die kreatiewe besluite. Die waardevolle hantering van die storie wat baie kere met skaamte gedra word. Hier word die inwoners gewys in hulle volheid met hartseer, pyn en tog, soos die titel wys, baie liefde. Die paartjie op die verhoog illustreer dat elke druppel maak die emmer van die lewe vol, en al maak jy hierdie emmer leeg, sal dit môre weer reën.
........

Die prys moet gegee word vir die kreatiewe besluite. Die waardevolle hantering van die storie wat baie kere met skaamte gedra word. Hier word die inwoners gewys in hulle volheid met hartseer, pyn en tog, soos die titel wys, baie liefde. Die paartjie op die verhoog illustreer dat elke druppel maak die emmer van die lewe vol, en al maak jy hierdie emmer leeg, sal dit môre weer reën.

Die idee wat my vang, is hoe trauma gedeel word deur Bobby en Hettie, tog is hulle so ver van mekaar. Hulle hanteer die trauma op hulle eie manier en hou aan om uit te reik na mekaar, na hulle eie bestaan. Die beeld is ’n metafoor vir die land of selfs wêreld. Ons lewe in afstand van mekaar, wat na wreedheid lei, maar tog deel ons hierdie aarde. As ons net kan besef die wêreld is ons pandok, waar dit altyd sal reën, maar somtyds is daar sonskyn en rose.

Lees ook:

Persverklaring: Vyftien nuwe teksvoorstelle te sien by die negende Teksmark

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top