’n Onderhoud oor Evita Bezuidenhout se Unmasking Evita

  • 1

Evita Bezuidenhout haal haar masker tydens COVID-19 af. Sy praat hier onder oor Unmasking Evita, wat op Vrouedag gestroom is (besonderhede heel onder). Pieter-Dirk Uys het op ’n afstand met Tannie Evita die onderhoud gevoer.

Foto van Evita Bezuidenhout: Stefan Hurter

Lanklaas van Tannie gehoor?

Gedink ek is dood? Nee, my skat, ek was ingeperk soos die res van die wêreld. Dan is stilte ’n belangrike deel van oorlewing: minder praat en meer luister. Of baie keer, soos in die geval van televisienuus, afslaan. En natuurlik doodtrek, uitvee, delete as dit kom by die twiet-nes. Maar ek is bly om op 2020 se Vrouedag sommer vir julle in die veiligheid van julle huise te ontmoet. En sonder masker, want ons sal meer as twee meter tussen ons hê.

"Die ontmaskering van Evita"? Hoeveel maskers moet verwyder word?

Gits, daar val julle met die deur in die huis. Op die oomblik is maskers ’n belangrike deel van almal se lewe. Nie die mooiste manier om in die straat te verskyn nie, en sommige van die maskers het elastiese koorde om die ore. Oornag ontwikkel ons blomkoolore soos ’n rugbyspeler! Maar ja, as Afrikaner moes ek baie vermommings dra. Calvinisme se masker was nors en sonder glimlag. Afrikaner-nasionalisme se masker was skynheilig en onbreekbaar. Die masker van gade wees was nogal plesierig. Die masker van ouma is ’n ontwaking. En vandag word die ANC-masker te maklik gesteel. Wat ek vandag as masker dra, is maar wat jy sien: ’n 84-jarige Suid-Afrikaner en wat trots is daarop. Ja, my masker is vriendelik en optimisties.

Maar wie is die ware Evita?

Ek het haar lanklaas gesien. Ek weet sy kom elke nou en dan inloer vir ’n bietjie vars lug, maar dan verdwyn sy weer terug in die sosatie van politieke korrektheid. Ek dink die ware ek is die een wat nog lag wanneer ’n tannie in die straat op ’n piesangskil gly en val. Haai, dis stout van my, maar soms so ’n verlossing.

Jy is bekend vir jou vooruitbeplanning.

Nee, ek het geen kristalbal wat my voorsê nie. Maar in die plaaslike politiek moet jy agter elke bult kan loer sonder om dit daar te waag. Toe ek vir Nelson Mandela vir die eerste keer ontmoet, nog in sy vorige bestaan as “NP #1Terroris” (dis toe ek die tee en koeksisters vir president Botha se ontmoeting met hom in Tuynhuis in 1989 voorberei het), het ek dadelik geweet hierdie man is raar. En hy was. My eerste indruk van Thabo Mbeki was: Oppas! En Onskuldige Jacob? Ek sou wraggies nie ’n tweedehandse Golf van hom wou koop nie. Nou sit ons met ’n derderangse land, danksy daardie tien verlore Zuma-jare.

Is die huidige 2020 iets wat jy verwag het?

Wie sou kon voorspel het dat die wêreld skielik sou stop? Dat almal op die aardbol saam sou staan teen ’n onsigbare vyand? Tot in die middel van Maart was my jaarboek vol met alles wat ek as lid van die ANC moes uitrig. Ek kook mos vir versoening in die kombuis van Luthuli-huis en glo my, dis ’n voltydse werk, want almal het nogal ’n groot aptyt (en dit wat hulle nie eet nie, dra hulle weg in plastieksakke). Vlak 5 word wettig en my dagboek was skielik dolleeg. Net wit bladsye wat my oë laat traan. Mense vra my gedurig: “Tannie Evita, wat gaan gebeur?” My antwoord is maklik: “Môre sal gebeur as ons vandag versigtig hanteer, met maskers en naastelike afstand.” 

Wat is nou jou prioriteite?

Maak net elke oggend seker jy voel nie siek nie. Geen COVID-simptome nie. Dan kan jou dag begin. Gelukkig is my tuisbly onder “huisarres” nie alleen nie. My kleinkinders is by my en as ’n gesin kan ons sonder maskers saam wees. Maar dan kom die lyste: Wat is nodig vanaf die supermark? Trek dan eers versigtig die regte klere aan. Neem die sanitasiespuit saam. Ook jou masker. En handskoene net ingeval. Onthou: Geen handskud met dié wat wil groet nie. Omhelsings is taboe. Klapsoentjies? Vergeet daarvan. Na die winkellug, telefoneer die mense om jou wat alleen is. Wat het hulle nodig? Bel jou man op die plaas. Bel jou ma in die ouetehuis (met gekruisde vingers). Lees verder aan jou boek van die dag. Luister ook na musiek wat kalmeer. Vergeet van die televisienuus, want daar is niks wat jy daaraan kan doen nie. En fokus dag vir dag. Die toekoms bly maar ’n sprokie.

Hoe is jou inperking nou?

Verbasend oorspronklik. Ek doen dinge waarvoor ek nooit tyd gehad het nie. Sorteer die kinders se sokkies. Soek die rooi een wat al maande weg is (dit was agter die wasmasjien). Praat met die kat en streel die hond. Voer die voëls. Sit in die tuin en dink aan niks. Weet net dat die son sal sak en die maan sal opkom. Hopelik ons ook.

Is jy bang vir COVID-19?

Wat ’n belaglike naam! Ek is net verbaas ons is so verbaas. ’n Pandemie was al lank op die horison. Ons kyk gedurig na die Hollywood-films oor die einde van die beskawing weens virusse en siektes. Dis net Arnold Schwarzenegger wat op die nippertjie altyd ’n oplossing daarvoor vind. Ons hoop maar net ons eie dr Wouter Basson het die teengif wat ons almal soek agter in een van sy yskaslaaie. 

En wat doen Comrade Evita nou? Is haar ANC ook op Zoom?

Dit hang alles van Eskom af. As ons kan, dan hou ons ’n vinnige imbizo op Zoom. Ek bly maar in die agtergrond en stuur die resepte en daaglikse menu’s vir die ANC-dinkskrum van die dag. Maar ek is bevrees ’n kollektiewe politieke leierskap tydens ’n pandemie is nie die manier om ’n land en sy gespanne mense te beheer nie. Mediese antwoorde en wetenskaplike leiers is die stemme wat ek wil hoor. Daar is daagliks nou te veel derderangse politici met vierderangse idees op televisie. Om nou in die trauma van siekte en alleenwees gedompel te word sonder die krukke van rook en drank, is onnosel en onnodig. 

En die lesse wat jy nou leer?

Almal leer lesse. Die grootste herontdekking is die virtuele gemeenskapomhelsings. Dis wonderlik om die ruwe menslikheid weer te ontdek. Die mooi manier hoe mense mekaar nou help, voer, koester, inspireer en versorg. Ek hou my oog op die slu manier waarop die regering besig is om die Grondwet versigtig voor ons oë op te skeur, onder die dekmantel van kastige rampbeheer. Mense se waardevolle regte, deur die Grondwet beskerm, word agtelosig vernietig. Daar is geen oorsig of kommentaar uit die hoogtes nie.

En die Nuwe Normaal?

Daar word dikwels voorgestel dat ons moet teruggaan na waar ons as ’n land was, voor die gogga se aanval. Toe was ons alreeds in die finansiële toilet! Die korrupsies, diefstalle, leuens en jag op die juwele van die land het ons bankrot gemaak. Terwyl ons nou bemasker deur die dae sit en wag vir iets beter, gesonder en hoopvoller, sal ons dit net in die rioolpype vind! Die Nuwe Normaal beteken: Nou moet die werk eers begin. Is ons nog ’n demokrasie? Of het die aardbewing van COVID-19 die grondslag van totalitarisme ontbloot en versterk?

Wat gaan jy op 9 Augustus doen?

Elke Vrouedag is ’n snaakse ondervinding. My familie het planne om my te trakteer. “Bly in die bed, Ma! Hier is ’n roereier en spek, Ouma! Doen niks! Rus! Word bederf!” Ja dankie, en dan môre sal Mamma maar al die gemors self opruim! In die digitale vermaak wat op Vrouedag lewend deur Quicket oor die wêreld uitgesaai word, deel ek hoogtepunte van my lewe met die kykers. Ek is daar met Madiba, Cyril en Tutu. Ek deel die mag van PW, Pik en Koornhof. Ek wil wys hoe ons uit die donkerte van apartheid die goud aan die einde van hierdie nuwe reënboog kan vind. Daar is baie om oor te lag. Daar is meer om te onthou. En daar is altyd baie om na uit te sien.

Media release: Unmasking Evita to be livestreamed on Women’s Day

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Henning Janse van Vuuren

    Me Bezuidenhout moet asseblief kennis neem van Jak(kals) en (Spoeg)wolf se beloofde 2-ure Voortrekkermonumentkonsert wat so 45 minute gehou het. Om verlate in die voorhuis te sit en boo was nóg ’n persoonlike laagtepunt in hierdie morbiede dae van donker magte binne en buite ons grense. Met donker meen ek bloot van somber aura – niks met #BLM te make nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top