’n Onderhoud met Zak Hendrikz oor A Christmas carol by Theatre on the Bay

  • 0

Zak Hendrikz (foto: verskaf)

“Veelsydig” is beslis die woord wat die akteur, regisseur en stemkunstenaar Zak Hendrikz die beste beskryf. Nie alleen is hy bekend op die verhoog, voor die kamera en agter die mikrofoon nie, hy is ook die mede-eienaar van ’n donkiemelkery in die Magaliesberge.

Ek was verstom toe ek na sy CV loer en sien sy teaterwerk is amper dubbel soveel as televisie of film, hoewel hy vir die meeste mense altyd Werner Visagie van 7de Laan, Eben Nel van Binnelanders of JJ Papenfus van Getroud met rugby sal bly.

Die einde van 7de Laan is natuurlik vir hom ’n reuseverlies en nie ’n lekker manier om 2023 te groet nie. Daar is egter nie te veel tyd vir trane nie, want hy speel van 6 tot 16 Desember die rol van Ebenezer Scrooge in A Christmas carol by Theatre on the Bay. Dié teaterverwerking van Charles Dickens se  roman A Christmas carol. In prose. Being a ghost story of Christmas is 180 jaar nadat dit in 1843 geskryf is, by dié gesogte teater op die planke.

Dean Roberts van Theatre on the Bay vertel: “Dit is beskryf as ’’n weelderige banket vir die oë, ore en verbeelding; ’n sensoriese genot vir enige moeë siel’. Dit is die perfekte vertoning om menslikheid, familie en bowenal vrygewigheid van gees te vier!”

Dit het dié Kersfees-verhaal geword en speel op ’n somber, koue Kersaand in Londen af, sewe jaar ná die dood van Ebenezer Scrooge se sakevennoot, Jacob Marley. Dié se spook verskyn aan Scrooge.

Scrooge is inhalig en hou nie van Kersfees nie en is oor die algemeen net onaangenaam en klou verbete vas aan sy geld. Die spook wat deur kettings van ’n leeftyd van hebsug en selfsug afgerem word, waarsku Scrooge om nie dieselfde pad te loop nie en om sy weë te verander. Deur die loop van die vertoning word Scrooge dan inderdaad deur drie spoke besoek; hy verander sy uitkyk, skenk geld en gee om vir mense.

Zak sê hy is opgewonde oor dié rol, want dis natuurlik so reg in sy kraal, met ’n nasionale diploma in musiekteater en geen vreemdeling vir musiekspele nie, waaronder Starlight Express, Footloose, Grease (internasionale toer), Hair en meer onlangs as Dr Scott in die wêreldtoer van The Rocky Horror Show.

Sy toekenningslys is indrukwekkend, en sluit in: nominasies vir Naledi’s: Beste teaterstuk vir jong gehore (Hoopvol, 2017), Beste ondersteunende rol in ’n musiekblyspel (Little shop of horrors, 2016) en Beste uitvoering in ’n ondersteunende rol (I have life – Alison’s journey, 2015); ’n nominasie vir ’n Fleur du Cap: Beste ondersteunende rol in ’n musiekblyspel (Little shop of horrors, 2016); en die Broadway Suid-Afrika-toekenning: Beste ondersteunende rol in ’n musiekblyspel (Little shop of horrors, 2015); en ’n Naledi-toekenning: Beste musiekblyspel vir kinders (African adventure family musical, 2011).

Van veelsydigheid gepraat: Die een oomblik is hy in ’n Leon Schuster-fliek (Mr Bones 2), die volgende in ’n Afrikaanse gunstelingfilm (Ballade vir ’n enkeling), en dan in ’n ernstige Netflix-reeks (Shadow). Grapjas, ernstige akteur, hartebreker, hardekwas. Geen uitdaging blyk hom onder te kry nie.

Tussendeur vervaardig hy kortfilms en teaterproduksies onder sy produksiehuisnaam, PIT Productions.

Maryke Roberts praat met Zak Hendrikz

Zak, jy was nie soos baie ander akteurs vir jare deel van die 7de Laan-rolverdeling nie. Wat het dit bygedra tot jou loopbaan en hoe verskil dit om as amper 40-jarige by die 7de Laan-familie te kon aansluit?

Dit was asof ek my verlore familie opgespoor het. Almal was so vriendelik, liefdevol en positief toe die Visagie-familie opdaag en ons is met ope arms verwelkom!

Wat het jy geleer op die stel van 7de Laan wat jy altyd met jou sal saamdra?

Dat die werksomgewing nie so ernstig hoef te wees nie. Solank almal hulle werk doen met passie en oorgawe, is daar genoeg tyd om ook te speel.

Wat geniet jy van sepies en wat was vir jou die grootste verskil tussen die drie waarin jy die afgelope paar jaar te sien was?

Ek is een van die min Afrikaanse akteurs in ons land wat vir so lank by al drie groot sepies na mekaar was. En daar is ’n massiewe verskil by elke sepie. Alhoewel elke sepie nie tegnies verskil nie, kom die verskil meer in oor hoe die vervaardigers met hulle span werk. En dit kan óf ’n positiewe óf ’n negatiewe omgewing skep.

Brei ’n bietjie uit oor jou stemwerk vir die animasiefilm Headspace, waarin jy lewe in die ruimtewese, Zolthard, blaas?

Ons was nie net die stemme vir die karakters in hierdie Suid-Afrikaanse animasie nie, maar ons het ook die karakters vertolk. Ons het vir een maand gerepeteer aan die karakters en vir twee maande in “motion capture suits” die hele film in studio geskiet. Die “animators” het dan ons lywe gebruik om te “animate” en ook ons gesigsuitdrukkings gebruik as basis vir die karakters se emosies.

Wat aan die rol van Scrooge het jou oog gevang?

Ek het A Christmas carol ’n paar jaar terug gesien en was mal oor die produksie. Dit het so ’n warm gevoel by my gelaat toe die vertoning klaar was. Toe die vervaardigers my vra of ek die rol van Scrooge kan vertolk, was ek superopgewonde en het ek dadelik ja gesê!

Hoe voel dit om weer terug te wees by Theatre on the Bay en wat geniet jy aan die teater?

Ek is mal oor hierdie teater. Ek het soveel goeie herinneringe van al die produksies wat ek al hier gedoen het en is baie opgewonde om weer my voete op hierdie verhoog se planke te plant.

Vertel asseblief meer van jou produksiehuis, PIT Produksies, se suksesvolle stukke en waarmee julle alles besig is?

PIT Produksies is ’n opvoedkundigeteatermaatskappy wat die tweedetaal-Afrikaans en Engels-huistaal se voorgeskrewe prosa en poësie vir IEB se graad 12-leerders visueel uitbeeld.  My akteurs toer een keer ’n jaar, besoek nege provinsies en honderde skole om die leerders met hulle eindeksamens te help.

Vertel asseblief meer van jou en Cindy Swanepoel se produksie Een – waar kan lesers dit sien in 2024?

Ons het nou net ons toer klaargemaak met Een by Aarklop, maar ons blaas weer asem in die produksie by KKNK, Vryfees en Innibos. Dus as julle die produksie misgeloop het, is daar nog baie speelvakke vir die mense om te kom kyk!

Jy wissel gemaklik tussen Afrikaans en Engels – waar kom jou tweetaligheid vandaan?

Ek was in ’n tweetalige hoërskool en universiteit. Dus was dit belangrik van my tienerdae af om goeie Engels te praat. Maar die grootste gedeelte daarvan is dat my eks-partner van 17 jaar Engels was. Ons het altyd Engels in die huis gepraat, wat my baie sterker gemaak het met my tweede taal.

Wat is jou eerste liefde – teater, televisie, film, stem?

Teater!

Wat wag in 2024 op jou?

Ek is altyd besig met PIT Produksies en om die toer vir die volgende jaar te beplan. Daar is natuurlik ook ons produksie Een wat na al die feeste toe gaan, en dan het ek ’n “geheime” projek gekry wat in die Kaap skiet vanaf vroeg 2024.

Watter eienskappe in Scrooge herken jy in jouself (die ou of die nuwe een – jou keuse)?

Ek kan nie met die ou Scrooge identifiseer nie, maar met die nuwe Scrooge, wat agterkom dat Kersfees oor baie meer as net jouself gaan en dat jy in ’n posisie is om een keer ’n jaar mense se lewens te kan verander met positiwiteit, absoluut!

Hoe bring jy hierdie Kersfees deur?

Die familie gaan almal na ons strandhuis in Kleinmond bymekaar kom. Oud, jonk, mooi en lelik (ek is die lelike een).

  • Charles Dickens se A Christmas carol om 19:30 saans se kaartjies kos R180–R280 en kan by Webtickets gekoop word. Meer inligting by www.pietertoerien.co.za.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top