’n Onderhoud met Janelle Visagie oor The sound of music: Die heuwels juig weer!

  • 0

Die Kaap is nie weer Hollands nie, dis Oostenryks. En om presies te wees: die heuwels buite Salzburg. Ja, jy het reg geraai, die legendariese The sound of music is terug in Desember en vertrek daarna na Johannesburg.

Die musiekblyspel was die 11de en finale samewerkingsprojek tussen die befaamde musikant Richard Rodgers en liriekskrywer Oscar Hammerstein II, en die inspirerende verhaal – gebaseer op die 1949-memoires van Maria von Trapp – volg ’n jong vrou wat in wroeging is met haarself of sy ’n non wil word. Sy neem die werk as oppasser vir die sewe kinders van die heersende kaptein Von Trapp, wat musiek en vreugde na die huishouding bring. Maar terwyl die magte van Nazisme Oostenryk beetkry, moet Maria en die hele Von Trapp-gesin ’n morele besluit neem. En natuurlik is daar liefde en intrige en persoonlike drama betrokke, want hoe kan ’n non nou staan en verlief raak op haar wewenaar-werkgewer?

Die oorspronklike verhoogproduksie het ses Tony-toekennings gewen, insluitend beste musiekblyspel, en is toe verwerk in die vyfmalige Oscar-bekroonde rolprent wat voortgegaan het om die suksesvolste rolprentmusiekblyspel van alle tye te word.

Al die gunstelinge wat mense sedert daardie eerste Broadway-produksie in 1959 sing, “My Favorite Things”, “Climb Ev’ry Mountain”, “Do-Re-Mi”, “Sixteen Going On Seventeen” en vele meer, is weer daar.

Dis nie die eerste maal dat Suid-Afrikaners hierdie musiekblyspel kan geniet nie, maar dis wel die eerste keer dat dit gesamentlik deur Pieter Toerien Produksies en Kaapstad Opera met Magdalene Minnaar as artistieke direkteur aangebied word. Beide Pieter Toerien en Magdalene Minnaar is regte teatermakers en hierdie weergawe beloof om iets besonders te wees. Magdalene se passie en andersdenkende aanslag om opera toeganklik te maak, het Kaapstad Opera die afgelope twee jaar verskeie male in die kollig geplaas.

Janelle Visagie as Moederowerste (Foto verskaf)

Dis ook nie die eerste maal dat die Kaapstad-sopraan, Janelle Visagie, die nonnekleed vir haar rol as Moederowerste (Mother Abbess volgens die rolverdeling) aantrek nie. Dit het haar immers in 2015  die gesogte Fleur du Cap-toekenning vir beste aktrise in ’n musiekblyspel besorg en sy is ook  genomineer vir ’n Naledi-teatertoekenning vir die rol. Nadat dié Pieter Toerien-produksie Suid-Afrikaanse verhoë aan die brand gespeel het, het dit na Nieu-Seeland, Singapoer, China, Hong Kong en Indonesië getoer.

Dieselfde produksie het ook in 2017–2018 internasionaal getoer en geëindig in Suid-Afrika. Dit het internasionaal getoer na Manila, Singapoer, Macau en Sri Lanka.

In 2019–2020 was Janelle deel van die Phantom of the opera-wêreldtoer wat in 2020 tydens hul speelvak in Seoul, Korea die enigste teaterproduksie ter wêreld was wat tydens die Covid-19-pandemie kon aanhou speel. Korea se eerste kruin was verby en as gevolg van streng Covid-regulasies van die regering was infeksiegetalle besonder laag.

Ek gaan lees ’n bietjie op oor presies wat dié rol vereis: Dit verklaar onder meer dat die rol ’n volwasse sopraan verg; geen dansery betrokke is nie; die hoë note van G♯5/A♭5 en die lae noot van B3 insluit en die sanger haarself in Oostenryk in 1938 moet inleef.

Dit noem ook die hutsmerke #Dignified, #Wise, #Gravitas, #Warm, #Mentor, #Nun, #Authoritative en #Strong. Janelle voldoen gewis aan al hierdie eienskappe. Dit is immers die vierde maal dat sy terugkeer in dié rol. En haar vorige vertolkings het resensente laat kwyl van lekkerte. Leon van Nierop skryf: “But it is Janelle Visagie who outshines everything and everybody on stage”, en Peter Feldman skryf: “Show stopper of the evening has to be Janelle Visagie (The Mother Abbess) whose magnificent rendition of ‘Climb Ev’ry Mountain’ sent goose-bumps up and down my arms.”

Haar CV lees soos ’n sopraansprokie: Van verskeie rolle in Amore, tot Angelica in Puccini se Suor Angelica, beide vir Kaapstad Opera tot Magnolia in Kern se Show Boat in Le Châtelet, Parys én Malmö Opera en ’n hele gros tussenin.

Sy sing sedert haar skooldae en tydens haar studies deur Unisa, as ’n student van Virginia Davids, word dit gou duidelik dat sy die volgende ster in wording is. Sy het haar Lisensiaat Diploma in Uitvoering aan die Trinity/Guildhall Skool vir Musiek met lof verwerf.

In 2009 was sy die eerste ontvanger van die Johan Botha-beurs en die Helderberg Rotariër-beurs vir jong opkomende sangers en kort daarna het sy die geleentheid gehad om meesterklasse by Montserrat Caballé in Spanje by te woon.

Haar gereelde oratoriumuitvoerings sluit Handel se “Messias”, Beethoven se “Mis in C” en “Choral Fantasia”, Mozart se “Requiem” en vele ander in.

Ek vind heel toevallig ’n Februarie 2018-Kaapstad Opera-opname op YouTube van Janelle en Jarrad Ricketts se vertolking van “Barcelona”. Haar stem gee jou hoendervleis inderdaad, net soos Peter Feldman destyds geskryf het.

Janelle en José Dias ontvang in 2017 die Woordtrofee en Fiësta vir hul produksie Pioniers en word ook genomineer vir die Woordtrofees 2022 vir hul vertoning Le Roux Marais – Pionier in die Klassieke musiek: Vokaalafdeling. Hulle geniet wye erkenning vir die uitnemendheid van hul optredes en hul toewyding om unieke musiekprogramme en -produksies te ontwikkel.

Maar terug by die hede. Pieter Toerien se herinneringe aan die musiekblyspel strek ver terug: “As ’n baie bevoorregte skoolseun het my ouers my na Londen geneem en deur pure geluk na die finale optrede deur Julie Andrews op Drury Lane in My Fair Lady.

“Ek is daar uitgeboul en is ’n aanhanger vir die res van my lewe, so toe die fliek van The sound of music ’n paar jaar later in SA open, was ek by die eerste vertoning in Kaapstad. In daardie dae is groot flieks by die manjifieke Alhambra-teater in Burgstraat met sy 1952 sitplekke vertoon. Flieks het Woensdag en Saterdag om 20:00 met middagvertonings gewys, so ’n nuwe fliek was ’n geleentheid. Jy het jou aand uitbeplan en moes ten minste ’n week voor die tyd kaartjies bespreek.

“Ek onthou die aand toe ek gegaan het, want dit was uitverkoop en die gehoor het aan die einde soos besetenes toegejuig. 1932 mense het daardie aand ná die fliek uitgestorm en elke restaurant en koffiekroeg gevul, waar niks anders bespreek is nie.”

Magdalene het haar eie spesiale herinneringe en opwinding vir die komende speelvak: “Dis ’n ongelooflike opwindende reis om saam met Pieter Toerien hierdie baie grootskaalse musiekblyspel aan te pak en hoe wonderlik dat ons hierdie ‘ultimate Christmas musical’ vir gehore kan bring.

“Ek was vandag by een van die repetisies en sien so uit na gehore se reaksies, want ek kon nie my trane stop nie. Die kinders en die cast en die regie is so wonderlik. Dis net ’n absolute fees.”

Maar dan keer ons terug na die rol van die Moederowerste. Janelle beantwoord ’n paar vrae.

 Wat aan die rol van Moederowerste is so uiters geskik vir jou stem, jou persoonlikheid?

 My stem is swaarder en donkerder van kleur. Dié wat die lingo ken: Ek is ’n Spinto-sopraan. My stem is dus baie geskik om hierdie ouer karakter te speel. Tong in die kies is ek redelik moederlik van geaardheid, so in daardie sin pas dit seker my persoonlikheid!

 Wat geniet jy aan die rol en wat is vir jou so besonder aan hierdie musiekblyspel?

 Moederowerste is vir my ’n baie spesiale rol. Ek kan nie my vinger op een spesifieke rede plaas ter verduideliking nie. Daar is net iets omtrent haar. Die wysheid, die begrip, die liefde… Dis alles daar. Die karakter het vir my soveel lae. Ek glo onder andere dat Mother Abbess ook ’n Maria was, miskien 20 jaar gelede, en dat sy voor dieselfde lewensveranderende keuses gestaan het. Sy het begrip vir Maria se dilemma.

Wat so besonders is aan hierdie musiekblyspel, is die konneksie en herinneringe wat meeste mense wat dit kom kyk, het. Byna almal het ’n storie wat verband hou met hierdie musiekblyspel en dit is vir my bitter spesiaal. Dit was byvoorbeeld my eerste teaterondervinding toe ek ses was.

 Die openingsaand is etlike weke weg. Hoe voel dit om weer te repeteer aan dieselfde note en woorde?

 Dis bekend, maar dis ook baie nuut. Ek hoef ten minste nie baie tyd daaraan te spandeer om my woorde te leer nie! Maar die feit dat dit ’n heeltemal nuwe produksie is wat die regie en ontwerp betref, is vir my ’n opwindende deel van die proses hierdie keer en daarom voel dit ook nuut. My gedagtes dwaal wel gereeld terug na al die spesiale oomblikke met vorige rolverdelings. Dis onvermydelik. Ek dra daardie besondere herinneringe met my saam vir die res van my lewe.

 Jy het voorheen die Fleur du Cap-toekenning en Naledi-nominasie verower vir jou vertolking. Bring dit ekstra druk om weer die rol te sing of maak dit dinge makliker?

 Ek dink die grootste druk wat dit bring, is die wat mens op jouself sit. Omdat die rol gevestig is en dit voorheen goed ontvang is, gee dit my die selfvertroue om dit weer te speel.

 Wat bring Pieter Toerien en Magdalene Minnaar na die tafel wat dit vir jou ’n opwindende en uitsonderlike ervaring maak?

 Ek het al saam met beide Pieter en Magdalene afsonderlik gewerk. Dit is wonderlik dat hierdie twee teatermakers uiteindelik kragte saamsnoer. In my opinie, omdat The sound of music klassiek van aard is maar steeds ’n musiekblyspel is, is dit die ideale produksie vir hierdie collaboration. Heelparty van Kaapstad Opera se sangers beset die rolverdeling en gee ’n wonderlike, kragtige kwaliteit aan die klank, sonder om dit na opera te laat klink.

 Waarna in Magdalene kyk jy op?

 Magdalene is ’n teatermaker in murg en been. Sy dink buite die boks. Sy het nog altyd oor die fantastiese vermoë en kreatiwiteit beskik om haar eie werk te skep. En nou is sy in die beste posisie moontlik om hierdie ongelooflike talent en enorme passie vir opera te laat floreer. Sy kom met nuwe idees en is daarop gefokus om opera toeganklik vir almal te maak. Sy is ook passievol oor ons talent op eie bodem en om daaruit te tap. Ek hou ook baie van haar idee om ander invloede in te bring by opera, soos teater en dans. Ek wil my verstout deur te sê: “Watch this space.”

 Vertel van die Von Trapp-kinders vir hierdie speelvak, is hulle anders as die vorige rolverdelings? Is kinder-sangers anders as 8, 9 jaar terug?

 Ek is nie die regte mens om te vra nie. Ek is slegs saam met hulle op die verhoog reg aan die einde van die tweede bedryf! Maar uit die bietjie tyd wat ek saam met hulle spandeer en waar ek hulle op die oomblik kan dophou in die repetisiekamer, verbyster dit my elke keer waartoe hierdie klein akteurtjies in staat is. Elke groep kinders wat al deel van hierdie produksie was. Hou in gedagte, daar is drie groepe wat mekaar afwissel en ’n nuwe stel van drie groepe in elke stad waar ons al opgetree het, ook hierdie keer in Kaapstad en Johannesburg. Die repetisieproses is werklik uitdagend en hulle moet almal met skoolwerk ook byhou en eksamen skryf! Dit is vir my wonderlik om te sien hoe elke klein mensie sy eie individualiteit tot die resep voeg. Ek moet ook erkenning gee aan die fenomenale Duane Alexander, die koreograaf en kinder-regisseur! Sy geduld en die liefde waarmee hy die kinders afrig, is baie spesiaal.

 Op jou Instagram-profiel meld jy dat jy ook pruikmaker is. Vertel asseblief meer?

 Toe ek die eerste The sound of music-toer meegemaak het, het ek in my vrye tyd geleer om pruike te maak by die hoof van die pruikdepartement, Madelein Krugel. Sommer as ’n stokperdjie. Ek was bevoorreg genoeg om met die stokperdjie ’n ekstra geldjie te verdien. Ek het al ’n hele paar pruike vir internasionale TV-reekse en films gemaak.

 Ek het iewers gelees jy is mal daaroor om in jou moedertaal Afrikaans te sing. Jy kry seker nie baie kans nie? Of hoe?

 Ek het ’n passie vir Afrikaanse kunsliedere en het met my partner in musical crime, die pianis José Dias, ’n paar jaar gelede ’n program van drie van die mees invloedryke Afrikaanse kunslied-komponiste uit verskeie generasies saamgestel. Afrikaans is een van die jongste tale in die wêreld en die eerste liedere is getoonset op Afrikaanse gedigte, maar het ’n eeu gelede eers die lig gesien. Die program Pioniers is bekroon met ’n Woordtrofee- en Fiësta-toekenning.

Wanneer jy op YouTube gaan soek na voorbeelde van Afrikaanse kunsliedere, vind jy meestal dat die laaste toonaangewende opnames deur Mimi Coertse gedoen is. Ek en José het toe besluit ons wil ’n moderner weergawe saamstel en het vroeër hierdie jaar ons eerste album van ’n versameling van S le Roux Marais se liedere opgeneem. Die album is tans in post-produksie en ons hoop om dit volgende jaar vry te stel.

 Watter sopraan-rol in jou loopbaan was nog die uitdagendste en die vervullendste?

 Elle (vrou) in La voix humaine (the human voice) van Francis Poulenc is ongetwyfeld die mees uitdagende rol wat ek nog gesing het. Die opera is relatief kort, net oor ’n uur, maar dis geskryf vir ’n enkele karakter en ons het besluit dat ek dit in die oorspronklike Frans sou sing. Die musiek is ingewikkeld, maar om vir ’n uur lank in Frans te sing is ’n unieke uitdaging, veral as jy nie geweldig Frans magtig is nie. Dit is uiters vervullend om so ’n rol suksesvol te kan vertolk.

 Waarin sien en hoor teatergangers jou ná The sound of music in 2024?

 Ek sal nog tot in Februarie 2024 daarmee besig wees, wanneer die speelvak in Johannesburg tot ’n einde kom. Geïnteresseerdes moet ’n oog op my sosiale media hou vir aankondigings van toekomstige optredes.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top