’n Onderhoud met Eloïse Cupido

  • 0

Eloïse Cupido (foto: YouTube)

Inleiding

Dink Vetkoekpaleis, Ontbytsake en Proesstraat. Eloïse Cupido is ’n veelsydige kunstenaar wat enigiets kan doen waarop sy haar toespits; van stemkunstenaar tot toneelspel en meer onlangs ook sangeres. Alles wat dié Overbergse nooi haar hand aan waag, is gelaai met energie en deursettingsvermoë.

Bekkige, plattelandse nooientjie

Eloïse se grootwordjare was in Montagu, saam met haar broer en ’n tweeling pleegkinders wat haar ouers ingeneem het. Haar ma vertel sy was van kleintyd af ’n bekkige kind. Sy was meestal met haar neus in ’n boek, het klavier gespeel en het ’n groot woordeskat gehad wat sy nie gehuiwer het om te gebruik nie. “Ek het meestal op algemene kennis gaan eksamen skryf en goeie punte behaal. Dít het my egter gekelder in matriek en my gemiddeld verswak, wat bygedra het tot my onvermoë om beurse en lenings te kry.”

Eloïse vertel sy het as kind al geweet daar is nie geld om te gaan studeer nie en nooit eers gedroom van "eendag" nie. Die toneelgogga het haar gebyt nadat sy deelgeneem het aan Hoërskool Montagu se 10-jaar viering van hul Toneelfees, onder leiding van Marina Bekker en Marianne Stander. “Marina het ná die tyd probeer uitvis wat ek ná skool wou doen en aanbeveel dat ek aansoek doen vir BA by Tukkies. Dít was ook die enigste plek waar my universiteitsaansoek goedgekeur is.” Eloïse vertel haar ma was baie bekommerd dat haar baby so ver sou wees, maar sy het haar belowe as dit nie uitwerk nie, sou sy terugkom na haar tuisdorp en daar werk.

Universiteitsdae

“Ek het hard gewerk op Universiteit en was dikwels alleen omdat daar nie geld was om my familie te besoek nie. Ek het myself die beste moontlike kans gegee om ’n sukses te maak van hierdie splinternuwe droom.” Sy het besef dis prakties om in Pretoria te wees, al was dit vér van haar familie. In Pretoria kon sy die bedryf van naderby betree en die wonderlikste mense het haar pad gekruis en die ervaring makliker gemaak. “Toe ek hoor ek kan ander tale in die plek van Afrikaans swot, het ek hul gesmeek om Frans te kon doen, want as gevolg van my dramavakke, sou ek soms klasse mis. Dit was moeilik met ’n massiewe werklading, maar só lekker.” Haar passie en aanleg vir tale het haar handig te pas gekom en later het ’n paar Duitse flieks en Franse werk gevolg.

Sy vertel blinkoog van haar televisiedebuut in 1998 in Vetkoekpaleis. “Byna aan die einde van my eerste jaar was daar ’n funksie en het ons sulke middeleeuse kostuums aangetrek. Die span van Vetkoekpaleis was ook daar en op ’n kol het ek langs Willie Esterhuizen beland en ’n aanmerking gemaak oor sy foon.” ’n Paar dae later het Willie die koshuis geskakel en haar ’n rol aangebied in ’n episode van Vetkoekpaleis, waarop Eloïse ewe dankie gesê het, “maar sy sal eers met die Hoof van ons Departement moet seker maak of dit in die haak sou wees!” “Willie en die hele span het vandag nog ’n sagte plek in my hart. Hulle was ongelooflik, het my aan die hand geneem en vinnig probeer touwys maak.” Die aand van dié debuut was Eloïse self ook tuis en die hele Montagu was voor hul televisies! “Dit was een van die eerste bewyse vir my dat my dobbelspel, om alles wat ek geken het agter te los en Pretoria toe te verhuis agter my droom aan, die moeite werd was.”

Energieke Eloïse

Behalwe aanbieder, aktrise, motiveringspreker, komediant en sangeres, doen sy ook stemwerk, radio en televisieadvertensies, radiodramas, boekvoorlesings en kinderstories. “Ek voel uiters geseënd dat ek in al hierdie media kan werk. Elkeen daag my op ’n ander manier uit en die verskeidenheid hou my op my tone sodat ek nooit afgesaag en geyk raak nie.” Eloïse is van nature ’n hoë energie individu; sy loop en praat vinnig en stort geweldig baie energie uit op ander rondom haar. Sy vertel daar word grappenderwys na die bedryf verwys as “hurry up and wait”, want soms word van hulle vereis om baie vroeg op stel of êrens te wees en dikwels sit hulle rond totdat hul benodig word. Sodoende het sy die kuns vervolmaak om enige plek aan die slaap te raak! “Soms is dit letterlik al kans wat mens kry om asem te skep voor die volgende golf kom. Dit help geweldig baie dat ek ’n groot passie en liefde vir my werk het, want dan is ek meer geneë om die aanpassings te maak wat soms vereis word.”

Girl van die Klein Karoo

Eloïse is tans aanbieder op Ontbytsake en sy werk saam met die formidable span van Melinda Meyer en Maderi van Blerk en die bemarkers wat die program aanmekaar sit. “Na ons produksievergadering, vertrek ons na die ateljee vir hare en grimering en dan word ons goed geoliede span aanbieders toegelaat om heelwat sports op die stel te hê tydens opname. Ek werk met seker die mees ego-vrye mense in die bedryf en ons almal sit ons deeltjie in die pot wat Ontbytsake sy karakter gee.”

In 2014 het sy haar debuutalbum Girl van die Klein Karoo, vrygestel. Sy het ook al die liedjies op dié album self geskryf. “Toe ek my dertigerjare betree, het ek besef ek was self verantwoordelik om my droom ‘n realiteit te help maak. Ek wou ook probeer skryf, want ek het geen idee gehad of ek sou kon nie.” Eloïse vertel sy sal Coenie de Villiers ewig dankbaar bly vir sy bereidwilligheid om na haar droom te luister en aan te moedig en vir Johan Kelber wat die pad saam met haar aangedurf het. “Ek is trots dat ek van Montagu af kom en wou bewys dat nie alle paaie na jou drome glad verloop en op ‘n skinkbord na jou toe aangedra word nie. Dit was ’n intense, humbling proses om my eie album te vervaardig, maar sodoende kon ek ook beheer oor elke element behou en ek het God se seën mildelik ervaar daartydens met mense soos Nimi Pretorius wat my ongelooflik bygestaan het.”

Vrou van vele talente

In 2011 het Eloïse die voorreg gehad om die aankondingingseremonie vir die Winter Olimpiese Spele te doen. Eloïse vertel van dié ongelooflike gebeurtenis. “Ek is genader namens SASCOC, ek dink grootliks omdat ek Frans magtig was en gemaklik was met regstreekse uitsendings. Die aankondiging is regstreeks uitgesaai regoor die wêreld, maar hoofsaaklik in Frankryk, Duitsland en Korea, die drie kandidaatlande. Die vervaardigers by die Olimpic Broadcast Service (OBS) het my ongelooflik goed behandel.” Daarna was sy in 2015 die enigste Suid-Afrikaner wat as sportkommentator op die eerste Europese Spele te Baku, Azerbaijan, gewerk het. Sy vertel dit was ’n fenomenale ondervinding om haar land en bedryf internasionaal te kon verteenwoordig. Eloïse vertel sy put inspirasie van mense wat ten spyte van wat hulle oorkom, oorwin en hoogtes bereik. “Ons paralimpiese atlete maak my skaam dat ek soms gal braak oor wat my oorkom en dwing my tot nederigheid en dankbaarheid vir dit wat ek wel het. Ek bewonder en omring my met oplossing-soekers.” Sy smag daarna om alles in haar lewe te ontgin. “Ek wil ryk, diep ongelooflike verhoudinge met my geliefdes en vriende hê, werk aan shows en projekte waarin ek glo en waar ek van nut kan wees. Ek wil aanhou groei en ontwikkel en my talent ten goede gebruik."

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top