’n Nuwe era van onderwysaktivisme is nodig

  • 1

Gert van der Westhuizen

Onderwys in Suid-Afrika is veronderstel om ’n wesenlike boublok te wees van ons jong demokrasie. Lank reeds is die verwagting daar dat die onderwys so sou verander dat dit demokratiese onderwys sou wees – “people’s education”: onderwys deur die mense, vir die mense; bevrydende onderwys wat demokratiese burgerskap sou verseker, diskriminasie en onderdrukking eens en vir altyd sou wegneem, die tale van die land sou laat groei, en mense ook mettertyd ekonomies sou bemagtig.

Maar toe nie!

Ons het ’n stelsel wat Engels die primêre taal maak ten koste van ander. Ons het kurrikula op skole en universiteite wat ’n kenniskrisis meebring – een waar alles wat formeel Westers en modernisties is, steeds in die sentrum is, en waar alles wat plaaslik, inheems en Afrika-eie is, steeds geïgnoreer en misken word.

Wat gaan aan? Hoe is dit aan die gebeur? Watter besluite is geneem en deur wie? Hoe het dit gekom dat ons nou wydverspreide ontevredenheid en reaksie het, en studente en akademici dekolonialisering eis? Wie het, sedert 1994, net sekere besluite geneem en sekere beleide geformuleer, en ander nie? En wat is die besluitneming wat onvoldoende implimentering van onderwysbeleide meebring? Hoe is dit dat hierdie besluitnemers gewag het tot die populêre reaksies op die gebrek aan verandering plekke laat brand? Hoe is dit dat besluitnemers nie proaktief werk nie?

Die hantering van onderwyssake in Suid Afrika volg in vele opsigte internasionale patrone: onderwys word ingerig deur wetgewing, beleide en burokratiese strukture, en bevorder bepaalde belange. Besluite word geneem deur diegene met mag, polities en ekonomies, en lei tot spesifieke gevolge waarmee die algemene bevolking nie altyd tevrede is nie. Voorbeelde hiervan vind mens in die VSA volgens Noam Chomsky, elders in Afrika volgens Mamdani, Mbembe en ander, en in Kanada volgens John Ralston Saul.

Wat is die groter prent van die gebrek aan verandering en vordering en die groeiende ongelukkigheid met onderwys in die demokratiese Suid-Afrika? (Of moet mens sê die demokraties-wordende Suid-Afrika?)

Noam Chomsky (Foto: Andrew Rusk, Wikipedia)

Dit help om te besin en vrae te vra oor die politiek van die onderwys. In sy ontleding van die Amerikaanse samelewing moedig Noam Chomsky mens aan om te dink aan wie die belanghebbendes, rolspelers en gebruikers van die onderwysstelsel is, wie die besluite neem, wie baat vind en hoe die politieke agendas vasgestel en uitgespeel word.

In Suid-Afrika is die besluitnemingsmag oor alle sake rakende die onderwys, insluitende taalvoorkeure, beleidsimplementering, toewysing van bronne en so meer, in die hande van die regerende Klas.

Klas gaan, heel basies beskou, oor wie die besluite neem en wie dit uitvoer, sê Chomsky. Wat die onderwys betref, is dit die regerende klas wat uiteindelik die besluite geneem het oor hoe die onderwys in die land moet werk, weliswaar met die hulp van enkele akademici. Besluite moet uitgevoer word deur die amptenary, en gewoon aanvaar word deur die mense.

Chomsky se konseptualisering van die wyses waarop politieke mag en sosiale verandering uitspeel, ook in die onderwys, is baie gepas vir ons eie ontleding. Hy verduidelik hoe die heersersklasse beheer uitoefen: manipuleer en ry op die golf van die neoliberale verbruikersamelewing – dink vir mense; besluit namens hulle; frustreer die populasie en laat hulle wonder: hoekom vorder ons nie? Blameer dan ander.

Die verskuiwing van die blaam is ’n strategie van beheer wat heersersklasse gebruik, volgens Chomsky. Wanneer dit kom by die onderwys in Suid-Afrika, plaas die beherende klas steeds die blaam op die verlede en die apartheidsbevoordeeldes. Dit stel die publiek gerus en moedig hulle aan om nie verder vrae te vra nie.

Die regerende klas, wat die politiese elite in die party insluit, word ondersteun deur die rykes, die welvarendes – die kapitaalklas, volgens Chomsky. In Suid-Afrika is hierdie die nuwe klas welvarendes wat direk of indirek Zuma-bevoordeeldes is. Hierdie klas se behoefte is om relatiewe vrede te hê sodat hulle voort kan gaan om hulle eie welvaart en dié van hoofsaaklik wit welvarendes te vermeerder. Konsentrasie van welvaart bring politieke mag, volgens Chomsky. Rykdom word in stand gehou deur wetgewing en die toepassing/nietoepassing van wetgewing.

Heersersklasse gebruik bepaalde meganismes van instandhouding: hou die jeug in toom; lobby; kry bedmaats van eendersdenkendes; indoktrineer die populasie; fabriseer instemming; en skep onsekerheid. Mens wonder hoeveel hiervan is formeel deel van die dag-tot-dag-besluite onder die heersers in Suid-Afrika.

Welvarendes, so argumenteer Chomsky, word nog meer welvarend. In Suid-Afrika sien ons dit in die wyses waarop geld gebruik word om byvoorbeeld die een winkelkompleks na die ander te bou, selfs op die platteland. Dit gee die populasie iets om te doen, en maak hulle verbruikers wat al meer selfgerig lewe.

In Suid-Afrika is dit in openbare belang dat die heersersklas besluite oor die onderwys, en gebrek aan besluite, kommunikeer en regverdig. Gevolge van besluite oor beleid en implementering sien ons in voortslepende swak standaarde en swak dienslewering, uitsluiting van plattelandse belange, voortsetting en uitbouing van Westerse kennisstelsels, miskenning van inheemse kennisstelsels in onderwyskurrikula.

Die onrus sien mens ook in die hopelik groeiende oproere oor taalbenadeling waar politieke erns ontbreek. Die regerende party trek voordeel uit die verdeelde stemme oor tale in die onderwys, en gaan voort om die populasie te koöpteer in en deur PanSAT-strukture. In die proses word klasbelange beskerm.

Mens kan tereg vra: Wie vind baat by die huidige stand van sake? Die media is vol berigte van verontskuldigings, en van beskuldigings. Dis nie vergesog om ’n saak uit te maak dat dit die regerende klas is wat baat vind by die onrus in en oor die onderwys nie.

Geriefshalwe kan apartheid steeds geblameer word, sowel as die wit middelklas, opstokende studente, politieke partye en gewone burgers wat net kwaadwillig is. Solank as die regerende klas in beheer bly en bou aan eie welvaart, word magsbeheer behou tot die volgende verkiesing. Mens kan dit die politiek van instandhouding noem, selfs al beteken dit dat dit werkers vasgevang hou in hulle armoedespiraal, en blameer apartheid!

Soos mens verwag van ’n groeiende demokrasie, is daar toenemende versetoptredes van segmente/groeperinge in die populasie. Ons het tekens van wat internasionaal bekend staan as die “occupation movement”, waar gewone landsburgers ingryp en instellings beset en verander ter wille van die groter belang. Die probleem in Suid-Afrika is egter die verdeeldheid onder belangegroepe soos die onderwysunies, waar mense nie saamspan en verandering meebring nie, waarskynlik weens voortslepende rassisme en die simpatie onder sommiges vir die missie van eie-welvaart-skepping onder die heersersklas.

Verdeeldheid in populêre optrede sien ons ook in die kritieke probleem van landstale as onderwys- en wetenskapstale. Die oorgrote meerderheid stemme is die afgelope twee jaar gelug vir Afrikaans. Stemme oor ander tale is stil. Hierdie verdeeldheid dien die belange van die regerende party en hulle kan dit bekostig om voort te gaan met besluite van alles wat Engels is.

Die populasie in Suid-Afrika mobiliseer hulleself op onbeholpe maniere – in plaas daarvan dat hulle oor rasgrense heen almal se belange najaag, bly dit gefragmenteerd – en magshouers geniet dit so. Die land ly weens ’n gebrek aan die demokratiserende effek van belanghebbendes wat verby historiese apartheid kan saamspan. En magshouers vrees hierdie moontlikheid van die burgery wat soek na gemeenskaplikhede sodat hulle met een stem kan praat.

Onderwyskrisisse in Suid-Afrika, wat insluit die taalkrisisse, krisisse van kennisinhoude in kurrikula, krisisse van toegang en relevansie, gaan krisisse bly tensy die populasie iets daaraan doen, sou Chomsky gesê het. Demokratisering is druk van onder af: die populasie wat hulleself organiseer, betrokke raak by besluitneming, hulle regte uitoefen. Spontane en gesamentlike organisasie deur burgerregtegroeperings is nodig. Mense wil ingeligte burgers wees wat ingeligte besluite neem.

Die uitdaging om die onderwys in Suid-Afrika te verbeter, is by gewone mense, die burgery wat hulleself rondom spesifieke onderwyskwessies mobiliseer. Om te wag vir diegene met die politieke en geldmag, gaan nie help nie. ’n Nuwe era van onderwysaktivisme is nodig, en dit behels ’n fokus op spesifieke kwessies, een op ’n keer, op nuwe wyses wat verdeeldhede van die verlede oorkom. Populêre bewegings van jong stemme kan dit regkry – ál die jong stemme, ons vrygeborenes. Spontane mobilisering onder mense oor ’n saak, oor historiese grense heen, gaan die verskil maak. Populêre bewegings maak ’n land meer beskaafd, het Chomsky gesê.

Ons populasie in Suid-Afrika wil hulle eie sekerheid oor die onderwys bewerk – en ’n program vir hoop vir die toekoms bou. Hoopskepping is deel van die uitdaging.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top