’n Liefdesbrief aan Patti Smith

  • 1

Foto van Patti Smith: YouTube

Hoe het die aardbol gekrimp. In die begindae van e-pos, onthou ek, het Jeanne Goosen gereeld met Whoopi Goldberg en Roseanne Barr gekorrespondeer. As hulle tog maar net haar gevatte e-posse bewaar het, kon Petrovna nog ’n boek daarvan maak.

Vandag volg ek die ikone van my jeug op Facebook. Janis Ian lyk nou soos ’n slim, goedige Joodse oumatjie en Margaret Atwood lyk verbaas maar geamuseer met ’n stywe permkapsel en sy bied aanlynskryfklasse aan. Iemand wat steeds aangrypend lyk, is die weergalose Patti Smith, met lang grys hare – sy het ouer geword soos ’n inheemse Amerikaner en ’n bietjie soos Rosa Keet.

........

Iemand wat steeds aangrypend lyk, is die weergalose Patti Smith, met lang grys hare – sy het ouer geword soos ’n inheemse Amerikaner en ’n bietjie soos Rosa Keet.

.........

Internasionale reis gaan moeiliker word, maar in slapelose nagte soos vannag vind ek in my inboks ’n brief van Patti Smith met die subject line: A poem for you. Goed, goed, dis ’n nuusbrief wat sy aan almal wat belangstel stuur, maar dis steeds ’n wonder om in haar eie grinterige stem na haar skryfsel te luister.

Van jongs af bewonder ek haar; sou ek die graagste op aarde wou lyk soos sy op die omslag van haar CD Horses: androgeen, bleek, lenig en platborstig. Op my planeet sou almal so lyk: nie manlik of vroulik nie, maar soos befoeterde engele.

https://en.wikipedia.org/wiki/Horses_(album)#/media/File:PattiSmithHorses.jpg

Die eerste snit op daardie CD is ’n verwerking van Van Morrison se song “Gloria” en sy begin met ’n rou, geïmproviseerde uitklopreël: “Jesus died for somebody’s sins, but not mine ... My sins my own, they belong to me, me”.

Sy is as Jehovasgetuie grootgemaak en was later aangetrokke tot Tibettaanse Boeddhisme, maar het in 2014 by die Vatikaanse Kerskonsert gesing. Haar verweer: “I like Pope Francis and I’m happy to sing for him. Anyone who would confine me to a line from 20 years ago is a fool! I had a strong religious upbringing, and the first word on my first LP is Jesus. I did a lot of thinking. I’m not against Jesus, but I was 20 and I wanted to make my own mistakes and I didn’t want anyone dying for me. I stand behind that 20-year-old girl, but I have evolved. I’ll sing to my enemy! I don’t like being pinned down and I’ll do what the fuck I want, especially at my age … Oh, I hope there’s no small children here!”

Patti was nog altyd die verpersoonliking van pisscool. Sy het van jongs af ’n obsessie met Arthur Rimbaud, wat sy haar boyfriend noem, gekoester. Rimbaud, as jy onthou, is redelik vroeg dood en was ’n Franse digter met verstommende rou talent en aanvoeling vir die surrealistiese, en onder andere die boyfriend van Verlaine. Verlaine het vir Rimbaud verlei toe laasgenoemde 17 was en sy vrou en kind vir hom gelos. Verlaine het na hom verwys as “die man met (voet)sole van wind”. Hulle is in 1873 uitmekaar nadat hulle stry gekry en Verlaine op Rimbaud geskiet het, waarna Verlaine twee jaar in ’n Belgiese tronk deurgebring het.

Die regte boyfriend van Patti se jeug was die kunstenaar Robert Mapplethorpe. Hulle was soulmates, aan die heup verbind, al was hy onseker van sy seksualiteit. Hulle was saam arm en honger. Hy het ikoniese foto’s van haar geneem en hulle het in die Chelsea Hotel gebly. Jy kan hulle storie in haar lieflike memoir Just kids lees.

Ek vertaal sommer ’n stuk daaruit: “Dit was die somer waarin Coltrane dood is. Die somer van ‘Crystal Ship’. Blommekinders het hul leë arms opgelig en China het die H-bom ontplof. Jimi Hendrix het in Monterey sy kitaar aan die brand gesteek. AM radio het ‘Ode to Billie Joe’ gespeel. Daar was oproer in Newark, Milwaukee, en Detroit. Dit was die somer van Elvira Madigan, die somer van liefde. En in hierdie verskuiwende, onherbergsame atmosfeer het ’n toevallige ontmoeting die koers van my lewe verander. Dit was die somer toe ek vir Robert Mapplethorpe ontmoet het.”

Hulle het vriende gebly. Hy is later aan vigs dood. The coral sea is haar bundel prosagedigte oor hom. Sy noem dit “a season in grief”. Hier is ’n deel van een gedig:

As a slave, a nymph, a fabulous hood
As a rose, a thief of life, he will parade
Nude crowned with leaves, immortal.
He will sing of the body, his truth
He will increase the shining neck
Pluck airs toward our delight
Of the waning
The blossoming
The violent charade
But who will sing of him?
Who will sing of his blessedness?
The blameless eye, the radiant grin
For he, his own messenger, is gone
He has leapt through the orphic glass
To wander eternally
In search of perfection
His blue ankles tattooed with stars.

Sy vertel oor hom in Just kids: “Robert had a fascination with human behavior, in what drove seemingly normal people to create mayhem. He kept up with the Manson news but his curiosity waned as Manson’s behavior grew more bizarre. When Matthew showed Robert a newspaper picture of Manson with an X carved on his forehead, Robert lifted the X, using the symbol in a drawing. ‘The X interests me, but not Manson,’ he said to Matthew. ‘He’s insane. Insanity doesn’t interest me.’”

Haar ander boyfriend was die broeiende wolf Sam Shepard. Hulle het saam ’n play geskryf waarin sy net een aand opgetree het: Cowboy mouth. Volgens die verhoogaanwysings moes die man soos ’n coyote lyk en die vrou soos ’n kraai.

Sy was vriende met Allen Ginsberg, Bob Dylan en absoluut almal wat cool was. Haar vertelling oor daardie dae klink soos ’n droom. Ek vertaal weer: “Ek het ’n lang, vlootblou rayonrok met wit kolletjies gedra en ’n strooihoed, my East of Eden-uitrusting. Links van my het Janis Joplin met haar band gekonfereer. Ver regs was Grace Slick en die Jefferson Airplane, en lede van Country Joe and the Fish. By die laaste tafel voor die deur het Jimi Hendrix met geboë hoof met sy hoed op gesit en eet, regoor ’n blondine. Oral was musikante voor tafels met berge garnale met groensous, paella, kruike sangria en bottels tequila.
Ek was verstom, maar het nie ontuis gevoel nie. Die Chelsea was my huis en die El Quixote my kroeg ... Hulle was hier vir die Woodstock-fees, maar ek het so aan hotelafsondering gely dat ek onbewus was van die fees en wat dit beteken. Grace Slick het opgestaan en verby my geskuur. Sy het ’n lang knoop-en-doop-rok aangehad en haar oë was donkerpers soos Liz Taylor s’n.
‘Hallo,’ het ek gesê en gesien ek is langer as sy.
‘Hallo jouself,’ het sy gesê.”

Patti was getroud met haar vangenoot, Fred Sonic Smith, kitaarspeler en digter. Hy is aan ’n hartaanval oorlede.

Sy het vele kunstenaars beïnvloed, soos Michael Stipe van REM, U2, Courtney Love, Madonna, The Waterboys en Florence + the Machine.

.......

Sy agiteer, skilder, fotografeer, skryf, dig en sing steeds. Sy is al ’n feministiese ikoon genoem, maar het geantwoord dat sy ’n dogter én ’n seun het en dat sy glo in ménseregte.

........

Sy agiteer, skilder, fotografeer, skryf, dig en sing steeds. Sy is al ’n feministiese ikoon genoem, maar het geantwoord dat sy ’n dogter én ’n seun het en dat sy glo in ménseregte.

Sy is in die Rock & Roll Hall of Fame opgeneem, en het ’n eredoktorsgraad en allerlei pryse en eerbetone ontvang. Sy het Bob Dylan se Nobelprys namens hom in ontvangs geneem.

Patti, jy is tydloos soos Mick Jagger; jy het sole van wind soos Rimbaud. Soos Mapplethorpe is jou blou enkels met sterre getatoeëer. Jou sondes is jou eie en wat jy sien is perde, perde, perde. Goeienag.

  • 1

Kommentaar

  • Elthea Schlesinger

    Dis 'n lieflike liefdesbrief vol wyse, dorse leerreëls en heilsame kategismus. Amen. Don't worry, jy is, lyk soos, leef en skryf soos Patti se Afrikasuster van oertye reeds. Sela.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top