’n Lesersindruk van Hunter Killer deur Brad Taylor

  • 0

Titel: Hunter Killer, a Pike Logan novel
Skrywer: Brad Taylor
ISBN: 9780062886033
Uitgewer: HarperCollins

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Jy kan maar die lyke in John Wick tel – 77. En dit was omdat iemand sy hond doodgemaak het. Hoeveel te meer vir vriende of kollegas?

En as jou held ’n voormalige spesialemagte-operateur is, wil jy bloed sien vloei. Hoe meer hoe beter. In Hunter Killer laat Brad Taylor sy moordmasjien los.

Die veertiende boek in die reeks open met ’n poging om die Taskforce-paartjie, Pike Logan en Jennifer Cahill, in hul huis te vermoor.

Kurt Hale, Pike se mentor, sterf in ’n motorbomaanval wat vir hóm bedoel was. Ons weet al dat die bloudrukke van hierdie plot op wraak afspeel, al beteken dit Pike moet ’n direkte bevel om terug te staan, verontagsaam.

Kurt se dood skep ’n sterk spanningslyn, aangesien ons nie seker is of een van ons ander geliefde karakters aan die einde van die 432 bladsye lewendig gaan uitstap nie.

In Brasilië kruis Pike en Cahill se paaie met eks-Russiese, Spetsnaz-sluipmoordenaars en voor hulle hulself kan kry, word hulle by die Brasiliaanse politiek betrek en veg hulle om die beheer van buitelandse olievelde.

Genadiglik vir Pike is die twee Israeliese Mossad-operateurs, Aaron Bergman en Shoshana, wat ek in The Target ontmoet het, daar om hulle te help. Soos Taylor-aanhangers al te goed weet, sodra Shoshana opdaag, lees die res van die boek soos ’n John Wick-film.

Die skrywer is een van ’n rits voormalige spesialemagte-operateurs wat die politieke spanningsgenre domineer en, anders as in Robert Ludlum en Frederick Forsyth se dae, is dit moeilik om vas te stel wie kraai nou eintlik koning. Gewere kletter sonder end, almal ken hul wapens en die boeke is deurdrenk van inside inligting – hierdie boek is geen uitsondering nie.

Sedert Taylor se debuut, One Rough Man in 2011, het ek geweet Pike is hier om te bly. Maar wanneer ’n skrywer soveel aksie inwerk dat bloed uit sy bladsye drup, weet jy hy veg om die nommer 1-kroon. Soos John Lescroart verklaar: “Pike ranks right up there with Jason Bourne, Jack Reacher and Jack Bauer.”

As jy nog nie vir Pike ontmoet het nie, is Hunter Killer ’n goeie begin.

Lees ook:

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top