’n Leser se indrukke van The Rise & Demise of the Afrikaners deur Hermann Giliomee

  • 5

The Rise & Demise of the Afrikaners
Hermann Giliomee
NB Publishers
ISBN: 9780624086710

Lesersindrukke is bydraes van lesers wat uit eie beweging hul indrukke van boeke aan die LitNet-redaksie gestuur het. 

Hierdie lesersindruk is geskryf deur KrotoaX, met die hulp van Silla van die Kaap.

...........

Ek probeer om uit my induktiewe ervarings, eie belewenisse en my onthou lig te werp op van die temas in hierdie belangrike historiese geskrif vanuit die perspektiewe van ’n veteraan-bevrydingsaktivis.

Ek ontmoet Hermann Giliomee eenkeer deur Neville Alexander in die onstuimige tagtigerjare. Die twee het glo dikwels oor die taalkwessie gesels. Ek onthou hoe beïndruk ek was met sy omvattende en insiggewende kennis van die geskiedenis en sosiologie van ons land.

The Rise & Demise of the Afrikaners, eintlik ’n bundel van artikels deur Giliomee, neem die leser op ’n noodsaaklike reis deur die koppe, harte en siele van die regeringspartye tussen 1910 en 1994, ’n ondersoek wat noodgedwonge die metodologie volg van “wie es eigentlich gewesen”, soos wat Giliomee, ’n kwasibinnestander, ’n “hou vir hou”-verslag gee van wat in die binnekringe gebeur het. Ek kyk graag na meer as die kronieke in die temas van identiteit, nasie, taal en beleid uit die perspektief van die buitestander en binnestander in die groep waarin ek grootgeword het.

Met die intrapslag erken Giliomee met die nederigheid van ’n groot historikus die problematiek in die idee en opvatting van wie of wat ’n  nasie is. Hy verwys nie na die historikus en argitek van die Afrikanernasie, Floors van Jaarsveld, nie – die een wat Giliomee ’n “slang in die gras” en “ongelowige” genoem het, vir wie die vertrekpunt van dié nasie die Groot Trek, met hoofletters, was. En toe Van Jaarsveld self later sy eie tesis verwerp, “veer en teer” die AWB hom toe.

Wat is die basis van die groep waarbinne ek grootgeword het? Giliomee is in die kol wanneer hy met vergelykende studies uit die suide van die VSA daarop wys dat klas min tel in ’n stelsel van uitsluiting en afskeiding soos apartheid. En hier moet ek hom eenvoudig aanhaal: "It can be argued that the criteria for group membership had not yet been established”; en ter stawing haal hy Donald Horowitz aan wat pylreg bevestig dat dit ’n “wholly unexplored process” is. In Suid-Afrika was dit velkleur en nie  klas wat getel het nie, selfs in  sogenaamde sosialistiese en kommunistiese organisasies.

Die vraag of my groep, kallids (die naam “kleurling” is ’n vloekwoord net soos die ander k-woord wat verbied is), of Khoisan, ’n nasie is, val buite die bestek van hierdie indrukke. Maar ek moet Giliomee se vraag probeer beantwoord of die kallids deel is van die Afrikaners. Hy dink hulle is, hoofsaaklik omdat hulle Afrikaans praat en glo vir wit partye gestem het tot 1994. Ek herinner hom graag dat die beperkte stemreg van die kallids  (sans die franchise) nooit heilig was nie, maar eerder ’n taktiek van ’n wit minderheid. Inderdaad, tussen 1924 en 1936 het die kallids liewer die Britse Ryk-ondersteuner slim Jannie Smuts ondersteun teen Afrikanerpartye juis omdat die Engelse op die oog af minder vooroordeel getoon het teen die kallids. Derhalwe was die getal kallids wat wel gekwalifiseer het om te stem (vir wit partye), nooit meer as 10% nie, en hulle was merendeels Engelssprekend en in ’n brutale skommel van die dobbelsteen. Giliomee baseer sy slotsom grotendeels op die vorm en inhoud van die APO, African People’s Organisation, wat ’n geringe persentasie van kallids verteenwoordig het. Abdurahman was nie skaam om te erken dat die APO die belange van die klein professionele klas probeer bevorder het nie.   

Die befaamde 20ste-eeu-filosoof Hannah Arendt Bluecher praat vir my wanneer sy sê “I do not love the Jews nor do I believe in them. I merely belong to them as a matter of course, beyond dispute and argument.” Onder die inspirasie van Giliomee skaar ek my wel by die kallids nadat alle regeringspartye van 1652 tot vandag toe kallids se onderdrukkers was en bly.

Nou is dit duidelik dat die kallids nie ’n nasie genoem word nie, maar eerder ’n groep met gemeenskaplike eienskappe is wat deur hul besondere geskiedenis bepaal is. Sosioloë praat a priori van “etniese groep”, nie verskillend van die konsep van ras nie, maar nóg ’n groot vraagstuk buite die bestek van die indrukke hier.

Giliomee draai geen doekies om in sy brief aan Wim de Villiers nie en vertel hom kaalkop waar Dawid die wortels begrawe het, naamlik dat die oorgrote meerderheid van die kallids/Khoisan Afrikaans praat. Giliomee se syfer van 70% in 1994 (Praesa sê 82%) het in kopgetalle nie veel verander nie. Die persentasie mag minder wees as gevolg van doelbewuste interne politieke migrasie en eksterne onwettige migrasie. Die taalkrisis is hoofsaaklik as gevolg van die beleidstoepassing van die regeringsparty en onderskraag deur die (swak) leierskap by UK en veral US wat Afrikaanse skole laat verdwyn soos mis voor die son. Nouverwant is die houding van Khoisan-ouers wat hul kinders dwing om in Engels te leer omdat hulle glo dis die taal van besigheid en werk kry. En hulle is reg: ’n Afrikaanse tong in ’n bruin gesig is selfmoordpleeg. Die geskiedenis van die Khoisan tel niks nie. Dis hierdie groep wat die Wes- en Noord-Kaap se infrastruktuur gebou het: onder die ysterstewels van die koloniale en neokoloniale. In Afrikaans. En ’n infrastruktuur wat nêrens op die res van die vasteland gevind word nie.

Vandag is Afrikaans soos ontwikkel deur die Genootskap van Regte Afrikaners in ’n krisis hoofsaaklik omdat dit ’n politieke voetbal geword het, om Jakes Gerwel se metafoor te gebruik. Dié bal word geskop deur geleerdes van alle kleure behalwe bruin. En nêrens word daar meer gespeel met die bal as by die US nie.

RW Johnson vergelyk tereg die houding van Max Price van UK met die onvoorwaardelike hensop van FW de Klerk by Codesa en sy vergelyking is heeltemal van toepassing op Wim de Villiers van US. De Villiers se kollega Sandra  Liebenberg, pynlik ironies dosent in menseregte nogal, beskryf die moedertaal van die mees onderdrukte groep vandag as “a historically privileged language”. En ’n taal is bevoorreg omdat die sprekers daarvan dit ontwikkel het deur hulle letterkunde? In Liebenberg se logika moes Zoeloe en Xhosa ver gevorderd gewees het. Praesa bevestig wat historici soos Achmat Davids, Jattie Bredenkamp, Ruben Richards en andere jare gelede gedoen het as hulle in Occasional Paper no 14 verklaar dat Afrikaans ontwikkel het uit ’n stam van Hollands gemeng met Maleis van die slawe en die enigste inheemse taal, Khoe-taal, vir die koloniale.

Ten spyte van die harde feite van getalle sal Afrikaans in al sy dialekte (soos Afrikaaps) in krisis bly tensy meer steun van die regering en privaatsektor dmv beleidsverandering en werk en besigheidsgeleenthede spesifiek vir Khoisan-Afrikaanssprekendes geskep word. En ook, tensy laasgenoemdes se letterkundige bydrae veelvoudig vermeerder. Dit sal publikasiegeleenthede verg wat Khoisan-besighede kan beskikbaar stel. Deur hul taal staar die Khoisan uitwissing in die gesig. Hulle het alreeds hulle grond en eiendomme verloor (“verloor” is ’n eufemisme), en Giliomee deel passievol en patrioties hulle ontsteltenis dat die hoof van die enigste Afrikaanse universiteit wat hulle kon dien, verengelsing voorstaan en toepas, want die beleid van die regeringsparty sê nie een van die 23 universiteite mag net in Afrikaans onderrig gee nie. Soos in die res van Afrika is Engels die heilige taal en moontlik een van die faktore vir die vasteland se onderontwikkeldheid.

Giliomee se ou vriend en kollega se voorlaaste boek eien die titel An ordinary country. Neville Alexander wys duidelik dat daar geen wonderwerk in 1994 was nie en wat gevolg het, vind plaas binne die ou bestel van kapitalisme met kleur as die medium van uitbuiting en onderdrukking. Alexander maak dit in 2003 baie duidelik dat die uitbuitersklas wit bly deur hulle ekonomiese mag, en tot in 2019 bly daardie klas die sterkste vennote van die swart politieke onderdrukkersklas – presies soos Wim de Villiers in The Rise & Demise of the Afrikaners voorkom. 

Also read

Reader impression: The rise and demise of the Afrikaners by Hermann Giliomee

Video: Stellenbosch launch of The rise and demise of the Afrikaners by Hermann Giliomee

  • 5

Kommentaar

  • Avatar
    Hanno Visagie

    Staan op die waarheid dat die Afrikanervolk hoofsaaklik van Europese (hoofsaaklik Nederlandse, Duitse en Franse) afkoms is en wil bly, Christene is en Afrikaans as huistaal praat. Hoewel die Afrikanervolk graag met ander etniese volksgroepe aan gemeenskaplike belange saamwerk, is mense van ander groepe soos die Khoi-San / bruines / kleurlinge, en nie-Christene en huistaal-nie-Afrikaanssprekers nie terselfdertyd ook Afrikanervolksgenote nie. Die Afrikanervolk streef na selfregering in 'n Afrikanervolkstaat en wil Christelik-Volkseie-Onderwys(CVO)-skole ondersteun en uitbrei. Enigiets waarna die Afrikanervolk streef, gun hy in gelyke mate vir ander.

  • Hoekom hoor/lees ons net altyd die opinie van bevrydings aktiviste. Sekerlik kan hulle nie die enigste wees met ’n stem of ’n opinie nie. Soos ons dominee altyd gesê het “iets is nie juis nie”.
    Post ’94 letterkunde is so eensydig politiek korrek dit is vervelig.
    As jy nie van die taal hou nie, kry vir jou n ander een en gaan kraai op sy mishoop.

  • Avatar
    Rusty van Druten

    The process of social engineering courtesy of Apartheid has been so profound that no matter how much chewing and gnawing is carried out by many unpackers it remains a very vexing subject indeed. In my own experience having lived through the entire period, our black brothers could just as well have been somewhere other side the planet rather than just over a hill or two in Soweto's sprawling semi-ghetto etc. I did not interact with any at all, it was seriously frowned upon and only once political realities kicked in did the finer detail of it all provide a measure of urgency in life. That was when attending a political debate on the Berea in Durban one evening. Each of the mainstream political groups had to answer the question 'Is SA a police state'. Afterwards a vote was taken and the Progs won the day hands down. I joined the party, but went merrily ahead doing much the same as my first twenty one years in SA. I was filled with testosterone and there were much more interesting things to do as a young man who was by no means another Kasrils who threw in his lot with the armed struggle at a young age. Besides, there was absolutely no desire to shoot my own people who had also been through their own major struggle to survive. But at least I'd seen the light and slowly my mindset changed.
    Its not been an easy road though as for the first seven years of life since age five I attended a bi-lingual primary school until the Nats split the education system to keep the Afrikaner flame burning brightly. Most of my pals were Afrikaans, but very quickly the expletives and admonitions flew freely and close friends became rockspiders, and I became a 'bliksemse rooinek. I knew much about the Afrikaners history, as they were part of early nurturing to the point where today I have one foot deeply positioned in the tribe, but as a typical English speaking white SA the other foot teeters somewhat precariously in that camp. My father, born in 1907 was an arm Afrikaner kind from Vrededorp after the Boere oorlog, but eventually he married a Scot and the rest is history. He became a Smuts supporter, loved the military machine and was ostracised by many of his former friends. who made it clear that he was no longer welcome in their homes. They said "Jy besoek nie in daai klere, bly net weg". I remain an Afrikaner of sorts, and as life progressed (or regressed) I understand the aspirations for an own territory, That could have happened through partition, as its taken the ANC and its adherents just 23-years to destroy a well established physical infrastructure where dozens of local authorities are bankrupt or teetering on that verge, wholesale corruption and looting of state resources, personal enrichment to the detriment of those who have entrusted their futures to an iniquitous group yet seem quite oblivious of that plain fact. Afrikaans and Afrikaners have been side-lined, and the politically correct among their numbers are just as oblivious of what will probably end in serious conflict up ahead. There is absolutely no need to intellectualise the odds in that regard. Everything is very plain to any honest person who watches the country disintegrating day by day.
    Is it any wonder given the realities of their own real struggles over many decades that some Afrikaners walked the road of separate development. Do they have to be vilified for it?. I think not, and the so-called rainbow nation as envisaged by Tutu is today nothing more than a pipe dream. That much has become patently clear, hasn't it?.

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Met verwysing na die vierde paragraaf hier bo: Diko van Zyl het aan Floors van Jaarsveld geskryf dat Hermann Giliomee "'n slang in ons midde" is - "ons" is die Departement Geskiedenis van die Universiteit Stellenbosch (Hermann Giliomee, 'n Outobiografie, 2016, p 101).

  • Avatar
    Andries G H van der Walt

    Wanneer gaan daar 'n einde kom aan die alewige ontleding van wie of wat die Afrikaner is. Hoekom hy sus of so is. Dit is besig om 'n afgesaagde tema te word wat tog te graag deur almal as 'n onderwerp gebruik word om kommentaar te lewer oor die Afrikaner se voortbestaan en sy kom vandaan. Ek is 'n Afrikaner. My voorvaders het byna 300 jaar gelede hier aangeland. Ek is wat ek is. Ek voel nie jammer vir myself nie. Ek is nie skaam oor wat ek is nie. Ek ontleed myself nie elke dag nie. Wat is dit wat mense van die Afrikaner wil he dat hulle hom byna elke dag onder 'n vergrootglas plaas. Dit word nie met ander bevolkingsgroepe gedoen nie. Anders talige bevolkingsgroepe het net soveel wat ontleed en geanaliseer kan word. Maar dis al of hulle nie in die land juis bestaan het nie of enige rol in die politieke of ekonomiese ontwikkeling van die land gespeel het nie. Wicus du Plessis het baie jare gelede al oor die Afrikaner gefilosofeer. Wimpie de Klerk het ook sy eiers gele lank gelede al. Pieter Duvenhage van die Universiteit Vrystaat het ook sy deeltjie bygedra nes Leo Barnard. Om van Max du Preez nie te vergeet nie. En volgens sommige is dar in lle geval nie 'n Afrikaner volk nie. Net 'n Boerevolk met Boerebloed in hulle aarde. Afhangende van watter kant van die middelpunt jy staan is jy of 'n linksgesinde liberalis of 'n verregse Boer. Ek het in die begin sestigerjare saam met Herman Giliomee vir die Unie krieketklub in Pretoria Noord krieket gespeel. Bobby Myburgh wat vir Noord-Transvaal rugby gespeel het was ook in die span. Dit voel vir my so half of hulle beter krieket of rugbyspelers sou gewees het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top