
Titel: ’n Knippie moord
Skrywer: Elsa Winckler
ISBN: 9780798186186
Uitgewers: Human & Rousseau
Ek was nog altyd lief vir skryf, maar sal nooit ’n liefdesverhaal wil aanpak nie. ’n Knussie sal nogal iets wees wat ek sou oorweeg het om aan te pak, maar na Elsa se antwoorde op my vrae weet ek nie of dit in my sit om ’n knussie (of enige storie) uit te dink nie.
Elsa Winckler is een van my gunstelingskrywers wat oor verskeie genres suksesvol skryf. Dit was dus vir my ’n verrassing dat sy nou nóg ’n genre aangepak het: die sogenaamde cosy crime, of soos dit in Afrikaans bekendstaan, ’n knussie. Toe ek dus hoor ’n Knippie moord is op pad, was ek baie opgewonde om dié een in my kloutjies te kry. Ek is meer as aangenaam verras en hoop om binnekort nog ’n knussie uit Elsa se pen te lees.
’n Knippie moord voldoen aan al die vereistes van ’n volwaardige knussie: gewoonlik ’n vroulike hoofkarakter wat die polisie se werk vir hulle wil doen en hulle vreeslik frustreer tot hulle agterkom hulle kan eintlik nie sonder haar klaarkom nie (dink maar ook aan Elizabeth Wasserman se mev Smit); dit speel gewoonlik in ’n klein dorpie af; daar is altyd ’n nuuskierige skinderbek wat dink hy of sy weet alles; en die onontbeerlike moord – sonder die grusame beskrywings wat gewoonlik in ’n gewone krimi uitgebeeld word; en natuurlik ’n booswig. O ja, en ’n bietjie liefde! Die booswig in ’n Knippie moord is ’n onverwagse verrassing.
Waar begin ons storie? Klara Beyers is ’n voormalige ondersoekende joernalis wat haar ouma se gastehuis op Somersee, naby Hermanus, erf. Sy bestuur ook ’n blommeplaas daar naby en neem gereeld foto’s van haar blomme in die omgewing vir haar sosialemediablad. En sy kry sulke kriewelings in haar nek wanneer dinge net nie reg is nie.
Die dag toe Dewald Rademeyer sonder ’n bespreking op die gastehuis se drumpel beland, voel sy al die onheil in haar nek kriewel. Volgende daag daar ’n misterieuse Siamese kat met ’n oënskynlik verskerpte sesde sintuig op, en nie lank daarna nie word Dewald se lyk in sy kamer gevind met ’n naaldwerkskêr in sy nek.
Toe kolonel Mack Biesenbach van Kaapstad saam met kaptein Schalk Mocke van Hermanus op die misdaadtoneel opdaag, is Klara dadelik omgekrap. Is kolonel Biesenbach dan nie die einste polisieman van die Kaap wat haar e-posse geïgnoreer het en sodoende ’n moordenaar laat wegkom het nie?
Biesenbach, wat joernaliste verpes, herken haar natuurlik ook dadelik en wil haar so ver as moontlik van die ondersoek af hou, maar Klara laat haar nie voorsê nie.
’n Knippie moord is ’n heerlike lekkerleesboek wat jy maklik in een sitting kan klaar lees, want jy kan net nie wag om die volgende raaisel saam met Klara op te los nie.
My nuuskierigheid was ook goed geprikkel en ek móés net vir Elsa Winckler ’n paar vrae vra.
Jy is bekend vir jou liefdesverhale: romans en Romanzas. Wat het jou laat besluit om ’n knussie aan te pak?
Ek is baie lief vir liefdesverhale. My ma was ’n baie groot leser, veral van liefdesverhale. Ek en daai jare se Tryna du Toit het graag haar boeke gelees wanneer sy klaar was met hulle. Sy het daai jare Mills & Boons begin lees en ek al agter haar aan. Ek het seker honderde liefdesverhale so gelees. Ek het liefdesverhale so saam met melk ingekry, maar ek was ook baie lief vir iets soos Agatha Christie. Ek hou nie baie van iets soos ’n sielkundige tipe misdaad waar die misdadiger ook vokaliseer nie. Waar ons as’t ware in sy kop klip en sien hoe sy kop werk. Ek hou niks daarvan nie – dit gee my nagmerries. Ek hou van die oplos van ’n raaisel: ’n moord, of daar is ’n roof, of iets het gebeur en dit moet nou uitgepluis word: Wat het nou gebeur? Hoekom het dit gebeur? Wie het dit gedoen? So, daai hele proses was nog altyd vir my interessant, en om dit toe nou te gaan sit en uitwerk was ’n heerlike uitdaging. Ek het gesukkel daarmee. Dit het my ’n rukkie geneem, maar uiteindelik is ek baie dankbaar ek kon dit wel laat werk.
Vertel my meer oor hoe die storievonk van ’n Knippie moord by jou aangeklop het?
Die storie van ’n Knippie moord het begin by twee dinge. Die een was die vreeslike storms in 2023 hier in die Kaap, en die klein dorpie Stanford, anderkant Hermanus, het mos vreeslik verspoel. Die hele gemeenskap het toe saamgestaan oor kultuurgrense heen om die dorpie te herstel. Checkers, die kettingwinkelreus, was so beïndruk. Hulle het toe vir daardie Kersfees ’n advertensie gaan skiet in die dorpie waar hulle die langtafel gedek het en die mense almal saamgewerk en gehelp het. Jy kan gaan google: Checkers advertensie Stanford (https://youtu.be/8dBLy12Hnwk).
Dis verskriklik mooi hoe hulle met die mense gesels het en hulle wys tonele van hierdie langtafel. Dis pragtig.
Die ander ding wat my geïnspireer het: In Covid-tyd het ek afgekom op Adene Flowers. As ek reg onthou, het hulle ’n plaas naby Tulbagh, en sy begin om foto’s te neem van haar blomme en dit toe in Covid-tyd op Instagram geplaas. Sy het oornag ’n groot klomp volgelinge gekry. Dis toe die een idee saam met die ander idee en toe nou tussenin die moord. Ek het van die begin af geweet daar is ’n moord en wie vermoor word, maar ek het nie van die begin af geweet wie die moordenaar is nie. Ek het dit so half self uitgepluis soos die storie aangegaan het. So dit was vir my ook ’n verrassing.
Klara Beyers is ’n lekker karakter ... hoe het sy begin ontwikkel? Ken jy iemand wat heldersiende is?
Ek hou van die vroulike karakter as ’n protagonis. Sy is iemand wat weet wat sy wil hê. Sy was ’n ondersoekende joernalis wat heeldag gewerk het met dood, met die lelike kant van die lewe. Toe haar ouma nou dood is en sy die gastehuis erf, het sy gedink sy kan hierdie dinge agter haar los. En hier gebeur die moord. Sy is ontsteld, vies en hartseer hieroor. Om die kroon op alles te span daag hierdie Mack Biesenbach op wat ook nou die polisieman is wat aan die laaste saak gewerk het waarby sy betrokke was. Sy voel omdat hy nie die pers die kans gegee het om te skryf daaroor nie, het die moordenaar weggekom. So, ons leer ken haar as hierdie nice mens. As jy gaan lees oor die vereistes vir ’n knussie, of ’n cosy mystery of cosy crime soos dit in Engelse bekendstaan, moet die protagonis iemand wees van wie ander mense hou. Dis ’n vriendelike girl; sy help ander mense. Ons sien sy bak koek, sy help die persoon by die koffiewinkel. Sy is ’n nice mens, maar sy laat nie oor haar loop nie. Dis vir my belangrik van haar: Sy staan by haar regte en omdat sy nou geweet het die polisie het, volgens haar, nie die saak opgelos nie, besluit sy hierdie keer gaan sy dit nie weer toelaat nie. Die heldersiendheid is vir my meer ’n sesde sintuig. Ek het self ook ’n sterk sesde sintuig. Ek kom ook uit ’n geslag, waar die oumense van my tyd stories vertel het oor goëlery, iemand wat sien, wat sulke goed weet. Dit het my dus altyd eindeloos gefassineer. Ek wil nie sê ek glo vas daaraan nie, maar dis nie vir my vreemd nie. Ek hou nogal daarvan om so iets van die magiese in my stories in te bring, in Engels en Afrikaans.
Kan ons nog knussies uit jou pen verwag met Klara Beyers en kolonel Mack Biesenbach?
Ja, daar is nog ’n storie wat in my kop broei. Of daar ’n tweede storie gaan wees, gaan afhang van die verkope van dié een. So, ek hoop die lesers hou daarvan en dat ons dan die volgende storie ook kan skryf.
Somersee is so ’n klein dorpie. Dink jy dis moontlik vir ’n reeks wat daar afspeel?
Dis baie tipies van ’n cosy mystery as jy na die Engelse mark kyk. Dis óf ’n koffiewinkel óf dis ’n biblioteek, of iemand wat ’n boekwinkel het. ’n Klein kliekie in ’n klein dorpie en daar vind meer as een moord plaas. Ek het reeds nog een storie en mense sal vorentoe nog kan uitdink, en ja, in ’n knussie is enige iets moontlik.
Nog ’n laaste vraag: Hoe besluit jy oor, of kies jy jou karakters se name?
Karakters se name is baie interessant. Ek het al sleg oorgekom wat ek name so kies en dan kom ek later agter al die name begin met ’n E of ’n S. Met hierdie storie het die uitgewer vir my aanvanklik gesê dat ek van die name moet verander, want daar was van dié wat met dieselfde letter begin het. Dan moet mens nou begin en ’n mes insit. Mens moet versigtig wees om nie dieselfde name te gebruik wat jy in ander stories gebruik het nie. Soms skryf ek ’n storie en is soms al halfpad en iets bly my hinder en ek verstaan nie wat gaan aan nie. En dan besef ek dis die naam van die karakter, en dan verander ek die naam en skielik vind alles in die storie sy plek. Name is belangrik, en dis nie altyd vir my maklik nie. Ek probeer om mense wat ek goed ken se name nie te gebruik nie. Name bly interessant. Wat ook partykeer vir my werk, is om te gaan kyk na die betekenis van name, want baie keer is dit deel van die lekker om ’n karakter te ontwikkel saam met die betekenis van die naam.

