’n Klassieke verhaal: Labirint deur Chanette Paul

  • 0

Titel: Labirint
Skrywer: Chanette Paul
Uitgewer: Queillerie
ISBN: 9780795801051

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Sommige boeke is gewoon klassiek, en Labirint deur Chanette Paul, wat al ’n herdruk beleef het, is so ’n boek. Dalk juis oor die tema: ’n vrou wat steeds geteister word deur ’n gewelddadige eks en van hom wegvlug maar dan in ’n doolhof van dood en intriges vasgekeer te raak.

Labirint is geskoei op ’n storie in die Griekse mitologie wat vertel van die doolhof wat deur koning Minos onder sy paleis gebou is om sy stiefseun, ’n minotaurus met die kop van ’n bul en die lyf van ’n man, in weg te steek.

Die wrede minotaurus wat mense eet en in die donkertes skuil, kan gesien word as die simbool van die hoofkarakter, Vasti de Leeuw, se eksman. Dié kunstenaar vlug na Leeuwendrif waar sy grootgeword het nadat haar eks, Dolf Verster, haar huis vandaliseer. Sy is egter skaars daar of sy begin dreigoproepe te ontvang. Die bloeddorstige Dolf is reeds op haar spoor.

Of is hy?

Kort daarna begin die moorde. Die een ná die ander. En die slagoffers het almal ’n verbintenis met Vasti.

Dan is daar die mans: haar ou liefde wat haar destyds verwerp het, die suave prokureur wat “swing” saam met sy vrou en haar sielkundige, wat ook blyk ’n obsessie met haar te hê.

Die spanningslyn kronkel sodanig jy sal nie die boek wil neersit totdat jy weet hoe elkeen in die legkaart van Vasti se lewe inpas en natuurlik wie die moordenaar is nie.

Maar dit verklaar nog steeds nie die gewildheid van die boek nie. Boeke met ’n sterk spanningsdraad is tog alledaags en volop.

Daar is twee ekstra elemente wat van die boek ’n volwaardige ervaring maak.

Eerstens bied dit ’n realistiese blik op die gemoedstoestand van ’n slagoffer van geweld. Slagoffers van mishandeling sal jou vertel: Jy bereik ’n punt waar jy net nie meer kan nie. Jy is moeg van in vrees lewe. So besluit Vasti sy is moeg gevlug. Diep binne haar verwelkom sy selfs die dood. Want dan sal alles verby wees.  

Wat ons bring by die doel van ’n labirint.

’n Labirint was nie oorspronklik ’n doolhof van multidimensionele roetes wat jou orals heen lei en verlei en in doodloopgange laat beland nie. Dit is oorspronklik ontwerp as ’n enkele pad wat in sirkels loop en die stapper na ’n innerlike kalmte en selfs hergeboorte lei. En dis presies wat met Vasti gebeur.  Sy voel sy gooi tou op, maar juis daardeur begin sy om haarself en haar vrese te konfronteer en ontdek sy haar sterk innerlike.

Tweedens is daar die romantiese element. Paul is een van die min skrywers wat daarin slaag om romanse en spanning soomloos te verbind.  En in Labirint is die man wat in Vasti se lewe verskyn, ’n uiters interessante karakter met die naam Vis, ’n geheimsinnige rivierman en ook iemand met bande met haar verlede.

Wat Vis anders maak, is dat hy ’n antiromantiese held is. Soos in Prinses en die Ondier. Hy het ’n akneepokkelvel. Hy dink hy is lelik. Maar liefde is blind. Sal Vasti dieper kyk en hou van wat sy sien? Of sal die noodlot weer eens haar enigste kans op geluk in die wiele ry?

Die boek is lywig. Dik. Dit gaan jou ’n hele paar dae besig hou. Maar jy sal nie onwillig verdwaal tussen die verskillende draaitjies en kronkels van die boek nie.

In dié boek kan jy jouself heerlik verloor soos wat jy na leidrade en die ewig ontluikende moordenaar of selfs moordenaars soek.

Want in ’n labirint is enigiets moontlik.

Lees ook:

Boekresensie: Labirint deur Chanette Paul

Hier is jou naaste tak van Bargain Books

As jy nie die boek sien nie, vra gerus die personeel om dit te bestel.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top