Boekresensie: Labirint deur Chanette Paul

  • 0

labirint400

 

Titel: Labirint
Outeur: Chanette Paul
Uitgewer: Queillerie
ISBN: 9780795801051

Soos dit ’n nuuskierige tienermeisie betaam, het ek op ’n brose ouderdom my eerste Chanette Paul-romanse onder oë gekry. Skelm agter ’n biblioteekrak. En daarna was ek ’n selferkende Chanette Paul-verslaafde.

Saam met die ouderdom kom kieskeurigheid en ek begin soek na boeke met bietjie meer om die lyf. Weer eens stel Paul nie teleur nie. Ek het elke Gys Niemand-roman gulsig opgeslurp, en daarna my dors met die Maanschijnbaai-tweeluik geles.

Paul het oor die jare al verskeie kortverhale, romanses, liefdesromans en spanningsromans mildelik uit haar kreatiewe pen laat vloei, en is beslis een van die soepelste en produktiefste skrywers in Afrikaans.

Met Labirint slaag sy daarin om die elemente van spanning, romanse en misdaad kwistig te vervleg en jou mee te voer op ’n leesreis met allerlei kinkels, draaie en slingerpaaie.

Labirint, wat die eerste keer in 2012 verskyn het, was só gewild dat dit pas heruitgegee is – die grootste pluimpie wat enige skrywer kan ontvang. ’n Mens is nie veronderstel om ’n boek op sy baadjie te takseer nie, maar die omslag van die nuwe Labirint lok ’n mens willoos nader. Die ontwerp is vars en modern, en hierdie heruitgawe sluit nou pragtig aan by die omslae van Siende Blind, Raaiselbeeld en Ewebeeld, die ander Paul-spanningsromans met dieselfde oorkoepelende tema: die verset van ’n vrou teen die emosionele aftakeling van ’n man.

Die skilder Vasti de Leeuw, hoofkarakter in Labirint, keer na haar grootworddorp, Leeuwendrift, terug in ’n poging om van haar gewese man, Dolf Verster, se mishandeling en wraakgierigheid te ontsnap en haar begaafde kunstenaarhand weer aan ernstige kuns te waag.

Net wanneer Vasti dink dat sy uiteindelik ’n holte vir haar voete in die Overberg gevind het, kom klop die spoke van haar verlede een vir een aan die oewerhuis se deur. Sy word weer met vreemde oproepe getreiter, en binne enkele maande word agt mense raaiselagtig vermoor. En Vasti is die skakel wat al die slagoffers verbind.

Voeg hierby ʼn “hels aantreklike sielkundige” met ’n geheim, ’n prokureur en sy vrou wat graag “swinger”-partytjies hou, ’n lelike rivierman, en jy wonder of jy ooit die minotaurus in hierdie labirint gaan vind.

Jy moet noulettend lees, want leidrade word subtiel verskaf, en verskeie verledes word met die hede vermeng. Die goedgeplaaste onthullings word eindelik die goue draad wat jou deur die doolhof van leuens, legendes, skinderstories en familiegeheime lei en sorg dat die skuldige se identiteit geopenbaar word.

Paul is bekend vir die veelvlakkige, volronde karakters wat sy skep – hulle is só menslik dat jy maklik vir Vasti en Dolf in Pick ʼn Pay of Mugg & Bean sal herken. Haar fyn waarnemingsvermoë blyk duidelik uit die oortuigende dialoog en ruimtebeskrywings, en dra by tot die geloofwaardigheid van die verhaal.

Die navorsing vir hierdie roman is meesterlik gedoen en gedetailleerd. Inligting oor die Suid-Afrikaanse kunsgemeenskap, kunsdiefstal, skilderskap en Griekse mitologie word soomloos by die verhaalgebeure geïntegreer sodat dit nie die vloei van ʼn weldeurdagte storie skaad nie.

Dié roman is ’n lywige boek wat oor 540 bladsye strek. Ten spyte van die feit dat spanningsromanlesers dikwels na ’n deurstuiter soek wat ure se leesvermaak verskaf, vermoed ’n mens dat Paul die spanningsdraad selfs stywer sou kon span deur die roman met ’n paar bladsye te verkort.

Labirint, in sy nuwe baadjie getooi, verdien sy regmatige plek op elke spanningsroman-aficionado se boekrak. Dit is die verrassende wendinge, onderhoudende taalgebruik en netjies verwikkelde intriges wat die leser intrek en van Labirint ‘n boeiende en onvergeetlike spanningsroman maak.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top