’n Kat se kans en Elke hond kry sy dag: ’n leser se indrukke

  • 1

’n Kat se kans: Verhale van vurige en kordate katte
Skrywer: Kimberlie Hamilton
Illustrasies: Verskeie
Uitgewer: LAPA Uitgewer  

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Hierdie is beslis een van twee van die lekkerste boeke om met ’n maat te deel. Katte en honde is van die getrouste en geliefste troeteldiere en ’n ervaring wat meeste van ons, onsself mee kan vereenselwig. Dié van ons wat nog nie ’n troeteldier gehad het nie, wil graag een hê en dié van ons wat al die wel en wee van die lewe saam met ons troeteldiere beleef het, koester goue herinnerings van ons dierevriende.

Hierdie boeke is beslis nie net storieboeke nie, maar iets tussen ’n koffietafelboek en ’n hoekom-vraagboek vir die jongspan.

Ek sou kon aanbeveel dat ’n Kat se kans: verhale van vurige en kordate katte (2019) en Elke hond kry sy dag (2019) saam met die mooi volwasse koffietafelboeke op die koffietafel pryk.  Dit laat toe dat die jongspan hulself kan besig hou met feite, stories en pragtige prente oor katte en honde terwyl die grootmense kuiser en gesels.

Daar is verskeie interessante verhale oor katte wat op skepe reis, beroemde muisvangers en selfs oor ’n mannetjieskat genaamd Mrs Chippy aan boord die Endurance, Sir Ernest Shackleton se skip, op reis na die Suidpool.   

Daar is ook stories oor katte in kerke, katedrale, teaters en selfs ’n gemmer biblioteek kat, genaamd Dewy. Iemand het hom by die biblioteek se deur gelos en die personeel by die biblioteek het besluit om hom te hou. Hy het selfs sy eie boek: Dewy: The Small-Town Library Cat Who Touched the World. Almal het biblioteek toe gegaan om vir Dewy te gaan kuier, en boeke uit te neem, natuurlik.

Verskeie bladsye met interessante inligting en het-jy-geweet-feite word tussen die stories geplaas wat nuuskierige, vurige en kordate lesers sal besig hou.

Hierdie boek is beslis ’n goeie keuse vir die Kerskous in 2019, miskien selfs kry Elke hond sy dag (2019) ook ’n gaatjie onder die kersboom.

Die skrywer: Kimberlie Hamilton

Kimberlie Hamilton woon tans in die Noorde van Skotland saam met haar vier katte.  Sy het eers in die Suide van Kalifornië in die VSA gewoon. Sy is ’n skaamtelose hippie en is mal oor die natuur en diere, veral haar katte. Sy studeer tans vir ’n Meestersgraad in Kulturele en Kreatiewe Kommunikasie by die Universiteit van Aberdeen. Sy glo betowering is oral om ons, ons sien dit net nie altyd raak nie.    

Die illustrasies is een van die dinge wat ’n leser eerste sal opval. Dit is asemrowend! Daar word gebruik gemaak van ’n verskeidenheid illustreerders, wat toelaat dat elke storie vergesel word deur ’n unieke hond- of katprent. Agter in die boek word elke illustreerder bekendgestel aan die leser met ’n klein illustrasie by wat hulle tot die boek bygedra het.  

Wat ’n lekker boek om saam met jou kat, of die bure s’n, op jou bed te lê en lees. Of nog beter vir Mamma of Pappa om vir jou te lees.

Maar wag, daar is nóg ’n boek ...  een oor honde! 

 

Elke hond kry sy dag
Skrywer: Kimberlie Hamilton
Illustrasies: Verskeie
Uitgewer: LAPA Uitgewer

Hierdie boek is natuurlik die ander boek wat net so lekker is om met jou maats te deel. Dit is ’n uitstekende keuse vir die Kerskous - dalk ’n bietjie meer bekostigbaar as ’n hondjie onder die kersboom. In hierdie pragtige boek, ’n pasmaat vir ’n Kat se kans: verhale van vurige en kordate katte (2019), wat natuurlik nóg ’n opsie is vir die koffietafel om die kinders besig te hou.

Elke hond kry sy dag, maar ’n brak kry ’n langnaweek is definitief waar ten opsigte van hierdie mooi en interessante boek. Daar is hope feite oor honde en hoe die mens se beste vriend deur die jare ontwikkel het in die verskillende rasse wat ons vandag kry.

Daar is verskeie interessante stories oor honde wat saam met hul eienaars in die Tweede Wêreldoorlog gevlieg het en hulle help oorleef het tydens aanvalle.

Daar is ook interessante brokkies oor bekende honde soos Rin Tin Tin wat ’n Hollywoodster was en Pal wat die rol van Lassie vertolk het en natuurlik ook die bekende honde uit gerekende tekste soos Old Yeller, The Call of the Wild, Dog on it, A Dog's Life en natuurlik The Hundered and One Delamtions  deur Dodie Smith. Haar boek was die inspirasie agter die Disney-rolprent en animasiereekse wat alombekend geword het.

Die bekende Russiese ruimtehond, Laika, wat deur die Russe die ruimte ingestuur is. Sy kon ongelukkig nooit kon terugkeer nie, omdat die tegnologie vir ’n terugvlug nog nie bestaan het nie. Dit alles ter wille van die wetenskap.

Natuurlik is daar die beroemde brakke wat sosiale media oorrompel met hul oulike toertjies en geaardhede. Soos Denver the Guilty Dog, wat ’n kat se smulhappies steel, of Scout. Hy was eers ’n verwaarloosde rondloperhond, maar sy spesiale talent het hom ’n internet sensasie gemaak – hy kan allerhande goed op sy kop balanseer. Hy het selfs sy eie webtuiste (http://stuffonscoutshead.com/home/).

Dié twee boeke is beslis ’n aanwins vir enige boekrak, tuis, by die skool of die biblioteek. Veral op die lang reise tydens die skoolvakansie. Kinders kan hope interessante dinge leer oor honde en katte. Hulle kan ook leer wat hulle hond of kat se gedrag vir hulle probeer sê. Die belangrikste is dat daar gedeeltes in elke boek gewy word aan bewusmaking van die versorging van troeteldiere. Byvoorbeeld in die agterblaaie van beide boeke is daar webtuistes oor honde en katte aannemingsorganisasies en liefdadigheidsorganiasies wat omsien na honde en vir rondloperhonde ’n tuiste bied, totdat hulle ’n vir-ewig-huis kan kry.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top