’n Kantopmerking oor Richard Steyn se Louis Botha, a man apart

  • 2

Foto van Louis Botha tydens die laaste fase van sy lewe. Bron: Meintjes (1970)

Inleiding

In Richard Steyn (2018) se nuutste biografie, Louis Botha: a man apart, uitgegee deur Jonathan Ball, word die fokus weer eens op hierdie besonderse Boeregeneraal en talentvolle staatsman geplaas.

Volgens Louw (2019) fokus psigobiografiese navorsing op die persoonlikheidsfaktore en gedrag van uitstaande of buitengewone historiese figure. Hoewel dit ʼn bekende navorsingsmetode in die sielkunde is, is dit nie bo kritiek verhewe nie. Die belangrikste punt van kritiek is dat daar nie professionele en persoonlike onderhoude met die persoon self (of in baie gevalle, naasbestaandes) gevoer kon word nie; daarom dat daar soms besware van onbetroubare inligting en selfs onetiese navorsing ingebring word. Dit is egter ewe waar dat hierdie metode, indien dit (soos met alle navorsingsmetodes) na behore gebruik word, waardevolle inligting na vore kan bring – inligting wat in ieder geval verlore sou gegaan het en in die toekoms moontlik slegs met beter navorsingsmetodes ingewin sou kon word.

Met die frase “a man apart” beklemtoon Steyn waarskynlik dat Botha ’n persoon in ’n klas van sy eie was. ’n Unieke presteerder op militêre sowel as politieke terrein. In hierdie verband sluit sy biografie aan by dié van ander skrywers soos Buxton (1924), Engelenburg (1928), Meintjes (1970) en Meiring (1972).

Steyn (ble xii, xiii, 8, 79, 245, 324, 251, 252, 254) sowel as bogenoemde skrywers verwys ook op ’n ander faset van Botha se uniekheid, naamlik sy stryd met terugkerende depressie, wat veral na president Steyn se dood aan die einde van 1916 verdiep het.

Die vraag ontstaan gevolglik of enige oorsake aangedui kan word vir Botha se depressiewe geneigdheid? Is dit billik om na hierdie toestand as depressie te verwys? Sou ’n volledige assessering van die pasiënt se gemoedstoestand destyds gedoen kon word? Was die beweerde depressie chronies of akuut? Was dit hoofsaaklik reaktief of biologies gedetermineerd? Is dit billik en eties regverdigbaar om deur ’n hedendaagse bril te kyk na ’n moderne konstruk soos depressie, wat aan die begin van die 20ste eeu in die mediese wêreld as melancholie bekendgestaan het? Depressie gaan saam met kognitiewe aftakelings soos ’n afname in konsentrasie- en geheuefunksies, wat die vraag verder laat ontstaan of Botha werklik sy rol as imperiale staatsman (Pakenham 1999:599) en in die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika doeltreffend sou kon gespeel het met die uitdagings wat met sulke psigies afbrekende simptome gepaardgaan (Vlok 2019)?

Generaal Louis Botha tydens die laaste fase van sy lewe. Bron: Meintjes (1970)

Historiese betekenis

’n Evaluering van historiese betekenis spruit voort uit die interpretasie van historiese gebeurtenisse. Die interpretasie van historiese gebeure verteenwoordig meestal een of meer spesifieke waarnemers se standpunte oor die bepaalde gebeurtenis(se) of verskynsel(s). Die beantwoording van vrae soos hier bo gestel, berus dus op interpretasies wat tussen verskillende waarnemers kan verskil. Daarom is dit belangrik om die geldigheid van ’n bepaalde historiese interpretasie te toets, sowel as die metodes wat gevolg is om bepaalde interpretasies krities te bekyk.

Betreklik min is bekend oor oorlogsverwante psigopatologiese toestande wat tydens die periode van die Anglo-Boere-oorlog (ABO) en direk daarna voorgekom het. McLeod (2004) bespreek in sy proefskrif sewe geselekteerde gevallestudies oor die sielkundige impak van die guerrillafase van die ABO. Louis Botha word nie in McLeod se ontleding ingesluit nie. Die rede hiervoor kan wees dat Botha se depressie meer opvallend voorgekom het tydens die laaste periode van sy loopbaan (Meintjes 1970; Meiring 1972) as tydens die eerste gedeelte tot die einde van die ABO. 

Van melancholie tot depressie

Reeds in 1863 het Karl Kahlbaum (Ban 2014) deur middel van sy psigopatologiese klassifikasiestelsel tussen totale affektiewe disintegrasie (melancholie) en distimie (gedeeltelike affektiewe disintegrasie) onderskei. Aan die begin van die 20ste eeu is die term melancholie geleidelik vervang met die term depressie (Telles-Correia en Marques 2015). Melancholie is destyds gesien as ’n siektetoestand met ’n biologiese basis. Depressie, daarenteen, is aanvanklik as ’n psigogene versteuring beskou voordat dit aan die einde van die vorige eeu (versterk deur die sukses van antidepressante) in ’n groot mate aan biochemiese faktore toegeskryf is (Louw 2019).

Tans word kliniese depressie volgens die DSM-5 (Shelton 2018) aan die hand van agt spesifieke kriteria gediagnoseer. Behalwe die voorkoms van affektiewe simptome, kan die persoon ook fisieke simptome soos chroniese pyn en spysverteringsprobleme ervaar. Die simptomatologie moet vir ’n periode van twee weke voortduur voordat ’n diagnose van kliniese depressie gemaak kan word. Depressie kan ook van gemengde aard wees (mixed features specifier), maw maniese simptome kom in die siektebeeld voor, maar ’n volle maniese fase kan nie gediagnoseer word nie. Angs kan ook saam met depressie manifesteer (anxious distress specifier).

Gevolgtrekkings

Het bogenoemde inligting enige historiese betekenis?

Teen die agtergrond van Louis Botha se vroeë en latere lewensloop is daar oorgenoeg potensiële oorsaaklike bronne vir die ontstaan en ontwikkeling van gemoedsversteuringe (Van der Westhuÿsen 2019), maar dit sou veiliger wees om nie ongekwalifiseerd na die voorkoms van “depressie” te verwys nie, veral omdat die kriteria vir depressie in terme van Botha se presenterende simptomatologie destyds nie bevredigend getoets kon word nie. Kliniese depressie toon ’n komplekse siektebeeld wat met ’n professioneel-diagnostiese proses gepaardgaan, en wat in Botha se tyd nog grotendeels onbekend was. Dit sou veiliger wees om verwysings na Botha se geestestoestand gekwalifiseerd aan te bied, soos byvoorbeeld die aanwesigheid van ’n opvallende gemoedsversteuring met depressie en terneergedruktheid as van die kenmerkende eienskappe.

Dit is ook onbekend of ’n behoorlike assessering, diagnose en rekordhouding van sy “melancholie” (kyk Steyn 245) deur sy adviserende geneeshere destyds gedoen is, of nie gedoen kon word nie, of nie aangedui was nie. Volgens Meintjes (1970:290) was Botha ook geneig om mediese advies nie ernstig op te neem nie. Psigiatriese dienste was op daardie tydstip reeds beskikbaar in Suid-Afrika (Gillis 2012), maar die fokus was minder op affektiewe versteurings en meer op psigotiese siektetoestande. ’n Hipotetiese differensiële diagnostiese formulering oor Botha se “depressie” deur skrywers sal voortaan meer gepas wees, en terselfdertyd erkenning verleen aan die kompleksiteit van die psigopatologie en klassifikasie van menslike gedrag, veral as dit deur ’n historiese lens gedoen word.

Wat die etiologie van Botha se gemoedsversteurings betref, kan bloot gespekuleer word. MPC Valter (Bodenstein 1916; Meintjes 1970) se publikasies oor beweerde verraad deur Botha in 1900 kon byvoorbeeld sy gevoel/belewenis van onsekerheid (wat met depressie verband hou) versterk het; die rebellie kon kognisies soos verwerping en selfverwyt veroorsaak het; sy chroniese siekte kon stres van ’n psigogene aard tot gevolg gehad het. Betroubare interpretasies oor die etiologie is onmoontlik, omdat Botha geen notas van ’n persoonlike aard of publikasies nagelaat het nie (Steyn 2018).

Bodenstein se reaksie op MPC Valter se aantygings en Valter se pamflet. Bron: Gericke Biblioteek, US.

Ten slotte

Dit is moontlik om ook uit ’n ander invalshoek te kyk na die interpretasie van die frase “a man apart” as om hoofsaaklik op Botha se “uitsonderlikheid” te fokus. Die onderskrif sou byvoorbeeld kon dui op grade van disintegrasie van menslike gedrag (torn apart), of na die belewing van isolasie en eensaamheid/eenkantheid of verwerping (asunder, separated). Die titel vir die biografie kon selfs ook Louis Botha: a man of courage gewees het. Sodanige fokus op moed en deursettingsvermoë impliseer dat generaal Botha sy trauma en onwillekeurige gemoedsiklusse op sy eie unieke manier in sy latere lewensfases met waardigheid en dapperheid (soos sy voorafgaande leiersrol tydens die ABO) hanteer het. Dit stel sy “depressiegeneigdheid” in ’n ander perspektief.

Eindnota

Dap Louw (buitengewone professor: Sielkunde, Universiteit van die Vrystaat), Fransjohan Pretorius (professor in Geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria), en Bodley van der Westhuÿsen en Louis Vlok (beide praktiserende sielkundiges) word bedank vir die lees van hierdie skryfstuk voor publikasie en vir die toepaslike kommentaar wat hulle daaroor gelewer het.

Bronne geraadpleeg

Ban, TA. 2014. From melancholia to depression. A history of diagnosis and treatment. International Network for the History of Neuropsychopharmacology. E-Books. http://inhn.org/ebooks/thomas-a-ban-from-melancholia-to-depression-a-history-of-diagnosis-and-treatment.html.

Bodenstein, HDJ. 1916. Was generaal Botha in 1900 ’n verrader? Amsterdam: HAUM.

Buxton, E. 1924. General Botha. Londen: John Murray.

Engelenburg, FV. 1928. Generaal Louis Botha. Pretoria: Van Schaik.

Gillis, L. 2012. Historical development of psychiatry in South Africa since 1652. South African Journal of Psychiatry, 18(3). https://sajp.org.za/index.php/sajp/article/view/355/335.

Louw, DAP. 2019. Persoonlike kommunikasie, 24/2/2019.

McLeod, AJ. 2004. The psychological impact of guerrilla warfare on the boer forces during the Anglo Boer War (proefskrif, ongepubliseer). Pretoria: Universiteit van Pretoria.

Meintjes, J. 1970. General Louis Botha. A biography. Londen: Cassell.

Meiring, P. 1972. Ons eerste ses premiers. ’n Persoonlike terugblik. Kaapstad: Tafelberg.

Pakenham, T. 1999. Die Boere-oorlog. Johannesburg: Jonathan Ball.

Shelton, J. 2018. Depression, definition and DSM-5 diagnostic criteria. Psycom. https://www.psycom.net/depression-definition-dsm-5-diagnostic-criteria.

Steyn, R. 2018. Louis Botha: a man apart. Johannesburg: Jonathan Ball.

Telles-Correia, D en JG Marques. 2015. Melancholia before the twentieth century: fear and sorrow or partial insanity? Frontiers in Psychology, 6:81. DOI: 10.3389/fpsyg.2015.00081.

Van der Westhuÿsen, TWB. 2019. Persoonlike kommunikasie, 22/2/2019.

Vlok, LA. 2019. Persoonlike kommunikasie, 21/2/2019.

 

 

 

  • 2

Kommentaar

  • Francois Jordaan

    Ek het A Man Apart/Steyn pas gelees. Kan iemand my asb inlig oor die beweerde verraad deur Botha in 1900?

  • Francois, in FLH de Souza (2004) A question of treason, Google Books p279, word 'n kort en bondige opsomming van die gebeurtenis gegee.

    Die volledige inligting word in MPC Valter en HJD Bodenstein gekry, beide hierdie bronne is in die Gericke Biblioteek, US beskikbaar.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top