Sedert ek van Maggi Atkinson se dood op 9 April verneem het, raak ek maar telkens aangedaan met die terugdink. Ek het ook deur my Akademiespelers-leggers en my dagboeke gewerk.
Ek het Maggi in 1972 ontmoet. Ek was ’n lid van die NG Gemeente Kaapstad se Kerkjeugvereniging. Onder leiding van die voorsitter, Ronnie Bruce, pak ons fondsinsamelingspogings aan, waaronder ’n toneelopvoering. Hy het by Maggi, toe nog Leibbrandt, daar in St Martini Gardens verneem dat sy graag Gerhard J Beukes se As ons twee eers getroud is sal opvoer. Repetisies en opvoerings was in die Gemeentesaal in Kloofstraat.
As Oupa was dit my eerste speelkans in ’n vollengte-opvoering, met baie grimering vir veroudering. In my skooljare op Worcester het ek dikwels by die debatsvereniging opgetree, maar net in uittreksels of monoloë. Maggi was my eerste regisseuse!
Deur Maggi ontmoet ek studente van die Akademie vir Dramakuns. Ek speel selfs vir Teubes Prinsloo se geselskap van oudstudente. Hulle moedig my aan om te kom klas loop en die volgende jaar gehoorsaam ek hulle.
Met die stigting van die Akademiespelers in 1978 sou Maggi uitblink in komedie, tragedie, kinderteater, kabaret, skakelwerk en reklamewerk by die Afrikaanse en Engelse pers.
In Oktober 1981 is sy byvoorbeeld in die titelrol van Lappies die lappiesmous deur Aad Greidams, soos vertaal deur Wilma Stockenström. In Die Burger se resensie van ene ED, word genoem dat die regisseur, Gerard Scholtz, “met ’n flinke pas sekere nogal gewigtige lewenswaarhede uitgebeeld” het. “Al die spelers is voortreflik.” Die opvoering het “bestanddele wat aan baie mense ’n genotvolle aand van ligte vermaak sal bied”.
In 1982 is Johann van der Merwe regisseur van Ons hou konsert. Dit is Robert Mohr se verwerking van Melt Brink se komiese sketse om ’n voorstelling te gee van ’n plattelandse joligheid om die eerste kragsentrale in 1919 op Olijvenhoutsfontein te verwelkom. Maggi is mevrou dominis Van Cuijlenburgh-Havenga, wat die stukke opvoer, en Tim Atkinson is oom Donkerbroek du Plooy, wat die verversings teen doerie tyd se pryse aanbied. (Raai watter bynaam het Tim toe gekry.)
In 1983 word Pieter-Dirk Uys se Karnaval in Die Kamer onder Elza Esterhuizen se regie opgevoer. Resensent Jill Fletcher teken vir Maggi as Aunt Dora:
The tenants of a boarding house, run by Aunt Dora, are a mixed bunch trying to put a good face on a new year. ... The hub of this rip roaring, uncertain group is Aunt Dora, played by Maggi Atkinson. Her first entrance in blue eye shadow, blue curlers, a little black dress and a red rose, brought the house down. And with her ginny voice, pet jokes and genuine concern for her tenants, she kept her central position throughout the play, swigging brandy, controlling the language and hitching up her knickers when they threatened to slip down.
Van Oktober tot Desember 1983, en daarna in Maart 1984, is Maggi seremoniemeesteres van die kabaret Afrikaners is plesierig en dan maak hulle só. Dit is saamgestel deur Elmarie Kitshoff, Marie de Kock en Gerard Scholtz, wat ook die regisseur was. Dit is aangebied in Die Kamer, by die Parelvallei Wingerdfees en vir die Skrywersgilde in Delheim.
Leendert Dekker se mening:
Fyn, lieftallige Maggi Atkinson is die seremoniemeester. Sy vertolk die rol sjarmant, maar Vrydag was haar byt nie altyd giftig en stemvolume nie altyd voldoende om die groep en die gehoor met subtiele nuanse van intonasie te beheer nie.
Ian Smit (The Argus): “The ‘seven pleasures of the Afrikaner’ are introduced by a wickedly funny mistress of ceremonies (Maggi Atkinson).”
Dit is nie die enigste toneelwerk waarby Maggi betrokke was nie. Daar was glo produksies waarby sy in Bellville en elders, veral in haar jonkheid, betrokke was. Daar wag nog navorsing.
Die verwoording van haar sterftekennis is ontroerend. Dankie aan haar familie daarvoor:
Sag heengegaan op 9 April,
ons geliefde Suster en Tannie.
Met kosbare herinneringe aan
haar onblusbare lewensvreugde.
Kommentaar
'n Insiggewende terugblik op 'n lewenslustige lewe - baie dankie Danie vir die deel van jou kosbare herinneringe!
Dankie, Nico. En vir Gerard wat gesorg het vir die foto en saam met Izak my met die tegniese sy gehelp het. Danie