’n Huldeblyk aan Derick van der Walt

  • 1

Foto's van Derick van der Walt, Toring van Jasmyn en Hoopvol: NB-Uitgewers

Afrikaanse lesers, en veral jonges, het verlede week een van hulle grootste storieskeppers verloor. Hy het eers in sy middeljare begin skryf, maar uit die staanspoor was dit duidelik dat hy lesers met sy buitengewone stories oor gewone mense sou betower en pryse sou inpalm, wat dan ook keer op keer gebeur het. 

Derick van der Walt was meer geïnteresseerd in doodgewone mense wat ondanks alles wat die lewe opdis, bly oorleef, as in vername mense en belangrike gebeurtenisse. In Willem Poprok glo Willem se Blou Bul-mal pa dat hoender nie vleis is nie en saans word daar ’n dop gegooi  –  lesers sou bloot hulle oë moes toemaak om soortgelyke tonele voor hulle te sien afspeel. En in sy stories waar party lesers moeiliker met die hoofkarakter sou identifiseer, soos met Lien van Lien se lankstaanskoene, is sy karakterisering briljant oortuigend en intriges altyd realisties en eerlik.

Hoewel hy nie geglo het dat boeke bewustelike boodskappe of lesse moet oordra nie, kom al sy lekkerleesstories met ’n takeaway. Wie sou ná die kennismaking met Lien ooit by ’n bedelaar langs ’n verkeerslig verbyry sonder om oor hulle omstandighede te wonder? Humor is dikwels meesterlik ingespan om lesers te help om deur uitdagende intriges te kom, maar nooit ten koste van die erns van hooftemas nie.

............
Dis moeilik om ’n gunsteling-Derick van der Walt-titel te kies, maar Hoopvol is een van die boeke wat my die meeste geraak het. Hartseer- én lagtrane was aan die orde van die dag. Dis ongelooflik hoe hierdie skrywer dit reggekry het dat die leser gemaklik heen en weer tussen die skoene van ’n gebroke tienerseun en dié van ’n pas-klaar-met-skool tienermeisie in ’n godverlate Karoodorpie kon klim en hoe al die drade bymekaar gebring is.  
...............

Dis moeilik om ’n gunsteling-Derick van der Walt-titel te kies, maar Hoopvol is een van die boeke wat my die meeste geraak het. Hartseer- én lagtrane was aan die orde van die dag. Dis ongelooflik hoe hierdie skrywer dit reggekry het dat die leser gemaklik heen en weer tussen die skoene van ’n gebroke tienerseun en dié van ’n pas-klaar-met-skool tienermeisie in ’n godverlate Karoodorpie kon klim en hoe al die drade bymekaar gebring is.  

Derick van der Walt kon van ’n alledaagse storie ’n moet-lees-treffer maak. Hy’t sy karakters volrond ingekleur om dit vir sy lesers byna onmoontlik te maak om enige aweregse karakter af te skryf eerder as om optredes en reaksies te probeer verstaan. Lesers se houding teenoor die tipiese belhamel wat net aanhoudend droogmaak, terwyl almal voel dat hy homself gerus kan regruk, behoort ná die lees van Bambaduze te verander. Daar kan moontlik veral by Jurie se pa kers opgesteek word.

Van der Walt se boeke word deur volwassenes sowel as tieners geniet. Hy het die leefwêreld van jongmense verstaan, het hulle nooit onderskat nie, en kon baie goed vanuit hulle perspektief skryf, terwyl hy baie duidelik en realisties ook die volwassene-kant kon verwoord. Twee volwassene-titels, Daan Dreyer se blou geranium en Tussen vriende, het ook uit sy pen verskyn.

Sy laaste jeugboek, Toring van Jasmyn, is in 2019 met die Goue Sanlam-prys vir Jeuglektuur bekroon. Teen die agtergrond van ’n alternatiewe gesinsvakansie vol spanningsvolle oomblikke, deurspek met tienersarkasmehumor, wys hy deur middel van ’n storie met baie lae hoe eenders en aanpasbaar mense is.

Dis hartseer om te dink dat daar nie nog ’n Derick van der Walt-titel êrens in ’n pyplyn is nie. Hy laat ’n groot leemte in die Afrikaanse jeug- en jongvolwassenefiksiewêreld én breër. Hy kon vir almal skryf en het ook. Ek is wel baie dankbaar vir sy storienalatenskap en sal nie ophou om sy boeke wyd en syd aan te beveel nie.

Lees ook:

Letterkundetoets: Graad 12 Afrikaans Eerste Addisionele Taal

In memoriam: Derick van der Walt

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top