’n Hond, ’n hottentotsgot en literêre prestige: Instagram as rolspeler in die Afrikaanse literêre sisteem

  • 1

’n Hond, ’n hottentotsgot en literêre prestige: Instagram as rolspeler in die Afrikaanse literêre sisteem

Burgert Senekal, Departement Rekenaarwetenskap en Informatika, Universiteit van die Vrystaat

LitNet Akademies Jaargang 17(3)
ISSN 1995-5928

 

Opsomming

Sosiale media het oor die afgelope dekade en ’n half ’n al hoe groter rol in die menslike leefwêreld begin speel. Ook ten opsigte van die Afrikaanse letterkunde het sosiale media ’n belangrike rol begin inneem, met heelwat van die gesprek rondom die Afrikaanse literatuur wat tans op sosialemediaplatforms plaasvind. In die huidige artikel word plasings oor gekanoniseerde Afrikaanse skrywers op Instagram, ’n jong, fotogebaseerde sosialemediaplatform, verken. Daar word aangetoon oor watter van die Afrikaanse skrywers wat in die nuutste uitgawe van Perspektief en profiel opgeneem is, die meeste geplaas word, en die hutsmerkernetwerk word ook onttrek en as netwerk ontleed. Met behulp van ’n algoritme wat gemeenskappe identifiseer, word aangetoon watter skrywers gereeld saam genoem word, en voorbeelde van plasings word ook verskaf. Daar word ook uitgelig watter belangrike rol die digkuns inneem in plasings oor die Afrikaanse literatuur op hierdie platform, asook die rol wat die Afrikaanse musiek, drama en kunstefeeste speel. Ten slotte dui die artikel aan dat skrywers se name nie net op hierdie platform (wat veral deur jongmense gebruik word) voortleef nie, maar ook op verrassende wyses voortleef deur die dinge wat na skrywers vernoem word en die plekke wat sosialemediagebruikers besoek. Voorstelle vir verdere navorsing word gemaak.

Trefwoorde: Afrikaanse literêre kanon; Instagram; literêre sisteem; Perspektief en profiel; sosiale media

 

Abstract 

A dog, a praying mantis and literary prestige: Instagram as role player in the Afrikaans literary system 

Authors’ continuing prestige can be seen in various ways, for example by whether they are still being studied, whether their works are included in anthologies, whether they are discussed in literary histories, whether their works are still prescribed, or whether intertextual references are still made to them. A variety of studies have already been undertaken in the study of Afrikaans literature that examine such mentions of and references to authors with the aim of determining whether they still function within the literary system or whether they have been forgotten. However, previous studies within Afrikaans literary studies have only investigated mentions of authors in literary histories, academic publications and in the mainstream media, their inclusion in anthologies, and where authors have entered into discussions with their predecessors; mentions of authors on social media have, however, not been investigated.

Over the past decade and a half, social media have begun to play an increasingly significant role in the human world. Also with regard to Afrikaans literature social media have begun to play an important role, with much of the discussion surrounding Afrikaans literature currently taking place on social media platforms, which means that these platforms have also become part of the Afrikaans literary system, in addition to the established platforms such as websites, newspapers, journals, books, dissertations and theses. In South Africa, WhatsApp is currently the most popular social media platform, followed by YouTube, Facebook, Facebook Messenger, Instagram and Twitter. 

Instagram was founded in 2010 and is a fast-growing platform, worldwide as well as in South Africa. It is a photo-based platform used mainly by young people – statistics, worldwide as well as in South Africa, indicate that around two thirds of Instagram users are under the age of 34. This young demographic creates new opportunities to explore what is important to young people and how they interact with social media. The current article investigates the posts around a number of canonised Afrikaans authors on Instagram.

A list of authors about whom profiles have been included in the latest edition of the Afrikaans literary history Perspektief en profiel (Perspective and profile) was compiled, and posts marked with hashtags referring to them were collected, along with metadata such as the date of posting, captions, likes and other hashtags associated with the posts. These posts are analysed within network theory – an approach within systems theory – and there is a particular focus on degree centrality and modularity. The study identified the authors most often referred to in posts and found that many of the older authors remain important on this platform, although authors that have been translated seem to be more popular. In addition, the hashtag network was also extracted and analysed as a network. Using an algorithm that identifies communities, it is indicated which authors are often mentioned together, and examples of posts are also provided.

The article highlights, among other things, the important role that poetry plays in posts about Afrikaans literature on this platform, as well as the role of Afrikaans music, drama and arts festivals. Finally, the article indicates that writers’ names survive not only on this platform, which is used especially by young people, but also in surprising ways through things named after writers and the places that social media users visit. It is shown that canonised Afrikaans writers are often placed in an everyday context, for example by posting photos where a user is reading a book on the beach, or photos of landscapes that remind the user of a poem, or by naming a pet after a writer. Otherwise, Instagram is also used as a marketing platform. As this study is exploratory in its nature, suggestions are also made for further research that could focus on individual authors.

Keywords: Afrikaans literary canon; Instagram; literary system; Perspektief en profiel; social media

 

1. Inleiding

Skrywers funksioneer op verskeie maniere in die literêre sisteem. Daar is byvoorbeeld heruitgawes van werke, parodieë, toonsettings, verwerkings (byvoorbeeld na toneel of film), onderrig, vertalings, aanhalings en intertekstuele verwysings. 

Van Vuuren (2006:281) voer aan:

Solank daar gesprekvoering of intertekstualiteit is, is daar blywende nawerking, wat dui op die lewenskragtigheid van die ouer oeuvre. Sitering, gesprekvoering, inversie – alle vorme van intertekstualiteit met die vroeër digter bly bevestiging van sy statuur en huldiging.

In Van Coller (2004) word ondersoek ingestel na vermeldings van Etienne Leroux oor verskeie platforms heen ten einde aan te dui dat die skrywer se sigbaarheid ’n aanduiding is daarvan dat hy nie vergete is nie. Met verwysing na Van Coller (2004) let Viljoen (2008) daarop dat N.P. Van Wyk Louw teen 2008 “nog steeds een van die sterkste figure in die kanon van die Afrikaanse letterkunde is”. Sy baseer haar uitspraak daarop dat hy sterk in literatuurgeskiedenisse figureer, heruitgawes van sy werke steeds gepubliseer word, hy vertaal word, steeds onderrig word, steeds in bloemlesings opgeneem word, sy werke steeds verwerk word, ens. 

Meer onlangs skryf Du Plooy (2014:539):

Of Louw se werk gewoon aan skoolleerlinge en studente onderrig word, of hy opnuut gelees en herontdek word, of sy werk deel word van wetenskaplike historiografiese ondersoeke en ordeninge, of sy gedigte en dramas aan nuwe teoretiese leesstrategieë onderwerp word, of sy standpunte kultuurkrities gedekonstrueer en gekritiseer word, of sy poëtika ontleed, nagevolg of juis verwerp word, hy figureer steeds binne die diskoers.

Die huidige artikel sluit by Van Coller (2004), Van Vuuren (2006), Viljoen (2008) en Du Plooy (2014) aan deur ondersoek in te stel na hoe die publiek omgaan met die Afrikaanse literêre kanon deur die sosialemediaplatform Instagram. Instagram is ’n fotogebaseerde platform waar gebruikers foto’s en video’s kan plaas en met ’n hutsmerker (“hashtag”) kan merk, waarna ander gebruikers kommentaar kan lewer of aandui dat hulle van die plasing hou. Alhoewel nie die gewildste sosialemediaplatform in Suid-Afrika nie, is Instagram ’n unieke platform wat oor die laaste paar jaar in gewildheid toegeneem het, soos ten opsigte van die interaksie met die Afrikaanse literatuur in die huidige artikel aangedui word. 

Die huidige studie dui aan watter van die skrywers wat in die nuutste uitgawes van Perspektief en profiel (Van Coller 2015, 2016a, 2016b) opgeneem is, die sterkste in plasings op Instagram figureer. Die hutsmerkernetwerk word onttrek en binne die netwerkteorie ontleed ten einde aan te dui watter begrippe saamhang met plasings oor Afrikaanse skrywers. Beperkinge en verdere navorsingsgeleenthede word ook bespreek.

 

2. Instagram as rolspeler in die Afrikaanse literêre sisteem 

Vanuit die perspektief van die sisteemteorie val die klem op die verhoudinge binne ’n sisteem, eerder as op die individuele eienskappe van entiteite (Wyseur 2011:25). Die sisteemteorie gaan van die uitgangspunt uit dat entiteite nie los van mekaar bestaan nie. Entiteite is verweef met ander entiteite en die sub- en supersisteme waarbinne hulle hul bevind, en hul bestaan is te danke aan hierdie verhoudinge. In die geval van die literêre sisteem, wat in Afrikaans byvoorbeeld deur Senekal (1987), Galloway (1987), Venter (2006), Kleyn (2013), Senekal (2014 en 2017) en Van Heerden (2017) bestudeer is, val die klem op die verhoudinge tussen byvoorbeeld skrywers, resensente, letterkundiges, tydskrifte, instellings en dergelike. (Vir ’n uitgebreide oorsig oor die sisteemteorie binne die Afrikaanse literatuurstudie, sien Kleyn 2013.) Voor die digitale era het tydskrifte soos Tydskrif vir Letterkunde en Standpunte ’n belangrike rol in die Afrikaanse literêre sisteem gespeel, maar in Senekal (2014) is aangedui dat webtuistes soos Versindaba en LitNet ook ’n sleutelrol in die hedendaagse Afrikaanse poësiesisteem ingeneem het. 

Hierby sou ’n mens sosialemediaplatforms kon voeg, wat sedert die bekendstelling van Facebook in 2004 ’n al hoe belangriker rol in die menslike leefwêreld begin speel het. In Suid-Afrika het sosiale media ’n penetrasie van 36% van die totale bevolking, met 22 miljoen gebruikers (Kemp 2020). WhatsApp is die gewildste platform, gevolg deur YouTube, Facebook, Facebook Messenger, Instagram en Twitter (Kemp 2020). Die meeste van hierdie platforms funksioneer ook binne die Afrikaanse literêre sisteem deurdat hulle vir gesprekvoering en bemarking aangewend word – verskeie skrywers het byvoorbeeld Facebook-blaaie en Twitter-rekeninge waardeur hulle met hul lesers in gesprek tree. In Senekal (2019) is ondersoek ingestel na die gesprek op Twitter rondom Deon Meyer, waar aangedui is hoe lesers met die skrywer in gesprek tree en hoe Twitter deur uitgewerye as bemarkingsplatform aangewend word. 

Instagram is in 2010 deur Kevin Systrom en Mike Krieger gestig en het binne minder as drie maande reeds oor ’n miljoen gebruikers gehad (Latiff en Safiee 2015:14). Teen 2016 het Instagram wêreldwyd reeds 400 miljoen aktiewe gebruikers gehad, teenoor Twitter se 320 miljoen op daardie stadium (Phua, Jin en Kim 2017:412). Tans het Instagram meer as ’n miljard aktiewe gebruikers elke maand en meer as 500 miljoen gebruikers per dag (Aslam 2020). In Suid-Afrika is Instagram die vyfde gewildste platform (na WhatsApp, YouTube, Facebook en Facebook Messenger) onder persone tussen die ouderdom van 16 en 64 jaar wat sosiale media gebruik – dit word naamlik deur 61% van gebruikers gebruik (Kemp 2020). Dié platform laat gebruikers toe om foto’s en kort video’s met volgelinge te deel, kommentaar te lewer of net aan te dui dat hulle van ’n plasing hou. Daar word tans daagliks rondom 100 miljoen foto’s en video’s op Instagram geplaas (Aslam 2020 en Internet Live Stats 2020) en daar is reeds meer as 50 miljard foto’s op hierdie platform gelaai (Aslam 2020).

Omdat Instagram so ’n jong platform is, is navorsing oor die waarde van Instagram nog baie beperk. Die meerderheid studies van Instagram fokus op sosialisering (Lup, Trub en Rosenthal 2015), bemarking (Phua, Jin en Kim 2017, Latiff en Safiee 2015 en Bergström en Bäckman 2013) en taalonderrig (Andujar en Çakmak 2020). Binne die letterkunde is daar al ondersoek ingestel na Instagram as voertuig vir e-literatuur in digvorm (Berens 2019).

Instagram is ’n platform wat veral deur jongmense gebruik word, en veral tieners verkies gereeld Instagram bo Facebook (Anderson en Jiang 2018 en Duncan 2016). Volgens Aslam (2020) is 30% van wêreldwye Instagram-gehore tussen 18 en 24 jaar oud en 35% tussen 25 en 34 jaar oud, wat beteken dat amper twee derdes van Instagram-gebruikers onder 34 jaar oud is. Boonop gebruik omtrent 72% van tieners Instagram (Aslam 2020). In Suid-Afrika is 34,1% van Instagram-gebruikers tussen 25 en 34 jaar oud en die tweede grootste gebruikersgroep is 18- tot 24-jariges, met ’n aandeel van 30,8% (Clement 2020). Hierdie jong fokus van Instagram is belangrik om in die huidige studie in ag te neem: Wanneer plasings oor Afrikaanse skrywers op Instagram gemaak word, is dit dus veral jongmense wat die plasings maak (die presiese ouderdomme van gebruikers is egter onbekend). Sulke plasings toon met ander woorde watter skrywers ter sake bly vir ’n jonger geslag, anders as ’n studie van skrywers se vermeldings in akademiese artikels of literatuurgeskiedenisse wat skrywers se sigbaarheid in ’n ander milieu en onder ’n ander demografie ondersoek.

Soos op Twitter word plasings op Instagram gewoonlik met hutsmerkers gemerk om aan te dui dat die plasing binne ’n bepaalde diskoers tuishoort, maar plasings word selde met slegs een hutsmerker gemerk. Kyk byvoorbeeld na die volgende plasing oor Eugène Marais, wat op 4 Junie 2017 gemaak is: “Another literary figure serves as #geocaching inspiration – #EugeneMarais. #geocachingsouthafrica.” In hierdie plasing is drie hutsmerkers teenwoordig. Die teenwoordigheid van verskillende hutsmerkers dui op die verskillende sisteme waarbinne ’n plasing tuishoort – in hierdie geval die Afrikaanse literêre sisteem en die stokperdjie van geocaching (’n tydverdryf soortgelyk aan ’n skattejag wat met slimfone en GPS-verwysings gedoen word). Skrywers funksioneer gereeld binne verskeie subsisteme in die literêre sisteem en ook in ander sisteme daarbuite, soos Kleyn (2013:43) skryf: “Die literêre sisteem is ’n oop sisteem wat nie onafhanklik van of onbeïnvloed deur ander sisteme staan nie, en wat met die direkte omgewing (en subsisteme) in interaksie is.” ’n Hutsmerkernetwerk verskaf dan ’n manier om ondersoek in te stel na hoe ’n skrywer binne ander sisteme funksioneer. In so ’n geval word hutsmerkers as nodusse aangedui en ’n skakel kom voor indien hulle saam in ’n plasing voorkom. Sodoende kan ’n netwerk saamgestel word en binne die netwerkteorie ontleed word. 

Die netwerkteorie is ’n benaderingswyse tot sisteme en deel die sisteemteoretiese uitgangspunt dat entiteite (gewoonlik nodusse genoem) nie in isolasie beskou kan word nie. Die netwerkteorie is ’n kwantitatiewe, rekenaargesteunde en datagedrewe benaderingswyse wat veral vervleg is met die hedendaagse grootdata-omgewing, insluitend sosiale media. Daar is reeds ’n groot hoeveelheid oor die netwerkteorie gepubliseer, ook met betrekking tot die Afrikaanse literêre sisteem (Senekal 2014 en 2017), en daarom word daar nie in die huidige artikel in besonderhede ingegaan op verskillende aspekte daarvan of hoe dit binne die sisteemteorie funksioneer nie (vir ’n bespreking van raakpunte tussen die sisteem- en netwerkteorie, sien Senekal 2014). Twee aspekte is egter hier van spesiale belang: gemeenskapsvorming en graadsentraliteit. 

Graadsentraliteit is die eenvoudigste meting waarmee ’n nodus se belangrikheid in ’n netwerk bepaal kan word en meet bloot die getal direkte skakels van ’n nodus (Bergsund 2017:25 en Nøkleberg 2014:46). Nodusse met ’n hoë graadsentraliteit is gewoonlik baie aktiewe nodusse (Freeman 1979:221) en in die huidige studie sal ’n hoë graadsentraliteit daarop dui dat ’n hutsmerker saam met ’n groot aantal ander hutsmerkers voorkom. Ander sentraliteitsaanduiders wat deur Freeman (1979) ontwikkel is en gewoonlik tydens ’n netwerkontleding ingesluit word, is nabyheidsentraliteit en tussenliggingsentraliteit (Bergsund 2017 en Nøkleberg 2014). Aangesien daar in die huidige studie slegs na sigbaarheid, en daarom nodusse wat met ’n hoë frekwensie in ’n datastel voorkom, ondersoek ingestel word, word die ontleding egter tot graadsentraliteit beperk.

Die meerderheid netwerke bestaan uit onderling identifiseerbare gemeenskappe. ’n Gemeenskap kom voor waar daar meer intra- as intergemeenskapskakels is, met ander woorde waar die skakels tussen ’n groep nodusse só dig is dat ’n gemeenskap geïdentifiseer kan word. Gemeenskapsvorming word met behulp van modulariteit (Q) gemeet (Blondel, Guillaume, Lambiotte en Lefebvre 2008), wat ondersoek instel na die aantal skakels wat wel aangetref word minus die getal skakels wat verwag sou word indien skakelvorming lukraak plaasgevind het (Senekal 2015 en Lambiotte, Delvenne en Barahona 2009:13).1 Die modulariteit van die netwerk lê tussen 0 en 1 (vir ’n meer tegniese uiteensetting van modulariteit, sien Senekal 2015). 

Die identifisering van gemeenskappe hang ook af van die resolusie: Soos mense op een vlak Vrystaters en Kapenaars is, maar op ’n ander Suid-Afrikaners en op ’n ander Bloemfonteiners en Stellenbossers, is twee gemeenskappe op ’n ander vlak slegs een gemeenskap of op ’n laer vlak dalk drie gemeenskappe. Die resolusie kan binne die algoritme van Blondel e.a. (2008) verfyn word om meer of minder gemeenskappe te identifiseer, maar in die bespreking hier onder word dié algoritme hoofsaaklik vir sy heuristiese waarde aangewend: Gemeenskappe word geïdentifiseer ten einde ondersoek in te stel na hoe die netwerk saamgestel is.

Daar moet egter onthou word dat daar wel skakels tussen verskillende gemeenskappe bestaan; wanneer daar geen skakels is nie, word na so ’n groep nodusse as ’n komponent verwys (waar die komponent geen verbindings met die res van die netwerk het nie).

 

3. Metodes

In hierdie studie is foto’s en video’s vanaf Instagram versamel wat gemerk is met hutsmerkers wat verwys na die 73 skrywers waaroor profiele in die nuutste weergawe van Perspektief en profiel (Van Coller 2015, 2016a en 2016b) opgeneem is. Hierdie skrywers is gekies omdat die studie beperk moes word tot ’n lys van skrywers wat (a) betreklik onlangs saamgestel is, (b) gesaghebbend saamgestel is en (c) algemeen gesien word as belangrik in die Afrikaanse literatuur. Aangesien Perspektief en profiel een van die mees gesaghebbende literatuurgeskiedenisse in Afrikaans is, onlangs gepubliseer is en skrywers insluit wat algemeen as belangrike skrywers geag word, is Perspektief en profiel se keuse hier gebruik eerder as wat ek self ’n lys van skrywers saamstel wat die keuse van in- en uitsluiting meer aanvegbaar sou maak.

Die versameling van plasings is met behulp van die Apple-toepassing InstaBro gedoen, wat ook die versameling van byskrifte en ander metadata (kyk verderaan) benewens die foto’s en video’s self bemiddel. Foto’s en video’s is op 14 Februarie 2020 versamel, maar aangesien Instagram ’n mens toelaat om data terugwerkend te versamel, strek die versameling plasings terug na April 2012, toe die eerste plasing oor hierdie skrywers gemaak is. Dít is ’n groot voordeel van die bestudering van Instagram teenoor Twitter: In Senekal (2019) kon slegs na ’n tydperk van ses maande ondersoek ingestel word omdat data nie terugwerkend versamel kon word nie, maar in die huidige studie kan data ontleed word wat oor sewe jaar strek en ook die eerste plasings insluit. Plasings ná 31 Desember 2019 is egter uit die datastel verwyder ten einde volledige jare se plasings te kan ontleed.

Foto’s en video’s is tesame met hul byskrifte en metadata soos die datum en tyd van die plasing, die getal kere wat aangedui is of gebruikers van die plasing hou, en die getal kommentare versamel. Gebruikers se name word nie ingesluit in die metadata wat InstaBro versamel nie en word eerder vervang met ’n unieke kode, wat etiese uitdagings rondom die privaatheid van gebruikers vermy.2 Alle profiele wat ingesluit word, is openbare profiele, wat beteken dat die navorser nie gebruikers hoef te volg om hul plasings te bekom nie. Boonop is die voorbeelde van plasings wat later in die huidige artikel weergegee word, só gekies dat gebruikers se gesigte nie sigbaar is nie, ten einde hul anonimiteit te bewaar. Anders as in Senekal (2019) is geen geografiese inligting oor gebruikers beskikbaar nie.

Na die data versamel is, is dit handmatig skoongemaak om ontersaaklike plasings te verwyder. Daar was byvoorbeeld ’n Abraham de Vries wat ’n 17de-eeuse Nederlandse skilder was, ’n Totius wat ’n laat 16de-eeuse kaart is, ’n John Miles wat ’n Britse musikant is, en ’n Chris Barnard wat ’n hartchirurg was en ’n ander ’n fiksheidsghoeroe. Plasings wat na ander persone of die kaart verwys, is verwyder. In John Miles en Chris Barnard se geval het die groot hoeveelheid ruis (ontersaaklike plasings) dit nie moontlik gemaak om tersaaklike plasings te behou nie en alle plasings is gevolglik uit die datastel verwyder. 

Sommige plasings verwys na skole en hospitale wat na skrywers vernoem is, byvoorbeeld Hoërskool D.F. Malherbe in Port Elizabeth, Laerskool Totius in Bellville, Laerskool Totius in Vanderbijlpark en Eugène Marais Hospitaal in Pretoria. Daar is ook ’n hond met die naam Totius en ’n gebruiker wat sy hottentotsgot Eugène Marais genoem het en foto’s daarvan plaas. Aangesien hierdie plasings wel na iets verwys wat na ’n skrywer vernoem is, is sulke plasings behou. Die gedagte is dat die vernoeming van ’n hospitaal, skool of dier na ’n skrywer ook ’n aanduiding is dat die skrywer nie vergete is nie. In die lig van Van Vuuren (2006:281) se reeds genoemde stelling is dit byvoorbeeld betekenisvol dat ’n hond steeds na Totius vernoem word en ’n hottentotsgot na Eugène Marais. Sulke verwysings dui daarop dat ’n skrywer se prestige voortleef, alhoewel dit weliswaar nie die soort vermeldings is wat in Van Coller (2004) bestudeer is nie. Nietemin verhoog sulke voorkomste van ’n skrywer se naam sy sigbaarheid.

Ten einde alle hutsmerkers te onttrek, is van ’n gereelde uitdrukking3 gebruik gemaak wat deur die teks soek en alle hutsmerkers onttrek en in aparte kolomme in ’n sigblad plaas. Hierdie hutsmerkers is daarna in die netwerkontledingsprogram Gephi as ’n netwerk voorgestel waar hutsmerkers as nodusse voorgestel is en ’n skakel tussen hutsmerkers aangedui is indien hutsmerkers in dieselfde plasing gebruik is. Gephi is vir netwerkvisualisasie ontwikkel, maar laat ook die meerderheid basiese netwerkontledings toe, insluitend makro-, meso- en mikrovlakontledings. Die huidige artikel ondersoek nie die makrovlakeienskappe van hierdie netwerk nie, wat fasette soos die gemiddelde pad, gemiddelde oorganklikheid en skakelverspreidingspatroon van nodusse sou insluit, maar onderneem wel ’n mesovlakverkenning deur gemeenskapsvorming met behulp van modulariteit te ondersoek en ’n beperkte mikrovlakontleding deur graadsentraliteit te gebruik, soos in die vorige afdeling gestel. 

Die versameling van plasings wat met hutsmerkers gemerk is wat na skrywers verwys wat in Van Coller 2015, 2016a en 2016b opgeneem is, bring ’n aantal beperkings mee. Eerstens beteken hierdie werkswyse dat ’n vooroordeel bestaan teenoor skrywers wat tans binne die akademie as belangrik geag word, met ander woorde nie skrywers oor wie profiele vroeër in Perspektief en profiel opgeneem is maar later weggelaat is nie, byvoorbeeld die Hobson-broers wat in vorige uitgawes van Perspektief en profiel (byvoorbeeld Nienaber 1951) ingesluit was. Toetse het egter aangetoon dat daar min, indien enige, plasings oor sulke skrywers op Instagram gemaak word.

Tweedens word slegs gekanoniseerde skrywers ingesluit. Dit beteken dat dit nie hier gaan om die bestudering van die publiek se omgang met die Afrikaanse literatuur in geheel nie, maar spesifiek hul omgang met die kanon. Skrywers soos Dana Snyman, Jaco Jacobs en Fanie Viljoen, oor wie heelwat plasings op Instagram gemaak word, is met ander woorde uitgesluit en kan in toekomstige studies ondersoek word. 

Instagram is ook nie verteenwoordigend van die Afrikaanse publiek nie: Hierdie platform word veral deur jongmense gebruik en baie mense het nie Instagram-rekeninge nie. Die bevindinge kan dus nie veralgemeen word na ’n siening dat skrywers x en y hiervolgens byvoorbeeld die “gewildste” skrywers is nie – die studie fokus op ’n baie spesifieke platform.

 

4. Instagram-plasings oor gekanoniseerde Afrikaanse skrywers

Figuur 1 verskaf ’n opsomming van die datastel.

Figuur 1. ’n Opsomming van die datastel

Daar was 7 157 plasings oor hierdie skrywers op Instagram tussen 18-4-2012 (die datum van die eerste plasing) en 31-12-2019, wat beteken dat plasings oor sewe jaar, 92 maande of 2 813 dae gemaak is (die eerste plasing het betrekking op Etienne Leroux en die laaste plasing verwys na Antjie Krog). Dit beteken ook dat ’n gemiddeld van 2,54 plasings per dag, 77,79 per maand of 1022,43 per jaar gemaak is, wat relatief min is gegewe dat daar wêreldwyd meer as 100 miljoen plasings per dag op hierdie platform gemaak word. Die meeste plasings is op ’n Vrydag (14,73% van die totaal) gemaak en die minste plasings op ’n Maandag (13,86% van die totaal). Hierdie klein verskil tussen die meeste en die minste plasings dui daarop dat daar nie werklik ’n voorkeur ten opsigte van die dag van die week is nie; plasings word regdeur die week gemaak. Dit beteken dat gebruikers deur die hele week met die Afrikaanse literêre kanon in gesprek tree op Instagram.

Plasings het oor die algemeen per jaar toegeneem (bo in Figuur 1): 19 plasings is in 2012 gemaak, 89 plasings in 2013 (’n 368,42%-toename), 262 plasings in 2014 (’n 194,38%-toename), 757 plasings in 2015 (’n 188,93%-toename), 1 116 plasings in 2016 (’n 47,42%-toename), 1 549 plasings in 2017 (’n 38,8%-toename), 1 545 plasings in 2018 (’n 0,26%-afname), en 1 820 plasings in 2019 (’n 17,8%-toename). In die diagram in die middel links word ook die aantal gebruikers aangedui wat plasings oor hierdie skrywers maak, waar gesien kan word dat gebruikers ook oor die algemeen per jaar toeneem. 

Hierdie plasings is deur 3 963 unieke gebruikers geplaas met ’n gemiddeld van 1,81 plasings per gebruiker, maar die plasings per gebruiker verskil tussen jare: In 2012 is daar 1,12 plasings per gebruiker gemaak, in 2013 1,14 plasings, in 2014 1,24, in 2015 1,57, in 2016 1,46, in 2017 1,48, in 2018 1,58 en in 2019 1,73 plasings per gebruiker. Terwyl die aantal gebruikers wat plasings oor hierdie skrywers maak met ander woorde toeneem, neem hulle individuele aktiwiteit ook toe.

Plasings is oorwegend in fotoformaat (middel regs in Figuur 1), met 6 871 foto’s (96% van plasings) teenoor 286 video’s (4% van plasings). Aangesien Instagram oorwegend ’n fotogebaseerde platform is (anders as byvoorbeeld YouTube), is dit nie verrassend dat die meerderheid plasings foto’s is nie.

Die grafiek links onder toon dat gebruikers die meeste aangedui het dat hulle van plasings oor Deon Meyer, Koos Kombuis en Ingrid Jonker gehou het. Regs onder word aangedui watter getal plasings oor watter skrywer gemaak is, waar gesien kan word dat die meeste plasings oor Deon Meyer handel, gevolg deur Koos Kombuis, Ingrid Jonker en Antjie Krog. Tabel 1 verskaf meer besonderhede oor die getal plasings per skrywer. 

Tabel 1. Getal plasings per skrywer 

Skrywer

Getal plasings

1. Deon Meyer

1 526

2. Koos Kombuis

1 225

3. Ingrid Jonker

979

4. Antjie Krog

622

5. Breyten Breytenbach

346

6. Totius

254

7. Dalene Matthee

228

8. Adam Small

194

9. Marita van der Vyver

151

10. Reza de Wet

151

11. C.J. Langenhoven

134

12. N.P. Van Wyk Louw

129

13. André P. Brink

120

14. Eugène Marais

117

15. Marlene van Niekerk

89

16. Eben Venter

86

17. D.F. Malherbe

72

18. D.J. Opperman

68

19. Wilma Stockenström

66

20. Boerneef

61

21. Joan Hambidge

47

22. Etienne van Heerden

46

23. Karel Schoeman

46

24. A.G. Visser

42

25. T.T. Cloete

39

26. Ingrid Winterbach

38

27. Lina Spies

37

28. Elisabeth Eybers

36

29. Uys Krige

35

30. Jan Rabie

29

31. P.G. du Plessis

27

32. Riana Scheepers

27

33. Deon Opperman

25

34. Sheila Cussons

22

35. Jeanne Goosen

21

36. Hennie Aucamp

18

37. Etienne Leroux

15

38. Pieter Fourie

15

39. Eleanor Baker

13

40. F.A. Venter

12

41. Dan Sleigh

11

42. Ernst van Heerden

9

43. Koos Prinsloo

9

44. Johann de Lange

8

45. W.E.G. Louw

7

46. Alexander Strachan

6

47. Ina Rousseau

5

48. Olga Kirsch

5

49. George Weideman

4

50. H.A. Fagan

4

51. I.D. du Plessis

4

52. G.A. Watermeyer

3

53. Jan F.E. Celliers

3

54. Louis Esterhuizen

3

55. Rachelle Greeff

3

56. S.J. Pretorius

3

57. Abraham H. de Vries

2

58. Anna M. Louw

2

59. J.C. Steyn

2

60. Barend J. Toerien

1

61. C.M. van den Heever

1

62. Johann Lodewyk Marais

1

63. Piet van Rooyen

1

64. Tom Gouws

1

 

In Tabel 1 kan gesien word watter skrywers die gewildste op Instagram is. Dit is ook duidelik dat skrywers wat in meer as een sisteem funksioneer (byvoorbeeld Deon Meyer wat in verskeie tale vertaal is en daardeur in verskeie literêre sisteme funksioneer, of Koos Kombuis wat ook in die Afrikaanse musieksisteem funksioneer), ’n groter aantal plasings ontvang het. Nietemin figureer die meeste Afrikaanse skrywers redelik sterk op hierdie lys, met slegs Barend J. Toerien, C.M. van den Heever, Johann Lodewyk Marais, Piet van Rooyen en Tom Gouws wat net ’n enkele plasing elk op Instagram het (nege skrywers het óf geen plasing gehad nie óf die data het te veel ruis bevat, byvoorbeeld John Miles en Chris Barnard). Let ook op die groot aantal ouer Afrikaanse skrywers, soos Langenhoven, Louw, Eybers en F.A. Venter, wat steeds sterk figureer. Omdat hulle nie nuwe werke publiseer nie (slegs heruitgawes), beteken hul posisie op Tabel 1 dat hulle nie vergete skrywers is nie, ten minste op Instagram. Neem ook bogenoemde ouderdomme van Instagram-gebruikers in ag: Alhoewel dit nie hier moontlik is om gebruikers se ouderdomme te bepaal nie, is Instagram, soos reeds genoem, oorwegend ’n platform wat deur jongmense gebruik word, wat dui op die volgehoue krag van hierdie skrywers se reputasies. Baie van hierdie skrywers se werke word steeds op skool en universiteit voorgeskryf, wat beteken dat hulle steeds algemeen bekend is, wat daartoe kan bydra dat hulle op Instagram figureer.

Daar is 314 777 keer aangedui dat gebruikers van ’n plasing hou, met ’n gemiddeld van 43,98 “hou van”-aanduidings per plasing, alhoewel die mees algemene getal “hou van”- aanduidings 11 is (243 of 0,15% van plasings). Die plasing waarvan die meeste mense gehou het, is ’n plasing wat na Koos Kombuis verwys, met 2 865 aanduidings dat gebruikers daarvan gehou het. (Hierdie plasing handel oor Kombuis se musiek; sien Tabel 2 hier onder.) Daar is egter ook 3 555 plasings (49,67% van alle plasings) wat minder as 20 gebruikers aangedui het hulle van hou, 1 676 plasings (23,42% van alle plasings) wat minder as 10 gebruikers aangedui het hulle van hou, en 32 plasings (0,45% van alle plasings) wat geen gebruiker aangedui het dat hulle van hou nie. Trouens, 77,78% van alle plasings (5 567 plasings) het minder as die gemiddelde getal “hou van”-aanduidings verwerf. Alhoewel hier nie spesifiek ondersoek ingestel word na die aard van hierdie verspreiding nie, kom dit voor of gebruikersinteraksies ook beskryf kan word as ’n skewe verspreiding (Senekal 2017), waar ’n klein aantal plasings ’n groot aantal gebruikersinteraksies ontlok, terwyl die meerderheid plasings min reaksies ontvang. Baie min (0,45%) plasings het geen reaksies ontvang nie, wat daarop dui dat ander Instagram-gebruikers gewoonlik betrokke is by hierdie plasings. Tabel 2 dui die 10 gewildste plasings aan, wat almal as bemarkingsplasings geklassifiseer kan word, omdat elkeen van hierdie plasings mense van ’n gebeurtenis bewus maak. Plasings word hier verbatim weergegee.

Tabel 2. Die tien gewildste plasings

 

Plasing

Hou van

1

Karen @karen_zoid jy is ’n absolute legend dankie dat ek op jou show kon wees! As jul gisteraand se episode van Zoid Afrika met my, @hannagrobler en die awesome #KoosKombuis gemis het die herhalings is:
Nou Vrydag om 13:30
Saterdae om 07:30 en 16:30
Sondae om 07:30 en 22:00
Maandae om 10:30
Woensdae om 11:00 op @kyknettv

2 865

2

There is an in depth article on the HANDSKRIF exhibition written by Johan Myburg in Saturday 6 October’s Die Burger newspaper.
#henkserfontein #johanmyburg #antjiekrog #wilmastockenström #linaspies #melaniegrobler #joanhambidge #dianaferrus #jeannegoosen #tuinvandigters #breytenbachsentrum

2 555

3

And Emma is here! Ready for #Jagveld #actionmovie #deonmeyer
Dankie aan @thesenatehairsalon Jeanne-Lett @jeanneletthall vir my amazing kleur en sny en @strands_of_love__ @hollywoodhairpta Pearl 082 438 8509 vir my extensions vir die body 💁🏼

2 414

4

Vanaand is ek, @hannagrobler en #KoosKombuis op #ZoidAfrika @karen_zoid @kyknettv om 20:30 ✌🏻️ Ons raak lekker laf! 😜🍷...wat ’n voorreg dankie Karen!!!😉

2 364

5

Thanks Bobby from @bobby_bjmma for getting me fight ready for the film #Jagveld! If you want to learn how to fight or just exercise Ladies and Gents....Check them out! #BecomingEmma #DeonMeyer

2 319

6

HANDSKRIF is currently on show at the Breytenbach Centre in Wellington until 30 October. Open weekdays from 9h00 to 17h00 and Saturdays from 10h00 to 13h00. After hours by appointment. Visit www.breytenbachsentrum.co.za
#henkserfontein #handskrif #breytenbachsentrum #breytenbreytenbach #antjiekrog #dianaferrus #wilmastockenström #melaniegrobler #joanhambidge #linaspies #jeannegoosen #poetry #digkuns #artstudio #gallery #studiovisit #exhibition #contemporaryartist

2 220

7

Good memories Warsaw! 😊
Konferencja serialu 'Cape Town' Warszawa
#capetown #capetownseries #konferencjaprasowa #pressconference #premiera #aktorzy #aktorka #marcindorociński
#boriskodjoe #isoldadychauk #annabaranowska #deonmeyer #peterladkani #annettereeker #tvn #tvnplayer #serial #warszawa #polska

2 212

8

Sien julle nou nou PE #DFMalherbe Hoërskool #GemaklikInJouEieLyf #DeminsAndDiamonds

2 178

9

So many colour options to choose from here at @strands_of_love__ @hollywoodhairpta 💁🏼
Tomorrow I am changing my hair for a new role in the action movie #Jagveld #BecomingEmma #Excited #watchthisspace #DeonMeyer

2 171

10

Dit is die grootste voorreg om die rol van #BartaVanRooyen te kon vertolk in @fielasekindfilm
#transforming #actresslife #filmmaking #FielaSeKind #dalenematthee
#13September #2019

2 081

 

Die taal van byskrifte is ook herken met behulp van Google se Natural Language API (Senekal 2019:81). Byskrifte is in 46 tale geplaas, die meeste daarvan in Engels (2 193 plasings of 30,64% van alle plasings), Afrikaans (2 072 plasings of 28,95% van alle plasings), Ongedefinieerd (1 294 plasings of 18,08% van alle plasings), Nederlands (274 plasings of 3,83% van alle plasings) en Frans (112 plasings of 1,56% van alle plasings). Plasings waar die taal as ongedefinieerd geklassifiseer is, is oorwegend plasings waar die byskrifte geen teks bevat nie maar eerder emotikons of slegs hutsmerkers. Die dominante posisie van Engels kan toegeskryf word daaraan dat verskeie skrywers, byvoorbeeld Deon Meyer, Antjie Krog en Reza de Wet, se werke vertaal is en hulle met ander woorde ook in ander literêre sisteme funksioneer (plasings verwys gereeld na Engelse uitgawes van hierdie skrywers se werke). Dieselfde geld vir die tale waarin minder plasings gemaak is: Vertalings het tot gevolg dat daar plasings gemaak is in onder andere Duits, Sweeds en Pools. Daar is ook advertensies in Tabel 2 wat na Deon Meyer se Jagveld verwys en in Engels geplaas is, terwyl die filmtitel in Afrikaans vermeld word.

Die volgende onderafdeling ondersoek die hutsmerkernetwerk ten einde meer inligting oor hierdie plasings te bekom.

 

5. Die hutsmerkernetwerk

Wanneer hutsmerkers as nodusse aangedui word en ’n skakel tussen hutsmerkers aangedui word indien hulle in dieselfde plasing voorkom, is daar 18 942 nodusse (hutsmerkers) en 75 078 skakels in dié netwerk. Die gemiddelde getal skakels per nodus is 3,96 en die mees algemene graad is 1, gevolg deur 2. Dit beteken dat elke hutsmerker gemiddeld saam met 3,96 ander hutsmerkers geplaas word, maar die mees algemene getal hutsmerkers per plasing is 2 (twee nodusse word benodig vir een skakel). 

Daar is 45 afsonderlik verbinde komponente in dié netwerk en die reusekomponent (die komponent waar alle nodusse verbind is) bestaan uit 18 807 nodusse (99,29% van nodusse). Dit beteken dat 99,29% van hutsmerkers op een of ander wyse verbind is omdat hulle saam met hutsmerkers geplaas is wat ook in ander plasings aangetref word, maar daar is 44 ander komponente wat nie met die res van die netwerk skakel nie. Aangesien die nodusse wat nie met die res van die netwerk skakel nie, hutsmerkers verteenwoordig wat nie gereeld in die datastel voorkom nie, fokus ek op die reusekomponent in die bespreking hier onder.

Dié netwerk is groot en dig verweef en kan daarom nie sinvol in geheel visueel voorgestel word nie. In Figuur 2 kan ’n kleiner komponent egter vir illustrasiedoeleindes gesien word: die hutsmerkernetwerk rondom #npvanwyklouw. Dié netwerk bestaan uit 128 nodusse (hutsmerkers) en 324 skakels.

Figuur 2. Die hutsmerkernetwerk rondom #npvanwyklouw.

’n Paar interessante hutsmerkers kan in Figuur 2 gesien word, insluitend #sutherland, #diehalwekring, #raka, #dertigers, #epiesegedig, #miskien_sal_ons_ook_sterwe, #alleenspraak, #dagboekvannsoldaat en #grense. Hutsmerkers hou volgens die gebruiker verband met sy onderwerp en hier kan ’n hele aantal begrippe gesien word wat volgens gebruikers saamhang met N.P. Van Wyk Louw. Sommige hutsmerkers verwys na Louw se werke (byvoorbeeld #grense, #diehalwekring en #raka), ander daarna dat hy as digter bekendstaan (byvoorbeeld #digters, #poet en #afrikaansegedigte), en ander na verdere begrippe wat met dié skrywer saamhang (byvoorbeeld #internasionalemoedertaaldag en #myland). Figuur 2 dui aan dat ’n hutsmerkernetwerk as ’t ware ’n netwerk van assosiasies is.

Omdat die hele hutsmerkernetwerk so dig verweef is, is dit meer sinvol om die netwerk in gemeenskappe te verdeel met behulp van modulariteit. Daar is 162 gemeenskappe in hierdie netwerk, soos bepaal met behulp van Blondel e.a. (2008) se algoritme. Modulariteit (Q) is bereken op 0,477, wat beteken dat gemeenskappe nie onderling baie sterk verbind is nie. Die grootste gemeenskap (Gemeenskap A) bestaan uit 3 633 nodusse (19,32% van nodusse), gevolg deur Gemeenskap B (18,49% van nodusse), Gemeenskap C (12,17% van nodusse), Gemeenskap D (6,06% van nodusse) en Gemeenskap E (4,27% van nodusse). Die bespreking hier onder fokus op die tien grootste gemeenskappe.

Ten einde slegs die sigbaarste hutsmerkers uit te lig, is die graadsentraliteite van hutsmerkers bereken. Die paragrawe hier onder gebruik telkens die 10 hutsmerkers met die hoogste graadsentraliteite om gemeenskappe te bespreek. Vir die hele netwerk het #deonmeyer die hoogste graadsentraliteit (1 453 skakels), gevolg deur #kooskombuis (1 118 skakels), #ingridjonker (976 skakels), #afrikaans (836 skakels) en #antjiekrog (786 skakels). Dit is egter meer sinvol om hutsmerkers met hoë graadsentraliteite binne gemeenskapsverband te bespreek. 

Die nodusse in Gemeenskap A sluit #ingridjonker, #afrikaans, #antjiekrog, #poetry, #breytenbreytenbach, #gedigte, #digkuns, #andrepbrink, #gedig en #love in. Hierdie gemeenskap sentreer met ander woorde rondom die poësie, met hutsmerkers wat die plasings duidelik binne die digkuns plaas (#digkuns, #poetry, #gedigte en #gedig), asook skrywers soos Breytenbach, Jonker en Krog, wat hoofsaaklik as digters bekendstaan. Neem ook in ag dat 19% van al die nodusse (hutsmerkers) binne hierdie gemeenskap aangetref word en dat dit die grootste gemeenskap is, wat dui op die belangrikheid van die poësie in die gesprek rondom die Afrikaanse literêre kanon op Instagram. Die Afrikaanse poësie is met ander woorde ’n groot komponent van die voortlewing van gekanoniseerde Afrikaanse skrywers op Instagram. Die gewildheid van poësie kan verband hou met die fotoformaat: Dit is makliker om ’n foto van ’n gedig te plaas of om ’n gedig se teks by ’n foto te gebruik as wat dit vir prosa- en dramatekste is, wat gewoonlik langer tekste is. Verdere navorsing sal egter nodig wees om te bepaal watter faktore tot die gewildheid van die poësie op hierdie platform bydra. 

Brink se teenwoordigheid in dié gemeenskap is ’n interessante geval. Daar is sewe plasings in die huidige datastel met die hutsmerker #grootverseboek, maar al sewe verwys na die D.J. Opperman-weergawes (byvoorbeeld Opperman 1951), nie na Brink as samesteller se weergawes nie (byvoorbeeld Brink 2008). Brink word egter sterk met Ingrid Jonker geassosieer en word daarom ook in dié gemeenskap aangetref. Daar is byvoorbeeld plasings wat met sowel #andrepbrink as #ingridjonker gemerk is, soms ook met #vlamindiesneeu. Een plasing, op 6 Januarie 2018 geplaas, lees byvoorbeeld:

“Ek dwing myself om te werk, maar in die stiller oomblikke tussenin is ek met jou besig; onthou ek jou en lê wakker en bly-wees oor jou.” _André P. Brink #vlamindiesneeu #andrepbrink #ingridjonker #briewe #liefde #afrikaans #poësie #woordemaakgesond. 

’n Ander plasing (1 Augustus 2017) lees:

Sagte Swartland reën en ’n verpligting-vrye aand... Verskoon my, ek het ’n kombers-en-stoep afspraak met ’n gebottelde rooikop en twee verliefde skrywers. #vlamindiesneeu #ingridjonker #andrepbrink #afrikaans #rooiwyn #winterplesiertjies #rainequalsredwine #readingtime #winetime #metime.

Figuur 3 dui vier voorbeelde aan van plasings met die hutsmerk #vlamindiesneeu.

Figuur 3. Vier voorbeelde van plasings met die hutsmerk #vlamindiesneeu

Die nodusse in Gemeenskap B sluit in #deonmeyer, #bookstagram, #books, #reading, #book, #bookworm, #fever, #thriller, #read en #booklover. Let daarop dat al hierdie hutsmerkers in Engels is en ook van Meyer se boektitels in Engels insluit: Sy vertalings in Engels is een van die redes hoekom die meeste plasings in die huidige datastel met #deonmeyer gemaak is. Daar is geen ander Afrikaanse skrywers in dié gemeenskap nie, omdat so baie Engelse hutsmerkers saam met sy plasings gebruik is dat dit ’n aparte gemeenskap vorm. Gemeenskap B is egter nie uitsluitlik ’n Engelse gemeenskap nie, aangesien plasings ook in verskeie ander tale oor Meyer gemaak is. Figuur 4 dui vier voorbeelde van Afrikaanse fotoplasings met die hutsmerker #deonmeyer aan.

Figuur 4. Vier voorbeelde van plasings met die hutsmerk #deonmeyer 

Die nodusse in Gemeenskap C sluit in #kooskombuis, #stellenbosch, #music, #liefdebydiedam, #capitalcraft, #parkacoustics, #legend, #karenzoid, #musiek en #musicfestival. Die meerderheid plasings in hierdie groep is advertensies vir konserte en foto’s wat by konserte geneem is. Hierdie gemeenskap is met ander woorde musiekgeoriënteerd en dui aan dat Koos Kombuis hoofsaaklik as musikant bekendstaan, maar daar is ook ’n klein aantal plasings wat met sy lirieke en boeke verband hou. Hierdie gemeenskap dui ook die belangrike rol aan wat die Afrikaanse musiek speel as kontak met die Afrikaanse literêre kanon, en veral Koos Kombuis se rol as brugbouer tussen die Afrikaanse literêre en musieksisteme. Figuur 5 verskaf vier voorbeelde van plasings wat gemaak is met die hutsmerker #kooskombuis. Let op die fiets, wat ’n verwysing is na sy liedjie “Bicycle sonder ’n slot” (hier ’n fiets mét ’n verskeidenheid slotte).

Figuur 5. Vier voorbeelde van plasings met die hutsmerk #kooskombuis 

Die nodusse in Gemeenskap D sluit in #adamsmall, #theatre, #rezadewet, #tbt, #africangothic, #woordfees, #throwback, #kknk, #aardklop en #actor. Hierdie gemeenskap is met ander woorde dramageoriënteerd, met skrywers wat veral bekendheid verwerf het vir hul dramas (De Wet en Small) en kunstefeeste (#woordfees, #kknk en #aardklop). Hierdie gemeenskap lig met ander woorde die belangrike rol uit wat die drama en kunstefeeste speel as ’n kontak met die Afrikaanse literatuur. Figuur 6 verskaf vier voorbeelde van plasings wat met die hutsmerker #rezadewet gemaak is. Die foto links onder is by die Vryfees geneem. Let ook op die foto regs bo: Dit is nie ongewoon vir Instagram-gebruikers om verskeie boeke saam te plaas nie, wat daartoe bydra dat hutsmerkers wat na skrywers verwys, gereeld saam voorkom.

Figuur 6. Vier voorbeelde van plasings met die hutsmerk #rezadewet

Die nodusse in Gemeenskap E sluit in #art, #wilmastockenström, #linaspies, #portrait, #henkserfontein, #breytenbachsentrum, #joanhambidge, #tuinvandigters2019, #breyten en #handskrif. Alhoewel hierdie ook ’n poësiegeoriënteerde gemeenskap is, is dit eerder visueel gefokus en sluit die Handskrif-uitstalling (Van Zyl 2018) en ander skilderye in. Vier voorbeelde van plasings met #wilmastockenström kan in Figuur 7 gesien word.

Figuur 7. Vier voorbeelde van plasings met die hutsmerk #wilmastockenström

Die nodusse in Gemeenskap F sluit in #dalenematthee, #fielasekind, #kringeinnbos, #drama, #knysna, #film, #knysnaforest, #dp, #9kmwalk en #adventure. Hierdie gemeenskap lig Dalene Matthee se bydrae tot die Afrikaanse literatuur uit deur ’n sterk assosiasie met die Knysnabos deur haar bosromans te beklemtoon. Figuur 8 sluit vier voorbeelde van plasings met die hutsmerker #dalenematthee in, onder andere dié wat na die staproete verwys wat na Kringe in ’n bos (Matthee 1984) vernoem is (Ramsay 2012).

Figuur 8. Vier voorbeelde van plasings met die hutsmerk #dalenematthee

Die nodusse in Gemeenskap G sluit in #totius, #photography, #dfmalherbe, #portraitphotography, #nwupukke, #pukke, #blessed, #naglees, #volkswagen en #rugby. Hierdie gemeenskap het ’n duidelike assosiasie met die Potchefstroomkampus van Noordwes-Universiteit en sluit ook foto’s van rugbywedstryde in (“Volkswagen” verwys na ’n kompetisie waarin Hoërskool D.F. Malherbe genoem is). In hierdie gemeenskap is dit met ander woorde veral onderriginstansies waar verwysings na Afrikaanse skrywers aangetref word. ’n Hele aantal plasings handel ook oor ’n hond genaamd Totius, wat dui op ’n heel ander soort voortlewing van die digter se naam as sy tekste en standbeelde van hom. Figuur 9 sluit vier voorbeelde in van plasings wat met #totius gemaak is, insluitend die hond.

Figuur 9. Vier voorbeelde van plasings met die hutsmerk #totius

Die nodusse in Gemeenskap H sluit in #maritavandervyver, #proteaboekhuis, #proteabooks, #karelschoeman, #morning, #leesafrikaans, #meerkatmaantuig, #blog, #boekbekendstelling en #diskouekosskat. Hierdie gemeenskap sluit filmverwerkings van Marita van der Vyver se romans in, maar beklemtoon ook hoe uitgewerye (in hierdie geval Protea) Instagram as bemarkingsplatform gebruik. Figuur 10 sluit vier voorbeelde in van plasings met die hutsmerk #maritavandervyver.

Figuur 10. Vier voorbeelde van plasings met die hutsmerk #maritavendervyver

Die nodusse in Gemeenskap I sluit in #booksofinstagram, #ebenventer, #southafricanliterature, #igreads, #bookhaul, #booklounge, #proudlysa, #uyskrige, #booklaunch en #literaryfiction. Figuur 11 sluit vier voorbeelde in van plasings met die hutsmerk #uyskrige. Let op die alledaagsheid van die skrif bo die besigheid in die foto regs bo. Links bo is nog ’n voorbeeld van ’n foto waar die gebruiker ’n hele paar boeke afgeneem het.

Figuur 11. Vier voorbeelde van plasings met die hutsmerk #uyskrige

Die nodusse in Gemeenskap J sluit in #eugenemarais, #pretoria, #vakansie, #physio, #merrychristmas, #money, #instinct, #20books, #goalsetting2020 en #wilgers. Hierdie gemeenskap dui op Eugène Marais se sigbaarheid deur die hospitaal wat na hom vernoem is (#pretoria, #physio en #wilgers). Een stel plasings verwys na ’n hottentotsgot wat na Eugène Marais vernoem is (’n plasing op 31 Maart 2017 lees: “In South Africa the praying mantis is called #hottentotsgot or God of the Bushmen. Naming him after Eugene Marais was more appropriate than I knew. #animaltotems #southafrica #eugenemarais #soulofthewhiteant”). Figuur 12 sluit vier voorbeelde in van plasings wat met #eugenemarais gemerk is, insluitend die hottentotsgot en die geocaching-plasing wat vroeër in die artikel genoem is.

Figuur 12. Vier voorbeelde van plasings met die hutsmerk #eugenemarais

Bogenoemde voorbeelde dui baie verskillende maniere aan waarop gebruikers met die Afrikaanse literêre kanon in gesprek tree. Wat veral treffend is, is hoe dié skrywers se werke in gebruikers se alledaagse leefwêrelde geposisioneer word: langs ’n koppie koffie (Figuur 12), op ’n kombers langs ’n glas rooiwyn (Figuur 3), op ’n strand met sonbrandroom (Figuur 10), op ’n bed langs ’n kat wat slaap (Figuur 4), dansend op ’n kunstefees (Figuur 6), of met ’n drankie op ’n balkon (Figuur 8). Wat hierdie plasings op Instagram veral uitlig, is dat die Afrikaanse literêre kanon nie alleen in Perspektief en profiel bestaan nie, maar ook in die alledaagse leefwêrelde van lesers. Boonop is dit nie alleen die hedendaagse Afrikaanse skrywers wat so ’n alledaagse posisie inneem nie, maar ook sommige ouer, klassieke skrywers soos Van Wyk Louw en Totius.

 

6. Gevolgtrekking 

Die huidige artikel bied ’n eerste verkenning van Afrikaanse skrywers se teenwoordigheid op Instagram. Daar is aangetoon oor watter skrywers die meeste op dié sosialemediaplatform geplaas word, asook wat geplaas word en selfs hoe plasings saamhang. Deur die hutsmerkernetwerk te onttrek en gemeenskappe daarin te identifiseer, is onder andere aangetoon watter belangrike rol die poësie inneem in die gesprek rondom die Afrikaanse literêre kanon op Instagram, die rol van Koos Kombuis as kontak met die Afrikaanse literatuur, die rol van kunstefeeste, visuele bekendstellingsgeleenthede, ens. 

Die interessantste ontdekking in hierdie ondersoek is dat skrywers nie alleen voortleef deur hul werke nie, en ook nie net deur skole wat na hulle vernoem is of standbeelde wat ter nagedagtenis aan hulle opgerig is nie, maar ook op verrassende wyses: ’n geocaching-bestemming, ’n hottentotsgot, ’n hond, ’n staproete, ’n posseël, ’n kennisgewing by ’n winkel, en so meer. Dít dui daarop dat die Afrikaanse literatuur – en veral ook die ouer skrywers – se reputasies nie slegs in literatuurgeskiedenisse, argiewe en in museums bewaar word nie, maar ook in die alledaagse leefwêreld. Die studie dui met ander woorde daarop dat baie Afrikaanse skrywers buite amptelike instansies en staatsinstellings voortleef, wat goeie nuus is, gegewe die verskuiwing van standbeelde en die druk wat daar op Afrikaans as onderrigtaal bestaan.

Instagram is ’n onontginde platform binne die Afrikaanse literatuurstudie en daar is verskeie verdere ondersoeke wat hieroor onderneem sou kon word. Toekomstige studies sou subsisteme van die Afrikaanse literêre sisteem, byvoorbeeld jeugliteratuur, kon ondersoek, of die Afrikaanse film- of musiekbedryf. Ek het ook plasings oor Afrikaanse films en musiek getoets en hier bestaan ’n groot hoeveelheid materiaal wat bestudeer sou kon word. Verder kan ondersoek ingestel word na individuele skrywers, hul sigbaarheid oor tyd, en verwante hutsmerkernetwerke.

 

Bibliografie 

Anderson, M. en J. Jiang. 2018. Teens, social media en technology 2018. https://www.pewresearch.org/internet/2018/05/31/teens-social-media-technology-2018 (23 Maart 2020 geraadpleeg).

Andujar, A. en F. Çakmak. 2020. Foreign language learning through Instagram: A flipped learning approach. In Kruk en Peterson (reds.) 2020:135–56. 

Aslam, S. 2020. Instagram by the numbers: Stats, demographics en fun facts. https://www.omnicoreagency.com/instagram-statistics (23 Maart 2020 geraadpleeg).

Berens, K. 2019. E-Lit’s #1 Hit: Is Instagram poetry e-literature? Electronic Book Review. https://pdxscholar.library.pdx.edu/eng_fac/40 (23 Maart 2020 geraadpleeg).

Bergström, T. en L. Bäckman. 2013. Marketing and PR in social media. How the utilization of Instagram builds and maintains customer relationships. BA-skripsie, Universiteit van Stockholm.

Bergsund, M.B. 2017. Sosiale strukturers innvirkning på kunnskapsdeling i små grupper. Case melkekubønder på Facebook. MA-verhandeling, Universiteit van Oslo.

Blondel, V.D., J.-L. Guillaume, R. Lambiotte en E. Lefebvre. 2008. Fast unfolding of communities in large networks. Journal of Statistical Mechanics: Theory and Experiment, 10:P1000.

Brink, A.P. 2008. Groot verseboek. Kaapstad: Tafelberg. 

Clement, J. 2020. Instagram user share in South Africa 2019, by age group. https://www.statista.com/statistics/1028334/south-africa-instagram-user-age-distribution (11 Augustus 2020 geraadpleeg).

Duncan, F. 2016. So long social media: The kids are opting out of the online public square. http://theconversation.com/so-long-social-media-the-kids-are-opting-out-of-the-online-public-square-53274 (17 September 2018 geraadpleeg). 

Du Plooy, H. 2014. Die beeld is duursamer as die begrip. LitNet Akademies, 11(2):526–52. https://www.litnet.co.za/assets//pdf/joernaaluitgawe_11_2/11_2_Du_Plooy.pdf.

Freeman, L.C. 1979. Centrality in social networks conceptual clarification. Social Networks, 1(3):215–39. 

Galloway, F. 1987. Sisteemtendense in die Afrikaanse literatuur: ’n Bestekopname van 1983. Literator, 8(2):1–12. 

Internet Live Stats. 2020. http://www.internetlivestats.com (19 Maart 2020 geraadpleeg).

Kemp, S. 2020. Digital 2020: South Africa. https://datareportal.com/reports/digital-2020-south-africa (11 Augustus 2020 geraadpleeg).

Kleyn, L. 2013. ’n Sisteemteoretiese kartering van die Afrikaanse literatuur vir die tydperk 2000–2009: Kanonisering in die Afrikaanse literatuur. PhD-proefskrif, Universiteit van Pretoria.

Kruk, M. en M. Peterson (reds.). 2020. New technological applications for foreign and second language learning and teaching. Hershey: IGI Global. 

Lambiotte, R., J.-C. Delvenne en M. Barahona. 2009. Laplacian dynamics and multiscale modular structure in networks. arXiv preprint. https://arxiv.org/abs/0812.1770 (9 April 2020 geraadpleeg).

Latiff, Z.A. en N.A.S. Safiee. 2015. New business set up for branding strategies on social media – Instagram. Procedia Computer Science, 72:13–23.

Lup, K., L. Trub en L. Rosenthal. 2015. Instagram #Instasad?: Exploring associations among Instagram use, depressive symptoms, negative social comparison, and strangers followed. Cyberpsychology, Behavior and Social Networking, 18(5):247–52. 

Matthee, D. 1984. Kringe in ’n bos. Kaapstad: Tafelberg.

Nienaber, P.J. 1951. Perspektief en profiel: ’n Geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde. Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel. 

Nøkleberg, M. 2014. Sammen for sikkerhet? En casestudie av sikkerhetsforvaltningen i Bergen. MA-verhandeling, Universiteit van Bergen. 

Opperman, D.J. 1951. Groot verseboek. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk.

Phua, J., S.V. Jin en J. Kim. 2017. Gratifications of using Facebook, Twitter, Instagram, or Snapchat to follow brands: The moderating effect of social comparison, trust, tie strength, and network homophily on brand identification, brand engagement, brand commitment, and membership intention. Telematics and Informatics, 34:412–24.

Ramsay, S. 2012. Circles in a wild forest: Exploring Knysna’s wilderness. https://www.getaway.co.za/environment/wilderness-knysna (23 Maart 2020 geraadpleeg). 

Senekal, B.A. 2014. Canons and connections. A network theory approach to the study of literary systems with specific reference to Afrikaans poetry. Washington, D.C.: New Academia. 

—. 2015. Die kwantifisering en toepassing van modulariteit in die Afrikaanse filmbedryf (1994–2014) as ’n komplekse netwerk. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskappe en Tegnologie, 34(1):1305.

—. 2017. Die hedendaagse Afrikaanse poësiesisteem: Op soek na die mees verteenwoordigende wiskundige model van die rolspelerverhoudings daarbinne. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 57(1):168–86.

—. 2019. ’n Sisteemteoretiese ontleding van gebruikersinteraksies rondom Deon Meyer se Twitter-profiel: ’n resepsiestudie in die digitale era. LitNet Akademies Geesteswetenskappe, 16(3):75–102.

Senekal, J.H. 1987. Literatuuropvattings: “Wese” en “waarhede” van ’n nuwe literêre teorie. Bloemfontein: Universiteit van die Oranje-Vrystaat.

Van Coller, H.P. 2004. Is Leroux ’n vergete skrywer? Stilet, 16(1):1–31.

Van Coller, H.P. (red.). 2015. Perspektief en profiel. ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Deel 1. Pretoria: Van Schaik.

—. 2016a. Perspektief en profiel. ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Deel 2. Pretoria: Van Schaik. 

—. 2016b. Perspektief en profiel. ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Deel 3. Pretoria: Van Schaik.

Van Heerden, N. 2017. Misdaadfiksie en die literêre kanon in Afrikaans: ’n Ondersoek na aanleiding van die romans van Deon Meyer. PhD-proefskrif, Universiteit van Pretoria. 

Van Vuuren, H. 2006. Tussen “Grense” en “Groot ode”. ’n Klein essay oor die poësie van N.P. Van Wyk Louw (1906–1970). Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 46(3):279–90.

Van Zyl, M. 2018. Henk Serfontein se nuwe solo-uitstalling, Handskrif: ’n onderhoud. https://www.litnet.co.za/henk-serfontein-se-nuwe-solo-uitstalling-handskrif-n-onderhoud. (23 Maart 2020 geraadpleeg).

Venter, R. 2006. Die materiële produksie van Afrikaanse fiksie (1990–2005): ’n Empiriese ondersoek na die produksieprofiel en uitgeweryprofiel binne die uitgeesisteem. PhD-proefskrif, Universiteit van Pretoria.

Viljoen, L. 2008. Digterlike gesprekke met N.P. Van Wyk Louw. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 48(3):267–91.

Wyseur, S. 2011. De evolutie naar non-lineaire complexiteit in digitale mediacultuur; een exploratieve literatuurstudie. MA-verhandeling, Universiteit van Gent.

 

Eindnotas

1 Vir ’n meer wiskundige formulering van modulariteit, kyk Senekal (2015).

2 Senekal (2019) verskaf riglyne oor die etiese gebruik van sosialemedia-data. Die huidige studie vermy die probleme daaraan verbonde om gebruikers se name bekend te maak en gebruik eerder plasings anoniem. 

3 Die gereelde uitdrukking wat gebruik is, is die volgende: =ARRAYFORMULA(LOWER(SPLIT(REGEXREPLACE(Instagram!E2:E, "((^|\s)[^#]\S*)|([^#\w\s]\S*)", "")," "))) waar die teks op die sigblad genaamd Instagram in kolom E is.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top