Henk Serfontein se nuwe solo-uitstalling, Handskrif: 'n onderhoud

  • 2

Henk Serfontein se nuwe solo-uitstalling Handskrif open die naweek by die Breytenbach Galery in Wellington tydens die Tuin van Digters-fees. In Handskrif bou Serfontein voort op die samewerking met Afrikaanse digters wat in sy bekroonde uitstalling Winterslaap begin is. Hierdie keer werk hy saam met sewe Afrikaanse vrouedigters – Antjie Krog, Lina Spies, Diana Ferrus, Melanie Grobler, Joan Hambidge, Jeanne Goosen en Wilma Stockenström.  Marchelle van Zyl het met Henk Serfontein gesels.

Portret van Wilma Stockenström se hand waarop sy geskryf het: "Ek wantrou woorde".
Foto: Marchelle van Zyl

Handskrif bestaan uit ’n reeks houtskool- en gemengde media-portrette van dié digters. Die werk sluit ’n portret van elke vrou in asook ’n tekening van elkeen se handpalm waarop hulle ’n versreël van hul keuse geskryf het.  

Min mense het die vermoë om so subtiel met houtskool te werk en soveel genuanseerdheid in ’n portret weer te gee. Serfontein het die sewe digters afsonderlik afgeneem wat hy as verwysing gebruik het om die portrette te maak. Die beelde is uiters realisties, maar daar is vir Serfontein ’n baie duidelike verskil tussen die blote kopiëring van ’n beeld en kuns.

Joan Hambidge
Uit: Lot se vrou (2012)
Gedig: "Die intieme aard van die digkuns"
Lyn: ’n Gedig word voltrek in stille toeval

“Ek dink dikwels misverstaan mense realisme. Hulle fokus baie op die tegniese uitkoms daarvan – hulle dink nie daaraan dat dit eintlik ’n baie abstrakte proses is nie. Jy staan daar as die kunstenaar en jy verplaas die kontras of die atmosfeer, jy skep fokuspunte, jy skep skaduwees. Daar is al hierdie subtiele dinge. Dis soos die ou wat in beheer is van die beligting. Jy skep amper ’n atmosfeer rondom die beeld en hoe mense dit gaan ervaar. Dít is vir my ’n baie fassinerende ding. Wanneer jy na die foto kyk wat jou verwysing is en dit vergelyk met waar jy uitkom, is baie verskillend. Alhoewel mense dínk hulle kyk na ’n realistiese beeld, kyk hulle na iets wat ontsettend gefiltreer is. Ek aksentueer dikwels in my werk iets wat reeds teenwoordig is. Ek sal byvoorbeeld die kontras verhoog. Die plooitjie is dalk net effens duideliker as wat hy in realiteit is. Net deur daardie subtiele verskuiwing van nuanse, verskuif jy eintlik heeltemal die manier hoe mense na die beelde kyk.”

Lina Spies
Uit: Sulamiet (2016)
Gedig: "Kringloop"
Lyn: Onthou is die dag wat breek

In Susan Sontag se boeke On photography en in Regarding the pain of others skryf sy onder andere oor persfotograwe wat misdaadtonele besoek en die persepsie van die toneel kan verander deur te kies waarop hulle fokus, vertel Serfontein.

“Om ’n digter af te neem is nie ’n misdaadtoneel nie, maar die idee dat ’n lens ’n objektiewe ding is wat die realiteit vasvang, is ’n absolute illusie. Jy het baie beheer as ’n kunstenaar of ’n fotograaf hoe jy deur die lens na iemand kyk. Hoe jy die persoon frame. Jy kan ’n eenvoudige ding doen deur ’n invalshoek te verander.”

Wilma Stockenström
Uit: Vir die bysiende leser (1970)
Gedig: "Ek wantrou woorde"
Lyn: Ek wantrou woorde

Dis egter nie net die tegniek wat die kyker langer laat vertoef nie. Dis die onderwerp, die mens, die hande en dit wat op die hande staan wat jou wéér laat kyk en laat vra: Wat sê die kunstenaar? Wat sê die digter?

“Daar is iets anders wat bykom as jy ’n portret van ’n skrywer doen. Daar is dalk die publieke beeld wat deur die persoon gevorm is, maar ons moet nie vergeet nie – hul werk en die inhoud van hul werk hou ook narratief in.”

Die volledige gedigte waarna die digters se palmnotas verwys, gaan langs die portrette by die uitstalling verskyn.

Diana Ferrus
Uit: Gedig is opgeneem in die McGregor Poetry Festival Anthology (2017)
Gedig: "Vir Adam Small"
Lyn: Hoe koud het dit nie geraak/ Toe jy jou sonkamer sluit

“Vir ’n kyker wat nie lui is nie, wat die gedig gaan lees, gaan daar ’n totaal ander betekenis ontvou as met die eerste assosiasie wat jy met die beeld het.

“Daardie narratief werk saam met my en dit word ’n laag van betekenis van hoe jy na hierdie persoon kyk. Dis soos kaneel wat gesif word op ’n melktert – die kaneel is eintlik daai literêre narratiewe wat bo-op my werk kom lê. As mense dan die werk van byvoorbeeld Stockenström of van Antjie Krog ken en jy weet van, byvoorbeeld, haar intense betrokkenheid by die vleeslike, kan jy nie anders as om dit ook deel te maak van die betekeniswêreld van die kunswerk nie. Dit maak dit baie ryk en baie geslaagd in terme van die betekenis.

“Ek skryf baie dikwels op my hand. Palmnotas – die idee het baie instinktief by my opgekom. Hoe kan ek die woord meer prominent maak sodat dit kontekstueel meer sin maak? Ek het gaan lees oor palmistry. Daar is dié wat van oortuiging is die palm kan vir ons iets oor iemand vertel en daardie opvatting is amper soos digkuns wat vir ons meer oor onsself vertel.”

Melanie Grobler
Uit: Nuwe gedig geskryf in Augustus 2018 wat opgeneem sal word in haar nuwe bundel.
Gedig: "Wees ongehoor"
Lyn: Wees ongehoor

Serfontein trek sy wysvinger oor sy palm. “Die hartlyn – jy onthul iets van jou hartswêreld. Dan is daar ook die ander motief van die palm – die stigmata. Wanneer jy daarop skryf, is dit soos ’n woord wat wond. Digters se woorde is dikwels woorde wat wond. Dit praat baie keer oor seer en teer persoonlike, baie intieme momente wat jy dan op die palm van jou hand skryf.  

“Vir my het dit ook gegaan oor hoe tyd die lyne aksentueer. Dis soos jaarringe van ’n boom.”

Die oomblik wanneer die digters aan hom die woorde onthul het wat hulle gekies het om op hul handpalm te skryf, was vir Serfontein die oomblik wanneer die digters mede-skeppers van die kreatiewe proses geraak het.

Jeanne Goosen
Uit: Elders aan diens
Lyn: Wat sag is vergaan

“Dit was vir my ontsettend ontroerend om te sien wat ’n skrywer besluit om uiteindelik oor hulself of oor hul oeuvre te sê. Wat is daardie sinnetjie? Ek weet nie of mens moet sê dis opsommend nie, maar dit is op ’n manier ’n baie sterk besluit om te neem wat om op jou hand te skryf.

“Toe ek op die einde na my hele reeks werke saam kyk en dit vergelyk in my kop met die werk wat ek in Winterslaap gedoen het – wat baie introspektief en ontsettend weerloos is – is daar ’n massiewe verskuiwing in hierdie body of work en dit versoen teenstrydighede. Dit is steeds baie weerloos, maar daar’s ook ’n ontsettende kragtigheid daarmee saam ... Daar is ’n teerheid, maar dit is ook fel ... ’n felheid wat daarmee saamgaan.

“Ek wou die vroue nie net as vulnerable uitbeeld nie. Ek wou iets van hul binnewêreld kommunikeer, maar ek wou ook kommunikeer dat hulle kragtig is en hul woorde baie mag het.” 

Antjie Krog
Uit: Medewete
Gedig: "ontwei"
Lyn: ek sien jou staan trillende keelvel van my alfabet

*Handskrif  open 14 September by die Breytenbach Galery in Wellington tydens die Tuin van Digters-fees by die Breytenbach Sentrum. Henk Serfontein se werk is daar te sien tot 30 Oktober.

  • 2

Kommentaar

  • Fantasties. Awsome foto's lewer die diep betekenis van menswees en die teken van kommunikasie. Die swart en wit bring die fyner detail uit van karakter. 'n Algehele uitbeelding van mens en hul denke. Die hande wys die gebruik van hulle jare se vakmansskap. 'n Fantastiese uitbeelding. Well done.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top