’n Grootman is ’n groot man, by wyse van spreke

  • 1

Foto van Jean Meiring: verskaf. Foto van Johannesburg: mzgiaconte, https://pixabay.com/photos/johannesburg-urban-city-scenic-4322256/

...........
Ry Cedrick my by die werk in Sandton se hek uit, knik hy deur die oop venster in die rigting van die sekuriteitswag wat die hefboom gehys het en sê: “Dankie, Grootman.”
.............

Ry Cedrick my by die werk in Sandton se hek uit, knik hy deur die oop venster in die rigting van die sekuriteitswag wat die hefboom gehys het en sê: “Dankie, Grootman.”

Die klem val op die eerste lettergreep. Die “groot” sluk amper die “man” in.

Sy stemtoon is altyd eerbiedvol. Die aangesprokene ontvang die benaming dankbaar. Knik wetend terug.

In die kasitaal wat in en rondom Johannesburg gepraat word, kom die woord “grootman” baie algemeen voor. Dit dui op ’n senior lid van die gemeenskap, ’n leier, iemand wat respek verdien.

Die aanlyn webblad Africtionary gooi dit selfs effe wyer: “A kasi term that is used to refer to an older man. It is borrowed from Afrikaans and has a direct translation of big man.”

Vandaar dan die byna-metaforiese, vleiende gebruik om iemand wat in ’n gegewe situasie in ’n magsposisie teenoor jou staan, ook as “Grootman” aan te spreek. Selfs al is hy ’n jong, tingerige sekerheidswag onder ’n keps en in afgeslete skoene.

*

In die aanlyn woordeboek Dictionary of South African English word ’n voorbeeld geneem uit The long journey of Poppie Nongena, die Engelse vertaling wat in 1980 verskyn het van Elsa Joubert se legendariese Afrikaanse roman: “And always the men were standing round the house and not leaving them alone, clansmen, old ones, grootmanne, men in groups, waiting round the house.”

In die oorspronklike Afrikaanse teks lees die sin só: “En altyd die manne wat by die huis rondstaan en nie weggaan nie, manne wat naaste familie is, grootmanne, hulle bly maar rondom die huis.”

Joubert gebruik die woord ’n ses- of sewetal kere in die roman. Ook op ’n keer, as vroulike ekwivalent, die rare woord “grootvroue”: “Toe is die troufees klaar en die ou mense sit en wag, die grootmanne en die grootvroue van die man se huis en van haar huis.”

*

Só kom jy – soos Alice deur die haseluik diep die interwebbe in – op hoeveel gebruike van die woord “grootman” in die wêreld van die amapiano-musiekvorm af wat Pretoria se klankige uitvoerproduk is. Die presiese beduidenis is telkens moeilik om te peil. Maar dat dit op iets vleiends dui, is duidelik.

*

En skielik is hy op die webblad www.grootman.store, die internetstaanplek van ’n saak wat in 2020 in die lewe geroep is. Trouens, dit lyk asof daar geen outydse baksteen-en-sink-winkel is nie.

Dit sit T-hemde, handdoeke en bekers met ’n Grootman-logo daarop van die hand. In die logo is die “t” aan die einde van die woord “groot” deur ’n mansfiguur vervang, met ’n opgehewe regterarm met iets – ’n blom? – daarin.

Die webblad vertel dat die besigheid deur Jabu NS Mbongo geskep is. In die algemene handel en wandel staan hy as Grootman Stoffel bekend. Die webbesigheid se doel is om “styl” aan inkopiemakers wêreldwyd te bied.

As verduideliking van die woord “grootman” sê daardie webblad onder meer dit (wat – interessant genoeg – eggo’s van Joubert se Engels bevat):

This means Grootmanne are the men standing round the house and not leaving their wives and children alone, the clansmen, old ones, Grootmanne, men in groups, waiting round the house to provide and protect their families, especially their sons from invading troops that always pounces on villages, kasies and dorpies to take them captive and subject them to hard labour.

The youngsters don’t speak the lingo properly any more, but they look up to a Grootman who is a Bra and a Mentor that is always there to groom them up to become warriors and leaders of the clan, should the reigning chief be captured or killed in the battle for livestock, crops or chieftaincy.

Ouer nog is die handelsmerk Grootman Clothing, wat in 2014 deur Sihle Mvundla en Vuyani Magoloza geskep is. Daaronder word mansklere en -bykomstighede, ook horlosies en armbande, verkoop.

Op die onderneming se webblad word gesê:

We want to promote hard work, clean life, show that success can be achieved without having to be involved in criminal activities but through hard work and determination.

The company’s name “GROOTMAN” is taken from one of South Africa’s languages and that is Afrikaans, the word grootman is an Afrikaans word meaning a big man. The idea is inspired by the old township lingua called tsotsitaal, the word is used to describe big or matured men in our society, those men that we look up to, men that inspire others in a positive way, the aim of Grootman is to continue inspiring male species in the world out there to be great examples and leaders in our community by protecting, loving, leading, achieving great things and becoming pioneers in our society.

Die logo is ’n deftige man in ’n jas en pluiskeil met sy een hand teen sy hoed. Hy staan teen ’n kierie aangeleun.

*

In April 2021, weer, het Lucky Lekgwathi, die oudsokkerspeler van Orlando Pirates, in Kliptown in Soweto ’n eetplek oopgemaak met die naam Grootman by Lucky Lekgwathi.

Op die sokkerwebblad Kickoff is daar vertel dié naam is ontleen aan “[Lekgwathi’s] nickname that many refer to him by now that he is retired and a senior figure in the community”.

*

Thabo Moloi, sakeman en stigter van die maatskappy Ebozi (Pty) Ltd, skryf op daardie maatskappy se webblad:

As much as I hate to admit this I can’t argue with the fact that I am getting older and have stopped trying to argue with the youngins who call me “grootman”. I probably deserve this after all the young-at-heart individuals I look up to in life who I have called “grootman”. As a grootman, I recently had a chat with a young jita who reached out to me and asked for advice because he was struggling with laziness. When I distilled what he was saying I realised that the young man had held on to a fervent belief that he was lucky and hadn’t come to terms with how unlucky he actually was.

*

...........
Al is daar sekerlik raakpunte, strek die betekenisladings in die kasipraatwêreld van die woord “grootman” ver verby wat die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (vyfde uitgawe) in gedagte het.
...........

Al is daar sekerlik raakpunte, strek die betekenisladings in die kasipraatwêreld van die woord “grootman” ver verby wat die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (vyfde uitgawe) in gedagte het.

Daarin word die volgende betekenis aan die lemma grootman toegesê: “Volwasse mansmens: My jongste seun is al ’n grootman. Ook as aanspreekvorm vir iemand wat al aan die grootword is: Kom hier, Oupa se grootman, en vertel wat vandag by die skool gebeur het.” In laasgenoemde gebruik lê daar iets lig-ironies.

Dalk kom die uitdrukking wat die HAT-makers vervolgens aangee, die naaste aan bogenoemde kasigebruik: “Jou (lyf) grootman hou, jou belangrik voordoen, bv Hy hou hom grootman onder die nooiens; hy hou sy lyf grootman as hy weer op sy geboortedorpie kom.” Tog is die toon afwysend, negatief. Die kulturele en morele lading wat Cedrick in sy kop het as hy vir die groetende sekerheidswag vaarwel sê, ontbreek volledig.

In die tweede uitgawe van Tesourus van Afrikaans staan grootman skraalweg aangeteken as sinoniem vir “beroemde persoon”.

*

..........
Dat een klein ou woordjie in só ’n mate ’n vragskip van betekenis is, is om die minste te sê verstommend.
...........

Dat een klein ou woordjie in só ’n mate ’n vragskip van betekenis is, is om die minste te sê verstommend.

  • 1

Kommentaar

  • Dus interessant hoe Grootman se gewigtigheid Boetman s'n benader, al is die betekenisinhoud verskillend.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top