Joan-Mari Barendse het onlangs ‘n artikel, ’n Kritiese ondersoek na die funksie van biomusikologiese gegewens in Wilken Calitz se 2092: God van Klank in LitNet Akademies gepubliseer. Paula Fourie het afsonderlik met akademikus Joan-Mari Barendse en dramaturg Wilken Calitz oor die toneelstuk en oor die navorsing gesels. Hul vrae en antwoorde - onbekend vir mekaar - word hier deur die onderhoudvoerder saamgevleg.
PF: As akademiese navorsers in Suid-Afrika het ons toegang tot ‘n verstommende ryk wêreld gevul met moontlike navorsingsonderwerpe. Daar is dus altyd iets aan ‘n gekose navorsingsonderwerp wat dit vir ‘n spesifieke navorser bo ‘n ander laat uitstaan. Wat is dit omtrent 2092: God van Klank wat jou, Joan-Mari, in die eerste plek aangetrek het en wat deurgaans die energie verskaf het wat jou in staat gestel het om jou artikel te voltooi?
JMB: In my PhD het ek navorsing gedoen oor distopiese toekomsromans. Wilken se toneelstuk oor ʼn toekomstige Suid-Afrika het daarom dadelik my aandag getrek. Nadat ek die stuk gaan kyk het, het ek besluit dat ek beslis ʼn artikel daaroor moet skryf. Dit is ʼn oorspronklike en boeiende toneelstuk. Elke keer as ek deur die dramateks en manifes gelees het, het ek iets nuuts raakgesien. Die teorie rondom biomusikologie was vir my net so interessant, dus het ek nooit verveeld geraak tydens die skryf van die artikel nie. Ek dink dit is die geheim van navorsing: kies ʼn onderwerp wat jou prikkel, anders gaan jy vasbrand.
PF: Biomusikologie is ‘n redelike nuwe veld, en een wat nie in Suid-Afrika baie aandag geniet nie. Het jy baie ervaring van hierdie dissiplinêre veld, en indien nie, hoe het jy daarby uitgekom as ‘n manier om Wilken se materiaal in jou bespreking daarvan te illustreer?
JMB: Ek het eers bewus geword van die bestaan van biomusikologie toe ek begin lees het oor die biologiese evolusie van musiek. Ek vind dat hoe minder ek van iets weet, hoe interessanter is die navorsing op die ou end vir my. Een voordeel van letterkundige navorsing is dat jy interdissiplinêr kan werk. Ek stel belang in enigiets wat te doen het met antropologie en evolusie. Dit is dus dié aspek van die toneelstuk wat vir my die interessantste was.
Dit gesê – dit was een van die uitdagendste artikels wat ek nog geskryf het, en dit het ʼn hele paar herskrywings gekos voordat die artikel gepubliseer is. Ek moet die twee (baie streng, maar oneindig geduldige) keurders bedank vir die goeie raad wat hulle vir my gegee het.
PF: In jou bespreking van 2092: God van klank staan die dramateks en geskrewe manifes wat aan die gehoor uitgedeel is tydens opvoerings sentraal. Dit is miskien ‘n ongelukkige tendens van akademiese navorsing, maar jou eie ervaring rondom ’n opvoering van hierdie toneelstuk is opvallend afwesig. As lid van die gehoor wat ingenooi is om ‘n ander wêreld te betree, wat het jy daardie aand ervaar?
JMB: Die opvoering wat ek bygewoon het, is as deel van die Woordfees in die kelder van die PJ Olivier-kunssentrum in Stellenbosch opgevoer. 2092: God van klank is ʼn vorm van “immersive theatre”, waarin daar interaksie tussen die gehoor en die akteurs is en jy deel is van die ruimte waarin die opvoering plaasvind eerder as wat jy daarbuite staan. Elke lid van die gehoor is deur die ruimte gelei. Eers het elkeen die manifes en ʼn swart masker ontvang wat ons, volgens die sogenaamde seremoniemeester, vir ons “eie beskerming” moes opsit. Daarna het ons na die middel van die kelder beweeg waar Haar Hoogheid Isodore se openingstoespraak op ʼn televisieskerm aan ons gespeel is. Ons is toe nóg dieper in die kelder ingelei en moes ons sitplekke inneem as Isodore se gaste wat die eer het om Hernon se laaste musiekvertoning te aanskou.
Ek het in die voorste ry gesit en was deur die loop van die vertoning baie bly vir die beskerming van my masker! Dit was nogal ʼn ervaring om ʼn kragtige akteur soos Chris van Niekerk slegs ʼn paar treë van my af te hê. Deurdat die tradisionele afstand tussen die gehoor en die spelers opgehef is in die opvoering, kon ek nie anders as om meegevoer te raak nie.
PF: Wilken, soos uiteengesit in Joan-Mari se artikel, is daar verskeie verwysings in 2092: God van klank na die evolusie van musiek, wat dan ook aansluit by die veld van biomusikologie. Hieronder tel verwysings na musikale klanke in die diereryk, die evolusionêre pad van musiek by die mens, en natuurlik die verwysing na die bewussynswetenskaplike Steven Pinker se aarbeikaaskoek-teorie oor die effek van musiek op die menslike brein en die nut daarvan, of dan nie. Hoe het jy by biomusikologie uitgekom en tot hoe ‘n mate is die teorieë van hierdie akademiese dissipline doelbewus in 2092: God van klank ingebed?
WC: Musiek is vir my 'n omvattende verskynsel. Hoe meer ek musiek maak, hoe meer besef ek hoeveel komponente daarby betrokke is. Die geskiedenis, politiek, huidige maatskaplike kwessies, persoonlike verhoudings, sielkunde ... alles maak deel uit van hoe jy klank produseer. Elke noot word beïnvloed deur wat jy dink en wie jy is. Biomusikologie is iets waarin ek tans baie belangstel. Ons het klank by die diere “geleen”. Hernon, die hoofkarakter in God van klank, verduidelik vir die gehoor dat musiek (die resultaat van die mens se fassinasie en eksperimentering met klank) iets is wat jare geneem het om te ontwikkel en as hy, die laaste musikant op aarde, sou sterf, moet ons as 'n spesie weer deur daardie hele fase gaan om weer musiek te hê soos ons dit vandag ken.
PF: Alhoewel dit nie Joan-Mari se gevolgtrekking is nie, het ek tydens die lees van haar artikel al hoe meer onder die indruk gekom dat jou distopiese voorstelling van ‘n Suid-Afrika waar sensuur musiek uitgewis het, binne die raamwerk van biomusikologie en veral evolusionêre musikologie, voorstel dat die mens in hierdie geval ‘n mislukte evolusie gehad het. Ek dink veral aan Hernon se “brief aan ‘n stil generasie” waarin hy aanvoer: “Dieselfde pad gaan weer gestap moet word wat mens in sy geheel gedoen het om dié fenomeen as ’n aktiwiteit van verryking, aanbidding, haat, liefde en seker die belangrikste van als, ’n aktiwiteit van inkeer, te tem. Of dit nog 48 000 jaar gaan neem sal niemand weet nie.” Sou jy met hierdie interpretasie saamstem of nie?
WC: Volgens toekomsvoorspellings is die mens inderdaad die onsuksesvolste spesie van alle tye. As ons nog op aarde is vir 'n duisend jaar, is ons gelukkig. Dus, 'n baie kort tyd wat ons op aarde was. Homo sapiens is maar 150 000 jaar oud. Ons verwoes onsself. Oorlewing en suksesvolle voortbestaan is 'n maatstaf vir 'n suksesvolle spesie. Ons misluk volgens hierdie standaarde en hierdie standaarde is waaroor ek tans dink. As ons so baie omgee oor die toekoms en die voortbestaan van elke individu, waarom oorlog? Waarom vertrapping vir die gewin van 'n elite, waarom die dolle gejaag na geld? Op die ou einde is gemak ons grootste val. Nie te veel dink oor enigiets wat ons anders laat dink as ons eie status quo nie. Die idee aan 'n pensioen is moontlik ons grootste rede vir ineenstorting. Indien ons nie hoef te geworry het oor daardie toekoms-jakkalsie nie, sou daar 'n daadwerklike genetiese ingryping gewees het wat ons dwing om ten koste van jou werkgewer, politieke oorweging, ens besluite te neem en dinge te doen wat ons spesie op die regte pad plaas. Dit wil sê, omgee vir ieder en elk, standpunte wat vir 'n groter geheel saakmaak. Mikrobesluite om jou eie gat te red, kelder 'n groter regrukplan.
PF: Soos Joan-Mari verduidelik, beweer Steven Pinker dat musiek geen evolusionêre oorleweringsfunksie het nie, maar eerder ‘n neweproduk is van ander aanpassings in die menslike brein. Die enigste effek van musiek is oorstimulering van die brein, die verskaf van plesier – en dit toevallig ook – inderdaad soos kaaskoek. Pinker se teorieë word as volg in jou toneelstuk opgeroep: “Klank wat musiek word: soos kaaskoek vir die brein om te verslind. Elke bestanddeel prikkelend op die tong. Maar saam: een prag ontploffing van plesier.” Wat is volgens jou protagonis Hernon die nut van musiek en hoe funksioneer die verwysing na Pinker binne hierdie verstaan daarvan?
WC: Musiek het twee funksies. Die een is plesier en die ander een is alles behalwe plesier. Hoe om hierdie twee bymekaar te bring is hoekom musiek nooit sal uitsterf nie. Dit is nou as die gegewens van God van klank nooit waar word nie. Ons vrek oor musiek want dit laat ons lekker, nostalgies, danserig, samehorig, cool, nie alleen nie en chill voel. Dis alles die plesier-deel. Die ander deel is meer kompleks. Oorloë word herdenk, ongemaklike vrae word gevra. Dink aan Bob Dylan, dink aan die oorspronklike konteks waarin die blues ontwikkel het (suiker-en-katoenplantasies se swaarkry), dink aan die avante-garde-beweging ná die ineenstorting van die Westerse Klassieke idioom, dink aan Nirvana (selfhaat met 'n Fender Mustang). Die kaaskoek-idee is maar 'n verwysing na die menslike brein wat musiek verwerk as 'n welkome indringer in die harsings.
PF: Joan-Mari, alhoewel die diktatoriale regering in 2092: God van klank se sensuurbewind so suksesvol was dat Hernon te kenne gee dat die mens weer sal moet leer om musiek te maak, is ‘n sentrale betoog van jou artikel dat hierdie ‘n “wetenskaplik ongegronde argument is”, aangesien evolusionêre veranderinge nie binne so ‘n kort tyd kan plaasvind nie. Dit blyk vir jou belangrik te wees omdat, soos jy verduidelik, daar in hierdie stuk op ‘n evolusionêre raamwerk ingespeel word. Wat dink jy is die moontlike betekenis van hierdie “teenstrydigheid” en dink jy dit dra by tot die toneelstuk of beskou jy dit as ‘n swakheid daarvan?
JMB: Ek dink nie hierdie “teenstrydigheid” is doelbewus in die stuk ingeskryf nie (ek mag verkeerd wees). Binne die raamwerk waarin ek die stuk bespreek, het ek dit dus as ʼn swakheid van die stuk beskou. Dit doen egter geen afbreuk aan die sukses van die stuk op die verhoog nie. Ek het nie tydens die opvoering (met ʼn ietwat dreigende Chris van Niekerk reg voor my) gesit en dink dat die argument wat hier voorgelê word, “wetenskaplik ongegrond” is nie.
Ek het ook tydens die skryf van die artikel bevraagteken of dit werklik geregverdig is om ʼn dramateks (en die manifes) van ʼn stuk wat goed werk op die verhoog, uitmekaar te trek. Ek het egter besef dat ek besig is met ʼn akademiese bespreking en nie ʼn resensie nie. Sover my kennis strek, is ʼn Afrikaanse werk nog nooit binne die raamwerk van biomusikologie ontleed nie, en hierdie tipe navorsing is dus van uiterste belang.
Ek het wel, met betrekking tot die opgevoerde stuk en dramateks, gevoel dat die toneelstuk sterker sou gewees het as daar meer klem op die verband tussen verset en musiek was. In die lig van Suid-Afrika se geskiedenis van protesmusiek is dit jammer dat musiek uiteindelik geen mag in die stuk het nie.
PF: Wilken, alhoewel Joan-Mari 2092: God van klank grotendeels binne ‘n Suid-Afrikaanse konteks bespreek, skryf sy ook in haar artikel dat jou toneelstuk nie noodwendig slegs in ‘n Suid-Afrikaanse konteks gelees kan word nie. Kan dit inderdaad op enige plek afspeel? As skrywer van die stuk, hoe belangrik was ‘n Suid-Afrikaanse, en veral Afrikaanse, konteks vir jou?
WC: Ek is maar 'n leunstoel politieke anargis. Die protes wat in God van klank aangevuur word, is direkte kommentaar op die politiek wat “kuns” sien as iets wat die nasie moet verenig en sodoende eintlik die nieplesier-deel van musiek vernietig. Ek glo dit gebeur orals oor die wêreld. God van klank kan maklik verskuif word na 'n ander konteks of genre: die media, literatuur, selfs sport. Kreatiwiteit is niemand se speelmaat nie. Hoe meer jy hom boelie, hoe meer gaan hy sy visier stel om jou uiteindelik in die voorkop te klits met 'n fok-jou-kaliber.
PF: Joan-Mari stel ook dan voor dat die gegewens van jou toneelstuk binne die konteks van hedendaagse Afrikaner-angs na die moontlike onderdrukking van die kunste en vryheid van spraak in ‘n toekomstige Suid-Afrika wys, en selfs as ‘n waarskuwing gelees kan word. Stem jy hiermee saam? Watter pad dink jy gaan die kunste in hierdie land loop?
WC: Soos in die vorige antwoord vermeld is, is ek diep bekommerd oor wat in die land aangaan. Stemme word dik gemaak ten koste van ander stemme. Onderdrukking stook kreatiwiteit. Skiet jy 'n jakkals in die wingerd, is dié se neef volgende week terug met 'n weermag om nóg meer skade aan te rig. Ek korrigeer myself sommer dus. As alles mooi en oulik is, is daar geen rede om iets te sê nie. Eintlik hou ek van Suid-Afrika. Ja, ek is lekker kwaad tans en dit het ook aanleiding gegee tot 'n onlangse album wat ek opgeneem het. Die titel heet: Sub-Saharan foot notes. Ek geniet stille protes. Ai, ek is weer terug in die leunstoel met 'n koppie Milo.
PF: Hoe reageer jy op Joan-Mari se waarneming dat 2092: God van Klank antroposentries en veral Eurosentries omgaan met die idee van musiek? Sy verwys spesifiek na een van Reto Riekert se monoloë (opgeneem in Hernon se geskrewe manifes) waarin ‘n evolusionêre rangorde gesuggereer word deur die bewering dat mense – in teenstelling met die beperkte diereryk – hulle hande ook kan gebruik om musiek te maak. Ter stawing hiervoor word ‘n wêreld van simfonieë, katedrale, orrels en konsertsale opgeroep – simbole van Europese kunsmusiek se glorietyd. Hieronder tel ook Hernon se verwysing naby die einde van die toneelstuk na Beethoven se strykkwartet, no. 13 in B-mol, opus 130 as “een snit vir al die musikante op aarde”. Dink jy dat Westerse kunsmusiek beskryf kan word as iets wat universeel geliefd is, by almal aanvaar word, en selfs belangriker, almal aanvaar? Wat is volgens jou die betekenis van Hernon se beskrywing van Beethoven se strykkwartet as sulks binne ‘n postkoloniale konteks, nie net wat Suid-Afrika betref nie, maar ook wêreldwyd?
WC: Joan-Mari se waarneming is in die kol. Europese kunsmusiek is vir die afgelope 30 jaar bietjie in 'n drukgang weens sy eeue lange bravade. Note op papier is belangrike dokumente. Sonder daardie onderbou sou ander vorme van musiek nie vandag bestaan het nie. Sogenaamde “world music” – wat talle kulture se musiek kunsmatig in 'n genre saamvoeg – is maar een van die skaamdinge wat kategorisering uit 'n Westerse oogpunt tans mee sit. God van klank word uit 'n Eurosentriese hoek vertel. Hernon is 'n voormalige professor van UK. Musiek is vir hom juis dít waaraan hy sy lewe gewy het. Niemand hou van alle musiek nie. Hernon hou van Westerse musiek. Die Beethoven-strykkwartet is net so ongoddelik mooi dat ek dit eenvoudig móés gebruik as die hoofsnit vir sy verwysingsraamwerk. Write what you know. Ek is vir 25 jaar in die Europese kunsmusiektradisie geskool en dit is hoe ek tans voel.
PF: Joan-Mari – met betrekking tot jou uitwys van die Eurosentriese manier waarop Wilken se dramateks met musiek omgaan – wat dink jy is die toekoms van Westerse kunsmusiek in postkoloniale Suid-Afrika?
JMB: Dit is duidelik dat kunsmusiek (Westers of andersins) nie ʼn prioriteit in die land is nie. ʼn Mens hoor oor die nuus van simfonieorkeste wat ontbind as gevolg van die onttrekking van staatsbefondsing. Aan die ander kant hoor mens ook van ʼn toename in die aantal swart operasangers (alhoewel dié sangers ook maar sukkel om ʼn bestaan in Suid-Afrika te maak).
Ek glo nie ek is ingelig genoeg oor die stand van Westerse kunsmusiek in Suid-Afrika om my te veel hieroor uit te laat nie. Enige kulturele verskraling is wel kommerwekkend. Wat my meer bekommer, is die agteruitgang van inheemse kuns, taal en kultuur: dít is iets wat ons nooit weer kan terugkry as dit eers verlore is nie.
PF: En is daar vir jou, binne ‘n postkoloniale konteks, enige verband tussen die feit dat, eerstens, Hernon Westerse kunsmusiek voorhou as die toppunt van wat die mens musikaal bereik het, en tweedens, die feit dat musiek in ‘n toekomstige Suid-Afrika skynbaar sy krag verloor het om kollektiewe aksie te inspireer?
JMB: Ek weet nie of dit die bedoeling in die stuk was nie (Wilken sal beter kan sê), maar die gehoor word tog met die vraag gelaat of Isodore nie dalk reg is dat Hernon, kenner van Westerse kunsmusiek, ʼn uitgediende “lewende artifak” binne ʼn postkoloniale Suid-Afrika is nie. Noudat ek daaraan dink: daar is aan die gehoor gesê dat dit ons keuse is of Hernon tereggestel word of nie, en nie een van ons het probeer om hom te red nie ... Dalk is dit ʼn aanklag teen die samelewing wat toegelaat het dat Hernon in hierdie posisie beland het?
PF: Wilken, as musikant en skrywer, wat is vir jou die rol of nut van akademiese navorsing oor die kunste, spesifiek die tipe werk wat Joan-Mari in haar artikel oor God van klank gedoen het?
WC: Dit is van uiterste belang. Dialoog/diskoers is hoe idees uitgeruil word en nuwe dinge geskep word. Die navorser is die wingerdkundige. Daarsonder drink almal heerlik aan slap rosé en weet nie van die cabernet in die kelder wat al vir jare verouder nie. Sonder hulle, die navorsers en die kritici, is dit 'n shotgun-benadering tot mekaar verstaan in 'n kunste-idioom.
PF: Joan-Mari, hoe sien jy die rol van akademiese navorsing oor die kunste?
JMB: In my navorsing kyk ek byna altyd na die wyse waarop die kunste die werklikheid reflekteer of kommentaar lewer daarop. Kuns word altyd binne ʼn spesifieke konteks geskep en dit hoef nie noodwendig “betrokke” literatuur te wees om vir mens iets te sê oor die wêreld waarin ons leef nie.
PF: Terwyl ons op die onderwerp is van sensuur: ek is bewus van ‘n groeiende persepsie binne die akademie dat dit al hoe moeiliker word om vreesloos navorsing te doen. Universiteite is al hoe strenger wat die etiese klaring van navorsingsprojekte behels – Stellenbosch Universiteit het selfs ‘n ethical hotline, ‘n “etiek-rapporteringslyn vir die anonieme aanmelding van ongerymdhede” (sien http://www.sun.ac.za/afrikaans/kontak-ons/ethics-hotline). Dit klink so ’n bietjie soos iets uit Wilken se toneelstuk ... Maar in sommige gevalle blyk dit “etiek” het te doen daarmee om die individue oor wie se werk jy skryf, of andersins by wie jy inligting kry, tevrede te stel of ten minste nie so erg kwaad te maak dat hulle die universiteit dagvaar nie. As akademiese navorser, hoe bewus is jy van die moontlike reaksie op jou navorsing deur die skrywer wie se werk jy bespreek?
JMB: Daar is ʼn verskil tussen “vreesloos” wees en onverantwoordelik wees. As jy ʼn verantwoordelike, professionele navorser is wat jou kritiek op iemand se werk teoreties kan begrond, glo ek nie jy hoef ooit bang te wees om jou opinie uit te spreek nie (dalk is ek net naïef hieroor). In my ervaring is dit vir ʼn skrywer veel erger as daar niks oor hulle geskryf word nie as wat daar kritiek uitgespreek word. ʼn Skrywer (en ander navorsers) hoef ook nie saam te stem met jou ontleding van die werk nie. Navorsing gaan tog ook daaroor om ʼn gesonde akademiese debat aan die gang te sit.
In die geval van my navorsing oor 2092: God van Klank sou dit oneties gewees het om die ongepubliseerde dramateks op een of ander duistere wyse te bekom en dit sonder Wilken se medewete te gebruik. Omdat Wilken die ongepubliseerde dramateks aan my toevertrou het, moes ek op ʼn sensitiewe en verantwoordelike wyse daarmee omgaan. Ek moes ook in ag neem dat dit nie ʼn finale, afgewerkte produk is nie. Dit sou dus onregverdig gewees het om byvoorbeeld kritiek uit te spreek oor tegniese aspekte van die teks.
Sonder skrywers het mense soos ek nie werk nie, so jy wil skrywers darem nie so kwaad maak dat jy hulle nooit weer kan nader oor hulle werk nie. Aan die ander kant sou dit ook oneties gewees het as ek my artikel vooraf vir Wilken gestuur en gevra het dat hy alles merk waarmee hy nie te tevrede is nie.
PF: Bestaan daar enige geldige rede waarom, of enige omstandighede waarin, ‘n skrywer wie se werk jy bespreek die publikasie van jou navorsing sou kon teenstaan?
JMB: Dit is heeltemal onaanvaarbaar as jy jou akademiese navorsing gebruik om ʼn persoonlike aanval op ʼn skrywer te loods. As jy nie objektief na iemand se werk kan kyk nie, moet jy dit eerder los.
Kuns word gewoonlik geskep met die doel om ʼn reaksie te ontlok, en soos reeds genoem, gee dit ʼn unieke blik op die werklikheid. As daar nie ʼn akademiese diskoers oor die kunste bestaan nie, beteken dit dat ʼn belangrike bron van persepsies oor ons samelewing geïgnoreer word.
PF: Wilken, tot hoe ‘n mate staan hierdie toneelstuk onafhanklik van jou? Is die skrywer werklik dood of sou jy graag jou insette wou gegee het tydens die skryf van Joan-Mari se artikel?
WC: Die skrywer moet sy eie doodsertifikaat teken die dag wat hy begin skep. Individuele denke is die room van bestaan. Ek stel myself bloot vir kritiek sodat ek weer kan leer uit wat gesê word. Verskoon die kragwoord, maar as jy dink jy is oulik gaan jy kak. Ek wíl hoor wat mense sê. Anders gaan ek die dieselfde dinge herkou en op die ou einde sê ek net wat ek eintlik al lankal gesê het. Nuwe dinge is mý kaaskoek.
PF: Kan jy jou voorstel dat jy ooit navorsing sou wou pootjie wat krities is oor jou as skrywer of komponis?
WC: Glad nie. Ek sal vir “hulle” bier koop. Navorsing is ontginning. As ek nie tevrede is oor 'n ander persoon se manier van grawe nie, dan moet ek op 'n ander plek gaan bly. Ek kritiseer ander se opinies gereeld. Ek verwag dieselfde. Maar – wanneer ek iets kritiseer, dan moet ek eers met myself check of ek daardie persoon in die oë kan kyk by 'n partytjie sonder om te voel ek het hom beledig. Aan die ander kant dink baie mense dat kritiek eintlik maar 'n belediging is met 'n rooi toga aan.
PF: Hoe gaan jy seker maak dat jou antwoord op die vorige vraag deur die jare “nee” bly?
WC: Ek span hier graag die taalbuffel in: die trippel-negatief. Dit is nie dat ek nie my standpunt sal verander nie. Ek sal dit op meriete verander. As iemand persoonlik raak sal ek met 'n HAT en bulhorings by die konferensielokaal instorm, die melktertjies in my leersak prop, gromgeluide maak en die akademikus wat verantwoordelik is vir my humeur, met 'n plettervat karnuffel.
Foto's verskaf






