’n Brief aan Sonia met ’n "i"

  • 1

Sonia Cabano (foto: YouTube)

Hallo Sonia met ’n i.

Ek onthou die eerste keer toe ons ontmoet het. Die program Pampoen tot perlemoen se bekendstelling was by julle huis in Tamboerskloof. Ek dink dit was 2001 of so. Ek het nog hare gehad. Ons het ’n bietjie gekroek met die temaliedjie en een van ons ddisselblom-liedjies, “Bobotie”, aangepas om by die program te pas. Miskien is dit wat ons ’n bietjie gemeen gehad het. Ons het altyd aangepas, ons lewens. Soms in ons moer in verkeerd aangepas en soms in die regte rigting.

Ek en my swaer Jaco het met my ma se Clio deurgery Kaap toe om die song te kom sing. 1 000 km. Ja, ’n Clio, want ek het ’n geel City Golf gery sonder aircon, al het ons deurnag gery.

Ek onthou alles so goed. Jy was so mooi, almal was so cool, jou kinders was hierdie twee kunswerkies wat net so happy was.

Van daar het ons nou en dan briewe geruil op LitNet; ons paaie het in daai era baie gekruis. Afrikaans se alles was nog so vars en prentensieloos; kykNET was nog ’n baba; en feeste was net kuns.

Ons deel ’n donkertydherinnering waaroor ons nooit gepraat nie. Was nie nodig nie. Ook nie nou nie.

Die Facebook-era het die briewe-era kas toe gestuur. Ek dink nie Facebook was vir jou nie.

Jou comments was altyd uitdagend. Jy het nooit geskroom om jou opinie te lug nie. Jy het jou verskille duidelik laat deurbry.

Dan was daar jou era van unfollow en follow en unfollow en follow.

Ons het min gepraat die laaste paar jaar, maar jy het jouself en jou passies en jou kwaad oophand gedeel, en mense – ons, ek – sal jou nooit vergeet nie.

My laaste gedagte en wens aan/vir jou is ’n langtafel in Brandfort. Wyn van die Kaap en kos van die wêreld. Mense wat lag en gesels en vloek en seën en dans en eet.

Dan, aan die einde van die fees, soos die son sak in die Vrystaat, gaan stap ons almal om vir Winnie te vra of sy orraait is.

Sy sê sy is.

Ek weet jy is.

Julle is nou rustig. 

Johrné van Huyssteen

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top