Anna Emm vertel vir Estelle Kruger van haar skryfwerk en haar pad met boeke.
Welkom Anna Emm. Ek ken jou al indirek sedert my kleinkinders in Switserland kleuters was (rondom 2014) en ek saam met hulle geluister het na prins Dirkie en prinses Jana – my gunsteling was prins Dirkie (met sy brilletjie) en die seerower. Die kinders was onafskeidbaar van die iPod waarop hulle in hulle moedertaal na jou stories geluister het.
Hoe lank het jy hierdie besigheid bedryf? Het jy later ook ’n boekwinkel gehad?
Nadat ek in 2002 uit die onderwys geklim het met ’n sak vol reeds geskryfde kinderstories, het my paaie gekruis met dié van ’n ou skoolvriend, Stefan van der Vyver. Hy was toe musikant met ’n ingerigte klankateljee, en ons het saam begin om van my kinderstories in die ateljee op te neem en op CD te verkoop. Dis hoe die besigheid destyds begin het. Hierdie luisterstories was so gewild dat ek aanhou skryf en opneem het, en op die ou end by meer as 3 000 oorspronklike kinderstories gaan draai het.
Die besigheid het ’n lewe van sy eie aangeneem en gou groot geword. Later het ons ook kinderboeke begin uitgee en van ander skrywers begin gebruik maak. Ons het vir so ’n jaar of wat ook ’n tydelike winkeltjie in Tygervallei gehad. Maar die ekonomie die afgelope paar jaar was ons nie goedgesind nie, en ná 18 jaar moes ek die besigheid kort voor lockdown laat likwideer. Dit was vir my ’n baie traumatiese proses op soveel terreine – iets waarvan ek nie dink ek ooit heeltemal sal herstel nie.
Die goeie nuus is dat ek reeds in 2019 my duisende luisterstories uit die besigheid oorgeskuif het na my persoonlike podcast (toe CD-verkope begin afneem en ons slegs op boeke begin fokus het). Hierdie stories het dus nie saam met die besigheid gesterf nie, en die meeste van hulle is steeds digitaal beskikbaar by www.AnnaEmmPod.co.za.
Op jou webtuiste kom ek agter dat jy ’n baie veelsydige storieskrywer is – hoe sou jy jou persoonlike groei en ontwikkeling van genres beskryf?
Vir my het dit altyd gegaan oor die leeservaring eerder as die genre of die taal waarin ek skryf. Ek dink ek is baie meer van ’n draaiboekskrywer wat tonele en karakters aanmekaarweef in ’n amper visuele opvoering as wat ek ’n akademiese skrywer is. Ek is ’n entertainer. Ek verstaan wat stories vir lesers doen (of kán doen) en ek gebruik alles tot my beskikking om daardie ervaring soveel impak moontlik te gee. Ek word baie gekritiseer oor die vermengde praattaal waarin ek skryf, en my min beskrywings, maar ek is geneig om alles uit te sny wat moontlik die leser se spoed kan vertraag, of sy aandag van die storie kan weglei. Ek wil hom só meevoer dat hy vergeet hy lees ’n boek, en dat die leesproses vir hom ’n terapeutiese ontvlugting word. Ek het ’n hekel aan skrywers wat te veel woorde gebruik, of hulself indulge in hulle eie slimmighede. Die oomblik wat dit oor jou skryfvermoëns begin gaan, gaan dit nie meer oor die leser nie, en dan verloor jy sy aandag.
......
Die voordeel van my eie boeke publiseer en versprei, is dat ek my nie regtig hoef te steur aan akademiese voorskrifte of reëls nie. Dis ’n verhouding tussen my en my lesers, en solank as wat dit vir ons werk, maak dit nie saak wat ander se opinie daaroor is nie.
........
Die voordeel van my eie boeke publiseer en versprei, is dat ek my nie regtig hoef te steur aan akademiese voorskrifte of reëls nie. Dis ’n verhouding tussen my en my lesers, en solank as wat dit vir ons werk, maak dit nie saak wat ander se opinie daaroor is nie.
Dit gesê, het ek wel baie geleer van die kommersiële kant van die boekbedryf met my besigheid – die dinge waarop my mark positief reageer, wat hulle soek as dit by leesstof kom. En dis tog alles dinge wat ek steeds in gedagte hou hier waar ek nou voltyds skrywer is.
Ek het dit geniet om te sien hoe jy reeds op skool stories geskryf het en dit verhandel het met skoolmaats wat dan jou huiswerk gedoen het. Wil jy dalk meer hieroor vertel?
........
Stories skryf was iets wat altyd baie natuurlik vir my gekom het. Ek was van kleins af maar altyd aan die skryf.
..........
Stories skryf was iets wat altyd baie natuurlik vir my gekom het. Ek was van kleins af maar altyd aan die skryf. Selfs voordat ek nog ’n pen kon vashou, het ek stories vir my ouers en kleuterskooljuffrou gedikteer wat hulle dan vir my moes neerskryf en teruglees. Iewers in my laerskooljare het van die kinders in my klas gevra waaraan ek dan so sit en skryf, en so het my stories onder my klasmaats se oë beland. Hulle het die notaboekies waarin ek geskryf het, onder mekaar begin uitruil en gou begin toustaan vir die nuutste hoofstukke. Van my vindingryke klasmaats het later ’n “biblioteeksisteem” uitgewerk om boek te hou van wie lees tans aan watter hoofstukke. Omdat daar so ’n groot aanvraag na die nuutste hoofstukke was, het my klasmaats dikwels aangebied om my klaswerk en huiswerk vir my te doen sodat ek ononderbroke kon klaar skryf! Ek dink die reeks (’n aksiebelaaide storie oor ’n tipe 007-spioen en sy geliefde) het later by so 30 notaboeke gaan draai.
Ek dink baie aan daardie tyd, en aan hoeveel pret daardie storievertellery was – vir my én vir die lesers. Ek gebruik dit steeds as ’n maatstaf wanneer ek skryf, want dit was voor die grootmenswêreld se sisteme met my kop begin interfere het, voor ek kommersieel moes begin dink en myself begin vergelyk het met ander skrywers. Dit was so natuurlik en spontaan. Ek strewe altyd daarna om weer by daardie kreatiewe vryheid uit te kom.
In my eie en ander mense se ontwikkeling van kreatiwiteit kom ek agter dat daar ’n groot lot oorerflikheid betrokke is – hoe sou jy joune beskryf? Sien jy ook hierdie talent by jou voorgeslag en nageslag?
Daar is baie skryftalent in my gene, maar nie regtig ander fiksieskrywers nie. Ek glo wel dat die milieu waarin ek grootgeword het, ’n baie groot rol gespeel het. Ons huis was altyd vol boeke en kuns, en ons is van kleins af blootgestel aan kwaliteitstories – films, teater en boeke. Ek het soos ’n ruspe gelees as kind, en my ouers het aanhou voer. Ek het ’n breë agtergrond van skrywers en boeke in my verwysingsraamwerk, en weet baie goed wat in die literêre wêreld aangaan, al verkies ek om my eie ding op die kantlyn te doen. My pa (die digter Leon Strydom wat onlangs oorlede is) het geglo blootstelling ontwikkel ’n kind se smaak, en hy het gesorg dat daar altyd baie blootstelling was aan ’n groot verskeidenheid – iets waaruit ek as skrywer nou baie waarde put.
Behalwe jou meer as 1 000 kinderstories wat beskikbaar is op jou podsending, het jy ook boeke vir peuters, kleuters en pubers gepubliseer, sowel as verhale en reekse vir tieners, liefdes- en fantasieverhale, e-boeke, spanningsnovelles, bundels met kortverhale en volwasseneromans. Vertel asseblief – met voorbeelde – vir ons wat jou nuutste voorkeur in hierdie verband is?
........
Tydens lockdown verlede jaar, net ná die likwidasie van die kinderstoriebesigheid, het ek die behoefte gevoel om terug te keer na daardie laerskooljare se skryf. Om te skryf net vir myself, net vir die lekker.
...........
Tydens lockdown verlede jaar, net ná die likwidasie van die kinderstoriebesigheid, het ek die behoefte gevoel om terug te keer na daardie laerskooljare se skryf. Om te skryf net vir myself, net vir die lekker. Om sommer net weer te skryf wat my kop en my hart ligter sal maak. Só het ek ’n romantiese novelle, Bitterbessie Blues, geskryf, en dit as gratis e-boek beskikbaar gestel. Dit was bitter gewild, en het ’n reeks van agt novelles geword waaruit nóg novellereekse gevloei het. Ek het gevind dat daar ’n behoefte was by lesers aan stories wat maklik en vinnig lees, wat nie te swaar is om te verteer nie, maar tog jou gees voed. Die terugvoer op my novellereekse is baie positief. Ek sien my lesers praat van “binge-lees” en vergelyk dit met Netflix-reekse omdat elke novelle as ’n “episode” aangebied word. Ek het vir meer as ’n jaar elke Vrydag ’n nuwe novelle vrygestel en só ’n groot gevolg van lesers opgebou. Maar met my pa se dood in Januarie, en met alles wat daarmee saamgegaan het, het ek ’n bietjie spoed verloor. Deesdae stel ek so elke 3–4 weke ’n nuwe novelle vry.
Wat dink jy is die krag van stories? Wat gebeur in ’n leser se verstand en hart?
Ek glo dat stories terapeuties kan, en behóórt te wees. Nes ander kunsvorme spreek stories tot die unseen – ons siele en emosies – en daarom het dit die potensiaal om ongelooflike geestelike voedingswaarde te hê. Maar méér nog as ander kunsvorme, het die geskrewe woord die krag om baie diep in ’n leser se onderbewussyn te gaan lê. Miskien is dit omdat jy heeltemal moet afskakel terwyl jy lees, en nie soos met musiek of films nog aan ander dinge kan sit en dink nie. Met ’n goeie storie laat los die leser sy realiteit, en spandeer hy tyd in ’n ander wêreld – ’n wêreld wat die skrywer vir hom opgedis het. Hy is dus oorgelewer aan wat die skrywer vir hom in daardie wêreld aanbied. Dis vir my erg om te sien hoe skrywers daardie mag uitbuit en hulle talente gebruik om ontstellende, donker wêrelde en tonele te skep – juis met die doel om te ontstel of bang te maak. Ek glo dat stories streling moet bring in ’n moeë, vuisvoos siel, en dat woorde met ontsag en respek gebruik moet word omdat dit soveel krag dra. Ek glo ons gaan almal, nie net skrywers nie, eendag verantwoording moet doen vir ons woorde.
Ek het dit geniet om die eerste van jou Hink-boekreeks te lees – Die dooie danser – en ek sien ’n mens kan dit op jou webtuiste aflaai. Wat ’n skatkis wag daar vir lesers! Daar is net genoeg spanning, suggestie, intrige en menslikheid om ’n mens meer te wil laat lees. Noem asseblief wat jou ander reekse behels.
Ja, my Hink-reeks gaan oor ’n privaatspeurder wat die polisie in Agrippa (’n fiktiewe stad) help om moorde op te los. Elke novelle gaan oor ’n losstaande saak wat dan opgelos word, maar nes in soortgelyke TV-reekse loop die karakters se persoonlike stories en verhoudings deur van die een boek na die volgende, en hou dit die lesers aan die lees. Ek het drie “seisoene” van Hink geskryf – elk met 10 novelles. Die reeks bestaan dus uit 30 stories.
My Bitterbessie Blues-reeks bestaan uit vyf novelles, en dan drie spin-off novelles. Dit is ook ’n soort whodunnit-reeks. Dit gaan oor ’n skrywer van moordverhale (amper soos Murder she wrote) wat op ’n plattelandse dorpie gaan bly en dan raak sy betrokke by die lief en leed van die mense daar. In elke novelle is daar dan ook ’n moord wat sy help oplos met die hulp van ’n aantreklike joernalis ... wat vir ’n bietjie romanse sorg!
Die eerste novelles is beide hierdie reekse kan gratis afgelaai word op die webwerf by www.AnnaEmm.com.
Wat my aanspreek op jou webtuiste, is hoe jy speel met klank en idiomatiese uitdrukkings in die titels van jou boeke: Kinkel in die kabel, Naald in ’n hooimied, Slim vang sy baas, Die jakkals se stert, Die Kaapse kruiper, Klub katastrofes, Die lummel se laarse. Het jy ook ’n streep musikaliteit of digterlikheid in jou?
Ek weet nie. Seker maar. Ek het as tiener heelwat gedigte geskryf en baie digbundels verslind. Maar die ritme in stories is vir my baie belangrik. Ek vóél die sinne wat ek skryf, en selfs die tonele en waar hulle in die geheel van die storie voorkom. Ek skuif dikwels rond tot die ritme in my sinne en storie reg voel, want dis vir my deel van die genot van die lees. Die storie moet maklik én gemaklik lees. Ritmes is ook terapeuties.
........
Ek dink daardie Huppel-boeke met hulle rympies en alliterasies het ’n baie groot invloed gehad op my skryfwerk, en spoel oor na selfs my volwassene-verhale, alhoewel meer subtiel dalk.
........
My ma vertel hoe sy vir my die Huppelkind-boeke voorgelees het van babadag af, en ek as eenjarige sit en wieg het terwyl sy lees. Dit het gelyk asof die storie vir my soos musiek klink. Ek dink daardie Huppel-boeke met hulle rympies en alliterasies het ’n baie groot invloed gehad op my skryfwerk, en spoel oor na selfs my volwassene-verhale, alhoewel meer subtiel dalk.
Waaroor ek jammer is, is dat jou outobiografie nie meer in druk is nie. Is daar tog ’n manier waarop ’n mens hierdie boek onder oë kan kry? Ek is seker ander lesers sal – soos ek – ook graag jou eie mensweesstorie wil lees.
Ek het my outobiografie, The storyteller’s book, destyds geskryf omdat ek so baie navrae gekry het van mense oor waar my storieding vandaan kom. Die boek het meestal gedraai rondom my stormagtige kinderjare en my ingewikkelde verhouding met my pa, die rol wat stories gespeel het in my emosionele genesing. Maar ek het later gevind dat elke keer wanneer ek vir ’n skrywersonderhoud genader is, dít was waaroor mense wou praat. Ek het begin voel my persoonlike storie het my ministry geword, begin om my te definieer. Ek wou eerder hê dat mense my moes ken en onthou as die skrywer van lekker stories, eerder as die skrywer met die stukkende verlede.
Ek het twee jaar gelede my outobiografie van die mark onttrek, en ’n jaar later is my pa oorlede. Ek is bly ek het die besluit geneem voor hy weg is, want dit het my die vryheid gegee om van hom afskeid te neem op die manier waarop ek graag wou. Ons storie is vertel, en diegene wat dit gelees het, is aangeraak daardeur. Maar nie ek óf hy hoef vir die res van my lewe in die skaduwee van daardie storie te loop nie – al was dit uiteindelik baie positief en inspirerend. Soms kan goeie dinge ’n mens ook vashou op ’n plek, en ek het gevoel ek wil eerder aanbeweeg.
Ek kry die indruk dat jy nie net kreatief met stories omgaan nie, maar dat jy ook vernuwend is om vernuftig te werk te gaan om jou boeke self te publiseer. Watter hulpbronne het jy alles tot jou beskikking versamel so met die tyd wat jou daarmee help?
Ek dink die feit dat my skryfstyl en inslag so ánders is, en dat ek my eie ding doen, maak dat die mense wat my boeke lees, ál my boeke lees. Ek het oor die jare soveel lojale volgelinge versamel wat gretig wag vir enigiets wat ek skryf dat daar met elke nuwe vrystelling reeds honderde pre-orders wag. Dit help baie, want jy hoef nie elke keer van voor af te bemark nie. Baie van die kinders wat destyds my kinderstories geluister het, is nou volwassenes wat steeds my boeke lees. En omdat ek so báie skryf en so vinnig kan vrystel (daar is reeds meer as 80 van my e-boeke op www.kobo.com), is daar gereeld nuwe leesstof. Dis nie nodig vir my lesers om op ander plekke te gaan soek nie.
........
Ek glo as jy geniet wat jy doen, en jy doen dit met eerlikheid (authenticity), dan sal dit mense aantrek. Wat jy as skrywer ervaar wanneer jy skryf, is wat jou leser sal ervaar wanneer hy lees.
.........
Ek glo as jy geniet wat jy doen, en jy doen dit met eerlikheid (authenticity), dan sal dit mense aantrek. Wat jy as skrywer ervaar wanneer jy skryf, is wat jou leser sal ervaar wanneer hy lees. Daarom is dit vir my belangrik dat ek my skryfwerk moet geniet, en dat die paaie waarop my stories my lei, my ook moet inspireer. Die res is dan ’n natuurlike uitvloeisel daarvan, en jy hoef nie baie effort in te sit om aan ander dit te verkoop nie.
Hoe gebeur die stories in jou gedagtes? Het jy ’n muse of spesifieke maniere om dit te vind?
.......
My stories kom meld hulself by my aan – soms net as ’n enkele karakter, ’n enkele stem in die stilte, of ’n atmosfeer. Dit voel soos om in ’n donker kamer te staan en bewus te raak van ’n teenwoordigheid wat jy nog nie kan sien nie. En hoe langer ek dan daar staan, hoe meer word onthul.
.........
My stories kom meld hulself by my aan – soms net as ’n enkele karakter, ’n enkele stem in die stilte, of ’n atmosfeer. Dit voel soos om in ’n donker kamer te staan en bewus te raak van ’n teenwoordigheid wat jy nog nie kan sien nie. En hoe langer ek dan daar staan, hoe meer word onthul. Karakters kom na vore uit die donker, begin hulself vir my wys, begin met my praat. Ek begin ’n gevoel kry van hulle stories, van wat hulle wil sê. Dikwels kry ek die idee dat karakters na my toe kom met probleme, met stukkende stories, en dan wil hê dat ek dit vir hulle moet rég skryf. Soms loop ons deur donker dieptes saam, want dikwels moet dinge breek voor dit kan heel, moet dit slegter gaan voor dit kan beter. Maar uiteindelik, aan die einde van my stories, moet ek my karakters in vrede kan laat met die wete dat hulle nou oukei sal wees sonder my.
Eers wanneer ek ’n idee van ’n boek se openingstoneel het – die beginpunt – dan begin ek skryf. En sodra ek begin skryf, kom meld volgende tonele en karakters hulle by my aan. Stephen King het dit een keer so raak beskryf. Hy’t gesê om te skryf is soos om ’n bonfire te maak op ’n donker strand, en dan kom die karakters en storielyne na die lig toe. En elkeen wat kom, bring meer lig, kom pak nog ’n stuk hout op die vuur totdat die hele strand verlig is en jy as skrywer alles kan sien. Dis presies hoe ek dit ook ervaar.
Lees jy ook dikwels ander stories? Wat/wie s’n is jou gunstelinge?
Ek lees deesdae weer baie meer as toe ek ’n besigheid gehad het om te bestuur, maar ek is baie kieskeurig oor wat ek lees. Sodra ’n storie my irriteer of verveel, sit ek die boek neer. Ek laat nie sommer enigiets in my kop toe nie. Wanneer ek sukkel om lekker leesstof te kry, keer ek altyd weer terug na my staatmaker-Agatha Christies. Sy stel nooit teleur met haar storielyne, karakters en dialoog nie. Dalk is dit omdat sy ook op ’n manier ’n randfiguur was as vroulike misdaadskrywer in daardie tyd, en omdat sy ook nie deur die formele akademiese sisteem gevorm is nie (sy het nooit formele skoolonderrig gehad nie), maar haar boeke hou aan om my as skrywer te inspireer.
Dankie Anna Emm. Ek sluit af en groet jou met een van my mensewense:
Mag jou kreatiwiteit altyd
voor jou uithardloop
mag jou intuïsie dit vind
en jou vaardigheid
met woorde
dit vir ons laat
stories word.
Lees ook: