’n Besoek aan 1001 South African Stories: Visionary Women

  • 0

Op Vrydag, 29 November 2019, het die laaste 1001 South African Stories-gesprekke van die jaar by The Book Lounge in Kaapstad plaasgevind.

Die 1001 South African Stories is ’n projek wat deur Shehnaz Cassim geskep is en poog om ’n byeenkomsplek te skep waar Suid-Afrikaners hul stories met mekaar kan deel. Tydens die 1001 South African Stories-sessies voer Shehnaz onderhoude met gaste oor verskeie onderwerpe. Die gesprekke vind een keer ’n maand plaas en word opgeneem as potsendings, wat beskikbaar is op die 1001 South African Stories-webtuiste.

Die projek het vanjaar tydens die agtiende jaarlikse Kultuursake Toekennings die toekenning vir die mees innoverende erfenisbewaring ontvang.

“Die stories help ons om mekaar beter te verstaan, en lei uiteindelik tot kohesie tussen ons as Suid-Afrikaners,” het Shehnaz tydens ’n kort verwelkoming gesê.

Dié maand se 1001 South African Stories-sessie het tydens die 16 Dae van Aktivisme-veldtog (25 November tot 10 Desember) plaasgevind en die twee gaste, Lauren Jacobs en Mpho Malgas, het vurig oor geweld teen vroue gesels.

Lauren Jacobs en Mpho Malgas (Foto’s: Cliffordene Norton)

Lauren Jacobs is ’n predikant, feminis en skrywer. Haar debuutwerk, Yehudit Chosen by God (2016), het die 2017 Desmond Tutu-Gerrit Brand-prys gewen. Haar tweede boek, Shelamzion, Queen of Israel, is in September 2018 gepubliseer. Lauren het ’n meestersgraad in teologie wat fokus op goddelikheid. Sy is tans besig om navorsing oor vroue wat uit die Bybel weggelaat is te doen en werk ook aan ’n kinderboek oor dapper meisies van die Bybel.

“Met die navorsing vir my tesis het ek afgekom op verskeie vroue wat uit die Bybel weggelaat is, of wie se name verander is. Vroue was altyd daar deur die loop van die geskiedenis, maar slegs die manlike perspektief was weergee. Ek wil ook hê meisies moet hulself in hul geloof sien,” het sy oor haar huidige projekte gesê

Mpho Malgas is die skrywer van Survivor: The Make of a Woman, wat in Augustus 2019 bekendgestel is. Sy was self in ’n geweldadige verhouding, maar is deur haar familie en vriende gehelp om uit die verhouding te ontsnap.

“Ek was in ’n geweldadige verhouding wat amper my lewe geëis het. Ek het twee verskillende geleenthede ’n mes onder die kussing gevind,” vertel Mpho. 

Met haar boek, Survivor: The Make of a Woman, wil sy uitreik na elke moontlike vrou en haar vertel dat “jy nie alleen op hierdie reis is nie”. Die boek deel die verhale van vroue wat deur moeilike situasies gegaan het, wat moeilike, en soms aaklige keuses, moes maak, maar op die ou end het hulle ferm gestaan en sterker daar uitgekom.

Mpho is ook deel van Take Action SA, wat poog om die regering en privaat sektor tot aksie teen geslagsgeweld aan te spoor. “Ons moet nou oorgaan na dade. Vroue word in ’n poskantoor verkrag en vermoor, maar wat doen die poskantoor om dit te verhoed?” Volgens haar probeer maatskappye en die regering ’n standaard-benadering toepas, wat nie werk nie want elke situasie is uniek met ander omstandighede.

Mpho se raad aan jong vroue is: “Leer ken die persoon, voor jy in ’n verhouding betrokke raak. Indien jy in ’n geweldadige verhouding is, sal ek sê: ‘stap weg’.”

Lees ook 

Hoeveel 16 dae van aktivisme moet ons nog deurgaan voor vroue veilig is in Suid-Afrika?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top