Suid-Afrika het van die mees progressiewe menseregtewetgewing ter wêreld. Suid-Afrika het van die beste genderbeskermingsmeganismes in die wêreld.
Suid-Afrika is ook een van die gevaarlikste lande vir vroue om te woon. In die wêreld.
Hierdie week, wanneer die jaarlikse klug van 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders afskop, klem my maagspiere in spanning saam. Politici maak die gewone leë beloftes oor hoedat vroue ʼn prioriteit vir die regering is. Verkragters stap saam om te protesteer teen geweld teen vroue. Die minister wat die portefeulje van vroue en kinders hanteer, skrik uit haar jaar lange sluimering wakker betyds om kospakkies iewers in die platteland af te lewer. Kerke moedig hulle lede aan om een of ander onderneming te onderteken dat hulle gaan optree teen geweldenaars. Dit hang net af van watter genderkwessie op ʼn spesifieke tyd in die mode is. Besighede en nieregeringsorganisasies maak goed geld uit die verkoop van linte van elke kleur en geur. Wit. Pers. Rooi. Genderaktiviste word gevra om deel te neem aan paneelbesprekings op televisie en oor die radio.
En tussen dit alles deur word vroue verkrag en vermoor en in slote gegooi en mishandel en verbrand en geskiet en gesteek. Niks verander nie. Elke jaar word die vergrype net erger. Die plekke wat vroue as veilige spasies kan beskou, word minder. Wil jy poskantoor toe gaan? Dis nie meer veilig nie. Slaap jy in jou bed, met jou oupa in die kamer langsaan? Jy gaan nog steeds nie die nag oorleef nie. Gaan jy na die polisie toe dat hulle jou huis toe vergesel omdat jy onveilig voel, is daar geen waarborg dat húlle jou nie sal verkrag nie. In winkelsentrums, op strande, in woonbuurte, in kroeë, speelkamers by gesinsrestaurante, in toilette – daar is nie meer veilige spasies nie. In rykmanswoonbuurte en plakkerskampe, hotelle en tente, by die huis en by die werk, nêrens is vroue veilig nie.
Hoekom gaan vroue in openbare plekke in groepies toilette toe? Dis nie om gesellig te wees en te skinder weg van die manlike blik nie, dis ʼn beskermingsmeganisme. Ons leer vroeg al hoe om sleutels tussen jou vingers te hou om as wapen te gebruik. Ons leer om so na aan die ingange van winkelsentrums as moontlik te parkeer, sodat ons nie geforseer word om na afgeleë hoekies te stap nie. Geen vrou sal sommer langs ʼn paneelwa gaan parkeer nie. Ons leer om rond te kyk voordat ons uitklim. Op treine leer ons om die naaste ouer vrou uit te ken en by haar te gaan sit. Of in groepies van vroue, al ken ons mekaar nie. Die hemele behoed dat ons openbare vervoer moet gebruik. Dan kyk ons heel eerste wat die ratio van mans tot vroue alreeds in die taxi is voordat ons inklim. Ons leer om te reël dat al ons vriendinne WhatsApp om te laat weet hulle het veilig by hulle huise aangekom as ons in die aand saam uit was. Ons pas mekaar se drankies op. Ons maak seker dat nie een van ons vriendinne ongewenste aandag trek nie.
Hysbakke is nog ʼn oorlogsone. Trappe. Gange. Donker vertrekke.
Ek geniet dit om die oggendvertonings van flieks te kyk. Die teater is leeg, niemand praat hard op hul fone of vertel wat volgende gaan gebeur of enige van die irritasies wat so kenmerkend is van ʼn vol fliek nie. Is jy ongelukkig genoeg om agter ʼn reus te beland, kan jy na ʼn ander sitplek skuif.
Deesdae is dit ʼn extreme sport. Deesdae sit ek met my pepersproei in die hand en fliek.
Om vrou te wees in Suid-Afrika is om in ʼn permanente staat van gespanne gereedheid te lewe. Ons besef nie eens hoedat vrees hier genormaliseer word nie, totdat ons buite die land se grense beweeg en besef ons paraatheid is onnatuurlik. Ons stresvlakke is soortgelyk aan dié van mense wat in oorloggeteisterde lande woon. Hoe kan dit normaal wees? Hoekom aanvaar ons dit as vanselfsprekend? En hoekom trek die politici net skouers op? Hulle weet hul toesprake is net lippetaal. Maar veel erger: Soos wat ons vroeër vanjaar in Kaapstad gesien het, is hulle bereid om protes oor geslagsgebaseerde geweld met geweld te onderdruk.
Daar het die afgelope ruk twee boeke uitgekom wat probeer om hierdie vrae, en ander, aan te spreek, weliswaar vanuit Amerikaanse perspektief. Chanel Miller se Know my name, en Jodi Kantor en Megan Twohey se She said, benader die kwessie uit wyd uiteenlopende perspektiewe. Miller se teks is geskryf vanuit die perspektief van ʼn slagoffer, terwyl Kantor en Twohey as ondersoekende joernaliste skryf. Tog is daar een draadjie wat deur albei tekste loop: die besef dat sisteme opgestel is om oortreders te beskerm en slagoffers te benadeel.
Dis hier by ons ook die probleem. Verkragtingslagoffers ondervind sekondêre viktimisering as hulle besluit om die saak aan te meld. Daar word aangeneem dat sy iets verkeerd gedoen het. “Hoekom het jy gedrink?” “Watse klere het jy aangehad?” “Hoekom was jy alleen daar?”
Die besef dat verkragters die probleem is en nie slagoffers nie, het nog nie tot ons deurgedring nie. Wanneer selfs die ANC Vroueliga hul steun aan ʼn verkragter eerder as aan sy slagoffer gee, dan weet ons presies hoe ernstig die probleem geword het.
Die Verenigde Nasies se tema vir hierdie jaar se 16 dae is “Orange the world: Generation equality stands against rape”.
In stede van vroue leer hoe om nie verkrag te word nie, kom ons probeer iets nuut? Leer mans om nie te verkrag nie. En begin deur die manne in gesagsposisies tot verantwoording te roep.




Kommentaar
Leer mans om nie te verkrag nie. Daarmee stem ek absoluut saam. Dis die antwoord. Waarom is mans so magsbehep?
Geagte Bettina,
‘n Baie relevante artikel. Dankie.
Ek en my beter helfte het vanjaar ge-emigreer om nader aan al ons kinders en kleinkinders te wees. Waarom het ons kinders as hoogs professioneel opgeleide mense ge-emigreer? Omrede hulle geen toekoms vir hul kinders in Suid-Afrika sien nie.
Saans gaan ek en my vroulief bewustelik en onbewustelik rustig slaap sonder vrees en onsekerhede dat soveel as 4 nasiegenote enige tyd in die nag in ‘n motor by ons huis opdaag met messe, pangas en vuurwapens en ongenooid in ons huis inbars en ons beroof, verniel, beseer, verkrag en selfs dood nie.
Mag ek die lesers daaraan herinner dat die mens se lewe op aarde baie kortstondig is. Hoeveel van u korte lewenstyd wil u spandeer om Suid-Afrika se probleme op te los? Let op hoe kreatief is die kriminele in hul optredes. En hulle raak by die dag al hoe brawer en waaghalsiger en gieriger. Hulle ontsien niks en niemand nie.
Suid-Afrika met sy diversiteit is ‘n wonderlike land maar jy kan enige tyd ‘n mes tussen jou ribbes verwag.
Quo vadis my mede Suid-Afrikaners, quo vadis? Waarop gaan ons ons oorblywende korte lewensduur spandeer? Waar moet naasteliefde begin en eindig?
Mooi komende naweek.
16 dae van aktivisme help net mooi niks. Eers wanneer dissipline, verantwoordelikheid en respek vir goed en lewe geld sal dinge regkom. 'n Begin na herstel is lyfstraf in skole en tuis.
Volpunte!
Beste Jan
Wat 'n mens saai maai jy op die ou einde. Jare lank het die huidige regering burgerlike ongehoorsaamheid aangemoedig om die Apartheidregering tot 'n val te bring.
Ek onthou goed hoe bang van die ouer personeel in die oorgangsdae was vir die jeug van die tyd en baie kere gevra het of hul nie maar by die werk (munisipale gebou) kon slaap nie want daar was toilet en wasgeriewe.
Die rede, hul was bang vir hul kinders wat gedreig het om hul ouerhuise af te brand as hul nie betogings en vergaderings bywoon nie. Baie van hulle was so uitgeput dat hul aan die slaap tydens werksure geraak het.
Die jeug van die tyd is nou die volwasse mense van vandag. Waarom sou hul nou ewe skielik gehoorsame burgers wees en hul medemense met respek behandel?
Vergeet van lyfstraf of die uiteste die doodstraf. Alle bevolkingsgroepe het dieselfde % mense geneig tot geweld en is dus ewe veel tot misdaad geneig. Omdat die swart bevolking 80 % van die totale bevolking is,sal hul dus getalgewys meer misdadigers oplewer as kleiner bevolkingsgroepe.
Dit sal die huidige regering in 'n slegte lig plaas wanneer dit by sake soos lyfstraf kom.
Elke land verdien die regering vir wie hulle stem.