In my jeug op die platteland was daar een maal per jaar ’n konsert in die kerksaal. Daar is altyd ’n klug opgevoer, en as ek reg onthou, het die dominee, geklee in ’n kortbroek, gewoonlik ’n pak slae gekry. Die idee was om simpel te wees, om te oordramatiseer. Die streng leier van ’n Calvinistiese orde was skielik menslik. Hy was simpel. En die gepeupel het gesien dat selfs hul herder ook soms stout kon wees.
My pa het hom slap gelag by sulke aande.
Ek moes terugdink aan my jeug vanaand. Koebaai ou Koba is ’n klug, en hierdie ensemble het alles uitgehaal om ’n klug daarvan te maak.

Iets meer oor Koebaai ou Koba
Die stuk se volle titel is Koebaai ou Koba, en ander kaskenades deur Tehuis De Oude Akkers.
Daar in die ouetehuis is die manne skunnig en die vroue jaloers.
Ons hoor dat die mooi jong joga-instrukteur die ooms moet slap hou, maar hulle beweer sy maak hulle styf.

Ons hoor dat die nuwe jong verpleër, Francis, aangestel is omdat die vorige verpleegster ’n komplikasie opgedoen het ná sy met ’n kondoom gespeel het.

Francis, terloops, is baie jonk en onbeholpe. Hy het geen beheer oor die ooms en tannies nie.

En dan kom die joga-instrukteur ingestap. Die ooms is dadelik bly. Natuurlik kom die pastoor toe ingestap en hy bewonder die joga-instrukteur. Francis, die jong verpleër, bewonder weer die pastoor.
Wie is Koba dan?
Koba is oorlede. Dié keer waarskynlik regtig. (Daar is sprake dat sy tevore al dood was, maar teruggekom het.)

Die oumense moet nou gaan regmaak vir haar verassingsdiens.
Francis, die bang verpleër, word ’n hengse klomp Prozac in die sak gedruk, wat lukraak uitgegee word, en hy kry ’n enorme inspuiting met adrenalien in. Die idee is dat hy vir die omie wat die toespraak moet hou, die inspuiting moet gee om hom wakker genoeg te hou.
Dan kom die oproep: Tant Koba lê langs die pad, want die ambulans het gebreek. Die bussie vol oumense moet asseblief sommer die lyk gaan optel en saamneem na die diens toe.

(Weet jy al wat gaan gebeur? Jy’s reg.)
’n Stuk met ’n pedigree
Nico Luwes was lank ’n hoogleraar in drama aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy het veral belanggestel in die klug, want Afrikaanse mense hou van ’n klug.
Luwes het onder Hennie van Coller gepromoveer, maar het ’n tweede PhD onder Henning Pieterse gedoen oor – jy het reg geraai – die klug.
Koebaai ou Koba het Luwes saam met Elandi Theron geskryf.
Theron self het dit in 2023 al baie suksesvol opgevoer tydens ATKV-Tienertoneel met ’n groep leerders van Hoërskool Kalahari.
Koebaai ou Koba in die Impetus Teater
Hierdie speelvak is van 20 tot 22 November.
Die regie word behartig deur Frans van der Merwe, Ruth Schlemmer en Johanna Swart.
Die ensemble sien soos volg daar uit:
- Oom Gerhard (Sammajoor) gespeel deur Francois Anker
- Oom Bertus gespeel deur Gawie Stols
- Oom Timotius (Tommie) gespeel deur Johan Beyers
- Magda (Bertus se vrou) gespeel deur Sanmarie Vermaak
- Alena (Tommie se vrou) gespeel deur Elsabe Pretorius
- Vinessa (Matrone) gespeel deur Crizaan Jacobs
- Francis (die jong verpleër) gespeel deur Zane Brown
- Lettie, die joga-instruktrise, gespeel deur Monya Ackerman
- Pastoor Poggenpoel gespeel Stefan Butcher
- Koba gespeel deur Johanna Swart
- Byklanke is gespeel deur Jovanne Pelster

Tot slot
Luwes is reg: ’n Klug in ’n kerksaal kan lekker wees.
Ek het by tye al werklik goeie amateurteater in die Baai gesien.

Vanaand was egter ’n herlewing van my jeug in die platteland.
My pa sou hom slap gelag het.
Ek het al die pad huis toe sit en giggel.
- Fotografie: Izak de Vries

