"My nooi is in ’n nartjie": ’n onderhoud met Lara Kirsten oor die ClemenGold-projek

  • 0

Lara Kirsten (foto: Kerran Ducasse)

Lara Kirsten praat met Naomi Meyer oor ’n kreatiewe kunstenaarsprojek gedurende die inperkingstyd.

In die inperkingstyd die afgelope paar maande, moes kunstenaars kreatief dink om enige werk te kon genereer. Waarmee was jy besig?

Ek is ’n klassieke pianis en maak hoofsaaklik staat op konserttoere om ’n inkomste te verdien. Toe lockdown-maatreëls in Maart in werking tree, moes ek begin planne beraam hoe om geld te genereer. Al my vertonings sedert einde Maart was op ys geplaas. My eerste musiekprojek wat ek aangepak het, was ’n Facebook-videoprojek. Ek het agt verskillende stukke op agt verskillende klaviere in my omgewing opgeneem (onder andere die Steinway-klavier in die Moederkerk in Hermanus en die wonderlike Yamaha in die Bouchard Finlayson-wynkelder in die Hemel-en-Aardevallei). Ek het die Busqr online-betalingsplatform gebruik waarop mense donasies kon inbetaal. Die inkomste het my baie uitgehelp vir die vroeë maande in lockdown.

Ek is genader deur die SASMT (South African Society of Music Teachers) om die Pietermaritzburg-tak van hulle eisteddfod te beoordeel. Ek het 80 video’s van die graad 4 tot 8-klaviergrade beoordeel en gedetaileerde rapporte vir elke kandidaat geskryf.

Die impresario van die Kindlewood soirées, Jean-Frederik, het my betrek om deel van hulle eerste livestreaming-konsert te wees. Ander musikante wat ook die aand uit hul eie studio’s opgetree het, was Emile Minnie, Yusuf Justin Holcroft, Chris Mostert, Linette van der Merwe, Paul Ferreira en Ferdi Geyer.

Ek is ook genader deur die sopraan, Emma Farquharson, om deel te wees van die 20/20 Entertainment in Containment-projek (die sopraan, Magdalene Minnaar/Biblioteek Produksies bestuur die projek waar 20 verskillende 20 minuut-produksies op video deur Quicket gekyk kan word). Emma se video getiteld Hear her now het daarop gefokus om vroue-komponiste te werf. In een van die stukke begelei ek haar op klavier en een van my gedigte is ook opgeneem. Die projek duur tot November.

Van Julie af het ek my klavierstudente se lesse hervat.

Die laaste twee maande het ek ’n nuwe klavierprogram vir nog ’n vídeo-projek en opkomende konserte aangeleer. Noudat die deure oper is, begin ek om klein huiskonserte vir Gauteng en die Kaap te reël.

Natuurlik gaan lockdown nie net oor werk en geld verdien nie! As afleiding het ek vroeg in lockdown myself kitaar leer speel. Die kitaar lê al ’n dekade en niksdoen in my kas. Ek het ook uiteindelik die tyd gekry om James Joyce se Ulysses te lees – ’n perfekte boek vir lockdown! Vir vermaak was my hoogtepunte om die gratis livestream-operas op die Metropolitan Opera se webtuiste te kyk, asook ’n paar van die pianis, Christopher Duigan, se weeklikse livestream-konserte.

Ek het omtrent al komediant Schalk Bezuidenhout se lockdown-vídeo’s gekyk. Omdat ek op my eie in ’n woonstel woon, was my lockdown besonders onsosiaal en moes ek gereeld dinge kry wat my kon laat lag!

Op ’n baie prettige noot – ek het in Julie die voorblad van Die Burger gehaal – ek het poedelkaal een van die mooiste paaie in ons land, Clarence Drive tussen Rooi-Els en Gordonsbaai, op my fiets getrap. 

Vroeg in lockdown het Abraham van Rooyen my genader om die ClemenGold-skryfprojek te stuur. Meer hieroor in die volgende antwoord.

Foto verskaf

Vertel asseblief vir ons lesers van die ClemenGold-projek: waar het die idee vandaan gekom, wat het dit behels en wat het uiteindelik gebeur?

Abraham van Rooyen het my in April gekontak en gevra dat ek ’n paar gedigte oor die nartjie moet skryf. Ek het hom aanvanklik by die McGregor Poetry Festival in 2018 ontmoet – sy maatskappy, ClemenGold, het in 2018 en 2019 ’n deel van die fees geborg.

Nadat hy my gedigte ontvang het, het hy met groot opwinding van sy idee vertel – ek moet ’n hele paar skrywers in Suid-Afrika nader om oor die nartjie te skryf. Die projek het groter uitgedraai as verwag – ons het 78 stukke ontvang van 46 skrywers. 33 van die beste stukke is gekies deur ’n paneel van sewe beoordelaars ─ drie beoordelaars van ClemenGold, ek, Luna Paige, Elias P Nel en Theo Kemp. Ons het die hele proses per e-pos behartig. Elke tekswerk het R1 500 ontvang, plus R500 vir ’n stemopname. ClemenGold het ’n totaal van R65 500 aan prysgeld toegeken. Wat ’n wonderlike manier om ons land se kreatiewe skrywers te motiveer en te ondersteun!

Die wenstukke gaan op die ClemenGold-webtuiste geplaas word. Die stemopnames is reeds op Soundcloud geplaas. Noudat deure weer oop is, kan daar verdere vertakkings van die projek gebeur – moontlik voorlesings deur die onderskeie skrywers. Abraham wil ook graag ’n paar liedjieskrywers nader om van die gedigte te toonset.

Dit was so verblydend om by die projek betrokke te wees. Ek het nog nooit tevore so ’n rol beklee nie – ek het baie in die proses geleer. Ek is ook vergoed deur ClemenGold vir die paar maande wat ek die projek bestuur het. Die ondersteuning en samewerking van Abraham, Luna Paige en die ClemenGold-span was voorwaar ’n groot lig in my lockdown.

Foto verskaf

Die kombinasie van sitrus en woord is in Afrikaans bekendgemaak deur ’n gedig soos "my nooi is in ’n nartjie". Is daar enige wengedigte wat julle met LitNet mag deel?

Hier is een Afrikaanse gedig en twee in Engels.

Melanie Carstens

In die boord

’n Suidoostewind suis
Deur die jongman se kop
Die dou verdamp stadig
Soos hy na haar kyk deur die nartjies
Haar arms soepel, lenige takke
Wat na die son oprank
En vrug dra
Versigtig, een vir een,
Na die mandjie aan haar buik
Hy soek in haar perfek-ronde gesig
Die verborge saad van belofte
Hy ruik haar bloeisels, die sitrusson
Vars in die vroegoggend
Hy kyk na haar deur die blare
Hulle ritsel
Sy kyk op, sien hom deur die nartjies
In die oggendgloed-oranje
Hy kyk af, bloos
Sy mandjie is net halfvol
Hy pluk verwoed
Eendag, eendag weet hy
Sal hy die pad na haar hart oopskil

 

Ashley Dowds

Appassion-naartjie

The name itself
Proceeds it,
Forthright in its terroir
No citrus bowers proclaim THIS citizen
At Versailles:
It shrugs off the rhyme
Of an Orangerie!

Rather, it finds kinship
In cardamom, clove and
piesang;
In its allegiance with
East Indian Tradewinds
Or the call to prayer
As sky lightens over Bo-Kaap

It precludes
The brazen sting of the orange
On the tongue;
Shuns even the bladed
Cross-cut: an unnecessary obligation
In its sacrament of communion.

It ushers its own Ubuntu
In the willingness
Of flesh: those sacks of gold
And liquid ore,
Chucked nonchalantly into
side-pockets and onto snoek-skiffs
Or rucksacked up
Devil’s Peak
With biltong and rusks,
Or even spiked sacrilegiously with vodka
As contraband
On rugby stands.

It is ordinary as a donkey cart
On a Karoo pass at sunset;
As spellbound as the Ceres rockscape
In its sacrament of light and reassurance
That lingers,
And as present
As the young boy at the back of the cart
Watching his fingers puncture
The compliant rind,
Shedding petals of colour
On the dusty pass
Like clues to a mythic Past
- the memory
Of watermeide,
Those seductive
Sirens of the Swartland.

 

Glenn William Read

The Naartjie

The mandarin is an ancient fruit
From which we bred all citrus loot -
Any lemon, lime or pomelo
Can rightly call it daddy-o.
But oddly-paired with this fruit’s name
China’s northern tongue’s the same,
So here in our great Southern land
We chose to give this fruit a hand
The homegrown name on its ID-kaartjie
Is none other than the famous naartjie.

Kan mense na enige van die inskrywings of wenners gaan luister?

Die teks gaan op ClemenGold se webtuiste geplaas word. Die stemopnames is al op Soundcloud.

Hier is die skakel na SoundCloud.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top