My lang pad tot by die 16de Nelson Mandela-lesing

  • 2

Réney Warrington langs Nelson Mandela (foto: Hannelie Coetzee)

Dit begin in 2001. Ons is pas terug vanuit Europa waar ons tamaties gepluk het in die hartjie van Engeland en toe fietsgery het tot in Edinburgh. Ons is platsak. Ek tel geld by die bank en my wederhelf, ’n professionele fotograaf, werk by ’n fotobiblioteek. Dit is daar waar sy die oproep ontvang: die staatshoof van ’n Afrika-land is op soek na ’n fotograaf. Sy wys hulle weg. Sy werk mos 9 tot 5.

Daardie aand vertel ek haar die waarheid. Dit is Mandela! Vat ’n dag se verlof. So stem sy in om die geleentheid, die handskud, te gaan afneem. Ek is wel onrustig oor die op-die-nippertjie-reëlings, oor die feit dat sy nie in haar eie kar mag gaan nie, ens, ens. Ek besluit ek gaan waaragtig saam. Ek doen myself voor as fotografiese assistent.

Ons trek weg die volgende oggend en ontmoet (kom ons noem hom) El Presidente by sy swierige hotel in Sandton. Hannelie wys na ons vuil Mazda 323 en hulle stem dikbek in: sy kan in haar eie motor tot in Houghton ry. Daar aangekom, raak ek rustig toe ons voor Madiba se huis stop. El Presidente se reëlings was maar gat-oor-kop.

Ek sou gelukkig gewees het om bloot voor Madiba se huis te wag. Nie vir ’n oomblik het ek gedink ek sou in elk geval ingelaat word sonder ’n ID en die skandering van my retina nie.

Die wagte, almal toevallig Afrikaans, sê egter stap maar deur. Ek gryp ’n lens om darem te lyk soos ’n fotografiese assistent. (Ek sou eers jare later leer wat om met ’n lens te maak.)

Ons wag in die voortuin, terwyl El Presidente praatjies in die voorkamer maak. Hannelie word ingelig sy sal om en by vyf minute hê. Madiba en geselskap sal op die stoep uitstap, maar nie in die son staan nie. Sy mag ook nie ’n flits gebruik nie. Sy oë is te sensitief.

Ek en El Presidente se chauffeur staan opgewonde eenkant en geselsies maak. Dit is vir ons genoeg om hom van ’n afstand te sien. Inderwaarheid kan ons nie ons geluk glo nie.

’n Halfuur later stap Madiba en El Presidente uit op die stoep. Die twee skud blad en glimlag vir die kamera. Hannelie brand deur twee rolle film. Ja, film – dit was voor digitaal bekostigbaar geword het.

Madiba draai dan om, kyk na my en die chauffeur en vra: “Don’t you want to shake hands?”

Ek onthou nie hoe ek die vyftig meter se grasperk aangevat het nie. Ek onthou nie dat ek die trappe bestyg het nie. (Ek onthou ook glad nie El Presidente wat sy hande op hou om my en die chauffeur te keer nie.) Ek onthou slegs die woorde “Don’t you want to shake hands?” en dan my hand in Madiba se sagte hand.

Ek het nie daardie dag die woorde gehad (en het dit vandag steeds nie) om sy teenwoordigheid te beskryf nie. Ek dink ek het maar iets gemompel soos “It is an honour to meet you.”

Toe Madiba die chauffeur se hand skud, skakel my brein weer aan en onthou ek daar is ’n fotograaf agter my. Ek draai derhalwe om met die belaglikste glimlag op my bakkies en hoop die fotograaf vang die oomblik vas.

Ons beweeg nou 17 jaar aan, na Maart 2018. Baie water het in die seë geloop. Ek het selfs geleer wat om met ’n lens te doen. Ek publiseer ’n roman, hou twee solo-uitstallings en begin kurator speel by ’n Johannesburgse galery. (Hannelie het intussen heeltemal met fotografie opgehou en begin tienverdiepingmosaïeke bou.) Een van my eerste vergaderings as kurator is dan met die Nelson Mandela-stigting. Daar is sprake van ’n uitstalling wat hul stempel sal dra. Ek vra om hul argief te sien.

Op ’n weekmiddag neem ek ewe niksvermoedend my posisie in langs Lucia, een van die stigting se argivarisse. Sy is ’n skraal, kwaai Hollandse tannie met ’n ondeundheid in haar oë. Sy wys vir my hul versameling foto’s. My moed sak. Die enigste foto’s waarvan hulle die kopiereg besit, is ontmoet-en-groet-foto’s in Madiba se kantoor onder fluoresseerligte geneem. Ek het niks teen onse Charlize of die Spice Girls nie, maar ek wil hulle ook nie uitstal nie.

Per ongeluk wys Lucia vir my ’n ander lêer. Ek snak na my asem. Swart-wit foto’s van ’n jong, vriendelike man wat boks, wat met Winnie trou, wat voor die hof staan, wat Londen en Algerië en Etiopië in een jaar besoek. Die man voor hy tronk toe is, voor 27 jaar van sy beste jare gesteel is.

Dít is wat ek wil uitstal, sê ek vir Lucia. Sy skud haar kop alwetend. Die verskillende argiewe wat die foto’s besit gaan my nie toestemming gee nie. Sy sien egter daar is nie keer aan my opgewondenheid nie. Sy stel voor dat ek mooi vra, en bied aan om al die internasionale kontakte in haar arsenaal te nader en ook mooi te vra.

Sy wys vir my ’n lêer wat aan die Hollandse Nasionale Argief behoort en vra: “Which one do you want?”

My antwoord: “All of it!”

Lucia se verweer: “You’re greedy!”

My antwoord: “I am okay with that.”

Lang storie kort: tussen my en Lucia organiseer ons wonder bo wonder toestemming en stel ek ’n uitstalling saam wat in Julie 2018 in Rosebank oopmaak. Lees hier wat die kunsskrywer Robyn Sassen daarvan dink.

In die dae voor die opening, toe ek die foto’s druk en uitpak en in die galery plaas, besef ek skielik waarop ek die uitstalling gebaseer het: op daardie 2001-ontmoeting. Op die menslikheid en grasie wat Madiba daardie dag, en op soveel ander dae, uitgeleef het. Ek staan weer eens sprakeloos voor die man.

Foto: Réney Warrington

Dit bring ons by Julie 2018, en ten einde laaste by die 16de Mandela-lesing. Ek kry die uitnodiging via e-pos. Ek is nie dadelik opgewonde nie. Dit voel so half soos werk. Die stigting nooi my bloot oor ons saamgewerk het, nie oor my goeie dade, glansryke filmloopbaan of vet beursie nie.

Tog besluit ek om te gaan – dit beloof om ’n interessante geleentheid te wees. Ek RSVP vir myself en ’n +1, daardie einste fotograaf van 2001 wat nou mosaïeke maak. Dae later deel ’n e-pos my mee dat sy inderdaad goedgekeur is. Hulle het duidelik met haar ID-nommer die volgende gevind: geen kriminele rekord, vyandige politiese opinies of SARS-probleme nie.

Ons haal ’n Uber vroegerig die oggend. Ek wil nie met die ander 15 000 mense meeding vir ’n plastiekstoeltjie in die son nie. Met ’n buitensporig duur rooibosteetjie in die hand bestudeer ek die skare om my.

Aan die een kant het jy jou duur rokke, hoë hakke en suedepakke. Die mense wat gesien wil word, daar en op Facebook. Die man wat onredelik hard op sy selfoon praat, maar steeds toegang tot die VIP-tou geweier word. Mense wat poseer, mense wat hulself afneem, mense wat heen en weer op hoë hakke marsjeer vir ’n tweede boerie terwyl Barack al praat.

Aan die ander kant het jy die meisie in tekkies en denims wat eers ’n kombers by ’n buurman bedel en dit dan met die gogo langs haar deel. Die seun wat beskermend om sy bejaarde ma kloek. Vreemdelinge wat spontaan vir mekaar glimlag en dan uit volle bors “Nkosi sikelel' iAfrika” saamsing in Xhosa, Engels, en ja, Afrikaans. Daar heers ’n opgewondenheid in die lug.

Die luidsprekers skakel aan en die groep sprekers verskyn op die verhoog. Een vir een bring hul hulde aan Madiba en verwelkom hulle Barack.

Die ironie, die teenstelling tussen hul woorde en hul dade, ontgaan my nie. Patrice, een van die rykste mense in ons land, praat oor armoede en ongelykheid. Barack preek vrede en liefde terwyl sy administrasie 26 171 bomme in net 2016 alleen laat val het. Sommige mense meen ook sy grootste nalatenskap is Trump. As hy nie die gewone mens so afgeskeep het nie, was hulle dalk nie so vatbaar vir Trump en sy propaganda nie. Maar dan is daar Obamacare en sy ondersteuning vir die LGBT-gemeenskap …

Dit bring ons by Cyril. Hy het nog nie veel gedoen nie, maar word verwelkom met ’n staande ovasie en bewondering wat aan aanbidding grens. Het ons nog nie geleer nie? Of is ons net so verlig dat Zuma uit is? Zuma. Hoe anders sou die dag nie daar uitgesien het as hy daar was nie.

Mandela self was nie foutloos nie. Hy het mos gereeld gesê “I am not a saint.”

Ek besluit net daar ek gooi nie die baba saam met die badwater uit nie en maak my reg vir Barry se toespraak. Hy het al dinge ervaar, besluite geneem en risiko’s gevat waarby ek net kan leer. Hy is boonop ’n uitsonderlike orator. Hy is snaaks en innemend. Sy toesprake is toeganklik en hy spot lekker met homself.

(Ek gaan nie die hele toespraak ontleed nie. Lees dit hier of luister daarna hier, maar hou ’n oop kop en jy leer dalk net iets.)

Barack Obama se toespraak was nie lewensveranderend nie, maar wel ’n beaming van sekere universele beginsels waarvan ons al vergeet het.

Sy boodskap was ontstellend. Hy het gewaarsku teen internetboelies, “strong-man politics”, fopnuus, die terugkeer van fascisme en diskriminasie gebaseer op velkleur deur wit of swart.

Barack se boodskap was ook, en meer belangrik, ’n boodskap van hoop. Hy het ons herinner aan Madiba se menslikheid en grasie, sy integriteit en sy geloof in ’n reënboogland waar almal welkom is. Hy het voorgestel dat ons terugkeer na Madiba se beginsels en dit elke dag toepas. Ek stem saam.

Foto: Hannelie Coetzee

“For to be free is not merely to cast off one’s chains, but to live in a way that respects and enhances the freedom of others” – Long Walk to Freedom.

Personal reflections on the 16th Nelson Mandela Lecture, delivered by Barack Obama

  • 2

Kommentaar

  • Wat 'n pragtige skrywe. Ek het ook die voorreg gehad omn sy hand te skud, daarom verstaan ek.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top