My hel in Dubai (en oor ander skrywers se stories)

  • 2

Titel: My hel in Dubai
Skrywer: Ilse Salzwedel
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799351989

 

Koop My hel in Dubai by Kalahari.com.

 

 

 

Skrywers se stories kom oor Ilse Salzwedel se pad; sy bied Skrywers en boeke op RSG aan. Maar 'n doodgewone vrou se storie in buitengewone omstandighede het haar ook kom uitsoek. Hier vertel sy vir Naomi Meyer van Selna Visser se ware lewensdrama wat sy neergeskryf het: My hel in Dubai.

Hallo Ilse, dankie vir jou tyd. Vertel asseblief vir ons lesers hoe die storie van My hel in Dubai jou pad gekruis het?

Selna het my een wintersmiddag omtrent drie maande na haar vrylating gebel. Sy het my nommer by iemand gekry (ek het nie die persoon geken wat haar na my verwys het nie, maar die persoon het gereken ek sal die regte een wees om die boek te skryf). Selna was (heeltemal te verstane na haar ervaring) taamlik wantrouig oor my betroubaarheid en vermoëns, en ek het haar toe eers na Eileen en Roelien, die twee Bloedsusters, verwys, sodat sy kon hoor of hulle tevrede was met my werk. Daarna het sy vir my fotostate van haar reisjoernaal gestuur, en kort daarna het ons vir die eerste keer ontmoet.  

Watter aspekte van Selna Visser se verhaal het jou die meeste geraak?  

Haar alleenstryd teen die borskanker. Dit was ’n wrede ironie dat sy met kanker gediagnoseer is juis drie weke voordat sy Kaap toe moes trek, en toe alleen deur twee jaar se chemo en behandeling moes sukkel. En ‘n nog wreder ironie dat die vakansie wat haar sabbatsjaar na al die moeilikhede moes wees, toe eindig met aanhouding in Dubai.

Watter hel, dink jy, was die ergste: die hel na die liggaam, of die hel van die tronk waar sy haar bevind het?

’n Mens se liggaam kan by baie dinge aanpas, as jou gees dit net eers kan aanvaar. Haar aanhouding was vir haar verskriklik: die vernedering, die inperking, die feit dat sy, wat so onafhanklik is, moes toestemming vra vir alles, selfs iets so basies soos om haar eie teen-kanker-medikasie te mag gebruik.

Kan mense dalk nou afgeskrik wees van reisbestemmings soos Dubai as hulle die boek lees? Of watter ander perspektief gee die boek lesers op ander lande en kulture?

Ek hoop die boek laat mense besef dat dit baie belangrik is om die moets en moenies van ander kulture te leer voordat hulle vreemde bestemmings stormloop. Jy kan, soos Selna, onwetend iets doen wat vir jou heel normaal is, maar wat die res van jou lewe kan verander. Die idee was nie om mense af te skrik van Dubai nie, maar om hulle te laat besef dat jy soos die spreekwoordelike Romeine moet maak as jy in Rome is, selfs in hierdie moderne tye. Hopelik kan die boek help keer dat so iets weer met ’n onskuldige persoon gebeur.

My hel in Dubai is maar net één van jou waarnemings van ander mense se stories. Deesdae bied jy die program Skrywers en boeke aan. Watter stories agter skrywers was die afgelope tyd vir jou interessante ontdekkings?

Ek is nog maar nuut in die aanbiederstoel, en het tot dusver elke onderhoud geniet. Eben Venter se reguitpraat oor Wolf, wolf was verfrissend, en dit was lekker om te sien hoe Carié Maas, ’n introvert, agter die mikrofoon ontspan toe sy eers oor haar groot passie begin praat.

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.
 

  • 2

Kommentaar

  • Dit boesem nie veel vertroue in as die skrywer nie eens die plek se naam in Afrikaans kan spel nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top