
...
Die aand uit is strate goedkoper as ’n terapiesessie en werklik vermaaklik, en boonop ondersteun jy plaaslike kunstenaars.
...
My fellow South Africans is ’n satiriese blik op kontemporêre Suid-Afrika uit die pen van die gevierde dramaturg Mike van Graan (Pay back the curry, Green man Ffashing, When swallows cry). Dié multiskets-vertoning met die veelsydige en briljante Kim Blanché Adonis solo op die verhoog het op 4 Mei in die Kunstekaap in Kaapstad geopen en ná die huidige speelvak tot 20 Mei sal dit hopelik wyd aangebied word tot volgende jaar se maak-of-breek-verkiesing.
Die energieke, vrolike revue van net langer as ’n uur kombineer komedie, sang, poësie en drama soomloos en bestaan uit ouer, opgedateerde en splinternuwe sketse wat die gehoor laat skater, ja, en effe rondkriewel van verleentheid by tye, maar dis ook ’n wekroep tot selfrefleksie, om verdomp betrokke te raak en ons lot aan die horings te gryp hier aan die stapelgek suidpunt van Afrika.
Die stuk volg in die voetspore van die bekroonde Pay back the curry, State fracture en Land acts en is ’n uitbundige, satiriese katarsis vir ons veelvuldige krisisse, met selfspot en humor as salf en versterkmiddel teen die donker. Die titel My fellow South Africans is natuurlik ontleen aan oom Cereal se aanhef tot sy “huisvergaderings” van die pandemietye en werk perfek om die gehoor dadelik te betrek en soos een groot familie te laat voel.
Adonis verwelkom ons aanvanklik op ’n SAL-vlug na rommelstatus waar die ANC die besigheidsklas gekaap het en vandaar is dit ’n wipwarit deur die nasie se eiesoortige karakters en beproewings. Ten minste is Tafelberg se kabelkarretjie nog nie geskaak nie – maar die kabel kan natuurlik enige oomblik gesteel word! Van die hoogtepunte is ’n gesprek tussen stereotipiese “Fallist”-studente, ’n repetisie vir Romeo and Juliet wat die rassisme tussen swart en bruin op die Kaapse Vlakte skreeusnaaks en diep polities-inkorrek ontbloot, en ’n uitbeelding van ’n eg Suid-Afrikaanse hoender, gekekkel en vlerkgeklap en al, wat jou sal laat lê van die lag. Daar is meer kwinkslae per minuut as in top-skerpskertsvertonings, en Adonis se vertolking van wyd uiteenlopende karakters en veral aksente is in een woord fantasties.
In stede van enige inkleding is die enigste visuele element twee skerms weerskante van die verhoog waarop roterende spotprente van Zapiro die sketse komplementeer en die gehoor laat grinnik. Dis ’n slim toevoeging en herinnering aan watter skades en skandes ons al als oorleef het, dikwels danksy kunstenaars soos hy se vermoë om ons frustrasies oor leiers se gruwels en flaters met galgehumor te kristalliseer.
Daar’s regtig min indien enigiets om te kritiseer, miskien kan die regisseur net ’n plan beraam om Kim se sangstem, nie haar sterkste bate nie, beter te ondersteun met ’n minder blikkerige klankbaan, dalk selfs ’n virtuele koor van agtergrondstemme of ten minste iets meer akoesties. En hoewel die keuse van Leonard Cohen se “Hallelujah” en “Imagine” van John Lennon met nuwe satiriese Mzansi-lirieke op papier dalk sin maak, is albei te stadig en trekkerig en verg veral die slot ’n meer opruiende en inspirerende, vrolike lied. Kies liewer iets plaasliks, ’n deuntjie uit byvoorbeeld die Kramer en Petersen-musiekskat sal die gehoor met meer van ’n lied in die hart laat ná al die lekker lag.
Die aand uit is strate goedkoper as ’n terapiesessie en werklik vermaaklik, en boonop ondersteun jy plaaslike kunstenaars.
Die stuk is doelbewus so aangepas dat dit benewens in formele teaters, enige plek elders en selfs in ’n woonhuis aangebied kan word, onder meer omdat daar volgens Van Graan, wat ook die regie behartig, eenvoudig nie genoeg teater-beskikbaarheid is nie, dit die stuk ’n langer lewe gee, teater na nuwe gehore neem en lekker gesprekke oor die temas daarin ná die tyd moontlik maak.
My fellow South Africans duur 65 minute en word nog tot Saterdag 20 Mei 2023 in die Kunstekaap se Innovation Lounge aangebied (direk bo die ou restaurant en langs die Opera Bar).
Kaartjies (niemand onder 16) kos tussen R89,50 en R145 by Computicket: https://tickets.computicket.com/event/my_fellow_south_africans/7216855

Foto van Kim Blanché Adonis deur Bronwyn Lloyd.
MVG Productions is van plan om My fellow South Africans op ’n landwye toer te neem in die aanloop tot die 2024-verkiesing om by te dra tot die broodnodige demokratiese diskoers. Hulle hoop die satiriese spieëlbeeld wat hierdie teaterstuk bied, kan ’n katalisator word vir debat, besinning en verandering.
Dieselfde span het ook ’n kort produksie van 45 minute in ’n soortgelyke multiskets-styl oor die tema van geslagsgebaseerde geweld ontwikkel, getiteld He had it coming. Die plan is om dit na skole en gemeenskappe te neem om gesprekke oor dié tema aan te moedig. Hulle hoop die komiese My fellow South Africans kan geld genereer om ’n toer van die meer opvoedkundige He had it coming te subsidieer. Hoe meer mense dus na Kim se vlymskerp manewales kyk, hoe groter die potensiële reikwydte van die ernstiger aanbieding.
Enigiemand is welkom om dié twee produksies of van Mike se ander maklik-opvoerbare teater-in-’n-gatsak-stukke te nooi vir ’n opvoering, maak nie saak waar nie, ook vir huiskonserte. Kontak hom by 0829003349 of art27m@iafrica.com; meer inligting by .

