My brilliant divorce: ’n teaterresensie

  • 0

Dié vertoning laat jou uitasem, soms van die hartseer, soms van skaterlag.

Wat is beter as ’n komedie met Alan Committie op die verhoog, wonder jy?

Die antwoord: Alan Committie in die regisseurstoel met Kate Normington op die verhoog. Dis wat My brilliant divorce jou bied.

Die kort programbeskrywing verklap nie veel nie:

Die bekroonde dramaturg Geraldine Aron lewer van 31 Oktober tot 16 November haar nou verfrisde en bygewerkte internasionale komedietreffer, My brilliant divorce, by Theatre on the Bay.

Hierdie briljante eenvroutoneelstuk, met die ongelooflike Kate Normington in die hoofrol, is ’n tour-de-force-vertoning wat die tragies-komiese wêreld van die pasgeskeide verken. Dit volg ’n vrou se driejarige pad deur ’n hangende egskeiding, ná ongeveer 20 jaar van ’n huwelik en ’n dogter.

Daar is verskeie karakters en word almal deur Normington vertolk.

Hierdie toneelteks, wat deur Alan Committie geregisseer is, is beide snaaks en tragies en sal aanklank vind by enigiemand wat deur ’n verbrokkelde verhouding geleef het.

Moenie die skrynende humor, ligsinnigheid, self-ontleding en al die drama mis nie.

Op die oog af lyk Angela – wat aanvanklik die gehoor probeer oortuig dat sy in haar veertigs is, maar dalk eerder neig na haar vyftigs – heel in haar skik toe haar eggenoot van meer as twee dekades verklaar hy het iemand anders ontmoet.

So tussen die huishulpe en sy nuwe blyplek, en hul dogter, Vanessa, moet sy egter uitvind dat hy en sy Meksikaanse skelmpie, “Mona the Poser”, al geruime tyd in Meksiko vry en hy al baie lank vir Angela lieg. Geeneen van sy oorsese reise was waar nie.

Angela, wat hom “Roundhead” gedoop het, is verlig dat hy geloop het. “Daar was al meer dingetjies aan hom wat my begin irriteer het.” Maar soos die besef insink, begin die twyfel, die hartseer en verwyt.

Dis nie lank nie voor sy besef sy gaan koop vrugte en groente by die markie net om ’n sagte woordjie te hoor, al is dit net van die stalletjie-eienaars wat haar troetelnaampies gee.

Sy bel gereeld die selfdoodhulplyn en drink selfs een aand ’n klomp pille. Die depressie en eensaamheid kluister haar later aan haar sitkamerbank, met net Vanessa se hond, Axal, as geselskap.

Soos die maande aanstap, begin die selfondersoek. Miskien moes sy harder probeer het om haar man terug te wen. Maar dan is daar haar man se nuwe skelmpies wat die vorige een vervang en die geld droog op en haar twyfel word woede.

Sy glo gereeld sy ly aan een ongeneeslike siekte na die ander en haar arme huisdokter moet dan paai en verduidelik sy het maar net ipekonders en boonop diagnoseer sy, as leek, mediese toestande – nie net by haarself nie, maar ook by ander. Hy doop haar “LAMB” – “layman with access to medical books”.

Sy laat die gehoor skaterlag toe sy sê geskeide vroue hou ook van saans uitgaan – “jy weet, in die donker, soos ander grootmense”, maar “ongelukkig het my man toesig oor al ons getroude vriende gekry met die egskeiding”.

Weer skaterlag ons toe sy uiteindelik by ’n sekswinkel beland om op aanbeveling van haar ginekoloog ’n vibrator te gaan koop. ’n Paar mislukte pogings om iemand te ontmoet volg.

Dis drie jaar wat sy alleen Kersfees en verjaardae vier, amper weer van voor af begin met haar eks en selfs ’n gastehuis vanuit haar huis bedryf om te verhoed dat sy die dak oor haar kop verloor.

Sy leer ook dat hartseer ’n ding is. Jou hart “kan só pyn dat dit soos ’n yskoue klip in jou bors lê”.

’n Paar insidente laat haar uiteindelik besef haar “siel was in hibernasie tydens die Roundhead-jare”.

Maar, hoe dit ook al sy, die nagevolge van egskeiding is nie net ’n laerklasleefstyl omdat die fondse verdeel moet word nie, dis ’n lang pad na ’n soort van nuwe begin. Maar ook dat jy – selfs op 59 soos sy uitvind – beslis weer kan begin, dié keer met die regte man.

Kate Normington het die staande applous en verskeie roepe van “Encore!” dubbel en dwars verdien: Sy skitter. Sy wórd Angela en sy laat jou saam twyfel aan haar aandeel in die verbrokkeling; saam kwaadwees vir haar eks; saamlag oor die guitighede wat sy kwytraak, omdat dit só bekend is in jou eie lewe.

Loer hier vir ’n voorsmakie: https://youtu.be/Od6oVYju29k.

My brilliant divorce
Met: Kate Normington
Deur: Geraldine Aron
Regisseur: Alan Committie
Van 31 Oktober tot 16 November by Theatre on the Bay, Kampsbaai.
Kaartjies deur Webtickets of by die teater se kaartjiekantoor by (021) 438-3301.

  • Foto’s: Keaton Ditchfield
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top