Marlene, ’n Nasheed- (Arabiese term vi Islamic musiek) skool competition het nou net plaasgevind byrie Artscape met Fusion Inyameko Foundation in collaboration met Hilal TV. Historically hettie Malay Choir Heritage Cup Competition oek byrie Artscape plaasgevind, ’n event wat Halaal food business owners involve. Jy is oek, Marlene, ’n regular guest op Radio 786 (100.4 fm) se Barakat-program met Fatima Allie. Hoekô issit waajib (belangrik) dattie Artscape hulle relationship mettie Cape Muslim community maintain?
Dit is belangrik vir Artscape om enige verhouding met al ons gemeenskappe en kulturele groepe te handhaaf. Vir my is dit ’n maklike vergelyking: Die Muslim gemeenskap is teatergangers en baie van hulle is teatermakers. Dan is daar ook ons slagspreuk: “’n Tuiste vir almal...” Hoe kan ons voorgee om ’n tuiste vir almal te wees en dan nie alle gemeenskapsgroepe verwelkom met ope arms nie?

Marlene le Roux, Artscape se CEO, met Sadeka Abdol, Fusion Inyameko Foundation se co-founder. Foto: Gary Naidoo
Jy het by Taare, die Bollywood groep in Kaapstad, se anniversary celebration in Januarie 2025 ge-mention dat spirituality, customs en traditions moet nooit net in een community bly nie, maarit moet gedeel wôd moettie Suid-Afrikaanse community oorie algemeen. Hoe pas hierrie statement mettie Muslim community?
Die Muslim gemeenskap het ’n ryk tradisie van kultuur en tradisie en van storievertel. Die teater móét dan voorsiening maak vir hulle behoeftes. En, moenie vergeet nie, ons het lank baklei om teaters toeganklik te maak vir ALMAL. Om almal nie net te laat kom om teater te kyk nie, maar om hul stories op ’n verhoog te kan vertel. Artscape werk nou nog baie hard om seker te maak dat alle groepe hul stories kan vertel en om hul kulture en tradisies uit te beeld om deel te wees van die ware opvoedkunde en sosiale samehorigheid van die land.
’n Suidoosterfees-feesganger hettie Artscape salaah-kamer (kamer vi bid) onlangs gebruik. Sê vi ôs mee oo wanner en hoekô hierrie salaah-kamer en abdas-krane (ablusie) gebou was, hoeveel vrouens en mans op ’n tyd kan innie kamer salaah maak ennie Artscape se planne innie toekoms met hierrie initiative.
Die salaah-kamer is nou al in sy vyfde bestaansjaar en het tans ablusiefasiliteite en salaah-plek vir sowat 20 mense. Die aanvanklike idee was dat Artscape-personeel dit kon gebruik vir hul eie doeleindes. Dit is die rede waarom dit in ’n backstage area geleë is. Dit is veronderstel om ’n plek te wees vir refleksie en om in stilte geestelik in gebed te kan wees. Ons het toe besluit om dit oop te maak vir teatergangers wat daarvoor gevra het gedurende vertoningtye. Maar ons het vinnig besef dat die plek te klein is, indien ons dit oopmaak vir teatergangers. Dit is waarom ons nou voorsiening maak in enige van ons groot voorportale om mense te kan akkommodeer. So, op enige tydstip wanneer daar ’n aanvraag is, sal die teaterbestuurder en voorhuisbestuur óf die Innovation Lounge óf die Theatre Well of, of, of beskikbaar maak vir gebeddoeleindes.

Gebedskamer vir Muslim besoekers byrie Artscape Theatre. Foto: Sedica Davids
Ve’tel ôs mee oorie Artscape Women’s Humanity Festival wat in Augustus 2025 plaasvind. Ôs het mashallah memories vannie vroulike religious leaders wat met ôs byrie Artscape in 2018 gepraat het!
Geïnspireer deur die meer as 20 000 vroue wat nee gesê het vir die apartheidspaswette vir swart vroue toe hulle op 9 Augustus 1956 na die Uniegebou gemarsjeer het, vier Artscape-teater se jaarlikse Artscape Women’s Humanity Festival (AWHF) tydens Vrouemaand nie net die prestasies en bekwaamheid van fenomenale vroue nie, maar doen ook ’n beroep op werklike optrede teen die maatskaplike euwels wat vroue daagliks ervaar, om ’n meer vreedsame en menslike samelewing te skep.
Met geslagsgebaseerde geweld (GBV) wat deur baie Suid-Afrikaners as een van die belangrikste menseregtekwessies vir vroue beskou word volgens StatsSA, het die AWHF-tema van verlede jaar – #Step-Up for Change Pledge – besoekers aan die Fees en Artscape-produksies gesmeek om by Artscape en Woman Zone aan te sluit in die strewe om die plaag van GBV te bestry deur die #Step-Up for Change-belofte teen die onaanvaarbaar hoë vlakke van GBV wat steeds in ons gemeenskappe voorkom, te onderteken en daartoe te verbind. Hierdie handtekeninge is op ’n spesiale lap gedruk en is aan die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, by vanjaar se AWHF op 9 Augustus, Nasionale Vrouedag, oorhandig as ’n manier om die regering aanspreeklik te hou.
Die Artscape Women’s Humanity Arts Festival keer vanjaar terug met ’n kragtige reeks geleenthede, optredes en gemeenskapsbetrokkenheid – alles gesentreer rondom die temas van genesing, verteenwoordiging en aktiewe vredesbou.
Die 2025-uitgawe nooi mense van alle geslagte, agtergronde en oortuigings uit om deel te neem aan die noodsaaklike en dikwels uitdagende werk om ’n meer regverdige en inklusiewe samelewing te bou.
Van teater en film tot paneelbesprekings en welstandsaktiwiteite, bied die fees ’n platform vir stemme wat dikwels gemarginaliseer of ongehoord is. Geleenthede dwarsdeur die maand spreek die persoonlike en die politieke aan – voorgrondverhale van identiteit, veerkragtigheid en waardigheid.
’n Belangrike hoogtepunt sluit in Story Café: Ode aan Sara en Isidudla: Sara Baartman en kulturele liggaamsbeeld, ’n bespreking met die filmmaker en uitvoerder Nomandla Vilakazi op 23 Augustus. Hierdie sessie besin oor die nalatenskap van Sara Baartman en kontemporêre kwessies van liggaamsbeeld en kulturele identiteit.
Bo en behalwe die produksies wat aangebied word, transformeer die Theatre Foyer Well in ’n interaktiewe uitstallingsruimte vir die duur van die fees. Besoekers kan gemeenskapsstalletjies, welstandsinisiatiewe en gratis gesondheidsondersoeke verken, met organisasies soos die Kanker Alliansie en Knit & Natter wat ondersteuning en inligting bied.
Die fees word moontlik gemaak deur die ruim ondersteuning van die Stad Kaapstad, die Departement van Kultuursake en Sport, die Departement van Sport, Kuns en Kultuur en die Suidoosterfees.
Vir meer besonderhede en om die volledige program te sien, besoek www.artscape.co.za.
Ve’tel ôs mee oorie Muslim dramas wat by Artscape oorie jare plaasgevind’t.
Daar is ’n paar wat uitstaan. En sommer baie opwindende produksies oor die jare. Maar kom ek vertel julle oor die opwindende stukke wat nou beskikbaar is om te sien by Artscape: Ernestine Nur Stuurman se Journey through song het die fees geopen op 25 en 26 Julie met mense wat literally gehuil het omdat dit so ’n persoonlike storie van hoop en van inspirasie is. Nur is ’n operasanger by Cape Town Opera, maar het gewys hoe sy as eenvrouvertoning op haar eie kan staan en die gehoor kan betower met haar sang en haar innig persoonlike storie oor hoe sy eers as Cape Flats-stereotipe met dwelms betrokke was en hoe sy nou, deur haar geloof in Allah, die wêreld so anders aanpak. Daar is ook Zubayr Charles se twee stukke Please don’t call me moffie oor ’n jong gay Muslim outjie en hoe hy moet veg vir aanvaarding in sy gemeenskap en vriendekring. Dit het by die Suidoosterfees gedebuteer en speel nou weer by die fees in Augustus. En Zubayr se ander stuk This bra’s a psycho, wat by ons gewilde New Voices-program as leesteater aangebied is in 2024 en nou as volledige produksie opgevoer gaan word.
Histories is daar te veel om te noem, maar jy het vroeër gepraat oor die Nasheed-kompetisie wat hierdie jaar hulde gebring het aan Taj Akleker en sy seun Yaseen.
Taj Akleker, wat ’n lang geskiedenis by Artscape het, was ’n merkwaardige akademikus wat ’n onuitwisbare merk op die gemeenskap gelaat het. Akleker is deur ons vereer vir sy nalatenskap van deernis vir ander, sy diens aan die gemeenskap en sy onselfsugtigheid. Sy insette was deurslaggewend in die Muslim geloof as deel van die Kulturele Instelling se intergeloofsreis na sy etos as ’n “tuiste vir almal”. Van besondere belang was sy insette tot die salaah-kamer by Artscape vir Islamitiese personeel, sowel as belanghebbendes wat ruimte vir gebede en toewyding benodig. Akleker het Artscape ewe veel bygestaan as die enigste instelling wat Discover Islam begin het, terwyl hy Nasheed aan Artscape bekendgestel het. Akleker is postuum vereer met die Legacy Award of Peace and Compassion by die geleentheid.
Artscape is of course mee as net ’n theatre company. Dis oek ’n meeting place vi community partnerships. Sê vi ôs mee oo hierrie partnerships?
Waar begin ’n mens om te praat oor Artscape en partnerships? Die getal het so gegroei oor die jare. Daar is ons in-house associated companies soos Unmute, Jazzart, Cape Town Opera, FMR, die lys gaan aan en aan ... Dan is daar ons vennootskap met die gewilde, al-groeiende Suidoosterfees. Regtig, die lys is te lank om almal te noem. Dan is daar ons eie rural en urban outreach programmes wat Artscape na die gemeenskappe toe neem met al die bells ’n whistles. Dit is regtig konstante harde werk om Artscape relevant en toeganklik te hou. Dit is wat ons na strewe – om altyd ALMAL met ope arms te verwelkom en seker te maak Artscape bly almal se teater van keuse en ’n tuiste vir almal.
**********
Meer inligting oor Artscape
Die Artscape-teatersentrum, wat aan die provinsiale administrasie behoort, is op 19 Mei 1971 as die Nico Malan-teatersentrum geopen.
Die Kaapse Uitvoerende Kunsteraad (CAPAB), wat in die vroeë 1960’s ingestel is, het die destydse Nico Malan-teatersentrum geprogrammeer en bestuur as ’n produksiehuis met vier kunsgeselskappe – orkes, opera, ballet en drama. Hierdie geselskappe het voltydse kunstenaars en tegniese en administratiewe personeel gehad.
Die doel was om die uitvoerende kunste te bevorder. CAPAB, as een van verskeie kunsterade, het voldoende staatsubsidies ontvang om verskeie kunsvorme, sowel as die operasionele vereistes van die teaterfasiliteite te befonds.
Sedert 1994 het regeringsbeleid dramaties verander. Alle uitvoerende kunsterade is omskep in teaters en die verskeie kunstegeselskappe moes onafhanklik word. Dus, in lyn met die nuwe Suid-Afrikaanse politieke bedeling en die gelyktydige veranderinge, is ’n konsert gehou om Artscape op 27 Maart 1999 te loods en om CAPAB te vervang, terwyl die naamsverandering amptelik omstreeks in 2000 in werking getree het. Vandag bestuur dit die teaterlokale en verskaf noodsaaklike, tegniese en gespesialiseerde dienste op ’n semi-kommersiële basis. Die klem val op volhoubare teaterpraktyk, onderwys en ontwikkeling.
Tussen Tafelberg en Tafelbaai spog die Stad Kaapstad met ’n kosmopolitiese mengsel van historiese en moderne landmerke. Een hiervan is die Artscape-teatersentrum aan die Voorstrand, die tuiste van die Artscape- uitvoerende kunstegeselskap.
Oorspronklik 40 jaar gelede gestig as die amptelike, uitvoerende kunsteraad vir die Wes-Kaap, het Artscape vandag ontwikkel tot ’n lewendige, multifunksionele, kreatiewe kunssentrum wat uitsonderlike lokaalfasiliteite en gespesialiseerde teaterdienste bied.
Met sy nabyheid aan Kaapstad se sentrale sakekern, die nuwe Internasionale Konferensiesentrum en die V&A Waterfront, is Artscape ideaal geleë om die Kaap se uitvoerende kunste-, film-, toerisme-, vermaak-, konferensie- en uitstallingsbedrywe te bedien.
Die Artscape-kompleks beslaan ’n oppervlakte van sowat 14 000 vierkante meter en bestaan uit ’n volledig toegeruste Operahuis met sitplek vir 1 487, ’n teater met sitplek vir 540, ’n kleiner teater met sitplek vir 140, ’n piazza, tuine, oefenlokale en ruim parkering.
Die sentrum bied ’n volledige reeks tegniese dienste, insluitend ’n wye verskeidenheid beligtings- en klanktoerusting en operateurs, verhoog- en produksiebestuurders om ’n naatlose ondersteuningsdiens aan gebruikers van die lokale te verseker.
Deur die jare het Artscape ’n topklas-span klerekaskundiges ontwikkel, bestaande uit ontwerpers, naaldwerksters, hoedemakers, pruikmakers en kostuumkunstenaars.
Artscape het ook ’n dekorateljee geleë in ’n aparte pakhuisfasiliteit van sowat 12 000 vierkante meter.
**********


