Corné Pretorius het pas ’n video vir sy enkelsnit “Ek wil glo” uitgereik.
Damiane van Reenen het die video verfilm by Pencil en Oak in die Drakenstein Mall.
Jan Bloukaas het aanvanklik die musiek vir “Ek wil glo” geskryf en dit is later verder verwerk deur Johnny de Ridder. Hunter Kennedy het ook saam aan die lirieke geskryf.
“Ek wil glo” is ’n snit op Pretorius se debuutalbum Halfvol wat in September 2021 uitgereik is.
Die album bestaan uit 10 liedjies wat in samewerking met ’n span gedugte plaaslike kunstenaars en musiekvervaardigers opgeneem is.
Sy grootste treffer tot dusver, die titelsnit van die album “Halfvol”, het reeds ’n gesamentlike luisteraarstelling van 80 miljoen op nasionale radiostasies. Dié gewilde liedjie het in 2020 verskeie eerste plekke bereik, ook op Jacarandafm en Radio Helderberg.
“Liefde is ’n werkwoord”, die liedjie wat Pretorius saam met Hunter Kennedy in 2021 opgeneem het, het die top posisie op Bok radio se Top 30 gehaal. Oor Bok radio se nommer een sê Pretorius: “In my wildste drome as ’n jong seun het ek nooit gedink ek sal eendag ABBA verbysteek vir ‘n nommer 1-posisie op ’n treffersparade nie!”
“Liefde is ’n werkwoord” is by Pretoria fm se Aitsa Afrikaanse Musiektoekennings benoem in die kategorieë “Nuweling van die Jaar” en “Alternatiewe/Rockliedjie van die Jaar.”
Sosiale Media:
- Facebook: www.facebook.com/cornepretoriusmusiek
- Instagram: @cornepretoriusmusiek

