Persverklaring: Storielied-reünie met Luna Paige en ’n 13-stuk-orkes

  • 0

Storielied-reünie met Luna Paige en ’n 13-stukorkes
Sondag 25 Februarie by The Daisy Jones Bar, Stellenbosch

Tyd: 17:00

In aanloop tot die bekendstelling van Luna Paige se nuwe Afrikaanse album, wat in April vanjaar uitgereik word, bring Luna en medemusikante die gewilde produksie van haar Afrikaanse debuutalbum, Storielied (2012), weer na die verhoog.

Storielied is ’n versameling van liedere wat geïnspireer was deur die literatuur van bekende Afrikaanse kortverhaal- en romanskrywers. Die opname van die album voor ’n gehoor, en die DVD, is in 2012 deur ClemenGold moontlik gemaak.

Na afloop van die bekendstelling van Luna se eerste Afrikaanse liedjies het baie deure vir haar oopgegaan, nie net by Afrikaanse kunstefeeste en taalgeoriënteerde aangeleenthede nie, maar ook in Nederland, waar Luna sedert 2013 gereeld optree.

In 2024, twaalf jaar na die bekendstelling van dié musiek, kom die Storielied-span weer op die verhoog bymekaar. Daar is hier en daar ’n noodgedwonge verandering aan die orkessamestelling gemaak. Die orkeslede is almal meesters op hul gebied. Die musiek sal soos op die oorspronklike album opgevoer word. Gehoorlede kan ook uitsien na die opvoer van nuwe, oorspronklike Afrikaanse liedere – spesifiek dié wat deur letterkunde geïnspireer is. Luna se nuwe musiek sal in Aprilmaand bekendgestel word in CD-, plaat- en USB-formaat, sowel as op alle digitale platforms.

Gaskunstenaars en skrywers

Storielied-reünie sluit ook uittreksels uit gunstelingmusiekteaterproduksies, waarby Luna betrokke was, in. Medekunstenaars Nicole Holm en Frieda van den Heever voer saam met Luna ’n seleksie van liedere uit die kabaret Elders aan diens op, terwyl Jamie Jupiter bydraes uit die gewilde Korreltjie Kantel tot die repertorium voeg. Beide dié produksies is nés die oorspronklike Storielied op literêre werke geskoei. Elders aan diens is ’n viering van Jeanne Goosen se digkuns, en Korreltjie Kantel is ’n viering van Ingrid Jonker se werke. Skrywers wat Luna se liedjies (oud en nuut) inspireer, sluit die volgende skrywers in: Ingrid Winterbach, André P Brink, Dimitri Verhulst, Antjie Krog, Elias P Nel, Dana Snyman, Jeanne Goosen. Daar is meer! Een van Luna se liedere is selfs deur die geliefde ClemenGold-mandaryn geïnspireer.

Die vertoning word by die Daisy Jones te Summerhill Wynplaas aangebied. Heerlike kosse word bedien en die kontantkroeg verseker lafenis in die hittige Stellenbosse somer.

Wie is die orkes?

Die orkes bestaan uit Jonno Sweetman op tromme, Schalk Joubert op baskitaar, Willem Möller op kitaar, Nicole Holm, Lara Kinnear en Nathan Lewis op agtergrondstemme. Die strykers is Anjulie Nock op tjello, Jan-Hendrik Harley op altviool en Annien Shaw op viool. Lilavan Gangen sluit opnuut by die groep aan en sorg vir betowerende perkussie- en tabla-klanke. Muneeb Hermans bring ekstra kleur met sy trompet; terwyl trekklavierspeler Leon Albert Oosthuizen sorg vir verdere luisterplesier. Luna begelei haarself op elektroniese klavier en akoestiese kitaar. Frieda van den Heever tree nie net op as gaskunstenaar nie, maar ook as regisseur van die konsert.

Clemengold

 Abraham van Rooyen, medestigter van die bekende ClemenGold-mandaryn handelsmerk sê: “Ons visie om die kunste te ondersteun, lê vir my na aan die hart en ons het aanvanklik na die Covid-grendeltydperk oorweeg om skenkings aan kunstenaars te gee om hulle te help om weer op hulle voete te kom. Ek het met nadenke besluit dat dit sin maak om hierdie borgskappe toe te pas deur een groot produksie te skep. Ek kan aan niemand anders dink as Luna Paige om iets besonders en buitengewoon op die planke te bring nie. Sy is ’n merkwaardige musikant, komponis en die perfekte katalisator om die regte groep musikante bymekaar te bring. ClemenGold is lief vir musikante, digters, skrywers, unieke kreatiewe denke- en projekte. ClemenGold is nie net ’n naartjie nie, dit verkwik die hart en siel. Ons beskou dit óók as kunsvorm – ’n  produk waarop ons ongelooflik trots is, juis omdat dit in samehorigheid met die gees van kenmerkende Suid-Afrikaanse kunste leef.”

Kaartjiebesonderhede
  • Datum: Sondag, 25 Februarie 2024
  • Venue: Daisy Jones Bar, Stellenbosch
  • Deure open: 15:00
  • Vertoning begin: 17:00
  • Kaartjies: R175 by Quicket (https://qkt.io/v4MyBc) en R200 by die deur.

Foto van Luna: Hannie du Plessis

Twee nuwe Luna Paige-albums in April 2024

Luna stel op 5 April ’n nuwe Afrikaanse en ’n nuwe Engelse album bekend. Aanhangers kan vanaf

Maandag 5 Februarie beide hierdie nuwe albums vooraf bestel en op so ’n manier bydra tot haar skarebefondsingsveldtog, wat die uitreikings van die albums moontlik maak. Om meer oor die bekendstelling van dié twee langverwagte albums uit te vind, asook oor hoe jy vooraf kan bestel, besoek gerus Luna Paige se webwerf www.lunapaige.com 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top