In Etienne Viviers se onlangse artikel, “Oorwegings vir die dekolonisering van die verwante musieksoorte van Westerse en Suid-Afrikaanse kunsmusiek”, bespreek hy die belangrikheid daarvan om filosofieë van dekolonisering in verband te bring met Westerse en Suid-Afrikaanse kunsmusiekpraktyke. Hy problematiseer die koloniale nalatenskap van Westerse kunsmusiek en gebruik die filosofie van Frantz Fanon om dekoloniale kunsmusiekkomposisie in Suid-Afrika as herskeppend nasionaal of eerder idiolekties van aard te ontleed. Die historiese en huidige posisies van Westerse en Suid-Afrikaanse kunsmusiek binne die akademie en die Suid-Afrikaanse samelewing word oorweeg, met die hoop om te bepaal tot watter mate hierdie twee verwante praktyke aan dekoloniseringsaksies kan deelneem, al dan nie.

Etienne Viviers en Mareli Stolp
MS: Geluk met ’n sterk artikel, wat belangrike argumente uitlig en sekerlik ’n beduidende impak sal hê. Dankie ook vir die geleentheid om verder met jou te gesels daaroor!
EV: Dankie, Mareli. Dis lekker om met jou te praat.
MS: Jy maak die stelling:
By universiteite is daar ’n meer verteenwoordigende demografie van studente as twee of drie dekades gelede, asook ’n effens meer getransformeerde kurrikulum, met die gevolg dat ’n groter aantal protagoniste met geletterdheid in kritiese denke afkomstig vanuit strominge soos Marxisme en kontinentale filosofieaksies soos dekolonisering teweeg wil bring wat ’n regverdiger wêreld in Suid-Afrika kan skep.
Kan jy spesifieke voorbeelde gee van sulke protagoniste in die konteks van Suid-Afrika se Westerse kunsmusiek? Ek praat natuurlik van individue wat binne die akademie met musiek gemoeid is, maar ek is ook geïnteresseerd in protagoniste wat moontlik werk vir verandering van buite die akademie – skeppende en/of uitvoerende kunstenaars byvoorbeeld.
EV: Daardie stelling het veel meer te doen met universiteite in die algemeen as met Suid-Afrika se Westerse-kunsmusiekkonteks. Dit is ook meer gemik op sistemiese veranderinge wat binne universiteite gedryf word, nie op kunstenaars buite die akademie nie.
Dis belangrik om daarop te let dat ek geen bronverwysing gebruik om die stelling te staaf nie, omdat dit vir my iets voor die hand liggend is dat universiteite alreeds gedurende die postapartheid tydperk ’n mate van transformasie ondergaan het. Hierdie gedeeltelike transformasie sluit baie meer van die mense in wat deur apartheid verhoed is om tersiêre opleiding te ontvang, maar veral in die geesteswetenskappe ook baie meer van die kritiese denke waaroor apartheid se ideologie ’n banvloek uitgespreek het.
My gebruik van die heldhaftige woord “protagoniste” verlang moontlik dat ek in meer besonderhede oor spesifieke mense se dekoloniseringswerk praat. Maar in daardie geval kan ek dit baie gemakliker in die dissiplinêre konteks van kunsmusiek doen. En daar is bloot te min dekoloniseringswerk wat binne ons universiteite se musiekdepartemente gebeur het om enige opspraakwekkende ontwikkelinge te bespreek.
MS: ’n Opvolgvraag: Is kurrikulumtransformasie (spesifiek met betrekking tot musiekonderrig) algemeen te bespeur by alle Suid-Afrikaanse universiteite? Voel jy dat sommiges meer gefokus te werk gaan met hierdie soort transformasie as ander – en kan jy ’n moontlike rede daarvoor formuleer?
EV: My begrip is dat kurrikulumveranderinge oor die afgelope drie dekades by elkeen van ons universiteite se musiekdepartemente plaasgevind het. Maar ek is onseker in watter mate hierdie veranderinge binne ’n raamwerk van dekolonisering gelees kan word. Bloot omdat ’n departement nou lesings in etnomusikologie aanbied, beteken dit nie dat daardie departement gedekoloniseer het nie.
Musiekdepartemente gaan op verskillende maniere te werk met die transformasie wat jy noem – betreffende hulle gemeenskapsprojekte, hulle feeste en konserte, hulle leerplanne, asook die studenteprofiel wat hulle lok. Dit sal te doen hê met institusionele kennis, plaaslike ligging, infrastruktuur, edm. Departemente interesseer my egter wanneer hulle binne die toenemende druk vir transformasie maniere soek om nog steeds aan te hou met ’n historiese verbintenis tot Westerse kunsmusiek. Want in daardie geval probeer hulle transformasie te oorleef sonder om te veel van hulle bestaande koloniale musiekidentiteit prys te gee: ’n benadering waarmee dit sekerlik onmoontlik sal wees om te dekoloniseer.
MS: Wanneer jy verwys na Westerse kunsmusiek, verwys jy spesifiek na die sogenaamde kanoniese kunsmusiek – die “groot werke” deur die komponiste van Germaanse afkoms, wat veral tydens die 18de en 19de eeu geskep is? Want binne Westerse kunsmusiek is daar sekerlik ook heelwat werk te doen in terme van dekolonisering. Ek dink byvoorbeeld aan ’n komponis soos Joseph Bologne, wat in die 18e eeu as Le Mozart Noir bekend gestaan het: hy word beskryf as die eerste gerekende swart komponis in die Westerse-kunsmusiektradisie. Hy val binne die kategorie van Westerse kunsmusiek, maar hy word byna nooit binne die kurrikulum vir kunsmusiek gereken nie. So ook word vroulike komponiste soos Fanny Mendelssohn Hensel en Clara Schumann dikwels buite rekening gelaat – belangrike komponiste van Westerse kunsmusiek, maar vir die meeste universiteitstudente onbekend. Sou ’n dekoloniserende benadering nie ook kon beteken dat ’n verbintenis tot Westerse kunsmusiek steeds moontlik bly, solank daardie benadering verryk word met ’n uitbreiding van die kurrikulum nie?

Clara Schumann, Joseph Bologne en Fanny Mendelssohn Hensel
EV: Westerse kunsmusiek is ’n versamelnaam vir ’n potensieel wye spektrum van musiek wat algemeen oorweldig word deur die ideologieë van die kanoniese Germaanse kunsmusiek wat jy noem. Meesternarratiewe wat wit manlike komponiste as opeenvolgende profete van ’n uitsonderlike tradisie uitbeeld, het noodwendig geen ruimte vir swart of vroulike komponiste nie.
Instinktief sou ek ’n benadering tot dekolonisering voorstaan wat ’n minder kanoniese en meer diverse verbintenis tot Westerse kunsmusiek moontlik maak. Maar dit sou moontlik ’n strategie wees om Westerse kunsmusiek – my eie kultuurgoedere – weer eens die oorhand in terme van kulturele waarde te gee? Ek is nie daarvan oortuig dat ’n volgehoue verbintenis tot Westerse kunsmusiek as konserttradisie of kurrikulumbasis binne dekolonisering se konteks moontlik is nie. Wat musiek as konsertpraktyk en studierigting betref, gaan die argument omtrent dekolonisering nie oor die uitbreiding van die huidige “universalistiese” Westerse kurrikulum nie, maar oor die vervanging van daardie kurrikulum met meer plaaslike kultuurkennis, soos Suid-Afrikaanse kunsmusieksoorte.
MS: Maar aanvaar jy dat Suid-Afrikaanse kunsmusieksoorte ook “Westerse kunsmusiek” – wat in die volksmond as “klassieke musiek” bekend staan – kan insluit?
EV: Nie die hele moederkultuur van Westerse kunsmusiek nie, want dan is Handel se Messias en Mozart se Requiem skielik ook voorbeelde van Suid-Afrikaanse kunsmusiek. Maar wel die ersatz-style wat Westerse kunsmusiek naboots en wat tans “Suid-Afrikaanse kunsmusiek” genoem word.

George Frideric Handel en Wolfgang Amadeus Mozart
MS: Die argumente wat jy onder punt 5 van jou artikel invoer, kom soms as effens voorskriftelik oor – hierdie stelling byvoorbeeld:
Suid-Afrikaanse kunsmusiek sal nie noodwendig meer vanselfsprekend as “klassieke musiek” op die manier van Westerse kunsmusiek verstaan word nie, maar eerder as ’n musieksoort wat argeologiese benaderings tot artistieke prekoloniale musieksoorte insluit.
Dit klink asof jy van mening is dat daar ’n soort “reg en verkeerd” ter sprake is wanneer dit kom by ’n gedekoloniseerde Suid-Afrikaanse kunsmusiek – ontneem jy nie deur so ’n posisie die kreatiewe skeppers tot ’n mate hul agentskap in prosesse van dekolonisering nie? Daar kan tog verskeie maniere wees waarop kreatiewe skeppers soos komponiste hul nuutskeppings met dekoloniserende impulse verweef; ’n “argeologiese benadering” is een manier, maar ’n skepper soos Clare Loveday of Andile Khumalo doen dit op heel ander wyses.
EV: Net so ’n bietjie voor jou aanhaling begin noem ek dit ’n “opsie”; dus, nee, dit is nie voorskriftelik nie. Wat reg en verkeerd betref: daar is uiteraard regte opsies en verkeerde opsies wanneer dit by dekolonisering kom. Hier is dit vir my belangrik dat dekolonisering nie as een homogene regte of verkeerde opsie gesien word nie. Dit is eerder ’n raamwerk wat ’n verskeidenheid opsies moontlik sou maak, waarvan die argeologiese benadering tot komposisie wat ek noem, slegs een is. Komponiste moet self kies hoe hulle wil werk.
MS: Kan ons dekolonisering ook verstaan as ’n proses wat deurlopend ontwikkel, en wat in Suid-Afrika bes moontlik heel anders sal lyk as in Ngũgĩ wa Thiongo se Kenia of Frantz Fanon se Algerië en Martinique? Ek begryp dat hierdie filosowe nie slegs oor dekolonisering in hul eie lande skryf nie – maar ek wonder of ’n benadering tot dekolonisering (veral van musiek) nie meer spesifiek op ons eie Suid-Afrikaanse ervaring geskoei kan word nie?

Frantz Fanon en Ngũgĩ wa Thiongo
EV: Dekolonisering sal op verskillende plekke dieselfde of soortgelyk lyk in terme van hoe dit wegbreek van kolonialisme en neoliberalisme. Hiervoor sal dit op ’n gedeelde korpus van kenners staatmaak. Maar dit sal beslis nie ’n homogene wêreld kan daarstel nie. Die hele punt met dekolonisering is om op plaaslike ervarings staat te maak.
MS: Die Universiteit van Kaapstad is vir ’n geruime tyd in die nuus as gevolg van hul veranderende beleid tov kuns en dekolonisering – daar is byvoorbeeld verskeie kunswerke in die universiteit se versameling nou vanuit die publieke oog verwyder, omdat dit gesien word as verteenwoordigend van kolonialisme en dus volgens sekere rolspelers in veral die Fees Must Fall-beweging nie uitgestal behoort te word nie. Ek vind dit interessant dat daar geen vergelykbare reaksie tot dusver teen die uitvoering van Westerse kunsmusiek was nie, en tog word hierdie musiek gereeld op universiteitskampusse uitgevoer. Het jy ’n mening hieroor?
EV: Dis vir my ook interessant. Ek dink Westerse kunsmusiek word nog algemeen as mooi musiek, en daarom ook as ideologies neutrale musiek, ervaar. Wanneer mens musiek ernstig opneem en dit in kontekste van produksie en ontvangs bestudeer, word dit egter gou duidelik dat musiek – enige musiek – nie neutraal is nie. Die tyd sal waarskynlik kom dat die argument gemaak word dat Westerse kunsmusiek nie in Suid-Afrika gespeel behoort te word nie, omdat dit verteenwoordigend van kolonialisme is. En dan gaan die mees voorspelbare reaksie natuurlik wees om hierdie musiek te veruniverseel, en sodoende tot die ganse mensdom relevant te probeer maak. Die werklik interessante werk sal gebeur wanneer ander maniere van kuratorskap as die bourgeois konsertreeks op Westerse kunsmusiek van toepassing gemaak word; wanneer Suid-Afrikaners in ’n gekontekstualiseerde lewende opset na hierdie musieksoort kan luister, een wat kolonialisme en apartheid as toepaslike temas vir musiek se kurering erken. Maar weer eens: dekolonisering impliseer ’n wegbeweeg van kolonialisme se kultuurgoedere. Mense of gemeenskappe wat werklik dekoloniseer sal dit belangriker vind om meer gereeld meer plaaslike variante van musiek as Westerse kunsmusiek te kureer en uit te voer.
MS: Ek stem nie heelhartig hier met jou saam nie. Kan dekolonisering gebeur slegs wanneer daar wegbeweeg word van Westerse kunsmusiek – wat jy hier beskryf as “kolonialisme se kultuurgoedere”? Kan hierdie kultuurgoedere nie ook geëien word deur ’n dekoloniserende subjek of postkoloniale subjek (soos Achille Mbembe dit beskryf) en voortbestaan onder nuwe “eienaarskap” nie? Is dit jou bedoeling dat die swart musikant wat ’n loopbaan maak uit vioolspel in ’n Westerse-kunsmusiekkonteks dan eintlik teen dekolonisering optree?

Achille Mbembe (Foto: Heike Huslage-Koch, Wikipedia)
EV: ’n Tradisionele loopbaan wat uit vioolspel in ’n Westerse-kunsmusiekkonteks bestaan, is vanselfsprekend besig met iets anders as dekolonisering. Wanneer dit iemand met ’n ongewone velkleur vir die Westerse-kunsmusiekgemeenskap behels, dan is daardie persoon besig om tot ’n tipe demografiese transformasie by te dra, maar nie outomaties ook tot dekolonisering nie. Dekolonisering is in daardie geval iets anders as transformasie.
Swart violiste soos Joseph Bologne moes deur die geskiedenis “eienaarskap” van Westerse kunsmusiek neem om as musikante te kon werk en oorleef. Vaardigheid in daardie taal is dus op maniere geforseer, net soos met vaardigheid in Engels, Frans of Portugees. Om nou uiteindelik weg te breek van die koloniale tale ná die verplaaste en verpletterde tale van die wêreld is dus om te dekoloniseer. Enige ander eietydse “eienaarskap” van koloniale tale en kultuurgoedere is bloot ’n neokoloniale herbevestiging van bepaalde koloniale tradisies se historiese magsposisie.
MS: Verstaan ek reg dat jy dus ’n beduidende onderskeid tref tussen “transformasie” en “dekolonisering”? Voel jy die een is belangriker as die ander – werk hulle saam, of teen mekaar? Dekolonisering is die gonswoord van ons huidige historiese oomblik, maar is dit noodwendig ons primêre, mees dringende imperatief? Ek praat nou spesifiek in die konteks van Westerse kunsmusiek in Suid-Afrika.
EV: Ja, ek tref ’n onderskeid. Ek is nie seker of een of die ander belangriker is nie. En ek dink nie hulle werk so erg saam of teen mekaar nie. Dis meer asof hulle aparte agendas verteenwoordig wat gereeld met soortgelyke sake besig is.
Oor jou vraag of dekolonisering Westerse kunsmusiek in Suid-Afrika se primêre, mees dringende imperatief verteenwoordig: ek argumenteer in my artikel dat Westerse kunsmusiek nie regtig in Suid-Afrika sal dekoloniseer nie, omdat dit altyd in sy huidige vorm teen uitsterwing beskerm word nog lank voordat dit enige kreatiewe gedaanteverwisseling ondergaan. Dus kan Westerse kunsmusiek eintlik maar afgeskryf word vir dekolonisering se doeleindes.
Mens kan wel op die dekolonisering van Suid-Afrikaanse kunsmusiek (’n verwante nasionale tipe Westerse kunsmusiek) fokus en daar interessante werk in terme van dekolonisering doen. Juis omdat dit ’n meer kwesbare musieksoort is wat nie so fanaties vir oorlewingsdoeleindes beskerm word nie. En ek dink dit is een van die meer dringende imperatiewe om hierdie musieksoort te probeer dekoloniseer. Onder andere sodat die akademie nie amper uitsluitlik op die gekomponeerde musiek van wit Suid-Afrikaanse mans kan fokus nie.
MS: Vroeg in die artikel noem jy dat ’n filosofiese aksie soos dekolonisering ’n regverdiger wêreld in Suid-Afrika kan skep (sien die aanhaling aan die begin van hierdie onderhoud). Indien dit dan wel waar is dat Westerse kunsmusiek in Suid-Afrika nie kan dekoloniseer nie, beteken dit dan ook dat hierdie kultuurvorm geensins tot ’n regverdiger Suid-Afrika kan bydra nie? Werk dit as’t ware teen ’n beter Suid-Afrika?
EV: Eerstens het ek in daardie aanhaling nie in musiek se konteks geskryf nie, maar oor Marxisme, kontinentale filosofie en dekolonisering in die algemeen by universiteite. Tweedens wil dekoloniseerders graag ’n regverdiger wêreld in Suid-Afrika skep, maar of hulle idees dit ooit vir meer mense as net hulle self sal regkry, bly ’n onbeantwoorde vraag. Westerse kunsmusiek kan definitief bydra tot ’n regverdiger samelewing, in die konteks van gemeenskapsprogramme wat deur musiek gedryf word byvoorbeeld. Maar dit is ook ’n tipe musiek waarvan die estetika dikwels eksklusiwiteit en uitsonderlikheid kommunikeer. In daardie sin is dit dus moontlik teenproduktief vir demokratiese doeleindes en waardes.
MS: Dit lyk asof dit in die hande van die komponiste en uitvoerders is om werk te maak daarvan om Westerse en Suid-Afrikaanse kunsmusiek só te bedryf dat dit wel ’n positiewe bydrae tot ’n beter en regverdiger Suid-Afrika lewer. Dankie vir jóú bydrae, in die vorm van hierdie sterk en uitdagende artikel.
Kommentaar
Kommentaar op hierdie onderhoud en Viviers se artikel is op Praag (19 September) gepubliseer: "Leon Lemmer: Klassieke musiek en dekolonisering."
Dankie hiervoor, Johannes.