Murder on the Orient Express: 'n filmresensie

  • 0

Regie: Kenneth Branagh

Draaiboek: Michael Green, gebaseer op die roman deur Agatha Christie

Spelers: Kenneth Branagh, Johnny Depp, Judi Dench, Penélope Cruz, Michelle Pfeiffer, Willem Dafoe, Tom Bateman, Derek Jacobi

Hierdie was my eerste kennismaking met Agatha Christie se welbekende verhaal, en ’n goeie een daarby. Net die titel roep al beelde op van eksotiese avonture en interessante karakters, van wie die grootste natuurlik die nimlike Hercule Poirot, “beste speurder in die wêreld”,  met sy silwer wandelstok en weglêsnor.

Die rolverdeling lyk soos ’n kompetisie vir die grootste name in Hollywood: Johnny Depp, Judi Dench, Penélope Cruz, Michelle Pfeiffer, Kenneth Branagh, Willem Dafoe. Inderdaad lyk die hele onderneming ook bietjie soos ’n egoprojek vir Branagh: hoewel hy die legendariese speurder met gesag speel, is ’n mens tog heeltyd bewus daarvan dat hy net nie daardie egte Fransheid en veral die aksent het wat jy van ’Erkuuul Poirooo sou verwag nie.

Op die ou end tref die verhaal die sterkste met sy boodskap van kompleksiteit: die groot speurder wat aan die begin met sekerheid verklaar dat daar slegs swart en wit bestaan wat mense se oortredings betref, moet ten slotte toegee dat alles nie altyd so eenvoudig is nie – nes die lewe self.

Soos ’n mens van ’n sterbelaaide produksie soos dié kan verwag, is alles van die keurigste en beste. Gevolglik is dit heerlike fliekontspanning op sigself om jou te verdiep in hierdie periodedrama wat in 1934 afskop in Jerusalem en ’n draai gooi deur pragtige Istanbul. Gaan kyk gerus vir ’n uur of wat se “goeie, outydse” vermaak. 

Sterre:

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top