The Mother by die Fugard-teater: ’n resensie

  • 1

Florian Zeller se toneelstuk The father, met Marius Weyers, het verlede jaar uitverkoopte gehore stom gehad. Die roerende storie oor ’n pa wie se geheue weggly en die verwarring wat dit bring, was een van drie toneelstukke wat Zeller geskryf het. Die ander is The mother en The truth. Dis deur Christopher Hampton uit Frans in Engels vertaal.

Anne (Anna-Mart van der Merwe) en Nicolas (Sven Ruygrok). Foto: Daniel Rutland Manners

Anna-Mart van der Merwe is nou op die verhoog te sien in die Suid-Afrikaanse première van The mother. Anne (Anna-Mart) speel die rol van ’n ma, met Pierre (Graham Hopkins) as haar man en Nicolas (Sven Ruygrok) as haar gunsteling-kind. Élodie (Amy-Louise Wilson) is Nicolas se meisie en glad nie geliefd deur Anne nie.

Die stel herinner aan die een uit The father, maar sonder die riffelglaspanele wat daarin ingespan is om die verwarring wat André ervaar het, by die gehoor tuis te bring, omdat die gesigte van mense deur die riffels gesien is, en hulle amper vreemdelinge vir jou maak. Weer is die kleure wit, swart en grys. Die bloedrooi telefoon teen die muur waarop Anne vir Nicolas bel, is die enigste kleur.

Maar in The mother is dit Anna-Mart se skitteroptrede wat die verwarring saai.

Op die oog af is dit ’n ma se stryd met leënes-sindroom. Haar man gaan werk elke dag en los haar tuis. Haar twee kinders, Nicolas en Sara, het die nes verlaat en lei hul eie lewens. Maar haar lewe het gaan stilstaan. Sy het vasgehaak by die dae toe sy voor die kinders opgestaan het om vir hulle ontbyt te maak, saam met hulle skool toe gestap het. “Die tyd toe sy regtig gelukkig was.”

En dan is daar nog die kwessie van Pierre se ontrouheid – of is dit alles haar verbeelding?

Dieselfde scenario word uit verskillende hoeke aangebied: soms is Pierre simpatiek en besorgd; ander kere is hy ’n gevoellose skurk wat geen emosie teenoor sy vrou toon nie. Soms is Nicolas ’n omgeekind wat sy ma se liefde verwelkom; soms is hy koud en kil en veroordelend. Soms is Élodie ’n listige Delila; soms is sy ’n patetiese figuurtjie op die rusbank.

Élodie (Amy-Louise Wilson) en Nicolas (Sven Ruygrok). Foto: Daniel Rutland Manners

Anne kla teenoor Pierre dat Nicolas nooit bel nie; dat sy talle boodskappe vir hom los. Pierre se verweer is dat Nicolas besig is. “Besig met wat?” vra ’n onthutste Anne. “Om te leef,” kom die antwoord.

Anne was skaars 22 toe sy ma geword het. Nou kyk sy terug en kla dat mens niks van die lewe weet op daardie ouderdom nie. Sy verwyt die feit dat almal haar los om te vergaan, noudat hulle haar opgebruik het.

Sy sê vir Pierre dat sy soms droom sy vermoor hom - “my gunstelingdrome”. Net om minute later weer teen hom aan te vlei as hy sagkens met haar praat.

Soos die storie uitspeel en haar lewe op haar inval, so groei die onrus in jou hart.

Dis te verstane hoekom Zeller beskryf word as “die opwindendste teaterskrywer van ons tyd” – hy het immers sy eerste roman op 22 geskryf en onlangs was al drie sy bekroonde toneelstukke, The mother, The father en The truth, in Londen op die planke. Die eerste twee sny tot op die been.

Dis ’n roerende toneelstuk waarin jy so baie van jouself en dié om jou herken. Die weggroei van mekaar terwyl die kinders se belange die alleroorheersende fokus in die huis is. Die reusegaping tussen lewensmaats as die kinders hul vlerke sprei en vlieg.

En ons onvermoë om daardie gaping en verlies te verwoord. Die by mekaar verbypraat.

Die toneelstuk bring weer die boodskap tuis dat elkeen verantwoordelik is vir sy eie ontwikkeling en groei. Dat geluk van binne kom, en nie deur ander gebring word nie.

Dis ’n emmer koue water in jou gesig, maar ’n diep treffende stuk wat deur almal gesien moet word.

The mother

Met: Anna-Mart van der Merwe, Graham Hopkins, Sven Ruygrok en Amy-Louise Wilson.
Deur: Florian Zeller
Vertaal deur: Christopher Hampton
Regie: Janice Honeyman
Kostuums: Birrie le Roux

Die Fugard-teater
7 Februarie tot 4 Maart 2017
Kaartjies deur Computicket en die Fugard, 021 461 4554.

Foto’s: Daniel Rutland Manners

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top