Monsteragtige LP’s gekant teen vermindering van vet salarisse

  • 0

Ironies genoeg doen politici gereeld uitsprake dat die salarisrekening van die staatsdiens verklein moet word, maar noudat die parlement besluit het dat parlementslede (LP’s) se salarisse en byvoordele verminder moet word, het sommige siellose politici reeds hul misnoeë met dié voornemens te kenne gegee.

“Realisties gesien is die 10%-salarisvermindering vir alle staatsamptenare nie iets wat ons goedkeur nie en dit is nie regtig moontlik nie, maar daar is geen heilige koeie nie en ons moet moeilike besluite neem.”

So sê Dondo Mogajane, direkteur-generaal van die nasionale tesourie, oor ’n moontlike salarisverlaging vir alle staatsamptenare om net die koste van die reddingsboeie aan staatsbeheerde ondernemings te dek.

Mogajane het dit benadruk dat die trommel van die nasionale tesourie leeg is. “Daar is nie groei nie en geen belastinginkomste nie. Ons is in die moeilikheid.”

Hy het bygevoeg die regering moet ’n situasie vermy waarin alles in duie stort.

Peace Mabe, uitgesproke ANC-parlementslid (LP) en medevoorsitter van die komitee oor die finansiële bestuur van die parlement, dink blykbaar politici is heilige koeie en reeds daarom behoort dit nie nodig te wees om LP’s, lede van die provinsiale wetgewers (LPW’s), ministers en adjunkministers se buitensporige hoë salarisse en byvoordele te verminder nie.

Dit volg nadat Vusi Mavuso, die parlement se afdelingshoof vir lede se ondersteuningsdienste, dié komitee op ’n vergadering meegedeel het dat politici se salarisse en byvoordele moontlik verminder kan word en dat ’n hersieningsproses hieroor alreeds aan die gang gesit is.

Soos gewoonlik dink veral ANC-politici dat alles nooit in duie sal stort nie, maar waarop alles neerkom, is dat die ANC homself tot selfvernietiging beproef.

Volgens nuusberigte het Mabe gesê “we would not want any commission that would want to take away benefits for members. For us just to be here, we’ve left comforts of our homes to come and serve the country. So anything that suggests to take away benefits, we object to it before you can even start talking about it.”

Mabe is ook inderdaad van mening dat openbare verteenwoordigers te min verdien. Trouens sy meen LP’s, LPW’s en lede van die uitvoerende gesag se salarisse en byvoordele moet vermeerder word.

Vir ’n dikgevrete LP, vermoedelik sonder enige gevoelens vir veral arm mense, is dit ’n absolute skande om sulke snert kwyt te raak.

Sy meen blykbaar ook dat net staatsamptenare die spit moet afbyt vir die finansiële gemors waarin die ANC die land deur staatskaping en korrupsie gedompel het. Dat politici nie ’n verantwoordelikheid het om ook ’n prys vir die ANC se wanbestuur van belastingbetalers se geld te betaal nie.

Op grond van die posisies wat parlementslede tans in die parlement beklee, verdien hulle tans ’n salaris van R1.2 miljoen tot R2.4 miljoen per jaar.

Belastingbetalers bestee R120 miljoen per jaar aan vliegkaartjies vir sowat 2000 huidige en oud-LP’s en ministers en hulle afhanklikes soos kinders en gades.

LP’s, LPW’s, ministers en adjunkministers word ook van gratis verblyf in huise in Kaapstad en waar die onderskeie nege provinsiale wetgewers in die land geleë is, voorsien.

Boonop word elke politikus van 84 gratis vliegkaartjies per jaar voorsien. Hulle geniet ook goedkoop gesubsidieerde etes en drank by die parlement se kafeteria in Kaapstad en by elk van die nege provinsiale wetgewers landwyd.

Politici geniet ook gratis parkering by lughawens landwyd en word daagliks gratis per bus tussen die parlement en hul gratis verblyf by die drie parlementêre dorpies in Kaapstad (soos byvoorbeeld die Acacia parlementêre dorp in Goodwood, Kaapstad) vervoer.

Dit is bykomend tot ander byvoordele soos ’n vervoertoelae van R120 000 per jaar (R10 000 per maand), asook selfone, tablette en skootrekenaars.

Dit het ook intussen aan die lig gekom dat die parlement ’n bykomende R111 miljoen moet betaal as “golden handshakes” aan die 159 parlementslede wat ná die 08 Mei-verkiesing nie tot die parlement herkies is nie.

Mavuso sê: “the ‘loss of office’ benefits are the equivalent of four months’ salary for every five-year term completed, and are paid over and above normal pension benefits.”

Boonop het die regering vir die huidige 2019/2020 finansiële jaar ’n bedrag van R750 miljoen begroot om die Uniegebou in Pretoria, huise van LP’s in Kaapstad asook die huisie van ministers en adjunkministers in Kaapstad en Pretoria op te knap.

Die mors van geld op politici om hul flambojante leefstyl te subsidieer, moet in die lig van die fiskale katastrofe gestaak word. Dit en die voortdurende regeringshulp aan Eskom, sonder dat enige voorwaardes daaraan gekoppel word, gaan die land finaal oor die rand van absolute bankrotskap dwing.

Staatskuld van R3000 miljard beloop nou meer as 60% (reeds ongeveer 68%) van die bruto binnelandse produk (BBP) – ’n prestasie gelyk aan wat dit was toe apartheid in 1994 tot ’n einde gekom het.

In die lig van ons troostelose finansiële krisis behoort politici voorbeeldig op te tree en selfs voorstelle in te dien om hul vet salarisse en byvoordele te sny sodat daar meer geld is om na belastingbetalers en weerlose arm mense om te sien. Parlementslede soos Mabe wend hulle liefs tot arrogansie en skroom ook nie om hul skynheiligheid ten toon te stel nie.

Die vraag wat gevra word, is hoekom word politici so onnodig baie geld betaal? Baie van hulle het nie eens matriek nie. Moenie eens van tersiêre kwalifikasies praat nie.

In Washington huur of koop lede van die Huis van Verteenwoordigers of Senaat hul eie verblyf. Sommige kongreslede vertel graag stories van hoe hulle in hul kantore moes slaap nadat hulle vir die eerste keer tot die Amerikaanse Kongres verkies is. Hoekom kan politici hier in Suid-Afrika dit nie ook doen nie?

Die amptelike woning van die Britse Premier in Londen, 10 Downingstraat, word wel gratis deur die Premier bewoon, maar hy of sy betaal self vir die gebruik van elektrisiteit, water en vullisverwydering. Hoekom kan President Cyril Ramaphosa en sy kabinet ook nie dieselfde doen nie?

Die probleem wat ons het, is dat meestal ongeletterde en lui politici tot die parlement verkies word. Hulle beskou dit as ’n loopbaan waarop hulle geregtig is en nie as ’n diens aan die mense nie; wetend dat hulle sonder die politiek dit nie ver in die lewe sou kon bring nie.

Die loonverlaging-scenario van 10% vir staatsamptenare ondersteun ek ten volle, maar blyk onwaarskynlik te wees. Die vet salarisse en byvoordele van LP’s, LPW’s, ministers en adjunkministers asook die president en adjunkpresident sal moet verminder word. Indien nie, sal dit verder bydra tot die onvermydelike finansiële verval van Suid-Afrika – wat nie net die armes sal vernietig nie, maar ook die middelklas tot ’n ekonomiese sukkelbestaan gaan reduseer.

Bronnelys:

  • Johnson, R.W., 2019. ’n Nuwe, nuwe SA wink. Rapport-Weekliks, 11 Augustus
  • Malope, L., 2019. Net groei-strategie kan staatskuld stabiliseer. Sake-Rapport, 1 September
  • Mokone, T., 2019. Fat-cat MPs ‘no’ to cuts. Sunday Times, 1 September
  • Selebano, B., 2019. LP’s se voordele: ‘Nog geen voorlegging’. Die Burger Oos-Kaap, 2 September

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top