All the money in the world: ’n filmresensie

  • 0

Draaiboek: David Scarpa, gegrond op die boek deur John Pearson

Regie: Ridley Scott

Spelers: Christopher Plummer, Michelle Williams, Charlie Plummer, Mark Wahlberg, Timothy Hutton, Romain Duris

Dit klink soos almal se grootste wens: om al die geld in die wêreld te hê. Op sy dag was die oliemagnaat Jean Paul Getty verreweg die rykste man op die planeet, maar of dit hom ’n tevrede en gelukkige mens gemaak het, is ’n heel ander storie. Daarom heet een van sy boeke nie How to get rich nie, maar How to be rich – iets wat kennelik moeiliker is as wat dit lyk.  

Ryk en magtige mense is gewoonlik in die kalklig, maar die ontvoering van Getty (Christopher Plummer) se sestienjarige kleinseun John Paul (Charlie Plummer) in 1973 in Rome het ’n mediastorm soos min veroorsaak. Die ontvoerders, ’n Italiaanse bende misdadigers, het ’n losprys van 17 miljoen dollar geëis. Hoewel dit ’n enorme bedrag vir daardie tyd was, kon Getty senior dit sekerlik bekostig, maar hy het “uit beginsel” geweier (hy was die spreekwoordelike suinige man wat ryk geword het). Getty het hom egter misreken met John Paul se ma, Gail (Michelle Williams), wat hand en tand baklei het om haar seun terug te kry, later met die hulp van Fletcher Chace (Mark Wahlberg), die voormalige CIA-agent wat die ou man gehuur het om sy sekuriteit te behartig.

Soos ’n mens van regisseur Ridley Scott verwag, sorg hy vir ’n treffende ondersoek na ’n komplekse familiesage, met ’n mengsel van drama en aksie wat net reg is – nie te veel nie, maar ook nie te min nie (daarvoor is wel ten slotte taamlike vryheid met die werklike feite geneem). Die vier hoofakteurs lewer almal uitstekende spel, met die nuweling Charlie Plummer (nie verwant aan Christopher nie) wat beïndruk. ’n Interessante brokkie oor die film is dat die 88-jarige Christopher skaars ’n maand voor die beplande vrystelling die rol oorgeneem het by Kevin Spacey, wat ná beskuldigings van seksuele misbruik weggelaat is uit die rolverdeling.

As jy hou van ’n veelvlakkige drama, gaan kyk gerus hierdie een.

Sterre: 4

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top