Momentum Aardklop 2025: ’n onderhoud oor Trou

  • 0

Foto van Mel die Storieverteller en Corlea Botha: https://aardklop.co.za/

Yolanda du Toit praat met Mel die Storieverteller en Corlea Botha oor Trou, wat binnekort by Aardklop te siene sal wees.

Mel, jy vertel staaltjies in Trou. Waaroor handel Trou en waarna kan die gehoor uitsien?

Trou handel oor ’n reeks waarnemings en observasies oor spesifiek Afrikaanse troues en die feesvieringe daarrondom. Gehore kan uitkyk vir interessante staaltjies waarby hulle sal kan aanklank vind en dan natuurlik ook ’n lekker saamsing en dans op DJ Mieliestronk se Top-5 trou tunes. 

Hoe het dit gebeur dat jy en Corlea hande saamgesnoer het?

Ek en Corlea het op sosiale media ontmoet; ons het onder die koeltebome by Kleinkaap Boutique Hotel ons eerste date gehad en so lekker gesels, tyd het omtrent gevlieg. Daarna het ek gedink: “Jis, dit sal lekker wees om ’n show saam met Corlea te doen waar ons altwee se sterkpunte saamsnoer.” En hoe lekker sal dit wees vir die gehoor om ’n ander kant van Corlea te sien, haar komiese kant. Sy is ongelooflik snaaks en het baie interessante stories en staaltjies wat sy deel. 

Wat het julle die idee gegee om presies oor dié tema iets te doen?

Toe ons ontmoet, was ek pas getroud en sy onlangs verloof. Ons het heel toevallig gepraat oor troues en hoe ons albei dinge bietjie anders doen en dus het ons besluit om lig te skyn op al die tradisies en ooreenstemmende gebeure by verskillende troues. Sy het al by hordes gesing en ek was al seremoniemeester by hordes, so ons het definitief eerstehandse ervaring. 

........
Toe ons ontmoet, was ek pas getroud en sy onlangs verloof. Ons het heel toevallig gepraat oor troues en hoe ons albei dinge bietjie anders doen en dus het ons besluit om lig te skyn op al die tradisies en ooreenstemmende gebeure by verskillende troues. Sy het al by hordes gesing en ek was al seremoniemeester by hordes, so ons het definitief eerstehandse ervaring. 
........

Het julle al vantevore saamgewerk/saam opgetree?

Nee, ek was vir ’n geruime tyd oorsee en het haar eintlik nooit live sien optree nie. Ek was die jaar van ons ontmoeting vir die eerste keer by ’n Afrikaans is Groot-konsert en haar stem en verhoogteenwoordigheid het my omgeslaan. Ek dink ook nie sy het al ooit een van my vertonings live gesien nie, haha, ek dink dis goed, want toe kon ons vars in die ding ingaan sonder enige vooropgestelde idees van die ander een se vermoë of styl. 

Jy behartig ook die teks en regie. Hoe uitdagend is dit om ander rolle behalwe die toneelspel te behartig?

Glad nie uitdagend nie. Dit is vir my tweede natuur om te verbeel hoe dinge beweeg op die verhoog en hoe dit visueel sal lyk en vloei. Corlea maak dit natuurlik baie maklik ook, want sy het haar eie briljante idees en insae. Ons is albei egter goed met improvisasie en het baie in-die-oomblik oomblikke gehad tydens ons opvoerings. 

Jy is ook op die verhoog met Internet sensasie. Wat is die uitdagings om met meer as een produksie by ’n fees betrokke te wees? Hoe onthou jy alles afsonderlik sodat jy nie die twee vermeng nie? 

Dis omtrent ’n kopskuif van die een na die volgende. Ek moet sê dat ’n kostuum nogal baie help. Verskillende klere het verskillende gevoelens vir my, en dus wanneer ek my afsonderlike kostuums aantrek, is dit makliker om in ander rolle in te beweeg. 

By watter ander feeste sal Trou te siene wees?

My en Corlea se skedules sukkel om te oorvleuel. Sy is alewig op ’n skip êrens besig om mense te betower en ek iewers op ’n verhoog. Ons sal graag in 2026 nog ’n paar vertonings wil saam doen in Pretoria en hopelik ’n Kaapse draai êrens. 

Corlea, wat is jou rol in Trou?

Ek en Mel tree op as ’n eenheid op die verhoog. Mel se sterkte is om stories te vertel en myne is om te sing, so ek dink in die program vermeng ons dit nogal goed. Ek kry ook die geleentheid om stories te vertel. Ek dink dit is vir ons albei baie opwindend om nie net alleen op die verhoog te wees nie, maar deel van so ’n produksie.

Wat het julle die idee gegee om presies oor dié tema iets te doen?

Op die stadium wat ons dit beplan het, was ek en JD verloof en Mel en Ronald pas getroud. Ons moet nog die beplanning van ’n troue aanpak. Ek dink dit is Afrikaanse kultuur om altyd nuuskierig te wees en die volgende stap alreeds in gedagte te hê voordat die eerste een geneem is. Dit is so deel van ons albei se bestaan op daardie oomblik, so dit is ’n tema waarnatoe ons gedryf het.

Jy het ook die musiekregie behartig. Hoe uitdagend is dit om nie net die musiek op te voer nie, maar ook die regie te behartig?

Ons het gelukkig nie nodig gehad om nuwe liedjies te skryf vir die produksie nie. Dit is alles bestaande liedjies en ook van my eie in die vertoning. Ek het musiekregie gedoen vir vele konserte al vandat ek ’n tiener is, so dit is vir my maklik om dit aan te pak. Dit is meer ’n lekkerte as ’n uitdaging. Mel het vorentoe gekom met ’n paar stories en ons het idees begin rondgooi oor wat gebeur altyd by troues, waar kan ons uitbrei of nog stertjies bylas. Die beplanning en idees het basies in een ontmoeting plaasgevind. Uit die stories en waar ons wil heengaan met die loop van die vertoning, het die liedjies baie maklik gespruit.

Hoe het julle besluit om spesifiek ’n Grease-keurspel in te sluit by die produksie?

Mel gee ’n paar stories van verskillende aspekte van troues wat sy al by was, en aan die einde van die vertoning praat ons oor dinge wat ons self al ervaar het. Van die kos en musiek, tot die tradisies. Daar is ’n paar treffers wat ons aan die einde van ons konsert speel. Ek dink dit is ook die hoogtepunt vir die gehoor, want as jy al by ’n Afrikaanse troue was, gaan jy elkeen van die liedjies ken.

Wat kan die gehoor te wagte wees in die produksie dat dit hul nuwe gunsteling-trouherinnering gaan word?

Mense wat aanhangers is van my, gaan natuurlik weet daar is musiek. Aanhangers van Mel gaan weet daar is stories. Ek dink daar is ’n ander tipe energie wanneer ons saam op ’n verhoog is.

........
Mense wat aanhangers is van my, gaan natuurlik weet daar is musiek. Aanhangers van Mel gaan weet daar is stories. Ek dink daar is ’n ander tipe energie wanneer ons saam op ’n verhoog is.
........

Ek weet nie of mense regtig verwag het ons twee sal saamwerk nie en ek dink mense verwag ek is baie ernstig weens die dramatiese musiek wat ek sing, so daar is ’n dramatiese gedeelte van my, maar dit is nie al wat ek is nie. Ek weet nie of hul noodwendig nuwe herinneringe van trou gaan kry nie, maar ek kan jou verseker wanneer hulle hierdie produksie kyk, gaan daar oomblikke wees waar hul sal sê: “Onthou jy nog die en die se troue, dit is presies wat gebeur het”, of: ”Onthou jy hierdie het met my gebeur by my troue?” Ek kan jou ’n waarborg gee dat wanneer jy weer by ’n troue is, gaan jy sê dit is presies waaroor Corlea en Mel gesels het. Dit is iets waarmee letterlik almal kan vereenselwig. Daar is vir almal ’n oomblik in hierdie produksie.

Hoe ervaar jy dit om deel te wees van ’n komedieproduksie en nie net musiekteater nie?

In die grootste gros van my loopbaan is dit net ek as ’n solokunstenaar, alhoewel ek al vroeg in my lewe begin het met musiekteater. Dit is van die lekkerste tye so op die verhoog. Dit is ’n uitdaging op die verhoog, omdat jy nie net op jouself kan staatmaak nie. Daar is soveel ander elemente wat verkeerd kan gaan of anders uitdraai.

Vir my is dit natuurlik om in ’n rigting in te beweeg. Ek is mal oor komedie en kan nogal my skerp oomblikke hê. Ek en Mel werk goed saam met mekaar en speel goed van mekaar af. Ons is al op die punt met die produksie dat selfs al gaan ons van die boek af, weet ons presies waar om aan te vul by mekaar. Dit was vir my ’n natuurlike rigting om in te vaar en ek is dankbaar om dit te kan doen. Ons is albei baie opgewonde om by Aardklop te wees.

Hier is nog inligting oor vanjaar se Momentum Aardklop-fees.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top