Moet nooit ’n mislukking onderskat nie!
(Opvolg van “Oekraïne: Die storie kom van ver af!”)
.......
Die opskrif verwys na die dreigende teenstrydigheid van die Russiese blitzkrieg wat na net drie dae vasgeval het in ’n klaarblyklik uitgerekte stryd met dapper Oekraïnse teenstand.
.......
Geskiedenis en strategiese studies as dissiplines beoordeel tradisioneel militêre optredes by nabaat, wanneer tyd verloop het om die lesse geleer en foute begaan in perspektief te plaas. Met die skryf hiervan het twee weke verloop sedert die Russe Oekraïne militêr binnegeval het en is die luukse van tyd nie aan my kant nie. Die proses verloop so dinamies, die humanitêre krisis is so intens, en die nuwe tendense is so ingrypend dat ’n opvolg noodsaaklik is. Dit is tans winter in Oekraïne en bitter koud en dit sneeu, met temperature wat wissel tussen 6 en –6 grade Celsius, om die inval ook in menslike terme in konteks te plaas, ten spyte van die globale onsekerheid en opwelling van ’n pro-Oekraïnse en anti-Russiese sentiment.
Die opskrif verwys na die dreigende teenstrydigheid van die Russiese blitzkrieg wat na net drie dae vasgeval het in ’n klaarblyklik uitgerekte stryd met dapper Oekraïnse teenstand. Die Russiese teiken blyk tans die hoofstad Kiëf te wees, wat dan beheer oor Oekraine sal simboliseer. Alle aanduidings is dat die Russe die kompleksiteit van die inval op militêr-strategiese vlak onderskat het, maar ook as gevolg van ander faktore, soos die feit dat 80% van die invalsmag uit dienspligtiges bestaan. Die dreigende element van die mislukking is geleë in die feit dat die Russe oor ’n oorweldigende lugoormag, ’n uitgebreide kubervermoë en honderde kruisermissiele beskik en geen geheim maak van hulle kernvermoë nie. Hierdie vermoëns is nog nie op skaal aangewend nie. Die Russiese kernvermoë, beide takties en strategies, is tans die afskrikmiddel wat Navo-lande daarvan weerhou om direk militêr betrokke te raak, maar dit is ’n berekende spel, gebou rondom beperkende eskalasie van die konflik. Die waarde van ’n kernvermoë lê juis in die afskrikpotensiaal daarvan en nie in die gebruik daarvan nie, en beide kante weet dit.
’n Paar merkwaardige verwikkelinge het oor die afgelope twee weke die lig gesien. Die eerste is die rol van China, wat steeds neutraal in die agtergrond bly. Selfs in die VN se Algemene Vergadering-stemming op 4 Maart 2022 het China, soos Suid-Afrika en 33 ander lande, buite stemming gebly. China het Rusland gevra om dringend na die onderhandelingstafel te gaan en vrede met Oekraïne te sluit. Waarom sal China nie tot die konflik toetree nie? kan gevra word. Die antwoord is geleë in China se siening van sy eie interne situasie en om sy ekonomie te laat bly groei om sodoende vir sy groter wordende middelklas te kan sorg. China se belang is in ’n stabiele wêreldekonomie en ’n stabiele internasionale handelstelsel van in- en uitvoere. As daar egter een land is wat die Russe na onderhandeling sal kan dwing, is dit die Chinese en nie die Amerikaners nie.
Die tweede merkwaardige verskynsel is dat die Westerse moondhede hulle stem teruggekry het teen die onmenslike en berekende Russiese inval. Dit was nie die geval in 2014 met die anneksering van die Krim, waar 2022 se inval éintlik sy oorsprong het nie. Nie alleen het daar ’n opwelling van teenstemme ontstaan nie (so byvoorbeeld stem 141 uit 193 lande in die VN se Algemene Vergadering teen die inval), maar die betrokke partye stem daaroor saam dat baie sterk strafmaatreëls gevolg moet word, iets wat nie in 2014 die geval was nie. Alhoewel die stemming in die Algemene Vergadering nie afdwingbaar is nie, het dit baie sterk morele waarde. Suid-Afrika verstaan dit baie goed. In 1962 besluit die Algemene Vergadering dat apartheid ’n misdaad teen die mensdom is, maar dit is ’n niebindende besluit, maar met sterk morele impak – individue, organisasies, maatskappye en lande implementeer dit op hulle eie as gevolg van die moraliteit van die besluit. Iets soortgelyks het gebeur met die besluit van die Algemene Vergadering oor Oekraïne.
Die derde merkwaardige ontwikkeling was die omvang van sanksies teen Rusland en die Russiese leierskap onder Wladimir Poetin. Die omvang is groter as teen Suid-Afrika voor 1990, groter as teen Iran met sy kernambisies, en meer omvangryk as teen Hugo Chavez se Venezuela. In 2014 het sanksies teen Rusland ná die anneksering van die Krim-skiereiland nie optrede teen olie en gas ingesluit nie en die finansiële strafmaatreëls was omseilbaar. Daar word selfs genoem dat die huidige pakket finansiële en ekonomiese strafmaatreëls gelykstaande is aan ’n soort ekonomiese kernbom wat teen Rusland gebruik is. Daar is beperkinge op die Russiese reserwebank en die meeste handelsbanke, Rusland is afgegradeer na ver benede rommelstatus, en die Russiese geldeenheid het reeds meer as die helfte van sy waarde verloor. Al die fyn berekende voorbereidings wat Poetin getref het om Rusland teen Westerse ekonomiese sanksies te beskerm, is binne twee weke uitgewis.
Hierdie optrede het natuurlik wedersydse implikasies. Die verbod op Russiese olie- en gasaankope het die prys van olie laat verdubbel en in die meeste lande, ook in Suid-Afrika, is die brandstofprys op die oomblik op historiese hoogtepunte. Die konflik het die prys van kommoditeite soos goud, platinum, palladium, titaan, neon en andere ook die hoogte laat inskiet. Goud word gewoonlik gesien as ’n veilige hawe in tye van onsekerheid, maar die koste van olie, palladium en platinum word gedryf deur die feit dat Rusland ’n belangrike verskaffer is. Dieselfde geld natuurlik vir landbouprodukte soos koring, mielies en sonneblom, omdat beide Rusland en Oekraïne groot verskaffers is en die huidige oeste in gevaar is en die lewering uit Odessa aan die Swart See ’n groot risiko inhou.
Wat egter nuut is in terme van die toepassing van sanksies, is die toepassing daarvan deur nieregeringsorganisasies, individue en internasionaal bekende maatskappye. Boeing en Airbus het besluit om nie hulle vliegtuie in Rusland te ondersteun nie; McDonald’s het sy 850 kitsrestaurante gesluit; Ford, Coca-Cola en Apple het opgehou om handel te dryf in Rusland; en BP, asook Shell, het besluit om nie meer Russiese olie en gas aan te koop nie. Hierdie besluite is nie deur regerings afgedwing nie, dit is deel van die opwelling teen Russiese aggressie teen Oekraïne. Bogenoemde reaksies verleen aan die gebeure in Oekraïne ’n swartswaaneffek. ’n Swartswaangebeurtenis is iets wat sonder waarskuwing gebeur. COVID-19 was ’n klassieke voorbeeld hiervan. Die wêreld was bewus van die spanning tussen Rusland en Oekraïne, maar hoe die proses ontvou het, gee daaraan ’n swartswaankarakter.
’n Vierde merkwaardige tendens was die rol van die media en die sosiale media. Dit sluit die beperkings op media in wat in Rusland van krag is, sodat die algemene publiek in Rusland van mening is dat die Russiese optrede ’n militêre operasie is en nie ’n ekspansionistiese inval in die grondgebied van ’n soewereine staat nie. Die moderne wêreld is egter so digitaal verbind en aaneengeskakel dat dié tipe media-isolasie nooit volledig kan wees nie, en in Rusland is verskeie mense reeds in aanhouding oor hulle openbare optrede teen Poetin se oorlog. Buite die mediaborrel binne Rusland is dit egter ’n ander storie, waar joernaliste ons feitlik permanent soos realiteit-TV op die gevegsfronte bring. Die meeste moderne selfone beskik ook oor kamera- en videofasiliteite en dit word in megagrepe die wêreld ingestuur deur platforms soos Facebook, TikTok, Twitter en ander. Op hierdie punt kan genoem word dat die Suid-Afrikaanse Naspers en Prosus omvangryke digitale belange in Rusland gehad het tot voor die inval en ongeveer R10 miljard van sy 25,7%-aandeel afgeskryf het in die Russiese VK-groepe met sosialemedianetwerke soos VKontakte (met 70 miljoen maandelikse gebruikers) en Odnoklassniki.
Wat kan verder van die konflik verwag word? Aanvullend tot die scenario’s wat in die eerste artikel geskep is, kan nog twee belangrike uitkomste bygevoeg word. Die eerste is die moontlike partisie van Oekraïne in ’n oostelike en ’n westelike gedeelte as deel van ’n vredesooreenkoms. Partisie is ’n baie omstrede politieke oplossing en die Pakistan-Indië-model van 1947 of die skeiding tussen Ethiopië en Eritrea in 1993 dien as voorbeelde. Meer onlangs kan die Soedan-Suid-Soedan-skeiding van 2011 genoem word, omdat die partisiemodel met afskeiding die konflik moes besleg het, maar eintlik net eras van langdurige onvrede ingelui het. Die partisiescenario vir Oekraïne bied dus aan Rusland beheer oor die oostelike gedeelte van Oekraïne, waarskynlik met die Dnieperrivier as grens, en Kiëf en Odessa in Russiese hande. Dit laat die westelike deel van Oekraïne met Lwif as hoofstad dus die ruimte toe om met die Europese Unie saam te werk.
Nog ’n scenario wat sterker na vore tree, is die Finlandisering van Oekraïne as ’n neutrale land tussen Oos en Wes. Die model vir hierdie scenario is die geskiedenis van Finland sedert die Russiese Revolusie na 1917, maar veral na die Tweede Wêreldoorlog. Finland was deel van Rusland, maar is aangevuur deur ’n nasionalisme en patriotisme om as outonome staat te funksioneer, soos geïllustreer deur Jean Sibelius se Finlandia, en moes uiteindelik die knie buig voor Rusland na die Tweede Wêreldoorlog. Die vrede met die USSR het beteken dat Finland die streke Karelia, Salla en Petsamo aan Moskou moes sedeer en dat Finland as neutrale land buite enige militêre ooreenkomste teen die USSR moes bly. Finland het egter deel van die Europese Unie as ekonomiese blok geword. Militêr het Finland sy neutraliteit behou. Dit is tot vandag die status quo, al is Finland die vervaardiger van uitstekende wapens, soos Sako, Tikka en die pantservoertuig Patria, en al gebruik Finland die AK-47 (AKM) as standaard aanvalsgeweer, asook verskeie Russies-vervaardigde tenks en troepedraers. Hierdie Finlandisering van Oekraïne word deur baie as die enigste sinvolle uitkoms van die huidige konflik gesien wat Oekraïne sal toelaat om ekonomies na Brussel te kyk maar militêr-strategies en polities geen bedreiging vir Moskou sal inhou nie.
Waar laat hierdie konflik ons na die eerste paar weke? Niemand kan die huidige olieprys bekostig nie en dit laat die wêreld met net twee opsies: Vernuwe en verander gedrag met betrekking tot energieverbruik aan die een kant; of soek so gou as moontlik ’n politieke oplossing vir die geskil. Uit ervaring weet ons dat politieke onderhandelinge slegs plaasvind as beide partye besef dat hulle ’n skaakmatsituasie bereik het, en dit blyk nog nie die geval te wees nie. Poetin het dit reggekry om nasionalisme in Oekraïne te stimuleer en globale weersin in sy optrede te smee. Hy het dit reggekry om Navo nuwe lewe te gee en al 30 lidlande in dieselfde rigting te laat kyk.
Verder is dit duidelik dat energievernuwing tans op dieselfde vlak is as wat die soeke na ’n vaksien was met die uitbreek van COVID-19. In 1973 het ons gedink die Midde-Oosterse oliekrisis sou ’n einde maak aan ’n wêreldekonomie wat op olie gebou is, maar die Russiese inval in Oekraïne het ons nou veel nader aan hierdie werklikheid gebring. Die wêreld is nou onomkeerbaar op soek na hernubare energiebronne, iets wat geen omgewingsaktivis nog kon regkry nie.
Ons sien voor ons hoe die militêre sofistikasie en oormag van die Russiese weermag grootliks vertraag en gestuit word deur toegewyde, dapper en patriotiese Oekraïners wat na 1991 nie weer onder Russiese beheer wil staan nie. Ons sien voor ons ’n enorme humanitêre krisis hom afspeel met letterlik miljoene mense wat vlugtelinge in buurlande word. Ons sien voor ons hoe die Russiese ekonomie verbrokkel en hoe lande wat afhanklik is van Russiese olie en gas inderhaas alternatiewe bronne probeer ontgin. Die uitdaging waarvoor wêreldleiers te staan kom is om te verhoed die humanitêre krisis groter word en dat die streekskonflik eskaleer in groter ekonomiese en politieke vraagstukke. In onderhandelinge is dit soms nodig om jouself in die skoene van die teenkant te plaas en die wêreld deur sy of haar oë te bekyk. Ons is nie ver van daardie punt, waar dit in die wêreld se belang gaan wees om te verhoed dat Poetin met sy politieke ambisies die inploffing van Rusland kan veroorsaak nie. Die implikasies van hierdie moontlikheid is waarskynlik te omvangryk om behoorlik te begryp (en ook too ghastly to contemplate) en juis daarom moet ons die mislukking van die Russiese blitzkrieg in Oekraïne met die grootste moontlike omsigtigheid benader. Daar is geen militêre oplossing in hierdie konflik nie.
Kommentaar
Briljante stuk!
Insiggewend. Die indruk wat mens kry in die media is dat die internasionale magsbalans aan die tuimel is, en dat Poetin dit eksploiteer. Die kernkragverhoudings van ooste en weste is vir my kommerwekkend, as hierdie oorlog die gebruik daarvan as die nekslag vir 'n vredesluitingimpuls uitlok.
Ek stem saam! Ek het dit twee keer gelees!
Beter kan dit nie gestel word nie - duisend dankies hiervoor!
Interessant en goed uiteengesit.
Die grootste probleem wat oorkom sal moet word, is Poetin se magsbeheptheid. Volgens hom sal die oorlog net beëindig kan word as Oekraine instem om weer by Rusland ingelyf te word.
AGH, dis nie wat Poetin gesê het nie; hy sal sy troepe terugtrek indien Oekraine instem om neutraal te word.