Moenie die waarde van storievertelling in skole onderskat nie

  • 1

Corné van der Vyver het navorsing gedoen oor storievertelling as onderrigstrategie in skole. Haar bevindings is in LitNet Akademies se Opvoedkunde-afdeling in die artikel “Die rol van vennootskappe in die versterking van storievertelling as ’n onderrigstrategie in ’n gemeenskap” gepubliseer. Melt Myburgh het haar uitgevra oor die waarde wat storievertelling vir leerders, skole en onderwysers inhou.

..........

Corné van der Vyver (Foto: verskaf)

Jou artikel lê klem op die belangrikheid van storievertelling in skole. In praktiese terme, presies wat is die idee met storievertelling in die klaskamer? Moet onderwysers mense uit die gemeenskap betrek om stories aan leerders te vertel? Op watter ander maniere word storievertelling in die klaskamer geakkommodeer?

Die idee agter storievertellinge in die klaskamer is om die verbale taal en vaardighede van die leerder te ontwikkel. Storievertelling neem tyd en vra heel dikwels ook vir ’n veilige ruimte waar ek my storie sonder voorbehoud kan vertel. Daarom word storievertelling in die klaskamer gesien om tyd beskikbaar te stel aan leerders om hulle stories te deel. So kom leerders agter dat hulle stem ook belangrik is. Hulle kan aansluit by ’n onderwerp wat ’n onderwyser aanraak, leer om te luister en om hulle eie gedagtes en emosies te verbaliseer.

Die onderwyser kan self ’n storie vertel wat met hom/haar gebeur het en leerders sal daarby aansluit. Of die onderwyser kan vra wie is lus om te vertel van iets wat oor die naweek gebeur het. Die jonger leerders sal dadelik vra of die dinge werklik moes gebeur het. Die onderwyser kan hulle dan aanmoedig om oor werklike gebeure te vertel.

Dit sal goed wees om mense uit die gemeenskap te betrek om stories in die klas te kom vertel. Die idee is egter dat daar storievertelplatforms in die gemeenskap gestig word waar leerders weet hulle aan storievertelling kan gaan deelneem – hetsy om hulle eie stories te vertel of om net na ander se stories te luister, want stories neem tyd (is slow-brewed) en daarvoor is daar nie plek op die rooster van ’n skooldag nie. Die onderwyser kan daarom ’n storieverteller uit die gemeenskap kry om ’n storie in die klas te kom vertel sodat leerders meer bewus word van die storievertelplatform(s) in die gemeenskap en sodoende gemotiveer word om hierdie vertellings in die gemeenskap by te woon.

Stories het sodoende verskeie voordele. Dit onderrig leerders in meer as een aspek en hou hulle konstruktief besig, en terselfdertyd word hulle identiteit versterk, omdat vertellers en die gehoor met mekaar kan assosieer deur hulle stories.

Ander maniere waarop storievertelling in die klas geakkommodeer kan word, is byvoorbeeld wanneer leerders nuus vertel, byvoorbeeld van hulle vakansie of hulle noue ontkomings. Hierdie vertellings is enkele episodes uit die vertellers se lewe, maar berei hulle goed voor op die lewensverhaalvertelling.

So kom hulle ook agter dat ons eintlik daagliks besig is om stories te vertel. Wie is daar wat nie kan wag om by die skool te kom en die sappige brokkie nuus te vertel nie – wat ek alles tydens die vakansie gedoen het, of die motorongeluk waarin ek betrokke was. Indien iets met ons gebeur, sal ons gou ’n gewillige oor soek vir wie ons die gebeurtenis kan vertel. Indien die gehoor ’n mens is en nie tegnologie nie, het dit tog soveel meer waarde.

Hoe werk die assessering van leerders na aanleiding van stories waarna hulle geluister het?

Luister en praat is van die taalvaardighede wat in elk geval geassesseer word volgens die voorskrifte van die KABV. Die onderwyser kan daarom net ’n luisteroefening opstel uit die storie waarna die leerders moes luister waarvolgens hulle die leerders kan assesseer.

Jy wys in jou artikel daarop dat navorsing deur die Amerikaner McAdams toon dat persoonlike storievertelling slegs in vroeë volwassenheid (15–18 jaar) effektief onderrig kan word. In die Suid-Afrikaanse kurrikulum word daar voorsiening gemaak vir storievertelling as deel van die luister-en-praat-riglyne, maar die klem val grotendeels op storievertelling in die laer grade, en daar is geen teken van in die graad 12-kurrikulum nie. Doen ons departement en onderwysers dinge dus verkeerd om?

Jy verstaan dit heeltemal korrek. In plaas daarvan dat ons leerders slegs in die laer grade blootstel aan storievertelling en die tyd wat bestee word aan storievertelling in die hoër grade toeneem, is die voorskrifte in die KABV presies omgedraai. Die KABV ruim baie tyd in vir storievertelling in die laer grade en dan neem die tyd af totdat dit heeltemal verdwyn in die hoër grade. En eintlik moet storievertelling in die hoër grade plaasvind om regtig van waarde te wees, omdat leerders eers tydens jong adolessensie die vaardigheid van persoonlike storievertelling bemeester.

Kan jy deur middel van ’n praktiese voorbeeld verduidelik hoe onderwysers te werk moet gaan wanneer hulle mense uit die gemeenskap wil betrek om verhale aan leerders te vertel?

Vaardige persone in storievertelling moet gebruik word om storievertelplatforms (noem dit sommer storievertelklasse) te fasiliteer. Waar ons onlangs hierdie storievertelklasse opgerig het, het die fasiliteerder haar lewensverhaal gebruik as aanknopingspunt vir die meer volwasse gehoor. Die stories vloei dan spontaan vanuit die fasiliteerder se stories, omdat die gehoor daarmee kon assosieer of met sekere episodes in haar verhaal.

Plakboekaktiwiteite is handige aanvullings vir storievertelklasse (Foto: Corné van der Vyver)

Ons het ’n plakboekaktiwiteit (scrapbooking) ingebring wat die meer skugtere vertellers kon gebruik om hulle stories op ’n meer abstrakte wyse te vertel. Sodoende maak dit hierdie vertellers se stories minder toeganklik vir Jan Alleman. Die simboliek op die plakboekbladsy moet deur die verteller verduidelik (vertel) word sodat die gehoor ingelyf kan word in die kodetaal van die storie om die storie te kan lees. Die gehoor ken met ander woorde nie die kodetaal van die foto’s en ander simboliek om die plakboekinskrywing sonder die verduideliking van die verteller te lees nie.

Vir leerders wat nog nie volwasse genoeg is om hulle lewensverhale te vertel nie, is geleentheid geskep om hulle drome of toekomsverwagtinge te vertel. Jonger leerders geniet dit om te sien hoe hulle drome gestalte kry in foto’s en inskrywings tydens die plakboekaktiwiteit. Vertellers het op hierdie manier die keuse of hulle hul kodetaal bekend wil maak of nie. Die ervaring is dat die meeste graag hulle stories wil vertel omdat dit vir hulle so lekker was om hulle stories uit te pak.

Die onderwyser kan sodoende hierdie stories assesseer as skryfaktiwiteit, of praataktiwiteit, of luisteraktiwiteit. Daar kan met die storievertelklasfasiliteerder ooreengekom word om die hele klas te akkommodeer vir hierdie aktiwiteit, en sodoende verlig dit ook die onderwyser se werkslading.

Skoolhoofde en onderwysers kan persone in die gemeenskap identifiseer wat ’n voorliefde het vir storievertelling. Tydens my navorsing het ’n ongeletterde persoon spontaan na vore gekom om hierdie storievertelklassse te implementeer – iemand hoef nie geletterd te wees om stories te kan vertel nie. My ervaring is dat hierdie persoon self sien hoeveel waarde hierdie storievertelling tot die gemeenskap toevoeg en daarom so begeester is om hierdie klasse te laat werk dat hulle baie vernuwend word.

Later gebruik hulle afvalmateriaal wat in die woonbuurt rondlê en die buurt ontsier as middele om die vertellers te help om hulle stories te vertel en die rommelprobleem word spontaan opgelos. Die vertellers leer wie hulle is en watter bydrae hulle tot die gemeenskap kan lewer en dit gee vir hulle waarde. Dit werk soos ’n liggaam – die hand kom agter die liggaam vind baat by sy vaardighede en veroorsaak dat die liggaam beter funksioneer. Dit begeester weer die oog om ook sy waarde (identiteit) uit te vind en sy waarde toe te voeg tot die liggaam om optimaal te funksioneer.

Jy wys op die belangrikheid van ouerbetrokkenheid by skole, maar daar is baie leerders wat sonder die ondersteuning van ouers deur hulle skoolloopbaan moet gaan. Hoe lyk die prentjie in ons skoolgemeenskappe, en watter rol speel storievertelling ten opsigte van leerders se ondersteuning wanneer ouers nie aktief betrokke is nie?

Stories neem juis die plek in van afwesige ouers op die vlak waar kinders in volwassenes se geselskap stories kan konstrueer. Die lesse wat ouers veronderstel is om hulle kinders te leer, word nou deur middel van stories aan die kinders oorgedra.

Die hele aktiwiteit van storievertelling het op sigself ook baie lesse. Wanneer iemand praat, luister ek, want wanneer ek praat, wil ek hê ander moet luister (ons respekteer mekaar). Ek kan deelneem aan die storie wanneer dit van my gevra word. Ons maak beurte. Ons vertel nie sommer ander se hartseer stories oor nie; dit is heilige grond. Wanneer iemand ’n grappige storie vertel, mag ek dit met sy toestemming oorvertel. Ek onthou ek het hierdie week in die storievertelklasse iets gehoor van wat ek nou beleef en ek onthou wat die verteller vertel het en hoe die verteller die situasie hanteer het en wat die uitkoms van die implementering was.

Storievertelling is iets wat al van die heel vroegste tye met ons is. Waarom is dit so belangrik en waarom behoort dit steeds ‘n integrale deel van mense se interaksies te wees?

Persoonlike storievertelling bewerk juis dit wat in digitale storievertelling kortkom – om mense te verbind deur middel van raakpunte in die onpersoonlike digitale era. Dit het COVID-19 ons ook kom leer – ons wil êrens behoort, aan iemand raak, iemand fisies sien en hoor. Ek identifiseer met jou storie, want ek het ’n soortgelyke ervaring gehad. My storie word ons (die gemeenskap se) storie. Jou probleme word my probleme. Jou oplossings word my oplossings. Jou humor is my humor. Dit bevestig dan die feit dat ek êrens behoort. My identiteit word daardeur bevestig.

Jy verwys in jou artikel na McAdams se benadering tot die biografiese lewensverhaal en die rol wat storievertelling daarin speel. Is daar foute of leemtes waarop vertellers bedag moet wees wanneer identiteit deur die vertelproses gekonstrueer word?

Die leemte waarop ek die grootste klem kan plaas, is die feit dat kinders só in hulle verbeelding leef tydens storievertelling dat dit maklik soos ’n liegstorie kan klink. Dit is ook ’n manier om die sleg en die verkeerd uit hulle identiteit te weer. Kinders dink dat hulle slegte waarheid ’n skinderstorie kan word.

Die deelnemers het egter vinnig geleer dat die sleg en verkeerd ons juis maak wie ons is en dit is juis die sleg en verkeerd wat ons laat groei in ons menswees. Dit is as gevolg van die sleg en verkeerd dat ons vir iemand anders iets kan beteken wat dieselfde sleg en verkeerd beleef omdat ek ook daar was.

Dit is ook heel dikwels vir vertellers moeilik om hulle eie lewensverhale te vertel. Alhoewel dit meestal perspektief en genesing bring om jou eie storie te vertel, veral waar daar baie trauma voorkom, is dit moeilik om afstand te bring vir die verteller tussen die gebeure en die verteller as karakter in die storie. Dit sou in hierdie geval dalk as oplossing kon dien om ’n handpop te gebruik wat die storie vertel om die afstand te bewerkstellig. Die pop vertel dan die storie – die pop het die gebeure beleef.

Alhoewel die vertellers hulle stories beleef het, moet mens onthou dat daar baie faktore in spel kom wanneer die gebeure interpreteer word, maar dit is nog die storieverteller se belewenis en daarvoor moet die gehoor respek toon.

 

Lees Corné van der Vyver se LitNet Akademies-artikel oor storievertelling in die klaskamer hier:

Die rol van vennootskappe in die versterking van storievertelling as ’n onderrigstrategie in ’n gemeenskap

  • 1

Kommentaar

  • Dit is baie belangrik om daarop te let dat alhoewel die KABV-dokument tyd inruim vir stories dit soms as vergoeding vir goeie gedrag vertel word. Baie onderwysers lees ook eerder stories as om dit te vertel. Beide stories vertel en stories lees het wel waarde, maar moet gebalanseer word. Wat my getref het tydens my eie navorsing in Graad R-klasse is dat die onderwysers alleen eienaarskap vir die vertel en lees of vertel van stories neem. Leerders is baie kreatief en kan self wonderlike stories vertel, maar word baie min die kans gegun. Soms is die stories nie geskik vir die vlak nie en leerders raak moeg of verveeld. Die gebruik van die kunste soos musiek, teken, dans en so meer is uitstekende maniere om die stories te laat lewe. Om oor stories te gesels, verg baie meer tyd as hierdie kort insetsel.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top