Moenie dat ek jou verveel met my reisherinneringe nie

  • 1

Venesië (Foto: Liné Loff)

Ek begin my skaam om oor reis te praat. In ’n land waar die vallei tussen ryk en arm – of min of meer gemaklik en brandarm – so wyd gaap, voel dit bloot onsensitief, self vulgêr. As ander mense nie kos het om te eet nie, waarom foto’s plaas van die pizza wat jy in die skadu van die toring van Pisa verorber het?

My ouers het min of meer elke jaar oorsee gegaan, in die jare toe die dollar en die rand karperde en twee rand een pond was. Ons kinders is agterna aan eindelose skyfies van galerye en museums onderwerp.

Ek het relatief min gereis in my lewe. As kind is ek vertel: Jou beurt sal kom. Maar toe word ek ’n enkelouer wat vir jare moes watertrap om nie te verdrink nie.

My eerste oorsese reis was saam met my eksman; ’n uitgestelde wittebrood. Hy was ’n reisgenoot uit die hel, laat ek dit maar noem – selfs op die wittebrood. Ek was reeds swanger met ons oudste dogter. Ek was naar, my voete het opgeswel en ek moes konstant piepie. Hy is patologies suinig en beheervraatsugtig en het my uitgeskel as ek by die openbare toilette verneuk is met kleingeld.

..........
Om een of ander rede het hierdie gedeelde oomblik die dag gered en ek het opgestaan en verder gestap na ons gastehuis – ’n kamertjie in die kelder van ’n bemoeisieke hospita wat soggens vir elk een sny roosterbrood en een eier opgedis het.
..........

So het ek eendag in Nederland plat op die sypaadjie gaan sit en my trouring dramaties afgehaal om dit in die kanaal te gooi. Maar op daardie oomblik sien ons al twee ’n grusame toneeltjie: ’n Huisbooteienaar voer ’n slap, geel kuiken vir ’n gulsige ooievaar. Om een of ander rede het hierdie gedeelde oomblik die dag gered en ek het opgestaan en verder gestap na ons gastehuis – ’n kamertjie in die kelder van ’n bemoeisieke hospita wat soggens vir elk een sny roosterbrood en een eier opgedis het.

Ons sou die volgende dag die Van Gogh-museum besoek, maar toe baklei ons heeldag in die kamer, so luid dat die hospita ons kom vra om asseblief ons tasse te pak en haar huis te verlaat. My eksman besluit toe alles is te duur en ons vertrek terstond na sy gegoede ouerhuis in Oostenryk waar sy ma ons gratis sal bederf. Sy was dankbaar dat haar Sorgenkind tot trou gekom het. Sy het haar bes gedoen om ons die besienswaardighede van haar land te wys. En daar is ’n paar goed wat my bybly. Nie die dinge waaroor reisigers gewoonlik skryf nie; nie monumente, ruïnes of kunswerke nie. Miskien wel Hundertwasser se huis.

Dit is lukrake oomblikke wat in my kop blyplek vind. Die familie (o, so ordentlik) gaan vir ’n wandeling in die buurt ná die Sondagmiddagmaal. In hulle popdorpie het iemand teen ’n muur in groot blokletters gespuitverf: FUT IST GUT WENN’S STINKEN TUT. JE NÄSSER, JE BESSER. Ek het net begin regkom met die omgangstaal (hulle dialek is redelik ver van my skool-Duits verwyder) en was leergierig. Wat beteken dit? wou ek dwaaslik weet. Niemand het my geantwoord nie. Almal het weggekyk soos mense wat fluit terwyl hulle verby ’n begraafplaas stap. Sê niks, dan is daar niks, was die beleid. Indien jy sukkel om die straattaal te vertaal, gee ek jou ’n sleutel: As die Cape Flats in Oostenryk was, sou hulle gesê het “Jou ma se Fut”.

Ook ’n oomblik in ’n restaurantjie op die platteland, toe ’n jonger vrou my ou swerkater van ’n eksskoonpa met groot entoesiasme nader en sê: “Uiteindelik kan ek nou jou vrou en gesin ook ontmoet!” Hy het haar doodluiters verloën en geen haan het gekraai nie. Niemand het weer daarna verwys nie. So is hulle. Alles word onder die mat ingevee.

Ek is vir die tweede keer Oostenryk toe toe my oudste drie was – haar pa het ons twee na sy ouers gestuur vir ses maande, sodat hulle haar kon leer ken en in ’n poging om ons huwelik te red. Ek was te vinde vir ’n avontuur. Wanneer ek hom bel en vra om geld oor te plaas, vra hy eenvoudig sy ma om vir my geld te gee. Dus het ek nie weer gevra nie en platsak deur die strate van Gleisdorf gestap, ure aaneen, deur sneeu en reën, met ’n driejarige op sleeptou, op die heup, op die skouers. Gelukkig het ek vir Martina ontmoet, oor wie ek al hier geskryf het, en het ek en sy en my kind Oostenryk elke naweek platgereis, tot die konsternasie van die skoonfamilie.

Nadat ek geskei is, was ek in ’n intense vonkposverhouding met ’n oorsese kollega gewikkel, want skielik was die internet daar. Hy het die fabriek waar ek gewerk het besoek van die moedermaatsappy in Duitsland en daar was ’n vonkie tussen ons. Señor Anibal Aquino de Centurion is ’n Suid-Amerikaner wat in Duitsland woon, 20 jaar ouer as ek. ’n Sensitiewe, emosionele man met groot bruin oë. Passievol oor Suid-Amerikaanse en Spaanse skrywers en digters. Ek het heelwat Spaans opgetel en my Duits het verbeter. Ek het twee maal vir hom gaan kuier en groot dele van Duitsland, Nederland en België gesien, totdat Jeanne Goosen sy hand in die as geslaan het.

..........
Dis wonderlik om skilderye en beelde wat jy ’n leeftyd ken van aangesig tot aangesig te sien, maar my hart behoort aan Venesië.
..........

Daarna was ek drie maal saam met my geliefde Engeland toe, waar haar broer en sy man in ’n herehuis in Ascot woon. Die wisselkoers is so benard dat dit vir my pynlik is om uit te eet of in ’n boekwinkel te vertoef. Ons was ook Italië toe – Venesië en Florence. Florence is by uitstek die kunsstad en ons was in ’n hele paar museums. Dis wonderlik om skilderye en beelde wat jy ’n leeftyd ken van aangesig tot aangesig te sien, maar my hart behoort aan Venesië. Dis seker oppervlakkig van my, maar al die clichés – die gondels, die interessante, oerou stank van groen water, die stegies en doolhowe – het my oorrompel. Daar was darem ook Peggy Guggenheim se palazzo vol verstommende kuns.

Ek weet nie of ek gou weer oorsee gaan reis nie. Maar die plekke waar ek was, leef in my kop. Ek kan nie, soos my ma, in die fynste besonderheid vertel waar ons elke dag was en wat ons alles gesien het nie. Ek onthou die reuk van ongelooflike oudheid, mos en keisteen, geel velde, ’n vreemdheid in die lug, eeue se geskiedenis, ’n leeftyd se poskaarte wat lewe kry. ’n Versigtige herkenning op sellulêre vlak.

Lees ook:

Martina, die sneeukegel van ’n Europese lente lank gelede

  • 1

Kommentaar

  • Nice article – thanks. Beautifully written – reminds me of Norman Lewis, a now almost forgotten travel writer from the fifties. Bringing in the human dimension, as you've done, can transform good travel writing. Keep it up.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top