
Martina Gruber (foto: verskaf)
...........
Een van my gunsteling- John Irving-boeke is Setting free the bears. Hy het dit geskryf toe hy 25 was. Twee outjies skop hul studies aan die Universiteit van Wene op en reis per motorfiets deur Oostenryk. Graff is die verteller. Siggy is eksentriek en koddig, waarskynlik gay. Hy het ’n obsessie met soutpotte, wat hy oral steel. Hulle plan is om die bere in die Weense dieretuin vry te laat. Dis ’n lieflike verslag van die soort grenslose vriendskap wat moontlik is wanneer ’n mens baie jonk en sonder sorge is. Chaoties en impulsief.
............
Een van my gunsteling- John Irving-boeke is Setting free the bears. Hy het dit geskryf toe hy 25 was. Twee outjies skop hul studies aan die Universiteit van Wene op en reis per motorfiets deur Oostenryk. Graff is die verteller. Siggy is eksentriek en koddig, waarskynlik gay. Hy het ’n obsessie met soutpotte, wat hy oral steel. Hulle plan is om die bere in die Weense dieretuin vry te laat. Dis ’n lieflike verslag van die soort grenslose vriendskap wat moontlik is wanneer ’n mens baie jonk en sonder sorge is. Chaoties en impulsief.
Ek het so ’n Oostenrykse somer beleef toe ek jonk genoeg was om dit te waardeer. My eksman het my en ons dogtertjie, drie jaar oud, na sy ouers in Gleisdorf, ’n popdorpie in die Steiermark, gestuur om hulle en die taal te leer ken. Met die oog daarop om permanent daarheen te trek. Ons was vir ses maande daar. Ek het vryskutvertaalwerk op ’n primitiewe skootrekenaar gedoen, snags by die kombuistafel. Die kind was woelig en ek het haar leer lees en skryf.
My eks-skoonouers was uiters tradisioneel en roetinevas. Ek was platsak. Ek was tussen stasies, los van tyd, weer ’n kind in die huis met my skool-Duits. Die kans op ’n tweede verspeelde jeug. Ek en my kind het deur strate vol sneeu, snerpend, gestap en gestap. Ek het skaatse aangetrek en haar op ’n slee oor ’n bevrore meer getrek totdat sy huil om huis toe te gaan, sy voel nie meer haar neus nie.
Ek het vroeër ’n Oostenrykse vrou in haar twintigs bevriend op een van haar reise na Suid-Afrika (ek was dertig). Martina was ’n vry gees. Sy was die bestuurder van ’n onderneming wat marmer- en granietkombuisoppervlakke vervaardig het, maar dit was net om te kan reis. Sy het saksofoon gespeel. Sy het begin om elke naweek vir my en Simone treinkaartjies Wene toe te koop, waar sy in ’n bachelor flat gewoon het. Die rusbank het snags oopgeslaan tot ’n driekwartbed. Die kombuisie was piepklein en die balkon so groot soos ’n posseël was haar vrieskas. Sy het gesê ek moet mooi kyk na haar vensters, want ek sal nie weer sulke vuil vensters in Oostenryk sien nie. In haar sitkamer was ’n jakarandasaad soos ’n kastanjet – so eksoties in daardie wit winter.

Martina Gruber (foto: verskaf)
Ons het gestap, trein gery, geboemel, musiekkonserte en bierfeeste bygewoon, altyd met die kind op sleeptou. Martina was baie goed met haar, want sy was ’n grootmens vol verwondering. Met altyd ’n toertjie of truuk om ’n kind te vermaak, soos Marianne Sägebrecht in Bagdad Cafe.
..........
Ons het gestap, trein gery, geboemel, musiekkonserte en bierfeeste bygewoon, altyd met die kind op sleeptou. Martina was baie goed met haar, want sy was ’n grootmens vol verwondering. Met altyd ’n toertjie of truuk om ’n kind te vermaak, soos Marianne Sägebrecht in Bagdad Cafe.
..........
Ons het in ysige mere geswem en op haar familieplaas in die Pinzgau gekuier – dis ’n wêreldberoemde ski-bestemming; daar is ’n gletser wat nooit smelt nie. Hoë berge, skoon lug. Haar familie woon in ’n eeue oue kasteel, wat intussen ’n gastehuis geword het. Daar was pikareske skure vol knus koeie. Haar kamer op die hoeveelste verdieping was klein, met houtmure soos ’n sauna. Daar was al haar bekers, sertifikate, ou ski’s en sneeuskoene; haar hele jeug onaangeraak bewaar, soos in ’n tydborrel. Toe ek uit die huis is, het my ma al my goed in bokse gepak en my aangesê om dit te kom haal. My kamer het ’n gastekamer geword.
Martina se tante het haar grootgemaak. Haar ma was ’n hippie wat maar nie vastigheid gekry het nie. Sy het swanger geword by ’n Duitser en die kind vir haar familie gebring om groot te maak. Sy moes reis. Soms het sy Martina vir ’n rukkie by haar gehad, maar “ek was te veel vir haar,” het sy vertel. Haar ma is vroeg dood aan borskanker. Haar pa, wie se speelplek die wêreld was, is op ’n seiljag doodgeskok. Sy is ’n weeskind.
Martina was beeldskoon op ’n recreant-manier – soos die robotte in Blade runner. Sy was lenig, seningrig, androgien. Haar hare was blond en poenskop geskeer, sy het ’n hoë, ronde voorkop en blou oë wat dwarsdeur jou kyk. As ’n mens ’n opmerking maak wat simpel of nie mooi deurdag was nie, het sy jou vierkantig bly aankyk sonder om ’n ooglid te verroer. As iemand haar dronkslaan, het sy met haar voorvinger ’n klein sirkelbeweging naby haar slaap gemaak. Sy het min gepraat en wat sy gesê het, was pittig. Toe ek een keer vir haar sê sy is die beste mens wat ek in Oostenryk ken, het sy gesê: “Jy moet meer uitkom.”
In haar kamer met die houtmure het ek in ’n skoolboek ’n opstel gelees wat sy op laerskool geskryf het. Sy het vertel van ’n skooluitstappie waarop sy amper doodgery is deur ’n bus. As ek dood was, wat sou dit gehelp het dat ek glo so danig slim is? het sy gevra.
Ons het road trips kruis en dwars oor Oostenryk onderneem. Oral op die platteland is Gasthaus-uithangborde – elke plaashuis het ’n kamer wat vir gaste ingerig is. Hulle kook ook vir jou; hoenderschnitzel so groot en plat soos ’n bord, ruim tuisgemaakte chips, Sauerkraut en altyd, altyd appelmoes. Dis ’n appelbier wat yskoud uit vate in die kelder kom. Dis soet en suur en gaan kop toe. Drink jy te veel, het jy nie die volgende dag ’n babelaas nie, net ’n goeie opelyf. “Es zieht,” sê hulle. Dit trek.
Martina het toe reeds baie gereis en musiek van oral saamgebring op kassette. Dit het ons onderweg geluister – Suid-Amerikaanse en Afrika-musiek wat ons hartklop en die polsslag van die landskap oorneem.
En skielik word dit lente. So ’n dramatiese oorgang het ek nooit hier beleef nie. Ek onthou velde vol geel canola, woudblommetjies, sonskyn op deurskynmere.
Eendag neem ons reis ons na die provinsie waar my eks-skoonouers woon. Dit raak skemer en Martina stel voor ons gaan oornag by hulle. Ek het my bedenkings gehad, want ek weet die mense hou nie van verrassings nie. Dit was ’n toweragtige dag. Martina het met die hand ’n reënboogforel in ’n stroom gevang en ons was nat, vuil en moeg, vol son en vrede. Toe ons die deurklokkie lui, kom maak die twee ou mense oop, in japonne en met pantoffels, gereed vir die bed en stomgeslaan. Simone oorhandig die Tupperware-bak met die forel en sê in skaflike Duits: “Oma, ons het aandete gebring.” My eks-skoonpa se onmiddellike reaksie is: “Maar dit is tog heeltemal onwettig.” My eks-skoonma krabbel om beheer: “Waar gaan ek julle laat slaap?” My dogtertjie antwoord: “Toemaar, Oma, ons slaap sommer altyd al drie saam op een bed.”
Martina het daardie vis in botter gaargemaak en my eks-skoonpa het ’n bottel wyn uit die kelder gaan haal, iets wat hy nie elke dag doen nie. Sy het hulle geheel en al gesjarmeer.
Daardie lente woon vir ewig in my kop, geraam in veldblomme, sonskyn, appelbier, Mercedes Sosa, Martina en die ongekompliseerde, onbevraagtekenende liefde van jeug.
Ek het ’n gedig daaroor geskryf, lank gelede:
Martina
When I was a child I spun the dusty globe
fingered latitudes and longitudes of a slow afternoon
Later I stood on my head
and saw the northern hemisphere
When you stuck your pale hands in a stream
and came up with a rainbow trout
I wanted to slow the spinning of the globe
to hold onto the afternoon when you shone
I had never held a living fish before
in my hands it was the hard belly of a man
in the moment before it explodes into stars
It slipped my hold but you caught another
snapped its neck and turned it inside out, a silver sock
Go slow summer day in Styria
we drank apple cider smiled
while the day spun away
but your rainbow trout swam upstream in my veins
and in my heart I hold the moment and Martina
Naskrif.

Martina Gruber is nou ’n fotograaf en hierdie voorblad van Tom Dreyer is een van haar foto’s (foto: verskaf)


Kommentaar
Mag hierdie deel wees van jou lewensverhaal. Ek ken absoluut niemand anders wat so 'n sprokieslewe leef/geleef het nie.
Wat ’n ongelooflike verhaal wat my laat verlang na iets wat ek van droom en na verlang – sulke dae en ondervindings is vir ons slegs ’n fantasie! Jy het dit pragtig beskryf en ek verlang om so ’n boek te lees. ’n Vriendin duisend!!