Moeders van ’n hoërisikogemeenskap se fotostemverkenning aangaande gemeenskapsbronne en behoefte aan verandering

  • 0

Moeders van ’n hoërisikogemeenskap se fotostemverkenning aangaande gemeenskapsbronne en behoefte aan verandering

Izanette van Schalkwyk en Anthony V. Naidoo, Departement Sielkunde, Universiteit Stellenbosch

LitNet Akademies Jaargang 18(2)
ISSN 1995-5928

 

Opsomming

Inheemse studies is van deurslaggewende belang om kontekstuele kennis te verkry om positiewe sosiale en fisiese verandering in hoërisikogemeenskappe teweeg te bring. Direkte skakeling en vennootskappe met gemarginaliseerde onderdrukte gemeenskappe is noodsaaklik in die wetenskaplike proses. Die fokus van dié kwalitatiewe studie was om met die moeders van ’n spesifieke hoërisikogemeenskap gemeenskapsbronne en behoeftes te verken deur middel van deelnemende-aksie-navorsing met die oog op verandering as ’n proses van bemagtiging. In aansluiting by ’n gemeenskapsielkundige perspektief, is die ekologiese model gebruik om die kompleksiteit van faktore geassosieer met moeders en hul kinders se funksionering in ’n hoërisikogemeenskap beter te verstaan. Gemeenskapsielkunde onderskryf die praktyk van metodes/tegnieke wat met deelnemende-aksie-navorsing geassosieer word. Kontekstuele data is ingesamel met behulp van ’n multimetode- deelnemende benadering: ’n fotostemtegniek waar moeders inligting verskaf het oor die eksterne hulpbronne en behoeftes van die verskeie gebiede van hul gemeenskap (eksterne omgewing) en ’n retrospektiewe tydlynoefening waar moeders inligting gegee het oor hul interne omgewing. Tematiese ontleding is by wyse van induktiewe en deduktiewe benaderings gedoen. Fotostembevindings (induktiewe benadering) het die moeders se waardering vir gemeenskapsbronne getoon in hul funksionering as moeders in hierdie hoërisiko-omgewing, maar hulle het ook die ernstige tekortkominge en gevare van hierdie konteks beklemtoon. Die bevindings wat gerig is deur ’n deduktiewe benadering toon die invloedryke gemeenskapsbronne van moeders se sosiale en fisiese omgewing in hierdie hoërisikogemeenskap. Die bevindings het die belang van kontekstualisering van die navorsingsproses bevestig deur die moeders se aktiewe betrokkenheid as medenavorsers as ’n primêre praktyk vir sosiale verandering uit te wys. Daar word aanbeveel dat toekomstige navorsing toenemend kontekstuele inligting sal insamel deur die gebruik van deelnemende-aksie-metodes om die navorsingsproses as vennootskap te optimaliseer in die vestiging van eg inheemse Suid-Afrikaanse studies.

Trefwoorde: deelnemende-aksie-navorsing; fotostemtegniek; gemeenskapsielkunde; hoërisikogemeenskap; moeders; retrospektiewe tydlyn

 

Abstract

A photovoice exploration by mothers living in a high-risk community of community resources towards transformation

Indigenous studies are of crucial importance to obtain contextual knowledge towards positive and physical transformation in high-risk communities. Direct contact and partnering with marginalised and disadvantaged communities is essential in the scientific process. The focus of this qualitative study was to explore with mothers of a particular high-risk community the resources and needs of their community by means of participatory action research towards transformation as a process of empowerment. In alignment with a Community Psychology perspective, we used the ecological model to obtain a better understanding of the complexity of factors associated with the functioning of mothers and their children in a high-risk community. Community Psychology endorses the praxis of methods/techniques associated with participatory action research. Contextual data were collected via a multimethod participatory approach: a photovoice technique where mothers provided information about the external assets/resources and the needs of the various areas of their community (external environment) and a retrospective timeline exercise where mothers provided information about their internal environment. Thematic analysis of the collected data was conducted by means of inductive and deductive approaches. Photovoice findings (inductive approach) showed mothers’ appreciation for community resources in their functioning as mothers in this high-risk community, but they also emphasised the serious deficits and dangers of this context. The findings directed by a deductive approach indicated the influential community resources of mothers’ social and physical environment within this high-risk setting. The findings confirmed the significance of contextualisation in the research process by incorporating the mothers’ active involvement as co-researchers as primary practice for social transformation. Recommendations emphasise that contextual information should be used progressively via the use of participatory action methods to optimise the research process as partnership in establishing authentic indigenous South African studies.

Keywords: community psychology; high-risk community; mothers; participatory action research; photovoice; retrospective timeline

 

1. Inleiding

“Never doubt that a small group of thoughtful committed citizens can change the world; indeed, it’s the only thing that ever has.” (Margaret Mead)

Die fokus van hierdie kwalitatiewe navorsing was om deur deelnemende-aksie-navorsing met moeders van ’n Suid-Afrikaanse hoërisikogemeenskap kontekstuele kennis te verkry van gemeenskapsbronne en behoeftes, gemik op sosiale en fisiese verandering. Die gebruik van gepaste metodes om deelnemers se persoonlike standpunte en posisionering in die gemeenskapsinteraksieproses te verseker, bied ’n goeie werkwyse om ongelykhede in die samelewing aan te pak (Lazarus, Taliep, Bulbulia, Phillips en Seedat 2012:511). Sosiale wetenskaplikes beklemtoon die komplekse rol van mag en oorheersing wat dikwels lei tot volgehoue belewenisse van ongeregtigheid en groot ongelykhede in rykdom (Clarke-Deces en Smith 2017:135). Die standpunt dat gemeenskapslede deskundiges ten opsigte van hul eie lewens is (Naidoo en Van Wyk 2003), word dus gebruik in teenstelling tot die perspektiewe wat gemeenskapslede as “patologiese bondels” (Lazarus, Naidoo, May, Williams e.a. 2014:150) beskryf. Hierdie uitgangspunt was van beslissende belang vir die huidige navorsing, naamlik die skep van ’n ruimte vir gedeelde leer waar die ervaringskennis van gemeenskapslede, soos moeders, gebruik word in kombinasie met die teoretiese akademiese kennis van die navorser (Lazarus, Taliep en Naidoo 2017:215). Om dié rede het ons deelnemende-aksie-navorsingstegnieke gekies sodat veranderinge ten goede gedryf kan word deur diegene wie se lewens direk hierdeur geraak word en nie hoofsaaklik deur buitestanders nie (Lazarus e.a. 2017:215).

Ebersöhn, Loots, Mampane, Omidire e.a. (2018) beklemtoon die behoefte aan kultuursensitiewe navorsing in ons globale wêreldomgewing. Hierdie ondersoek het gepoog om dié leemte aan te spreek deur die omgewingskapitaal van moeders van ’n spesifieke gemeenskap vol uitdagings te mobiliseer (Minkler, Garcia, Rubin en Wallerstein 2012:03). Ons beskryf die proses en tegnieke van deelnemende-aksie-navorsing, naamlik fotostem en ’n retrospektiewe tydlynoefening, om die gemeenskapsbronne en behoeftes met moeders van die Delft-gemeenskap te verken. Hierdie gemeenskap is aangewys as een van 20 hoërisikogemeenskappe in Suid-Afrika (Stats SA 2015) wat ernstige negatiewe uitdagings vir moeders en hul kinders inhou.

 

2. Agtergrond en probleemstelling

In die Suid-Afrikaanse konteks word die meeste kinders deur hul moeders en/of oumas as die primêre versorgers grootgemaak (State of Fathers’ Report 2018). Rampou, Havenga en Madumo (2015) dui aan dat die onderskeie intra- en interpersoonlike faktore wat geassosieer word met moeders se geestesgesondheid hul ouerskapstyle en vaardighede beïnvloed. Ouerskap is onlosmaaklik verbind met ouers se welstand (“well-being”) wat alle vlakke van geestesgesondheid insluit (Daly, Bray, Bruckauf, Byrne e.a. 2015:12). Welstand kan egter nie bestudeer word sonder die inagneming van sosiodemografiese veranderlikes soos geslag, sosioëkonomiese aanduiders en kontekstuele faktore nie (Khumalo, Temane en Wissing 2012:419). Verskillende vlakke van welstand wat byvoorbeeld swak tot goeie vlakke van gesondheid en funksionering behels, is van beslissende belang vir daaglikse interaksie en verhoudings (Keyes 2005). Dit beteken dat wanneer moeders se persoonlike of ouerskapsvermoëns en gemeenskapsbronne bedreig word, hierdie krisisse ook hul gesinne en families se risiko’s vererger/verhoog (Van Schalkwyk 2019:17). Ouerskap behels die voortdurende aktiwiteite om kinders te versorg (Van Schalkwyk 2020:97) wat altyd in ’n bepaalde omgewing/konteks plaasvind. Walker (1995:1) noem dat moeders ware gewers van lewe is in die mees fundamentele sin van die betekenis.

Alhoewel vele Suid-Afrikaanse vroue moederskap met vervullende en betekenisvolle belewenisse assosieer (Frizelle en Kell 2010:26; Olayiwola en Olowonmi 2013:141), kan die donker impak van verskeie uitdagings wat gepaardgaan met teenspoed en moeilike omstandighede nie ontken word nie (Kruger 2020:186). Moeders se emosionele belewing van moederskap word byvoorbeeld intens beïnvloed deur die sosiale werklikheid van armoede (James 2015:90). Kruger, Van Straaten, Taylor, Lourens en Dukas (2014) beskryf arm Suid-Afrikaanse moeders se negatiewe emosionele belewenisse van erge frustrasie en die onvermoë om vir hulself en hul kinders te voorsien, as “[…] the ideal of the all-providing, ever-giving, self-sacrificing mother” (Kruger e.a. 2014:469). Dit is duidelik dat die versorging van kinders ’n integrale deel is van moederskap en die konteks waarbinne hierdie take plaasvind, kan kinderopvoeding fasiliteer of belemmer. Ward, Makusha en Bray (2015:71) stel dit onomwonde dat armoede een van die betekenisvolle hindernisse is wat vele Suid-Afrikaanse ouers se take bemoeilik. Armoede, per definisie, kan die vermoë van ouers, soos moeders wat in ’n hoërisikogemeenskap woon, verminder om genoeg voedsame kos te voorsien en maak ook toegang tot gehalte- opvoedkundige geleenthede vir hul kinders minder waarskynlik (Pedersen, Smallegange, Coetzee, Hartog e.a. 2019:2063). Verder kan die opeenhoping van hierdie faktore moeders se ouerskap ondermyn (Van Schalkwyk 2020:97). Gevolglik is ’n positiewe gesins- en wyer omgewing van die allergrootste belang vir kinders se welstand (The White Paper on Families 2013). Die ingebedheid van gesinne en families in hul kulture en gemeenskappe het die potensiaal om gesinsfunksionering op direkte en indirekte wyses te ondersteun of te ondermyn (Prilleltensky, Marujo en Neto 2014:449). Geinger, Vandenbroeck en Roets (2014:488) se argument is belangrik, naamlik dat ons daarteen moet waak om ouerskap – insluitend moederskap – te de-kontekstualiseer. Die kenmerke van die buurt en wyer omgewing, openbare dienste, residensiële stabiliteit, beperkte sosiale netwerke en gevare kan moederskap meer nadelig beïnvloed as afbrekende kultuurgebruike en negatiewe ouerskapstyle. Om hierdie rede is die impak van kontekstuele faktore vir gesinne belangrik wanneer byvoorbeeld enkelouergesinne, soos vroue-huishoudings, blootgestel is aan die gevare van funksionering in ’n hoërisikogemeenskap soos Delft, die teikengemeenskap van hierdie ondersoek.

Kortliks gestel: Konteks is van deurslaggewende belang vir moeders en hul kinders se funksionering in arm gebiede soos hoërisikogemeenskappe. Indien gesinne soos enkelouergesinne voortdurend aan ontmagtigende kontekste blootgestel word, kan dit hul funksionering en algemene welstand nadelig beïnvloed. Dit is nodig om inheemse studies in vennootskap met gemeenskapslede te onderneem om positiewe verandering in hierdie kontekste teweeg te bring.

 

3. Konseptuele agtergrond

In aansluiting by ’n gemeenskapsielkundige perspektief, is die ekologiese model gebruik om die kompleksiteit van faktore geassosieer met moeders en hul kinders se funksionering in ’n hoërisikogemeenskap van mikro- tot makrovlak beter te verstaan. Ekologiese modelle (Bronfenbrenner 1979) bied ’n waardevolle raamwerk om menslike belewenisse te verklaar deur die spesifieke inagneming van menslike gedrag ingebed in hul kontekste, verhoudings en historiese gebeure (Tran, Nakamura, Kim, Khera en Ahnallen 2018:73). Ons het gekies om Urie Bronfenbrenner se teorie van ekologiese stelsels te gebruik om sin van ekologiese faktore asook die verskillende sfere van moeders en hul kinders se lewens te maak. Alhoewel Bronfenbrenner se ontwikkelingsmodel nie primêr ’n model van konteks is nie (Rosa en Tudge 2013:249), bied die bioëkologiese teorie van menslike ontwikkeling ’n waardevolle raamwerk om die multi- en intervlakinvloede van interaksies tussen individue en hul kontekste te verstaan (Bronfenbrenner 1994; Rosa en Tudge 2013:243). Bronfenbrenner se ekologiese stelsels behels dat mense regdeur hul lewens met verskillende omgewings te make het. Hy het vyf verskillende vlakke geïdentifiseer (sien tabel 1).

Tabel 1. Die vyf vlakke van die ekologiese stelsel (Bronfenbrenner 1979)

Stelsel Beskrywing
Ontogeniese stelsel Die ekologie van die individu, dit verwys byvoorbeeld na die faktore in die persoon wat ontwikkeling beïnvloed, soos psigologiese, kognitiewe en emosionele faktore (Masten 2015; Ungar 2015).
•  Byvoorbeeld ’n persoon se besluitneming en hantering van daaglikse uitdagings.
Mikrostelsel ’n Kind se naaste omgewing waar daaglikse interaksies en kontak plaasvind, soos die huis- of skoolomgewing.
•  Byvoorbeeld die rol van die moeder om vir haar kind ’n veilige ruimte in die huis te skep.
Mesostelsel Die interaksies tussen verskillende mikrostelsels waarvan die individu deel is, vorm die mesostelsel, soos die uitgebreide familie en die skoolgemeenskap.
•  Byvoorbeeld moeders wat hul kinders ondersteun om hul skooltake te doen.
Eksostelsel Kinders word indirek beïnvloed deur hierdie vlak wat o.a. verwys na die ouers se werkplek en generering van inkomste.
•  Byvoorbeeld moeders se pogings om werk te kry; of moeders se verantwoordelike gebruik van die Sassa-toelaag.
Makrostelsel Hierdie stelsel verwys na die vlak wat die verste verwyderd is van die individu (“most distal ecology”). Dit sluit in die kulturele konteks en ook die organisatoriese strukture van die samelewing soos regeringsbeleid, wetgewing, die politieke sfeer en nasionale en internasionale tendense.
•  Byvoorbeeld regeringsbeleid oor geestesgesondheid, behuising en opvoedingsgeleenthede vir die armes; of inperkingsmaatreëls ten tye van die COVID-19-pandemie.
Kronostelsel

Oorgange met verloop van tyd
•  Byvoorbeeld gesinne se ontwrigtende belewenisse weens moeders se dwelm- en/of alkoholmisbruik wanneer hulle geforseer word om telkemaal te verhuis.

 

Gemeenskapsielkunde se kernwaardes soos selfbeskikking, samewerking, demokratiese deelname en sosiale geregtigheid (Lazarus e.a. 2017:215) skep die ruimte vir sosiale aksie en ’n sterkpuntgebaseerde benadering wat gemeenskapsielkundiges in staat stel om met en deur gemeenskappe te werk ten einde sosiale ongelykhede te ondersoek en intervensies te implementeer (Lazarus e.a. 2014:149). Die produksie van kennis in ’n aktiewe vennootskap met diegene wat primêr deur hierdie kennis geaffekteer word (Saleebey 2013:226) was dus essensieel vir die gekose metodologie. Wang en Burris (1997:580) het fotostemtegnieke as ’n deelnemende-aksie-benadering suksesvol gebruik om Chinese vroue se insette te verkry oor die sterkpunte en gevare van hul gemeenskap. Sulke inligting is waardevol om kritiese dialoog en kennis deur groepbesprekings vir beleidmakers te bevorder (Vaughn 2011:99).

Die probleemstelling kan soos volg saamgevat word: Talle studies bevestig die belang van konteks vir gesinsfunksionering aangesien ’n verskeidenheid ekologiese faktore soos sosioëkonomiese toestande, sosiale en gemeenskapsondersteuning en buurt-invloede ouerskapspraktyke vorm (Bronfenbrenner 1979; Chandan en Richter 2008:83; Geens en Vandenbroeck 2013:407; Knerr, Gardner en Cluver 2013:01; Newland, Lawler, Giger, Roh en Carr 2015:177; Zhou, Chew, Lee, Zhou e.a. 2017:84). Onlangse navorsing het aangetoon dat verarmde buurte en beperkte toegang tot hulpbronne ouerskap kan ondermyn (Ward, Makuska en Bray 2015:74). Ten einde hierdie kwessie te ondersoek, naamlik moeders van ’n spesifieke hoërisikogemeenskap se siening van hul gemeenskapsbronne en behoeftes, het ons besluit om deelnemende-aksie-navorsing te gebruik. Dit is nodig om inheemse studies in vennootskap met gemeenskapslede te onderneem om sosiale en fisiese verandering in hierdie kontekste teweeg te bring. Hierdie proses behels ten beste ’n vennootskap wat sowel wetenskaplike kennis as die ervaringswysheid van gemeenskapslede insluit. Hierdie kwalitatiewe ondersoek het deur middel van deelnemende-aksie-navorsing – in vennootskap met die moeders van ’n spesifieke hoërisikogemeenskap (Delft) – die gemeenskapsbronne en behoeftes van hul omgewing verken met die oog gerig op verandering deur bemagtigende toestande.

 

4. Navorsingsvraag

Die navorsingsvraag wat ons ondersoek gerig het, is soos volg geformuleer: Hoe kan deelnemende-aksie-navorsing die proses met moeders van ’n Suid-Afrikaanse hoërisikogemeenskap fasiliteer om kontekstuele kennis te verkry ten einde gemeenskapsbronne en behoeftes te gebruik vir verandering?

 

5. Doel van die navorsing

Die doel van die navorsing was om deur middel van deelnemende-aksie-navorsing met die moeders van ’n spesifieke hoërisikogemeenskap kontekstuele kennis te verkry ten einde gemeenskapsbronne en behoeftes te verken, gerig op verandering.

 

6. Navorsingsmetodologie

Die kwalitatiewe navorsingsmetode is gebruik omdat dit deelnemende-aksie-navorsing akkommodeer met die fokus op bemagtiging en die deelname van moeders van ’n spesifieke hoërisikogemeenskap. Die proses van deelnemende aksie impliseer verder die nodige respek vir die stemme en perspektiewe van die moeders as gemarginaliseerde gemeenskapslede (Patton in Van Schalkwyk 2020:12). Ons het ook die deelnemende-aksie-navorsingsprosesse gekies met die beklemtoning van plaaslike kennis. Kernkomponente van deelnemende-aksie-navorsing vir dié ondersoek was die bevordering van kapasiteit (die blootlegging van gemeenskapsbronne om gesonde moederskapspraktyke in ’n spesifieke konteks aan te moedig), gemeenskapsontwikkeling (families in die konteks van ’n hoërisikogemeenskap), bemagtiging deur die transformasie van verhoudings (die toegang tot families in alle gebiede van die gemeenskap, sosiale geregtigheid (moeders-, vroue- en kinderkwessies) en deelname (medenavorsers en samewerking as vennote in ’n spesifieke konteks) (Totikidis 2013:157).

Deelnemende-aksie-navorsing is ’n sterkpuntgebaseerde strategie wat die verkenning van bestaande sterkpunte en gemeenskapsbronne van persone en hul leefwêreld akkommodeer (vgl. Marujo en Neto 2014; Prilleltensky 2019). Hierdie navorsingsmetode herrangskik ook die dinamiek van “beheer en mag” tussen die navorser en die nagevorste persone: dit stel die navorser in staat om ’n toegewyde deelnemer, fasiliteerder, asook leerder in die navorsingsproses te wees in teenstelling met die sogenaamde onbetrokke wetenskaplike (Keane, Khupe en Seehawer 2017:12). Die ontwikkeling van praktiese kennis ten einde verandering te bewerkstellig was ’n belangrike oorweging vir ons ondersoek (MacDonald 2012:34), aangesien ons (buitestanders/navorsers) en moeders van die spesifieke hoërisikogemeenskap (gemeenskapslede/medenavorsers) aktief wou saamwerk om families in hierdie uitdagende sosiale toestande te versterk. Om hierdie rede was die gebruik van ’n deelnemende-aksie-benadering in die Suid-Afrikaanse konteks van groot waarde omdat ons die moeders se persepsies van die gemeenskapsbronne en gevare/risiko’s in hul konteks wou bepaal (Kagan 2012:11).

6.1 Navorsingsbenadering

Ons het ’n konstruktivistiese kwalitatiewe benadering gebruik om die aksienavorsingsproses te interpreteer en dokumenteer. Tipies van hierdie benadering is die beklemtoning asook die verkryging van plaaslike, kontekstuele verstaan aangaande menslike belewing en induktiewe beredenering (Njie en Asimiran 2014:35). Die kwalitatiewe benadering het ons ook in staat gestel om ’n dieper verstaan (“Verstehen”) te bekom van die deelnemers se kollektiewe insigte aangaande die gemeenskapsbronne en behoeftes (Creswell 2014:183). Daarom het ons byvoorbeeld nie ’n postpositivistiese perspektief oorweeg nie, weens die assosiasies van genoemde perspektief met kwantitatiewe metodes en dié ontologie ten opsigte van die aard van werklikheid en kennis (Onwuegbuzie en Poth 2016:09).

6.2 Navorsingsontwerp

Ons het ’n gevallestudie-ontwerp gebruik wat fokus op ’n diepgaande ondersoek van ’n fenomeen wat geanker is in die werklikheid en geleefde ervaring en vele data-insamelingsmetodes moontlik maak (Njie en Asimiran 2014:35; Yin 2014). Binne hierdie ontwerp bied ’n multiperspektiwiese ontleding die moontlikheid van “giving voice to the powerless and voiceless” (Niewenhuis 2016:200). Die “geval” vir hierdie navorsing was die ontwikkeling van kontekstuele kennis van ’n spesifieke hoërisikokonteks se gemeenskapsbronne en behoeftes in samewerking met moeders in die Delft-gemeenskap in die Wes-Kaapprovinsie van Suid-Afrika.

Die spesifieke sub-gevallestudie wat ons gebruik het, word ’n fotostudie genoem wat dui op ’n bepaalde tydperk wat ondersoek is, byvoorbeeld ’n dag in die lewe van moeders met kinders in die middelkinderjare in ’n hoërisikogemeenskap (Bickle 1995:33). Dit beteken die foto/kiekie (“snapshot”) bied dan ’n blik op die groter geheel of Gestalt van byvoorbeeld moeders se perspektiewe op hul gemeenskap se (hulp)bronne en risikofaktore.

6.3 Studiegebied

“Studiegebied” behels die beskrywing van die geografiese gebied van die studie. Delft is bekend as ’n hoërisikogemeenskap ongeveer 26,8 km oos van Kaapstad, naby die Kaapstadse Internasionale Lughawe. Hierdie minderbevoorregte gemeenskap is in 1989 gevestig; dit is sedert 2019 in sewe gebiede verdeel waar sommige buurte hoofsaaklik bewoon word deur isiXhosasprekendes; sommige buurte deur hoofsaaklik isiXhosa- en Afrikaanssprekendes en in sommige buurte woon hoofsaaklik Afrikaans- en Engelssprekendes. Die meeste gesinne in Delft woon in regeringsgesubsidieerde huise; selfgetimmerde huisies op die werf van familielede of vriende of in sinkplaathutte in informele nedersettings, naamlik Blikkiesdorp of Tsoenami, met beperkte toegang tot lopende water, elektrisiteit en sanitasie (Van Schalkwyk 2020:122). Spesifieke risiko’s in hierdie hoërisikogemeenskap sluit in hoë voorkoms van misdaad en Delft word gekategoriseer as die gemeenskap met die hoogste aantal moorde per jaar (Van Schalkwyk 2020), bendes en bendeverwante misdaad, disfunksionele gesinne (Van Schalkwyk 2019:16), huisgeweld, substansmisbruik (May, Blankenship, Marais, Gossage e.a. 2013), uitvalsyfers en armoede (Crime Stats SA 2020). Dit is duidelik waarom Delft as een van die gevaarlikste omgewings in Suid-Afrika beskou word (Crime Stats SA 2020).

Die bevolking van Delft het die afgelope 23 jaar vinnig vermeerder tot meer as ’n miljoen inwoners met vele agterplaasbewoners waar tot drie gesinne een huis bewoon (Van Schalkwyk 2020:123). In hierdie gemeenskap is die uitdagings van enkelouerskap, armoede en substansmisbruik en -afhanklikheid ’n dilemma. Gemeenskapsielkundiges (Naidoo, Duncan, Roos, Pillay en Bowman 2007; Nelson en Prilleltensky 2010; Visser 2007) beklemtoon die impak van die natuurlike en sosiokulturele omgewing van gesinslede (Nelson en Prillentensky 2010). Hierdie ekologiese perspektief is veral belangrik in gemeenskappe soos Delft waar moeilike kwessies soos die hoë voorkoms van werkloosheid, honger, bendegeweld en substansmisbruik saamhang met uiterste armoede wat gesinsfunksionering erg beïnvloed (Van Schalkwyk 2019:05).

6.4 Deelnemers

Die teikenpopulasie vir hierdie ondersoek was moeders in Delft (met kinders in die middelkinderjare).

Strategie om deelnemers te kies

Ons het ’n doelgerigte seleksiestrategie gebruik om deelnemers vanuit die verskillende areas volgens die insluitingskriteria te kies (Creswell 2014:289). Ons het nie-waarskynlikheids-, kriteriumgebaseerde doelgerigte steekproefneming gebruik om 17 tot 21 moeders as deelnemers te werf. ’n Nie-winsgewende organisasie, die Sakha Isizwe Ontwikkelingsorganisasie (’n geregistreerde nie-regeringsorganisasie), het saamgewerk om moontlike deelnemers te werf. Hierdie deelnemers is gekies omdat hulle aan die volgende kriteria voldoen het: vroue wat die moeders of wettige voogde is van kinders in die ontwikkelingsfase van die middelkinderjare (6 tot 11 jaar oud); moeders wat reeds vir vyf jaar in Delft woon (ons het aangeneem dat diegene die gemeenskap goed sal ken); moeders wat gewillig is om deel te neem aan die navorsing en gewillig sou wees dat klankopnames van navorsingsgeleenthede gemaak word.

6.5 Inligtingsinsameling

Deelnemende-aksie-navorsing akkommodeer verskeie data-insamelingstegnieke wat deelname deur mense oor alle geletterdheidsvlakke heen kan insluit (Ferreira, Ebersöhn en Botha 2013:07; Williamson en Brown 2014:06). Dit was ’n belangrike kwessie vir die huidige ondersoek, aangesien die meeste deelnemers nie hul skoolopleiding voltooi het nie.

6.5.1 Inligtingsinsamelingstrategieë

Ons het twee tegnieke gebruik, naamlik fotostem as ’n visuele metode en ’n retrospektiewe tydlynaktiwiteit in ’n wêreldkafeeformaat (kleingroepbesprekings) om met die Delft-moeders te gesels (Kagan 2006). Fotostemtegnieke is gebaseer op die idee dat die gesamentlike gebruik van beelde (visuele materiaal) en woorde op ’n besonder effektiewe manier uitdrukking kan gee aan gemeenskappe se behoeftes, probleme en begeertes (Nykiforuk, Vallianatos en Nieuwendyk 2011; Wang en Burris 1994, 1997; Yung 2018). Dit is ’n geskikte deelnemende-aksie-metode waar deelnemers met fotografie, naamlik die neem van foto’s en stories daaroor, die kwessies identifiseer wat vir hulle belangrik is; sodoende kan navorsers ’n beter begrip van die besondere navorsingskwessie kry (Palibroda, Krieg, Murdock en Havelock 2009). Die wêreldkafeemetode waar kleingroepgesprekke in ’n ontspanne atmosfeer kan plaasvind, bied die geleentheid vir navorsers om op kreatiewe maniere die rykheid van deelnemers se stories en kollektiewe insigte te ontgin (Brown, Isaacs en World Café Community 2005:12). Sosiodemografiese inligting is ook ingesamel, en deelnemende moeders is gevra om ’n gestruktureerde vraelys te voltooi voordat die genoemde twee data-inligtingstrategieë gebruik is.

6.5.2 Prosedure

Nadat goedkeuring van die betrokke instansie se etiese komitee vir geesteswetenskaplike navorsing verkry is, het ons kontak met die teikengemeenskap gemaak met behulp van ’n “hekwagter”. Hierdie persoon woon in die teikengemeenskap (Delft in die onderhawige geval) en word beskou as iemand met die nodige kennis van dié gemeenskap se gemeenskapsbronne en probleme asook die mense se kulturele gebruike. Die hekwagter is ’n projekbestuurder van die Sakha Isizwe Ontwikkelingsorganisasie wat werksaam is in Delft en sy was gewillig om hulp met die werwingsproses te verleen. Sy het ses tussengangers geïdentifiseer, naamlik persone wat reeds jare lank as gemeenskapswerkers die vertroue van die gemeenskapslede geniet. Hierdie aangewese tussengangers het moontlike moederdeelnemers uit ses verskillende gebiede van Delft genader.

’n Geleentheid is gereël waar die tussengangers die primêre navorser bekendgestel het aan die moontlike deelnemers en die eerste skrywe het aan die moeders inligting gegee oor i) die aard van die ondersoek; ii) die navorsingsproses; iii) die tyd en toewyding wat deelname aan die navorsingsondersoek sou verg en kwessies te make met toestemming tot deelname. Ons het ooreengekom dat die aangewese tussengangers binne ’n week die moontlike deelnemers by hul huise sou besoek om die voltooide toestemmingsvorms te kry van diegene wat ingestem het om deel te neem. Die tussengangers het ook aan moeders wat ingestem het om aan die ondersoek deel te neem en die vorms voltooi het, inligting gegee oor die afspraaktye vir data-insamelingsgeleenthede.

6.5.2.1 Fotostemmetode

Ons het fotostem as ’n deelnemende metode (Nykiforuk, Vallianatos en Nieuwendyk 2011:103) gekies, waar moederdeelnemers spesifieke foto’s gebruik het om hul stories oor geïdentifiseerde gemeenskapsbronne vir moeders en oor behoeftes in Delft te vertel. Die moederdeelnemers het as navorsingspan op ’n sekere dag vir die fotostemsessie in Delft byeengekom. Ons het ander persone se hulp met vervoer gebruik om die moeders na die verskillende buurte van Delft te neem waar hulle woonagtig was. Moederdeelnemers het foto’s geneem van die plekke en dinge wat volgens hul oordeel en ervaring Delft-moeders help of belemmer in hul taak as moeder in hierdie gemeenskap. ’n Professionele fotograaf het die moederdeelnemers vooraf enkele riglyne gegee vir die neem van foto’s met selfone (Wang en Redwood-Jones 2001:560). Ons het die groep in ses kleiner groepies verdeel om ses gebiede van Delft per motor te besoek (vrouemotorbestuurders [nie-Delft-inwoners] is genooi om te help met vervoer vir dié geleentheid, omdat geen moederdeelnemer ’n motor besit het of oor ’n motorrybewys beskik het nie. Die deelnemers het in groepies van vier tot vyf per motor vertrek om die foto’s te gaan neem. Sodra die moederdeelnemers teruggekeer het na die lokaal wat in Delft vir die navorsing gebruik is, het ’n navorsingsassistent die foto’s van die selfone afgelaai en dit op die primêre navorser se skootrekenaar geberg.

Die primêre navorser (eerste skrywer) het ’n opsomming van die foto’s gemaak en vyf foto’s per Delft-gebied gekies om duplisering vir die volgende stap in die proses te vermy. Die daaropvolgende week het die navorsingspan – insluitend die moederdeelnemers – die foto’s grondig bespreek met die leiding van ’n ervare gemeenskapsielkundige (tweede skrywer; dosent verbonde aan die Universiteit Stellenbosch). Die moederdeelnemers het met entoesiasme vertel van hul foto’s en verduidelik waarom sekere foto’s gemeenskapsbronne aandui terwyl ander foto’s hul behoeftes as moeders in dié hoërisikogemeenskap verbeeld. Teen die einde van die bespreking het ons aan die deelnemers die geleentheid gegee om aan te dui of die geskrewe opsomming van die foto’s van elke Delft-gebied akkuraat genoeg hul bedoeling daarmee weerspieël (sien figuur 1 as ’n voorbeeld van geskrewe opsomming per gebied van Delft).

Figuur 1. Voorbeeld van geskrewe opsomming – bespreking van gemeenskapsbronne en moeders se behoeftes te Delft

6.5.2.2 ’n Retrospektiewe tydlynoefening

Ons het ’n retrospektiewe tydlynoefening gebruik as ’n deelnemende-aksie-navorsingstegniek om insig in die deelnemers se ervarings van die verskillende leeffases in ’n hoërisikokonteks te kry (Kolar, Ahmad, Chad en Erickson, 2015:14). Omdat hierdie gemeenskap gemaklik is met groepsgesprekke (sien Van Schalkwyk 2019), het ons besluit om die retrospektiewe tydlynoefening in ’n gewysigde wêreldkafeeformaat aan te bied (sien Brown, Isaacs en The World Café Community 2005). Die wêreldkafeegebruike is gekies omdat Brown e.a. (2005) gevind het dat die wêreldkafeemetode met groot sukses in verskillende ouderdomsgroepe, kulture en gemeenskappe gebruik kan word.

Ons het ’n lokaal gebruik wat genoeg ruimte gebied het vir vier tafels met vyf tot ses stoele elk; die ruimte is vrolik versier met blomme en gekleurde tafeldoeke en versnaperinge is verskaf (Carson 2011:10). Ons het spesifieke vrae saamgestel om in hierdie vriendelike atmosfeer inligting in te samel oor die leefervarings van moederdeelnemers in verskeie leeffases. Die volgende vrae is gebruik om elke deelnemer se bydrae aan te moedig deur kortliks inligting neer te skryf oor haar unieke ervarings van vier onderskeie leeffases vanaf baba tot volwassenheid (sien figuur 2). Ons het die vrae in Engels gestel ten einde Afrikaans-, Engels- en isiXhosasprekende moeders te akkommodeer.

Figuur 2. Vrae vir die retrospektiewe tydlyn

Ons het verskillende kleure gebruik vir die verskillende leeffases en die voltooide kaartjies is ook in die verskillende tydlyne vasgepen (sien figuur 3).

Figuur 3. Vertoning van die geskrewe kaartjies van die retrospektiewe tydlyn-oefening

Die deelnemers was gretig om te gesels en hul stories te vertel nadat die geskrewe terugvoering op die vrae oor die leeffases voltooi is. Op hierdie wyse is kommunikatiewe ruimtes geskep (Habermas soos na verwys in Van Schalkwyk 2020:128) om die perspektiewe van Delft-moeders se grootword- en leefervarings in Delft beter te verstaan. Hierdie metode het die potensiaal van goeie gesprekke ontgin deur ’n platform vir moeders te skep om in ’n veilige ruimte oor hul persoonlike stories te praat (Adriansen 2012:40; Patton 2015:382).

6.6 Etiese kwessies

Die betrokke instansie, naamlik die Universiteit Stellenbosch se etiekkomitee, het toestemming gegee vir die onderhawige navorsing soos hier bo aangedui is. Geskrewe ingeligte toestemming is verkry voordat die data ingesamel is; deelnemers is ingelig dat die data vertroulik en anoniem hanteer sou word en dat net tersaaklike persone toegang tot die data kon kry. Etiese riglyne is gevolg vir die navorsingsproses deur aandag te gee aan die volgende sake: welwillendheidstoestemming (die skoolhoof van ’n Delft-skool het byvoorbeeld toestemming gegee dat ons ’n ruim lokaal vir die data-insameling kon gebruik); ingeligte toestemming en vrywillige deelname; die werwing van die moederdeelnemers; aansporingsgeskenke in die vorm van ’n klein vergoeding vir deelnemers, soos versnaperinge tydens data-insamelingsgeleenthede asook kospakkies vir hul gesinne; privaatheid en vertroulikheid; risiko en voordele (hierdie ondersoek is as ’n hoërisikostudie beskou) en nie-kwaadwilligheid. Deelnemers is ’n basiese toelaag gegee om hul taxivervoeronkoste vir elke data-insamelingsgeleentheid te dek ten einde na die aangewese lokaal te kom en weer na hul woonplekke terug te keer.

Ten einde etiese riglyne aangaande vertroulikheid en anonimiteit te implementeer, is spesifieke reëls en riglyne bepaal en aan die deelnemers voorgelê tydens albei insamelingsgeleenthede, naamlik die fotostem- en wêreldkafee- (retrospektiewe tydlyn) geleenthede. Deelnemers het byvoorbeeld onderneem om inligting rakende gesprekke tydens die betrokke insamelingsgeleenthede vertroulik te hanteer en onder geen omstandighede met ander persone te bespreek nie. Om dié rede is ook ’n gedragskode, soos die betoning van respek en deernis, vir die inligtingsinsamelingsgeleenthede bepaal en met duidelike voorbeelde aan die deelnemers en navorsingspan uiteengesit. Ons het byvoorbeeld ooreengekom om met deernis na mekaar se ervarings in Delft te luister en ons te weerhou van enige vorm van oordeel en skinder.

Die deelnemergroep van hierdie studie, naamlik moeders wat in ’n hoërisikogemeenskap woon, is beskou as ’n besonder kwesbare groep. Om dié rede is die ondersoek as ’n hoërisiko-ondersoek geklassifiseer en is daar met groot omsigtigheid aandag gegee aan byvoorbeeld die doel van die beplande ondersoek, die aanbieding van inligting en die bespreking van ingesamelde data. Ons het klem gelê op faktore soos die dag, tyd en plek waar die deelnemers bymekaar sou kom, ten einde hul veiligheid te verseker. Die moederdeelnemers is ook telkens verseker van hul vrywillige deelname en dat hulle die reg het om aan die navorsing te onttrek sonder enige nadelige gevolge. Die nodige voorsorgmaatreëls is ook getref om moederdeelnemers na ’n maatskaplike werker van die gemeenskap te verwys indien ’n deelnemer uitermatig ontstellende ervarings uit die verlede sou herbeleef.

6.7 Kwalitatiewe ontleding van data

Volgens Patton (2015:523) is die digte beskrywing van gevallestudies die grondslag van die ontleding van kwalitatiewe data. Die data is voor ontleding voorberei en georganiseer deur die ingesamelde inligting tot temas te reduseer deur die proses van kodering en die aanbieding van die inligting in tabelle, asook ’n bespreking daarvan (Creswell 2014:194).

Tematiese ontleding

Die kwalitatiewe data is verkry van visuele en narratiewe materiaal (fotostem) asook die tekstuele data wat ingesamel is met die retrospektiewe tydlyn wat in die wêreldkafeeformaat aangebied is. Tematiese ontleding is gebruik om hooftemas te identifiseer wat geassosieer is met die hoofkonstrukte (Braun en Clarke 2013:223). In ooreenstemming met deelnemende-aksie-navorsing het moederdeelnemers op ’n aktiewe manier deel geword van die ontledingsproses om die gemeenskapsbronne en risiko’s van Delft te groepeer. Die ontleding is nie met rekenaarprogramme gedoen nie en ons het ’n deduktiewe en induktiewe benadering gebruik om die temas te identifiseer en te ontleed. Deduktiewe beredenering het die gebruik van bestaande teorieë ten opsigte van die sleutelkonsepte van die navorsing moontlik gemaak en die induktiewe benadering het patrone gevorm waaruit temas geïdentifiseer is om die navorsingsvraag te beantwoord (Creswell 2014:194).

Die navorsers het aandag gegee aan kwessies wat saamhang met vertrouenswaardigheid, naamlik geloofwaardigheid, betroubaarheid, oordraagbaarheid en ooreenkomstigheid (Berger 2015:219; Lincoln en Guba 1985). Van besondere belang vir hierdie ondersoek was die moederdeelnemers se belewenis dat hul persoonlike stories bygedra het tot die ontwikkeling van kennis en ook die bevordering van groepsaamhorigheid.

  • Geloofwaardigheid is getoon deur die gebruik van bepaalde riglyne oftewel ’n struktuur en aksieplan met die nodige buigsaamheid vir die fotostem- en retrospektiewe tydlynmetode. Dit het onder andere die skryf van ’n navorsingsverslag behels om die beplanning en werkwyse van die navorsing duidelik weer te gee.
  • Betroubaarheid is verseker deur die noukeurige weergee en verslaggewing van die data-insamelingsproses en die hele prosedure. Die raamwerk van deelnemende-aksie-navorsing het die navorsingsproses gerig en die verskillende stappe in die metodologie is toegepas, soos die werwing en kies van deelnemers asook die inligtingsinsameling. Inligtingsinsameling en ontleding is ook só uitgevoer dat die effektiwiteit van die inligtingsinsamelingstrategieë verseker is.
  • Oordraagbaarheid is gedemonstreer deur die ryke beskrywing van die data en die konteks van die deelnemers.
  • Ooreenkomstigheid is verseker deur die beskrywing van die navorsingskonteks, en deur ander professionele persone, byvoorbeeld ’n medekodeerder, by die data-ontleding en die identifisering van die temas en subtemas te betrek. Bevindings is ook deurgaans met die navorsingspan en medenavorser nagegaan om die eerste skrywer se interpretasies te toets.

 

7. Bevindings

Die bevindings van ons kwalitatiewe ondersoek word aangebied as temas wat geïdentifiseer is met die ontleding van die fotostemtegniek en die retrospektiewe tydlynoefening. Die vier hooftemas dui eerstens op die noodsaaklike fisiese en sosiale gemeenskapsbronne (objektiewe aanwysers van welstand) as bemagtigende faktore vir moeders se funksionering in Delft (vgl. Bronfenbrenner 1990:27; Thomson, Hanson en Mc Lanahan 1994); tweedens, moeders se subjektiewe werklikheid rakende hierdie gemeenskapsbronne in Delft; derdens, moeders se persoonlike positiewe belewenisse tydens hul verskillende leeffases in ’n hoërisikogemeenskap en vierdens, moeders se persoonlik negatiewe – insluitende traumatiese – belewenisse van babatyd tot volwassenheid.

7.1 Sosiodemografiese inligting

Addisionele kwantitatiewe inligting is verkry met behulp van ’n sosiodemografiese vraelys wat deur die moeders voltooi is (sien tabel 2; klik op die tabel vir ’n groter weergawe).

Tabel 2. Sosiodemografiese inligting

’n Opsomming van hierdie inligting met verwysing na ouderdom, huwelikstatus, opvoedingsvlak en aantal kinders word in tabel 3 aangebied

Tabel 3. Sosiodemografiese inligting – ’n opsomming van kategorieë

Kategorie Beskrywing Aantal: n=21
Ouderdom 25−40 jaar oud
40−50 jaar oud
50+ jaar oud
10
8
3
Huwelikstatus Enkelouers
Getroud (of geskei)
14
7
Skoolopleiding Graad 6 & graad 7
Graad 9 & graad 10
Graad 11 & graad 12
2
13
6
Behuisingstipe Informele behuising
HOP-huis (regeringsgeboude huise)
Woonstel / Wendyhuis
13
5
3
Aantal kinders 0–2 jaar oud; 6–12 jaar oud;
12–18 jaar oud
1–9 kinders
Gemiddeld van 4
Inkomste Sassa-toelaag
Ondersteuning van eggenoot
Ander
19
1
1

 

Sosiodemografiese inligting het getoon dat die meeste moeders met kinders in die middelkinderjare tussen 25 en 50 jaar oud is; die meeste moeders is enkelouers wat Sassa-toelae van die regering ontvang en in informele huisvesting woon en die meeste moeders het nie hul skoolopleiding voltooi nie. Hierdie inligting skets ’n beeld van die sosioëkonomiese status van die moeders in Delft, byvoorbeeld die armoedige aard van moeders as enkelouers se huisvesting (informele behuising); hul bron van inkomste is hoofsaaklik ’n Sassa-toelaag wat die hoë voorkoms van werkloosheid in hierdie groep aandui; en hul beperkings in terme van onderwys en werksgeleenthede omdat die meeste moederdeelnemers nie hul skoolopleiding voltooi het nie.

7.2 Fotostem

Temas is geïdentifiseer deur die ontleding van inligting wat verkry is deur die fotostemtegniek en die bespreking van die visuele materiaal (foto’s) (Patton 2015:382; Vaughn 2011:60). Bepaalde gemeenskapsbronne is beskryf as eksterne bates van Delft wat die deelnemers bemagtig in hul funksionering as moeders. Hierdie gemeenskapsbronne is aangewys as (in geen spesifieke volgorde): i) opvoedkundige fasiliteite (skole en bygaande voedingskemas vir hul kinders); ii) ontspanningsfasiliteite; iii) kommersiële fasiliteite (winkels – formele en informele sektor); iv) godsdienstige fasiliteite (geloofsgemeenskappe/kerke) en v) gesondheids- en burgerlike instellings (medies, polisiëring, behuising). Moeders het byvoorbeeld skole as gemeenskapsbronne geïdentifiseer; die meeste skole in Delft word geklassifiseer as geengeldskole (leerders betaal geen skoolfonds nie as gevolg van armoede) en leerders kry ook tydens die skoolkwartaal een maaltyd per dag by die skole (sien figuur 4).

Figuur 4. Gemeenskapsbronne − skole in Delft

Alhoewel moederdeelnemers met waardering na Delft se gemeenskapsbronne verwys, het hulle ook met nugterheid die beperkings en gevare genoem. Moederdeelnemers het byvoorbeeld die gevare en risiko’s wat hul kinders op die skoolgrond bedreig, beklemtoon deur te verwys na die hoë voorkoms van geweld en kriminele aktiwiteit in die skole. Moeders het ook verwys na die daaglikse teenwoordigheid van polisiebeamptes met die oog op wetstoepassing by alle Delft-skole (sien figuur 5).

Figuur 5. Gevare wat met opvoedkundige fasiliteite/skole geassosieer word

In tabel 4 word gemeenskapsbronne wat uit die fotostembesprekings geblyk het kortliks opgesom.

Tabel 4. Fotostembevindings as aanwysers van welstand (Prilleltensky 2012)

Objektiewe aanwysers van welstand
Welstand op persoonlike vlak i) Persoonlike aanwysers: Toegang tot opvoeding; dienste, bv. mediese dienste
ii) Interpersoonlike aanwysers: Aantal vriende; pret-aktiwiteite (bv. besoek aan ’n park met kinders)
iii) Gemeenskapsaanwysers: Veiligheid, bv. polisiemag; skoon lug; ’n gevoel van gemeenskap
Welstand op interpersoonlike vlak i) Gesondheid; spanningsvrye en ondersteunende verhoudings
ii) Funksionering en betekenisvolle bestaan; bv. om deel te wees van ’n geloofsgemeenskap en godsdienstige aktiwiteite, soos gebed
Welstand op gemeenskapsvlak Toegang tot gesondheidsorg; kommersiële fasiliteite; burgerlike instellings; openbare vervoer (bv. taxi’s)
Subjektiewe aanwysers van welstand
Persoonlike vlak Vrese – opvoedkundige fasiliteite; bendegeweld; negatiewe emosies van hopeloosheid en gevare vir persoonlike veiligheid
Interpersoonlike vlak Die voortdurende belewing van negatiewe emosies in verband met die verlede en huidige pynervarings te make met families
Gemeenskapsvlak Frustrasie met armoedige behuising, gebrekkige dienslewering en gevare wat met die fisiese omgewing verband hou

 

Die geïdentifiseerde gemeenskapsbronne wat optree as die objektiewe aanwysers van moeders se persoonlike vlakke van welstand behels persoonlike, interpersoonlike en gemeenskapsfaktore van welstand (Prilleltensky 2012:05). Gesondheid en ondersteunende verhoudings is spesifieke gemeenskapsbronne wat verwys na moeders se interpersoonlike vlakke van welstand. Hierdie gemeenskapsbronne bied ook betekenisvolle geleenthede om interpersoonlike sterkpunte in te oefen en verder uit te bou. Dit is merkwaardig dat gemeenskapsbronne verbonde aan organisatoriese vlakke van welstand in hierdie navorsing ontbreek, byvoorbeeld ekonomiese gemeenskapsbronne – wat verklaar kan word deur die feit dat die meeste moederdeelnemers werkloos was (anders gestel: ekonomies nie aktief was nie). Moeders het na gemeenskapsbronne verwys as hul toegang tot a) gesondheidsfasiliteite (daghospitaal/kliniek); b) kommersiële fasiliteite (winkels – formele en informele sektor, soos spazawinkels); c) burgerlike instellings, byvoorbeeld die funksionering van regeringsdienste, soos polisiëring, veiligheid (vir kinders/leerders, soos beamptes by skole om wetstoepassing te handhaaf), behuising en d) openbare vervoer, soos (hoofsaaklik) taxivervoer in Delft.

Moeders het hoofsaaklik negatiewe taal gebruik om te verwys na die subjektiewe aanwysers van hul persoonlike vlakke van welstand, naamlik die persoonlike, interpersoonlike en gemeenskapsaanwysers van welstand (Prilleltensky 2012:5).

Moeders het die gebrek aan gemeenskapsbronne in terme van die behoeftes van hierdie hoërisikogemeenskap as risikofaktore verwoord. Geïdentifiseerde subjektiewe faktore verbonde aan moeders se persoonlike vlak van welstand het hul vrese oor die ernstige beperkings van hul konteks getoon, byvoorbeeld die vele spesifieke beperkings en gevare verbonde aan die opvoedkundige fasiliteite (skole), aangesien skole in Delft nie uitgesluit is van die hoë voorkoms van misdaad en bendegeweld in hierdie hoërisikogemeenskap nie. Moeders het verwys na die gevaar dat hul kinders beroof kon word op pad na skole (en smiddae weer op pad huis toe); kroniese bendegeweld; die gevare vir persoonlike veiligheid; oorvol klaskamers en die voorkoms van verkragting (ook op die skoolgrond). Die voorkoms van hierdie genoemde faktore noodsaak die teenwoordigheid van wetstoepassingsbeamptes tydens skooltyd by alle skole in Delft. Die subjektiewe realiteit van moeders se persoonlike welstand is hoofsaaklik beskryf in terme van emosies wat dui op hopeloosheid wat verder vererger is deur die hoë voorkoms van selfdood en misbruikende verhoudings; die ervaring van finansiële onsekerheid en die negatiewe impak van hoë vlakke van werkloosheid in hierdie gemeenskap.

Gebrekkige behuising en die gevare van die fisiese/eksterne omgewing (soos die lyk van ’n baba of ’n dooie hond wat in ’n woongebied gevind is) asook die sosiale toestande van die gemeenskap (soos die hoë voorkoms van substansmisbruik en gesinsgeweld) is aangedui as die spesifieke faktore te make met die status van moeders se interpersoonlike welstand. Spesifieke faktore met betrekking tot moeders se gemeenskapswelstand het die volgende ingesluit: gesondheids- en burgerlike instellings (mediese dienste en polisiëring – gebrekkige dienste wat ondermyn word deur lang rye/ure se gewag); behuising en higiëne (byvoorbeeld informele gebiede met ernstige onhigiëniese toestande, waar byvoorbeeld een toilet deur vyf tot sewe mense in Blikkiesdorp gedeel word).

Die rol van psigososiale prosesse is noodsaaklik om die verband tussen regverdigheid/geregtigheid en welstand te lê, aangesien hierdie prosesse die verskillende toestande van geregtigheid en welstandsuitkomste bemiddel (Prilleltensky 2012:1). Dit is duidelik dat die rol van kontekstuele faktore te make met die direkte fisiese omgewing en leeftoestande ’n groot invloed uitoefen op moeders se geleenthede om te floreer (Ungar 2011; 2015). Die bevindings van die fotostemoefening het duidelik geïllustreer dat enige inisiatief tot verandering die aktiewe deelname van moeders verg ten einde daadwerklike positiewe verandering in hierdie hoërisikogemeenskap te bevorder.

7.3 Retrospektiewe tydlyndata: “I was born in two armchairs”

Moederdeelnemers het op ’n geesdriftige manier aan die retrospektiewe tydlynoefening deelgeneem en hulle het met tipies kleurryke Kaapse Vlakte-taal hul persoonlike stories verwoord. Die ingesamelde inligting het ’n mengsel van gelukkige en ook uiters ontstellende ervarings uitgebeeld. Aan die een kant is die voorkoms van opvallend aangename ervarings en positiewe emosies in die onderskeie leeffases gerapporteer. In besprekings van hul vroeë kindertyd (0 tot 5 jaar oud) het moeders byvoorbeeld hoofsaaklik gepraat oor hul aangename herinneringe aan hierdie leeffase, soos die versorging deur hul moeders/oumas en die genot van ’n troeteldier.

Ter illustrasie van hierdie inligting word die volgende verbatim aanhalings van deelnemers gegee:

The time when I was hanging in the tree with my nice dotted black dress. (Daardie tyd toe ek van [in] die boom gehang het in my mooi rok met swart kolle.)
(Deelnemer #5, Engelssprekend)

… toe my moeder my vertroetel en gesoen, gewas en gevoed het.
(Deelnemer #10, Afrikaanssprekend)

My granny used to put me on her back wherever she went. (My ouma het my gewoonlik op haar rug gedra waar sy ook al gegaan het.)
(Deelnemer #17, isiXhosasprekend)

Moeders het verwys na die drome wat hulle in hul middelkinderjare (6 tot 12 jaar oud) gekoester het, soos om te werk as ’n verpleegster, of ’n mediese dokter; as maatskaplike werker, of ’n sekretaresse; of om ’n suksesvolle danser of sanger te wees en om hul skoolopleiding suksesvol te voltooi. Hierdie drome is op die volgende maniere verwoord:

Ek wil ’n juffrou wees want ek is baie lief vir kinders.
(Deelnemer #11, Afrikaanssprekend)

Ek wou ’n maatskaplike werker word. Ek het grootgeword en gesien hoe my ouma na almal omsien; en tot vandag toe het ek daardie hart.
(Deelnemer #8, Afrikaanssprekend)

Ek wou ’n sanger word want ek sou baie geld maak.
(Deelnemer #13, Afrikaanssprekend)

I wanted to be a doctor and save people’s lives – my heart goes out to people. (Ek wou ’n dokter word en mense se lewens red – my hart gaan uit na mense.)
(Deelnemer #6, Engelssprekend)

Moeders het hul adolessentherinneringe (13 tot 18 jaar oud) beskryf as hul betrokkenheid by klubs (“clubbing”) en dansery; wegloop om partytjies by te woon; uitgaan met vriende; seksuele aktiwiteit; tienerswangerskap; en sommiges het selfs verwys na hul aggressiewe gedrag, soos fisiese bakleiery.

Wanneer ons uitgegaan het na klubs met my kêrel en lekker baie pret gehad het.
(Deelnemer #2, Afrikaanssprekend)

Dans met ’n seun.
(Deelnemer #7, Afrikaanssprekend)

When I had to be in school I used to party around. (Wanneer ek in die skool moes wees, het ek partytjie gehou.)
(Deelnemer #14, Engelssprekend)

Alle moederdeelnemers het verwys na moederskap as hul grootste prestasie as volwassene en na hul pogings om ’n goeie ma te wees. Moeders het ook verwys na sake soos die voorreg van ’n goeie (huislike) opvoeding; die goeie hantering van MIV/Vigs en om ’n aktiewe lid van ’n geloofsgemeenskap te wees. Net een deelnemer het na die mooi herinnering van haar huwelikseremonie verwys. Hierdie goeie belewenisse as volwassenes is op die volgende wyses beskryf:

Becoming a mom is the greatest achievement. (Om ’n ma te wees is die grootste prestasie.)
(Deelnemer #15, isiXhosasprekend)

Becoming an independent, strong and positive person for my children. (Om ’n onafhanklike, sterk en positiewe mens te wees vir my kinders.)
(Deelnemer #18, isiXhosasprekend)

Om ’n ma te wees.
(Deelnemer #2, Afrikaanssprekend)

Inligting wat met behulp van die retrospektiewe tydlynoefening verkry is, het meestal die moeders se vele negatiewe en selfs traumatiese belewenisse oor die leeffases heen getoon. Negatiewe ervarings tydens vroeë kindertyd het belewenisse ingesluit soos die blootstelling aan geweld; “vaderloosheid” (dit beteken die deelnemer weet nie wie haar biologiese vader is nie); seksuele molestering; angswekkende ervarings as pleegkind by pleegouers en die verlange na haar moeder wat hoofsaaklik afwesig was weens lang werksure.

Ek is as ’n baba in ’n vullisdrom gevind.
(Deelnemer #12, Afrikaanssprekend)

My mamma se gedrinkery.
(Deelnemer #16, Afrikaanssprekend)

Being without a father was my saddest. (Om sonder ’n pa te wees was die hartseerste.)
(Deelnemer #17, Engelssprekend)

Om deur my oom gemolesteer te word … hy het my privaatdele betas.
(Deelnemer #9, Afrikaanssprekend)

Omstandighede of gebeure wat die verwerkliking van moederdeelnemers se kindertyddrome gekniehalter het, is beskryf in terme van armoede, die nie-voltooiing van skoolopleiding as gevolg van tienerswangerskappe; die ontydige/vroeë dood van ’n moeder/vader; gebrekkige ondersteuning van hul familie; moederdeelnemers se substansmisbruik; gebrekkige motivering en verkeerde keuses en kindermishandeling.

Ek was in-en-uit van die welfare.
(Deelnemer #1, Afrikaanssprekend)

Poverty. There was no money and the household wasn’t so good. (Armoede. Daar was nie geld nie en die huishouding was nie so goed nie.)
(Deelnemer #17, isiXhosasprekend)

Ma ek het nie skool kla gemaak nie.
(Deelnemer #3, Afrikaanssprekend)

Moeders het verwys na die dom dinge wat hulle as tieners aangevang het, soos hul riskante seksuele gedrag; skoolverlating; alkohol- en sigaretgebruik en tienerswangerskappe. Deelnemers het hul tienergedrag op die volgende maniere verwoord:

Om ’n kind te hê en nie te weet wie die rêrige pa is nie.
(Deelnemer #13, Afrikaanssprekend)

Om alkohol te drink op 13-jarige ouderdom en seks te hê met ’n outjie ouer as ek.
(Deelnemer #3, Afrikaanssprekend)

Ek het rusie gehad met my skoonma want sy het gesê dat ek ’n vark is.
(Deelnemer #12, Afrikaanssprekend)

Die moeders het ook gesels oor hul grootste teleurstelling as volwassenes, naamlik om op ’n baie jong ouderdom seksueel aktief te wees (een moeder het die skool byvoorbeeld in graad 5 verlaat en spoedig daarna het sy swanger geraak met haar eerste kind); die betrokkenheid in ’n uiters misbruikende verhouding vir agt jaar; verlaat deur die vader van haar kind tydens swangerskap en onvervulde drome.

To have sex before I got married, and not finish my schooling. (Om seks te hê voordat ek getroud is, en ek het nie my skool klaargemaak nie.)
(Deelnemer #18, isiXhosasprekend)

My grootste teleerstelling was my kind se pa, hy het my gelos wat ek swanger was.
(Deelnemer #9, Afrikaanssprekend)

Om nie vir my kinders en hul behoeftes te kan sorg nie…en ek kon nie word wat ek gedroom het nie.
(Deelnemer #4, Afrikaanssprekend)

Hierdie bevindings bied ’n blik op hoe individue, hier spesifiek moeders in ’n hoërisikogemeenskap, se leefervarings deel van hul interne landskappe of omgewings is. Dit is duidelik dat hierdie belewenisse met verloop van tyd in die verskeie stelsels ingebed is (vergelyk in hierdie verband Bronfenbrenner 1979).

 

8. Bespreking

Die kontekstuele inligting is by wyse van induktiewe en deduktiewe benaderings ontleed en aangebied. Fotostembevindings wat saamgaan met ’n induktiewe benadering het die deelnemers se waardering vir gemeenskapsbronne (eksterne bates) in hul funksionering as moeders aangetoon. Naas die moederdeelnemers se waardering vir hierdie gemeenskapsbronne in die hoërisiko-omgewing, het hulle ook die ernstige tekortkominge en gevare van hierdie konteks beklemtoon. Hierdie bevinding het die implisiete en bestaande invloed van die hoërisiko- en hoëbehoeftekonteks duidelik geskilder. Bestaande navorsing bevestig dat gemeenskapsbronne van deurslaggewende belang is vir moeders van Delft se psigososiale welstand en funksionering (Van Schalkwyk 2019), terwyl behoeftes en risiko’s die proses van verandering belemmer (Prilleltensky 2012:05). Hierdie kontekstuele inligting bevestig dat diverse omstandighede wat geassosieer word met optimale/sub-optimale of uiters weerlose toestande tot verskillende welstandsuitkomste kan lei deur ’n reeks van psigososiale prosesse (Prilleltensky 2012:05).

Die bevindings wat gerig is deur ’n deduktiewe benadering toon die invloedryke gemeenskapsbronne van moeders se sosiale en fisiese omgewing in hierdie hoërisiko-gemeenskap. Die onderlinge verband tussen die ekologiese stelsels is ook duidelik geïllustreer deur al die foto’s wat deur die moeders gekies is wat hul huise (gesins-/familie-omgewing), skole (leeromgewing), dagklinieke en polisiëring (kollektiewe) en geloofsgebaseerde sentrums uitgebeeld het. Ekologiese modelle (Bronfenbrenner 1979) het ’n nuttige raamwerk verskaf om te verduidelik dat menslike ervarings ingebed is in verhoudings, sosiale kontekste en in intergenerasionele trauma en historiese gebeure (Tran e.a. 2018:80). Hierdie bevindings is ook gesteun met ’n veelvoudige benadering van die moeders van hierdie hoërisikogemeenskap se psigososiale welstand (Prilleltensky 2012, 2019).

Bevindings toon ook hoe moeders se ervarings van daaglikse blootstelling aan gevare soos diefstal en bendegeweld in kombinasie met omgewingstressors met kumulatiewe risiko geassosieer kan word (Masten 2015:115; Rahtz, Bhui, Smuk, Hutshison en Korszun 2017:04). Die meganismes van oorgeërfde armoede (Burger e.a. 2014:170) of die oordrag van armoede is in die moeders se narratiewe verwoord (sien retrospektiewe tydlynbevindings). Hierdie bevindings toon ook dat moeders en hul kinders se oorlewing in Delft spesifieke vaardighede en voortdurende waaksaamheid vereis (Petersen, Grobler en Botha 2017:180). Alhoewel die behoefte aan omgewingshulpbronne in Delft duidelik is, blyk dit dat die objektiewe aanwysers van welstand (gemeenskapsbronne) nie ’n veilige en gesonde bestaanswyse vir moeders en hul kinders kan waarborg nie. Kontekstuele inligting het enkelouergesinne se blootstelling aan geweld (in die hoërisikogemeenskap) of ander sielkundige littekens aan die lig gebring; en skynbaar kon selfs ervarings van die “prestasie” van moederskap nie die ontsnapping aan of immuniteit teen hierdie traumatiese ervarings bied nie (vgl. Kruger 2020:227).

Die verkenningsperspektiewe wat deur die deelnemende-aksie-navorsingsmetode verskaf word, het die navorsingspan in staat gestel om ’n beter begrip van die dieper storie van die moeders se omgewing te kry, aangesien dit met hul leefervarings in ’n hoërisikokonteks verband hou. Nog ’n beduidende voordeel van hierdie metode is dat dit ’n sterk grondslag verskaf het om verhoudings vir goeie samewerking te bou, inaggenome dat die meeste moederdeelnemers mekaar aanvanklik nie geken het nie. Verder het die diversiteit van die inligting ’n besondere bydrae gelewer om ’n makrogemeenskapslens te verkry (Nykiforuk e.a. 2011:103). Die bevindings het ook getoon hoe deelnemende-aksie-navorsing die waardes van gemeenskapsielkunde kan akkommodeer, byvoorbeeld deur die deelnemers direk as medenavorsers by die navorsingsproses te betrek (Kagan 2012:04). Dit is duidelik dat die moeders se unieke stories en kollektiewe kennis ’n onontbeerlike stap is om ’n transformasieproses in hierdie hoërisikokonteks te aktiveer (Torre, Cahill en Fox 2015:540).

Die bevindings het ook die belangrikheid van kontekstualisering van die navorsingsproses bevestig (Kruger 2020:04). Die moeders se deelname het in ’n spesifieke Suid-Afrikaanse konteks plaasgevind (Genat 2009:101; Wandersman, Alia, Cook, Hsu en Ramaswamy 2016:544) en hierdie aktiewe betrokkenheid is die primêre praktyk wat nodig is vir sosiale verandering (Vaughn 2011:278). Die emosionele betrokkenheid van die moederdeelnemers het duidelik geblyk uit hul gretige deelname, ook aan die reflektiewe nadenke en dialoog (Lykes 2017:43), in ’n veilige en sielkundig bemagtigende ruimte. Alhoewel sommige van die moeders aanvanklik traag was om aan die gesprekke deel te neem, het die deelnemende-aksie-navorsingsprosedure hulle bemoedig om as waardige vennote aan hierdie navorsingsproses deel te neem (Vaughn 2011:280). Uiteindelik het die bevindings getoon dat die komplekse stel van kontekstuele kennis ’n gesamentlike leerervaring is en dat hierdie vennootskap van onderlinge kennisdeling tussen die verskillende deelnemers in die navorsingsproses van deurslaggewende belang vir eg inheemse navorsing is.

Die bostaande bespreking van die bevindings belig die betekenisvolle aspekte van die kernbevinding van hierdie navorsing, naamlik dat deelnemende-aksie-navorsing en spesifiek die gebruik van fotostemtegnieke (beelde van moeders se eksterne omgewing) en ’n retrospektiewe tydlynoefening (beelde van moeders se interne omgewing) inderdaad in die navorsingsproses geskik is om kontekstuele kennis te verkry. Die bevindinge van die fotostem het die gemengde of dubbelsinnige implikasies van die moeders se persepsies van die gemeenskapsbronne in Delft uitgebeeld. Dit is merkwaardig dat moeders bykans deurgaans die gemeenskapsbronne ook as gevaarsones met implisiete risiko’s vir hul funksionering as moeders aangedui het. Om hierdie moontlike ongerymdheid verder te verken, beveel ons aan dat toekomstige navorsing toenemend kontekstuele inligting sal insamel deur die gebruik van deelnemende-aksie-metodes om die navorsingsproses as vennootskap te optimaliseer in die vestiging van eg inheemse Suid-Afrikaanse ondersoeke. In aansluiting by hierdie aanbeveling wil ons met die nodige nugterheid dit onomwonde stel dat hoewel die bevindings van hierdie kwalitatiewe ondersoek uniek is aan hierdie ondersoek, die verkenningstegnieke en prosesse waarskynlik suksesvol in ander gemeenskappe gebruik kan word.

’n Moontlike beperking van hierdie ondersoek is dat doelgerigte steekproefneming gebruik is om inligtingryke gevalle te identifiseer (sien Patton 2015). Alhoewel die potensiaal vir steekproefnemingvooroordeel ’n moontlike beperking kan aandui (hoewel daar geen bedoelde vooroordeel in die doelgerigte steekproefneming was nie), sou ander doelgerigte steekproefnemingstrategieë oorweeg en gebruik kon word. Ons het wel gepoog om moontlike dilemmas met steekproefneming te bowe te kom deur deelnemers uit die geselekteerde hoërisikogemeenskap van die ses gebiede van Delft juis in samewerking met ’n hekwagter van dié omgewing te kies. Dit was ’n belangrike oorweging, aangesien daar tog verskille in terme van absolute armoede in die gebiede van Delft voorkom.

Die implikasie van hierdie navorsingsbevindings beklemtoon die gebruik van teoretiese perspektiewe soos ekologiese raamwerke en ’n makrogemeenskapslens sodat deelnemende-aksie-navorsing en gepaste metodes soos fotostemtegnieke die aktiewe rol van gemeenskapslede kan beklemtoon. Hierdie aktiewe rol van die deelnemers was integraal tot die proses van moeders se bemagtiging. Die foto’s (die produk van hul deelname as medenavorsers) het op ’n spontane wyse as’t ware ’n “objektiewe blik” aan die moeders gebied om na te dink oor hul omgewing wat voorregte en ook weerloosheid behels het. Hierdie bewuswording het moeders die geleentheid gegee om ook bewustelik aandag te gee aan hul verstaan van vroeë belewenisse van seer en sukkel (sien tydlynoefening). Uiteindelik het die aktiwiteite van deelnemende-aksie-navorsing die voordele van vennootskap beklemtoon omdat die moeders verdere navorsingsgeleenthede tot bemagtiging voorgestel het (sien Van Schalkwyk 2020).

 

9. Ten slotte

Deelnemende-aksie-navorsing het waardevolle geleenthede gebied om die proses met moeders van ’n Suid-Afrikaanse hoërisikogemeenskap te fasiliteer om kontekstuele kennis te verkry om gemeenskapsbronne en behoeftes te gebruik vir sosiale en uiteindelik ook fisiese verandering in dié gemeenskap. Gemeenskapsielkunde onderskryf die praktyk van verskeie metodes en prosesse wat met deelnemende-aksie-navorsing geassosieer word en tegnieke soos fotostem het inderdaad vrugbare geleenthede gebied om moeders se persepsies van hul gemeenskap se gemeenskapsbronne en behoeftes te verbeeld en te verwoord. Kontekstuele kennis is van deurslaggewende belang vir die voortdurende proses van verandering van ’n gemeenskap en ook hierdie ondersoek kon ’n waardevolle tree gee in die rigting van ’n gesonde gemeenskap en kollektiewe welstand.

Daar word aanbeveel dat toekomstige navorsing toenemend kontekstuele inligting sal insamel deur die gebruik van deelnemende-aksie-metodes om die navorsingsproses as vennootskap te optimaliseer in die vestiging van eg inheemse Suid-Afrikaanse studies.

 

Bibliografie

Abrahams, Y. 2000. Colonialism, dysfunction and disjuncture: The historiography of Sarah Bartmann. Doktorale proefskrif, Universiteit van Kaapstad.

Adriansen, H.K. 2012. Timeline interviews: A tool for conducting life history research. Qualitative Studies, 3(1):40–55. doi: 10.7146/qs.v3i1.6272.

Berger, R. 2015. Now I see it, now I don’t: Researcher’s position and reflexivity in qualitative research. Qualitative Research, 15(2):219–34. doi: 10.1177/1468794112468475.

Bickle, J.A. 1995. “Starman”. Journal of Christian Nursing, 12(3):28–43. doi: 10.1097/00005217-199512030-00003.

Blankenhorn, D., S. Bayme en J.B. Elshtain (reds.). 1990. Rebuilding the nest: A new commitment to the American family. Milwaukee: Family Service America.

Bond, M.A., I.S. Serrano-Garcia en C.B. Keys (reds.). 2017. Community psychology for the 21st century. APA handbook of community psychology (Vol. 2). Methods for community research and action for diverse groups and issues. Washington, DC: American Psychological Association.

Braun, V. en V. Clarke. 2013. Successful qualitative research: A practical guide for beginners. Los Angeles, CA: Sage.

Bronfenbrenner, U. 1979. The ecology of human development: Experiments by nature and design. Cambridge, MA: Harvard University Press.

—. 1990. Discovering what families do. In Blankenhorn e.a. (reds.) 1990:27–38.

Brown, J., D. Isaacs en World Café Community. 2005. The World Café: Shaping our futures through conversations that matter. San Francisco: Berrett-Koehler Publishers.

Burger, R., S. van der Berg, M. Gustafsson, C. Adams, M. Coetzee, E. Moses, […] en A. Zoch. 2014. Poverty traps and social exclusion among children in South Africa: A report to the South African Human Rights Commission. Pretoria: SAHRC.

Carson, L. 2011. Designing a public conversation using the World Café method. Social Alternatives, 30:10–4. http://www.bmartin.cc/pubs/11sa/Carson.html (13 Maart 2018 geraadpleeg).

Chandan, U. en L.M. Richter. 2008. Programmes to strengthen families: Reviewing the evidence from high income countries. Kaapstad: Joint Learning Initiative on Children and HIV/AIDS.

Clarke-Deces, I. en F.M. Smith. 2017. Well-being in India: A historical and anthropological report. In Estes en Sirgy (reds.) 2017:135–60.

Creswell, J.W. 2014. Research design: Qualitative, quantitative and mixed method approaches. Thousand Oaks, CA: SAGE.

Crime Stats SA [Crime Statistics South Africa]. 2020. https://www.saps.gov.za/services/july_to_september_2020_21_crime_situation.pdf (22 September 2020 geraadpleeg).

Daly, M., R.Z. Bray, J. Bruckauf, J. Byrne, A. Margaria, N. Pec´nik en M. Samms-Vaughan. 2015. Family and parenting support: Policy and provision in a global context. Florence: Innocenti insight, UNICEF Office of Research.

De Lannoy, A., S. Swartz, L. Lake en C. Smith (reds.). 2015. South African Child Gauge, Universiteit van Kaapstad: Children's Institute.

Denzin, N. en Y. Lincoln (reds.). 2007. Strategies of qualitative inquiry. Thousand Oaks, CA: Sage.

Department of Social Development. 2013. White paper on families in South Africa. Pretoria: Staatsdrukker.

Duncan, N., B. Bowman, A.V. Naidoo, J. Pillay en V. Roos (reds.). 2007. Community psychology: analysis, context and action. Kaapstad: UCT Press.

Ebersöhn, L., T. Loots, R. Mampane, F. Omidire, M. Malan-Van Rooyen, M. Sefotho en M. Nthontho. 2018. An indigenous psychology perspective on psychosocial support in Southern Africa as collective, networking, and pragmatic support. Journal of Community & Applied Social Psychology, 28(5):1–16. https://doi.org/10.1002/casp.2371.

Estes, R.J. en M.J. Sirgy (reds.). 2017. The pursuit of human well-being: The untold global history. Cham, Switserland: Springer.

Felner, R.D. en M.L. de Vries. 2013. Poverty in childhood and adolescence: A transactional-ecological approach to understanding and enhancing resilience in contexts of disadvantage and developmental risk. In Goldstein en Brooks (reds.) 2013:105–26.

Ferreira, R., L. Ebersöhn en K. Botha. 2013. Using participatory action research to develop an HIV and Aids school plan. South African Journal of Education, 33(4):1–17. https://doi.org/10.15700/201412171331.

Gale, N.K., G. Heath, E. Cameron, S. Rashid en S. Redwood. 2013. Using the framework method for the analysis of qualitative data in multi-disciplinary health research. BMC Medical Research Methodology, 13(117):1−8.

Geens, N. en M. Vandenbroeck. 2013. Early childhood education and care as a space for social support in urban contexts of diversity. European Early Childhood Education Research Journal, 21(3):407–19. doi.org/10.1080/1350293X.2013.814361.

Geinger, F., M. Vandenbroeck en G. Roets. 2014. Parenting as a performance: Parents as consumers and (de)constructors of mythic parenting and childhood ideals. Childhood, 21(4):488–501. doi: 10.1177/0907568213496657.

Genat, B. 2009. Building emergent situated knowledges in participatory action research. Action Research, 7(1):101–15. doi: 10.1177/1476750308099600.

Goldstein, S. en R.B. Brooks (reds.). 2013. Handbook of resilience in children. 2de uitgawe. New York: Springer.

Habermas, J. 1996. Between facts and norms: Contributions to a discourse theory of law and democracy. Cambridge: Polity Press, Heinemann.

Israel, B.A., A.J. Schulz, E.A. Parker en A.B. Becker. 1998. Review of community-based research: Assessing partnership approaches to improve public health. Annual Review of Public Health, 19:173–202.

James, S. 2015. Xhosa teenagers’ experience of motherhood. Africa Journal of Nursing and Midwifery, 17(1):90–103. doi: 10.25159/2520-5293/121.

Kagan, C. 2006. Making a difference: Participation, well-being and levers for change. Liverpool: RENEW (Intelligence Report).

—. 2012. La ricerca-azione partecipata e la psicologia di comunità Rome (Participatory Action Research and Community Psychology). In B. Zani (red.)

Keane, M., C. Khupe en M. Seehawer. 2017. Decolonising methodology: Who benefits from indigenous knowledge research? Educational Research for Social Change, 6(1):12–24. doi.org/10.17159/2221-4070/2017/v6i1a2.

Kemmis, S. en R. McTaggart. 2007. Participatory action research: Communicative action and the public sphere. In Denzin en Lincoln (reds.) 2007:271–330.

Khumalo, I.P., Q.M. Temane en M.P. Wissing. 2012. Socio-demographic variables, general psychological well-being and the mental health continuum in an African context. Social Indicators Research, 105(3):419–42. doi: 10.1007/s11205-010-9777-2.

Knerr, W., F. Gardner en L. Cluver. 2013. Improving positive parenting skills and reducing harsh and abusive parenting in low- and middle-income countries: A systematic review. Prevention Science, 14(4):352–363. doi: 10.1007/s11121-012-0314-1.

Kolar, K., F. Ahmad, L. Chad en P.G. Erickson. 2015. Timeline mapping in qualitative interviews: A study of resilience with marginalized groups. International Journal of Qualitative Methods, 14(3):13–32. doi: 10.1177/160940691501400302.

Kruger, L-M. 2020. Of motherhood and melancholia: Notebook of a psycho-ethnographer. Pietermaritzburg: University of KwaZulu-Natal Press.

Kruger, L-M., K. van Straaten, L. Taylor, M. Lourens en C. Dukas. 2014. The melancholy of murderous mothers: Depression and the medicalization of women’s anger. Feminism and Psychology, 24(4):461–78. doi: 10.1177/0959353514539653.

Kruger, L-M en K.M. Lourens. 2016. Motherhood and the “Madness of hunger”: “[… Want almal vra vir my vir ’n stukkie brood” (“… Because everyone asks me for a little piece of bread”). Journal of Cult Med Psychiatry, 40:124–43. doi.org/10.1007/s11013-015-9480-5.

Lazarus, S., N. Taliep, S. Bulbulia, S. Phillips en M. Seedat. 2012. Community-based participatory research: An illustrative case of community engagement in one low income community. Journal of Psychology in Africa, 22(4):511–9.

Lazarus, S., A.V. Naidoo, B. May, L. Williams, G. Demas en F.J. Filander. 2014. Lessons learnt from a community based participatory research project in a South African rural context. South African Journal of Psychology, 44(2):149–61. doi: 10.1177/0081246314528156.

Lazarus, S., M. Seedat en A.V. Naidoo. 2017. Community building: Challenges of constructing community. In Bond e.a. (reds.) 2017:215–34.

Lincoln, Y.S. en E.G. Guba. 1985. Naturalistic inquiry. Beverly Hills, CA: Sage.

Lykes, M.B. 2017. Community-based and participatory action research: Community psychology collaborations within and across borders. In Bond e.a. (reds.) 2017:43–58.

Macdonald, C. 2012. Understanding participatory action research: A qualitative research methodology option. Canadian Journal of Action Research, 13(2):34–50. doi: 10.33524/cjar.v13i2.37.

Mahali, A., I. Lynch, A.W. Fadiji, T. Tolla, S. Khumalo en S. Naicker. 2018. Networks of well-being in the Global South: A critical review of current scholarship. Journal of Developing Societies, 34(4):373–400. doi: 10.1177/0169796X18786137.

Maree, K. (red.). 2016. First steps in research. 2de uitgawe. Pretoria: Van Schaik.

Marujo, H.A. en L.M. Neto. 2014. Positive nations and communities: Collective, qualitative, and cultural-sensitive processes in positive psychology. Applied Research in Quality of Life, 9(2):449–51. doi.org/10.1007/s11482-014-9313-7.

Masten, A.S. 2015. Ordinary magic: Resilience in development. New York: The Guilford Press.

Maton, K. I. 2008. Empowering community settings: Agents of individual development, community betterment, and positive social change. American Journal of Community Psychology, 41(1/2):4–21. doi.org/10.1007/s10464-007-9148-6.

May, P.A., J. Blankenship, A.S. Marais, J.P. Gossage, W.O. Kalberg, R. Barnard, M. de Vries, L.K. Robinson, C.M. Adnams, D. Buckley, M. Manning, K.L. Jones, C. Parry, H.E. Hoyme en S. Seedat. 2013. Approaching the prevalence of full spectrum fetal alcohol spectrum disorders in a South African population-based study. Alcoholism: Clinical & Experimental Research, 37(5):818–30. doi: 10.1111/acer.12033.

McNiff, J. en J. Whitehead. 2006. All you need to know about action research. Thousand Oaks, CA: Sage.

Minkler, M., Garcia, A., Rubin, V., Wallerstein, N. Community-Based Participatory Research: A Strategy for Building Healthy Communities and Promoting Health Through Policy Change, A Report to the California Endowment. Oakland, CA: PolicyLink; 2012. 

Naidoo, A.V. 1996. Challenging the hegemony of Eurocentric psychology. Journal of Community and Health Sciences, 2(2):9–16.

Naidoo, A., N. Duncan, V. Roos, J. Pillay en B. Bowman. 2007. Analysis, context and action: An introduction to community psychology. In Duncan e.a. (reds.) 2007.

Naidoo, A.V., C. Zygmont en S. Phillips. 2017. Harnessing the power of ecopsychology in community work. In Seedat e.a. (reds.) 2017:77–89.

Nelson, G. en I. Prilleltensky. 2010. Community psychology: In pursuit of liberation and well-being. 2de uitgawe. Londen: Palgrave Macmillan Limited.

Newland, L.A., M.J. Lawler, J.T. Giger, S. Roh en E.R. Carr. 2015. Predictors of children’s subjective well-being in rural communities of the United States. Child Indicators Research, 8(1):177–98. doi: 10.1007/s12187-014-9287-x.

Nieuwenhuis, J. 2016. Qualitative research designs and data gathering techniques. In Maree (red.) 2016:71–102.

Njie, B. en S. Asimiran. 2014. Case study as a choice in qualitative methodology. IOSR Journal of Research & Method in Education, 4(3):35–40. https://doi.org/10.9790/7388-04313540.

Nykiforuk, C.I.J., H. Vallianatos en L.M. Nieuwendyk. 2011. Photovoice as a method for revealing community perceptions of the built and social environment. International Journal of Qualitative Methods, 10(2):103–24. doi.org/10.1177/160940691101000201

Olayiwola, A. en A. Olowonmi. 2013. Mothering children in Africa: Interrogating single parenthood in African literature. Cadernos de estudos africanos, 25:141–59. doi: 10.4000/cea.880.

Onwuegbuzie, A.J. en C. Poth. 2016. Editors’ afterword: Toward evidence-based guidelines for reviewing mixed methods research manuscripts submitted to journals. International Journal of Qualitative Methods, 15(1):1–13. doi: 10.1177/1609406916628986.

Palibroda, B., B. Krieg, L. Murdock en J. Havelock. 2009. A practical guide to photovoice: Sharing pictures, telling stories and changing communities. Winnipeg, MB: Prairie Women’s Health Centre of Excellence.

Patton, M.Q. 2015. Qualitative research and evaluation methods: Integrating theory and practice. 4de uitgawe. Thousand Oaks, CA: Sage.

Pedersen, G.A., E. Smallegange, A. Coetzee, K. Hartog, J. Turner, M.J.D. Jordans en F.L. Brown. 2019. A systematic review of the evidence for family and parenting interventions in low- and middle-income countries: Child and youth mental health outcomes. Journal of Child and Family Studies, 28(8):2036–55. doi.org/10.1007/s10826-019-01399-4.

Petersen, C., H. Grobler en K. Botha. 2017. Adolescent experiences of sense of self in the context of family violence in a South African community. Journal of Psychology in Africa, 27(2):180–4. doi: 10.1080/14330237.2017.1303118.

Petty A. 2018. Raising the Bar of Parenting: What parents living in a low-cost housing project perceived to be ‘good enough’ parenting and how they envisaged they could be helped to achieve this. Aanbieding by die “Strengthening Families Symposium” van die Noordwes-Universiteit se sentrum vir Kind-, Jeug-, en Familiestudies te Durbanville, 15 Maart.

Prilleltensky, I. 2012. Wellness as fairness. American Journal of Community Psychology, 49(1/2):1–21. https://doi.org/10.1007/s10464-011-9448-8.

—. 2019. Mattering at the intersection of psychology, philosophy, and politics. American Journal of Community Psychology, 0:1–19. doi.org/10.1002/ajcp.12368.

Prilleltensky, I., H.A. Marujo en L.M. Neto (reds.). 2014. Positive nations and communities: Collective, qualitative, and cultural-sensitive processes in positive psychology. Applied Research in Quality of Life, 9(2):449–51. doi: 10.1007/s11482-014-9313-7.

Rampou, A.M., Y. Havenga en M. Madumo. 2015. Parenting experiences of mothers living with a chronic mental illness. Health SA Gesondheid, 20(1):118–27. doi: 10.1016/j.hsag.2015.04.004.

Rahtz, E., K. Bhui, M. Smuk, I. Hutchison en A. Korszun. 2017. Violent injury predicts poor psychological outcomes after traumatic injury in a hard-to-reach population: An observational cohort study. BMJ Open, 7(5):1–6. doi: 10.1136/bmjopen-2016-014712.

Rosa, E.M. en J. Tudge. 2013. Urie Bronfenbrenner’s theory of human development: Its evolution from ecology to bioecology. Journal of Family Theory & Review, 5(4):243–58. doi.org/10.1111/jftr.12022.

Saleebey, D. 2013. The strengths perspective in social work practice. 6de uitgawe. Boston, MA: Pearson Publishers.

Seedat, M. 2012. Community engagement as liberal performance, as critical intellectualism and as praxis. Journal of Psychology in Africa, 22(4):489−500.

Seedat, M. en S. Lazarus. 2011. Community psychology in South Africa: Origins, developments, and manifestations. Journal of Community Psychology, 39(3):241–57. doi: 10.1002/jcop.20429.

Seedat, M., S. Suffla en D. Christie (reds.). 2017. Emancipatory and participatory methodologies in peace, critical, and community psychology. Peace Psychology Book Series. Cham, Switserland: Springer.

Selenger, D. 1997. Participatory action research and social change. New York: Cornell University.

Stats SA [Statistics South Africa]. 2015. Census 2011: Income dynamics and poverty status of households in South Africa (Report no. 03-10-10). Pretoria: Statistics South Africa.

State of South Africa’s Fathers. 2018. Kaapstad: Sonke Gender Justice & Human Sciences Research Council.

Taliep, N. 2015. Process evaluation of the development of a community-based participatory intervention promoting positive masculinity and peace and safety: Addressing interpersonal violence in a Western Cape community. Doktorale proefskrif, Universiteit van Suid-Afrika.

Terre Blanche, M. en K. Durrheim (reds.). 2002. Research in practice: Applied methods for the social sciences. Kaapstad: University of Cape Town Press.

The White Paper on Families in South Africa. 2013. Department of Social Development. Pretoria: Staatsdrukker.

Thomson, E., T.L. Hanson en S.S. McLanahan. 1994. Family structure and child well-being: Economic resources vs. parental behaviors. Social Forces, 73(1):221–42. doi.org/10.1093/sf/73.1.221.

Torre, M., C. Cahill en M. Fox. 2015. Participatory action research in social research. In Wrigh (red.) 2015:540–4.

Totikidis, V.V. 2013. Community centred health promotion and prevention in an Australian context. Doktorale proefskrif, Victoria Universiteit, Melbourne.

Tran, N., N. Nakamura, N.G. Kim, G.S. Khera, en J.M. AhnAllen. 2018. #APIsforBlackLives: Unpacking the interracial discourse on the Asian American Pacific Islander and Black communities. Community Psychology in Global Perspective, 4(2):73–84. Unique Identifier: 2019-24875-006.

Van Schalkwyk, I. 2019. Strengthening female-headed households: Exploring the challenges and strengths of mothers with substance-problems living in a high-risk community. Journal of Family Studies, 27(2):1–23. doi.org/10.1080/13229400.2019.1584122.

—. 2020. A wellness programme for mothers living in a high-risk community in the Western Cape to promote their personal and parental competencies. Doktorale proefskrif, Universiteit Stellenbosch.

Van Schalkwyk, I. en A.V. Naidoo. ter perse. A wellness programme for mothers living in the context of a South African high-risk community. Journal of Prevention & Intervention in the Community.

Ungar, M. 2011. The social ecology of resilience: Addressing contextual and cultural ambiguity of a nascent construct. The American Journal of Orthopsychiatry, 81(1):1–17. doi.org/10.1111/j.1939-0025.2010.01067.x.

—. 2015. Working with children and youth with complex needs: 20 skills to build resilience. New York: Routledge.

Vaughan, C. 2011. A picture of health: Participation of photo-voice and preventing HIV among Papua New Guinean youth. Doktorale proefskrif, London School of Economics and Political Science. http://etheses.lse.ac.uk/160/ (6 April 2018 geraadpleeg).

Visser, M. 2007. Contextualising community psychology in South Africa. Pretoria: Van Schaik.

Wandersman, A., K. Alia, B.S. Cook, L.L. Hsu en R. Ramaswamy. 2016. Evidence-based interventions are necessary but not sufficient for achieving outcomes in each setting in a complex world: Empowerment evaluation, getting to outcomes, and demonstrating accountability. American Journal of Evaluation, 37(4):544–61. doi.org/10.1177/1098214016660613.

Wang, C. en M.A. Burris. 1997. Photovoice: Concept, methodology, and use for participatory needs assessment. Health Education & Behavior, 24(3):369–87. doi: 10.1177/109019819702400309.

Wang, C. en Y.A. Redwood-Jones. 2001. Photovoice ethics: Perspectives from Flint photovoice. Health Education and Behaviour, 28:560–72. doi: 10.1177/109019810102800504.

Ward, C., T. Makusha en R. Bray. 2015. Parenting, poverty and young people in South-Africa: What are the connections? In De Lannoy e.a. (reds.) 2015:69–74.

Williamson, K.M. en K. Brown. 2014. Collective voices: Engagement of Hartford community residents through participatory action research. The Qualitative Report, 19(72):1–14. doi: 10.46743/2160-3715/2014.1013.

Wrigh, J.D. (red.). 2015. International encyclopedia of the social and behavioral sciences. Amsterdam: Elsevier.

Yin, R.K. 2014. Case study research design and methods. 5de uitgawe. Thousand Oaks, CA: Sage.

Zani, B. (red.). 2012. Psicologia di comunità: Prospettive, 1−20. Carocci Editors.

Zhou, Y.Q., Q.R.C. Chew, M. Lee, J. Zhou, D. Chong, S.H. Quah, […] en L.J. Tan. 2017. Evaluation of positive parenting programme (Triple P) in Singapore: Improving parenting practices and preventing risks for recurrence of maltreatment. Children and Youth Services Review, 83:274–84. doi: 10.1016/j.childyouth.2017.10.029.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top