Mmusi, ou pel, jy beter jou perde pad toe trek

  • 9

Mmusi Maimane (Foto: By Democratic Alliance, Flickr, CC BY-SA 2.0, Wikimedia Commons) en Bettina Wyngaard

Beste Mmusi

In die ou dae het ons geleer om ’n brief te begin deur te verneem na die ontvanger van die brief se welstand. Ek dink ek kan seker maar aanneem jou bloeddruk is sky high, jy slaap snags sleg en as jy ’n oog toekry, dan het jy nagmerries oor De Lille en Zille. Nie noodwendig in daai volgorde nie. Of dalk juis in daai volgorde.

Ek neem aan antie Pat ry jou bloots, maar het jy dan regtig iets anders verwag? I mean really, julle het haar mos gevat met die volle wete sy’s ’n scrappy vegter wat nie mind, soos die Ingelsman dit stel, to punch above her weight nie. Nie dat ek heeltemal seker is sy punch above her weight met jou DA nie. Julle wou haar hê juis omdat sy vreesloos is. Julle het geweet sy like vuil wasgoed bietjie sonlig gee, soos met die wapenskandaal. Het julle regtig gedink sy gaan omrol en “dood speel” net omdat julle dié slag die boelie is? Of sy gaan stilbly oor julle wandade omdat julle die wonderlike DA is? Really? Dan ken jy nog maar min jokes, my vriend.

Ek moet bieg, ek was nooit juis baie opgewonde oor jou nie. Nie oor jy by die Twittelaar oorgeneem het nie, maar omdat ek altyd gedink het jy is die copy van Lindiwe Mazibuko wat gemaak is toe die ink al beginne min raak het. Niks persoonlik nie, jy verstaan? Maar ek sien jou skip is besig om van koers af te gaan, en ek worry dat hulle gaan sê dis oor jy te lig in die broek is of oor jy swart is dat dinge nie lekker uitwerk nie. Ek wil graag help.

Hulle sê mos die beste stuurman staan aan wal. Dis seker waar, want hier wil ek, wat nog nooit ’n politieke party gelei het nie, jou nou raad try gee oor wat om te doen. Maar eers moet jy verstaan wat die probleme is.

Heel eerste probleem: pleks van uitwerk wie julle is en daarvolgens campaign, het julle campaigns nog altyd gegaan oor wie en wat julle nie is nie. Julle is nie die ANC nie, julle is nie die korrupte Zuma nie, julle is nie die voortvarende EFF nie. Punt is, al daai ouens weet wie hulle is, hulle weet wie hulle target audience is en hulle werk vir daai audience. Ek weet as mens ’n geskenk soos Zuma kry, vasgemaak met ’n bloedrooi strik en aangebied op ’n goue skinkbord, dan vat mens dit. Maar jy sorg darem seker dat jy ’n backup strategy het soos, ek meen nou maar, duidelike beleidsoorwegings, ideologie ens, ens. Julle het nie, wat maak dat jy nou probeer om uiteenlopende belange te versoen. Die eiertraprieldans. Of iets.

Dis eenvoudig. Besluit wie jou target audience is en sing en dans vir hulle. En wees eerlik daaroor. As jou target audience wit, middelklas Ingelse en Afrikaanses is, own it. En dan vat jy ’n koki, skryf “Ruling Party Ever” op jou maag, en vee dit af met jou skoonste, witste, mooiste hemp. (Jy dra mooi hemde, by the way. Van die manlike politici, Gigaba miskien uitgesluit, trek jy die beste aan. Understated. Maar terug na die punt – jou target audience.)

Die somme is straightforward. Daar is baie swart mense (en ek sluit bruin, en geel, mense hierby in) en bitter min wit mense. As jy in ’n politieke stelsel soos ons s’n wil wen, dan moet jy die baie ouens happy maak. Die DA het nog altyd gecater vir die min ouens en hulle belange. Die ander het DA gestem oorlat niemand kans gesien het vir daai Zupta-regering nie, en die DA is die lesser of two evils. Behalwe, Prime Evil is nou weg, so daar is actually nou weer geleentheid vir mense om ANC te stem met ’n reinerige gewete.

Nou kom die storie met antie Pat. Wie se slim plan was dit om daai Mazzone-vroumens die middelpunt van daai clusterf ... sorry, daai balls-up te maak? Huh? Die slick PR-masjien waarvoor julle bekend is, het lelik uit gear uit gehardloop daar. Of is dit net hoe desperaat julle is, want geeneen van die decent mense was bereid om hulle gewig daar in te gooi nie? Miskien moet julle dink daaraan om iemand wat nie wit arrogansie skree nie, voor die kameras en mikrofone te sit. En John Steenhuisen begin al meer soos ’n skoolkind wat nie sy sin kry nie, te whine. Is daar niks meer volwassenes in die DA nie?

Het julle iets geleer uit die tussenverkiesings in Saldanhabaai en Oudtshoorn? Seker nie, want ek sien nie dat julle tone down nie. Kom ek spel dit vir jou uit, Mmusi. Trek jou perde pad toe as jy nie wil hê Saldanha en Oudtshoorn moet die preview of coming attractions word nie. Julle bloei, en pleks van die wonde versorg, loop skiet julle julleself nog verder in die voet.

Jou stem dik maak oor diversiteit en wit privilegie is die naaste wat jy nog daaraan gekom het om eerlik te wees oor jou posisie binne die DA. Too bad jy was weer vinnig in die bek geruk want dis nie die tune wat jy geleer was nie. Dit kom weer terug na daai target audience ding toe. Jy wil dalk die target audience vergroot, maar nie al die belangegroepe binne jou party stel belang daarin nie. Iets in die “rather a servant in heaven than a master in hell” manier van dink.

Miskien moet julle vir julle volgende koalisie die Vryheidsfront nader, en vir AfriForum vra om te help stemme werf? Nie dat ek dink die drie ekstra stemme gaan julle saligheid veel verander nie.

Dan is daar die kwessie van die hoogs begeerlike swart stem. Almal soek dit tydens verkiesingstyd, maar tussen elections verwag jou party mos hulle moet stilbly en in die agtergrond verdwyn. Julle het seker al agtergekom dis easier said than done, nè. Maar dis nie jou probleem nie, Mmusi. Weet jy wat word jy genoem? “He who owes us a circumcision.” Sien, swart mans veral wonder hoe hulle iemand wat nie eers sy eie kultuur respekteer nie, kan vertrou met hul politieke aspirasies en belange.

Mmusi, jy sal jou huis in orde moet kry. Vergeet maar van die party groei na volgende jaar toe. Ain’t gonna happen. Jy verloor steun by die dag. Jy moet eers die bloeding stop voor jy enigiets anders kan doen.

Heel eerste, die DA en antie Pat sal moet vrede maak, one way or the other. Tweedens, hou vir Mazzone weg uit die kollig. Ek weet nie hoe nie, want sy’t ’n smaak ontwikkel daarvoor. Derdens, julle moet besluit wie julle wil wees. En wees dit. Die eerste twee kan maklik gedoen word. Die derde? Ek dink julle sal grief counselling deel van julle proses moet maak, want as julle relevant wil wees na 2019, sal julle substansieel anders moet lyk en klink en dink. Die dood van die DA in hierdie vorm is nie buite die realm of possibility nie.

Of julle kan die pad van die dinosourus volg. Your choice.

Cheers
Bettina

  • 9

Kommentaar

  • Puik aflewering!
    Ek hoop ons kry eendag iemand aan die stuur van 'n party wat regtig vir die meeste van ons iets sal beteken.
    Lyk my Rassie kry dit so half reg met die rugby.

  • Nou lyk dit vir dat Bettina reken die DA is “gedoom”, nou nie gedoem soos die Pastoor wat sy lidmate “gedoom” het om hulle van allerhande nare goed te verlos nie, en ook nie “gedoom” het na die warm plek nie, nee “gedoom” om oor die politieke afgrond te stort.
    Nou wonder ek het antie Pat dan nie 'n sambreel wat sy kan leen waarmee die DA kan spring nie? Of is antie Pat so die moer in dat sy dit eerder as 'n slaanding sal gebruik? Vra maar net.

  • Gustaf Claassens

    Hoe slaan die nie-amptelike burgemeester van Grabouw die spyker op die kop ... of is dit dalk in die DA se selfgemaakte half-toe "doodskis?" Geen rieldans van Bettina nie. Inteendeel, soos jy tereg sê; Mmusi is teen alles en vir niks, net 'n “gladde bek” soos die oumense altyd gesê het. Baie soos 'n Obama wat 'n praat kon praat maar eintlik net 'n pion van die "Deep State" was. (Cyril is op dieselfde pad met al sy deursigtige foefies van saam te stap met die mense en so nou en dan ekonomiese klas te vlieg. Ook maar baie praat en min doen. Sy gevaar is dat die “deep state (sien Zuma & kie) dinge baie moeilik kan maak soos nou is KwaZulu-Natal gesien is toe Gwede Mantashe met gebalde vuiste moes weghardloop.")
    Tog dink ek Bettina moet nie sommer namens die bruinmense as 'n geheel praat en hulle willens-wetens by die swartmense insluit nie. Dis haar keuse as sy haarself so sien. Kom ons laat dit maar liewer aan elke mens self oor om te besluit met wie hy/sy wil assosieer. Bettina se subtiele gebruik van "die witste, mooiste hemp" is dalk ook nie so onskuldig bedoel nie, of hoe?
    O ja, wat jou verwysing na "wit privilegie" betref; ek is seker jy praat van wat was, so 25 jaar gelede en nie die hede nie. Al wat mens deesdae raaksien is "affirmative" aksies; wette, regulasies en maatreëls wat ingestel word om die meerderheid swartmense teen 'n minderheid witmense te "beskerm." En dan's daar nog daai uiters "effektiewe" rassekaart wat gespeel word wanneer bogenoemde nie die gewenste uitwerking het nie.
    Ons het 'n uiters sensitiewe klompie mense geword en my groot vrees is dat ons 'n stil of selfs stom nasie gaan word. En as ons nie met mekaar kan praat nie, hoe gaan ons ons probleme hier aan die Suidpunt van Afrika oplos? Ek was onder die indruk dat "vryheid van spraak" een van die hoekstene in ons jong demokrasie is. Maar o wee, dit word deesdae ondergeskik gestel aan dit wat die meerderheid ag, kwetsend te wees. Vandaar die nuwe "haatspraak" wetgewing.
    As ons regtig wil slaag in die land sal ons moet leer om mekaar te respekteer ongeag ras, klas, geslag of wat ook al. Kwetsende en neerhalende opmerkings oor-en-weer gaan ons nie ver bring nie. Basiese menswaardigheid is 'n vereiste en ons sal erkenning aan verskeidenheid moet gee. Indien ons kan insien dat mense hulle inrig ingevolge dit wat vir hulle belangrik is en dan wil "behoort" is bloot 'n sosiologiese feit en behoort geensins as 'n bedreiging gesien te word nie. Ons krag en sukses behoort juis te lê in die eenheid binne die verskeidenheid.
    Die verkiesing loer om die deur en ek moet erken dat daar 'n groot onsekerheid is oor of mens nog moet stem en indien wel, vir wie. Ronald Reagan het by geleentheid gesê: "The most terrifying words in the English language are: I'm from the government and I'm here to help." Hoekom lui dit 'n klokkie?

  • Skote Petoors, Bettina!

    (... en vir die wit ouks hier wat namens "bruinmense" wil praat, en wat dink "apartheid" en "white priviledge" is een en dieselfde ding, is daar net EEN woord: Fooitoggies. Julle is net so irrelevant soos die DA. Trek maar Aussie-land toe.)

  • Stanley Peterson

    Yoh as n politieke partyleier van die KHOISAN REVOLUTION moet ek vandag erken , ‘n buitestander sien altyd die beste wie gooi die piesangskille. Ek kon met hierdie beriggewing Betina BAIE BAIE leer en het ook so gedwaal. Dankie.

  • Ek hou nie hiervan nie: "Weet jy wat word jy genoem? “He who owes us a circumcision.” Sien, swart mans veral wonder hoe hulle iemand wat nie eers sy eie kultuur respekteer nie, kan vertrou met hul politieke aspirasies en belange."

    Mmusi hoef tog nie agteroor te lê, sy oë toe te maak en op sy tande te byt om swart mans te beïndruk nie. Mmusi staan dalk vir rasionele denke.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top